Share

Die monster in my kop

As jy al ooit migraine gehad het, sal jy weet dat dit nie net 'n hoofpyn is nie. Dit is 'n uitmergelende toestand wat, na gelang van hoe gereeld en hoe intens jy dit kry, nie net die betrokke dag kan verongeluk nie, maar jou hele lewe kan oorheers…

Van die stoep van die kothuis waar die 36- jarige kunstenaar Marlise Keith haar ateljee het, kyk 'n mens links uit oor die see en regs oor die berg met sy digte fynbostapyt. Die huis hier in Kalkbaai, die Skiereilandse voorstad met sy vissers- en kunstenaarsgemeenskap, is vol interessante boeke, optelgoed en kunswerke, sommige voltooi, ander nog in wording. Dit is 'n gesellige plek, en die toppunt van vreedsaamheid.

Maar agter die idilliese prentjie en die kunstenaar se glimlag skuil 'n wrede werklikheid waarmee sy tot dusver eenvoudig moes saamleef. Marlise ly aan chroniese migraine.

Tydsberekening

"Partykeer staan ek op met 'n fluisterstemmetjie in my agterkop – in die breinstam waar al ons oeroue kennis begrawe lê – en ek weet ek gaan 'n migraine kry. Dit is dieper as 'n hoofpyn. Ek is gelukkig dat daar darem 'n waarskuwing is. Maar dan begin die paniek: Wanneer moet ek my medisyne drink?"

Tydsberekening veroorsaak vir Marlise baie spanning omdat dit so belangrik is. As sy haar medisyne te gou drink, werk dit dalk nie en moet sy dit soms weer neem. "Dit is 'n gesukkel, want as 'n mens dit te gereeld drink, kan dit partykeer 'n hoofpyn veroorsaak," verduidelik sy. "En dan sit ek onvermydelik met ure se pyn.

"Ander kere kry ek binne sekondes 'n migraine. Ek is dalk besig om 'n e-pos te stuur en wanneer ek opstaan om die telefoon te beantwoord, slaan dit toe. Hierdie soort migraine is genadeloos: Jy het geen tyd om jou voor te berei nie, die duiwel is los. My pa, wat ook chronies migraines kry – ek het dit van hom geërf – noem dit 'stoomtreinmigraines' omdat dit jou behoorlik stoomroller."

Pyn se intensiteit

Hoe verskriklik die pyn soms kan wees, besef 'n mens eers wanneer sy vertel: "Wanneer niks werk nie en ek nie kan braak om die pyn te verlig nie, begin ek met 'n sinlose roetine waar ek enigiemand in die omtrek smeek om die pyn tog maar net te laat weggaan. Dit werk natuurlik nie, en dan raak ek verskriklik kwaad en begin huil. Dan slaan ek my kop met my hande of kap dit teen die muur omdat enige ander pyn 'n verligting is.

"Dit is nie dikwels so erg nie, maar wanneer dit gebeur, raak ek kwaad dat die migraines my nie doodmaak nie; dat die pyn en die patroon so genadeloos is. En ek weet dat die hele proses binnekort herhaal sal word.

Gesonde leefstyl

"Ek drink nie alkohol nie. Ek rook nie. Ek het nog nooit dwelms gebruik nie," sê sy vanuit haar stoel op die stoep waar sy oor die see uitkyk. "Ek eet nie kaas, sampioene, spek of eiers nie. Sitrus- en skerp kosse verskyn ook maar selde op my spyskaart. Ek het die meeste kossnellers reeds uit my dieet gesny."

Maar ondanks al haar pogings het Marlise se migraines – iets wat sy al sedert haar vyfde jaar ervaar – die afgelope paar jaar ál erger geword. Dit het reeds die stadium bereik dat sy nie heeltyds kan werk nie. Wanneer 'n migraine toeslaan, raak sy oorsensitief vir elke moontlike prikkel – lig, klank, gevoel en selfs reuk. Al wat sy kan doen, is om haar in haar kamer terug te trek, die gordyne toe te trek en die aanslag te trotseer tot dit bedaar, wat enigiets van twee uur tot drie dae kan duur.

Behandeling

Haar pogings om verligting te vind, het nog weinig sukses opgelewer. "Ek raak gefrustreerd deur al die raad van die dokters," sê sy. "Ek doen alles wat ek moet, en kry steeds migraine. As nog 'n dokter vir my sê ek moet ophou sjokolade eet as ek migraine wil vermy, sal ek hom dalk net verwurg. Ek het werklik al alles probeer: dieet, akupunktuur, reiki, massering, magneetterapie, meridiaanterapie, homeopatie, hipnoterapie, sielkundige terapie...

"Op die oomblik gebruik ek epilepsiemedisyne en hoewel ek newe-effekte soos angstigheid, nagmerries, prikkel- en brandsensasies en nagbewerasies ondervind, kry ek ten minste minder gereeld migraine-aanvalle."

Marlise het 'n hele reeks streng reëls vir haarself opgestel. "Die enigste dinge wat skynbaar help is dat ek nie maaltye oorslaan nie, nie ontwater nie en nie te min slaap nie. En ek moet eenvoudig joga doen – ek moet strek en seker maak dat my spiere suurstof kry – en ek moet altyd my medisyne by my hê, waar ek ook al gaan."

Dit is duidelik dat sy haar bes doen om die monster in haar kop te beveg, maar steeds slaag sy nie daarin om uit sy kloue te ontsnap nie. "Die ergste is dat ek geen spesifieke snellers het nie en daarom is daar geen genade nie," sê sy met 'n sug. "Dit ontneem my my balans, spraak, tyd, sosiale interaksie, normaliteit... en selfs die mees basiese dinge soos waarheen ek wil gaan en wat ek wil eet en drink.

"Dit is deel van my lewe, ek weet nie hoe anders om te lewe nie en sal dit waarskynlik ook nie weet nie, selfs al word ek genees. Maar ek wens steeds ek kan gesond word en ontsnap. Al daardie ekstra tyd sou wonderlik wees!"

Marlise Keith se kunswerke word tan in verskeie lande ten toon gestel. Sy het die toonaangewende Suid-Afrikaanse Vuleka-kunsprys vir 2006 gewen.

Genade vir die migrainelyer

Marlise Keith se verhaal hierbo is 'n skokkende illustrasie van die lot van mense wat deur migraine gemartel word. Migrainelyers het inderdaad 'n swakker lewensgehalte as mense met artritis en diabetes, luidens mediese joernale. Hul vlak van disfunksie kan vermoedelik vergelyk word met dié van mense met hartversaking.

Oor Marlise se "stoomtreinhoofpyne" sê die pynspesialis dr. Elliot Shevel: "Sy ondervind heel moontlik troshoofpyne saam met haar migraines, wat algemeen as trosmigraines bekend staan.

"Die tros-eienskappe verklaar die baie skielike aanvang en die pyn wat so intens is dat sy haar kop stamp en voel dat die dood beter sou wees as hierdie pyn. Dis bekend dat 'n troshoofpyn een van die mees intense soorte pyn is wat 'n mens kan beleef. Mense wat al albei beleef het, sê dis pynliker as kraam of die pyn van 'n ledemaat wat afgeruk word.

"Vir die meeste nie-lyers is dit skokkend om te begin besef presies hoe fel die pyn van 'n migraine is," sê Elliot. "Nie net word migrainelyers dikwels verkeerd gediagnoseer nie, maar ouers, kinders, vriende en kollegas verstaan hulle baie keer ook nie." En nog erger, dit lyk asof dokters die migrainelyers wat op hulle staatmaak vir hulp, ook nog nooit werklik verstaan het nie. Ten minste tot nou toe.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE