Share

Dié halwe maak heel

As jy las het van jou knie en bang is ’n volledige knievervanging lê vir jou voor, is daar goeie nuus. Die halwe knievervanging is ’n minder ingrypende operasie wat baie suksesvol is
Deur Mariëtte Crafford

Daar’s goeie redes waarom chirurge toenemend halwe knievervangings bó volledige vervangings aanbeveel. Dis ’n minder drastiese manier om ’n pynlike knie reg te dokter en die pasiënt kan sommer gou weer daarna op die been wees.

Met ’n halwe knievervanging, ook bekend as ’n unikompartementele knievervanging, word heelwat minder been weggesny, iets wat op die lang duur tot jou voordeel is.

“Die doel van hierdie operasie is om net die skade te behandel en nie die hele knie te vervang nie,” sê dr. Rudolf Oosthuizen van Johannesburg, ’n ortopediese chirurg en kundige op dié gebied. Anders as met ’n volledige vervanging hoef die chirurg nie groot stukke been bo en onder die knieskyf of die kruisligamente te verwyder nie. Slegs die binneste helftes van die boonste en onderste dele van die beendere word weggeneem.

Dit beteken jou normale kniefunksie bly behoue en omdat die operasie minder ingrypend is, kan jy ook gouer daarna jou knie begin gebruik. Verder wys navorsing dat ’n knie waarop ’n halwe vervanging gedoen is gemiddeld tot 120 grade en verder kan buig – teenoor die 103 grade van ’n volledige vervanging.

Halwe knievervangings word al langer as dertig jaar gedoen en dis duidelik dat dit op lang termyn net so suksesvol is soos ’n volledige vervanging: ’n Pasiënt sal sowat twintig jaar lank met so ’n knie kan loop.

Nog ’n voordeel van die kleiner operasie is dat as ’n volledige vervanging later nodig word, daar genoeg been behoue gebly het vir die tweede vervanging – wat op sy beurt ook nog twintig jaar diens kan lewer.

As jy ’n volledige vervanging gehad het en jou knie later genoeg las gee dat nog ’n vervanging nodig is, verloor jy nog meer been terwyl die prostese (kunsknie) verwyder en ’n nuwe een aangebring word. Dit maak die prognose op die duur swakker.

Ongelukkig is almal nie dié vindingryke prosedure beskore nie. Vir die meeste mense met kwaai artritis bly ’n volledige knievervanging die beste opsie. Maar vir die 30 persent pasiënte met degeneratiewe knieprobleme wat wel vir ’n halwe vervanging in aanmerking kom, is die resultaat uiters goed.

Rudolf meen dat hierdie beensparende prosedure ál belangriker gaan word in gevalle waar die res van die knie nog ongeskonde is. “Deur been in die knie te behou, het die pasiënt ’n beter lewensgehalte en groter beweeglikheid en kan hy dus sy knie vir langer normaalweg gebruik.”

Wat kan verkeerd loop?
Die komplikasies van ’n halwe knievervanging kan soms net so erg wees as dié van ’n volledige vervanging, sê dr. Rudolf Oosthuizen. “Meestal is dit egter baie minder ernstig.”

  • Die kans op infeksie – 0,6 persent – is dieselfde vir albei prosedures.

  • ’n Bloedklont kan in die been vorm (trombose).

  • Prosteseprobleme soos die volgende kan ontstaan:
    Die deel van die knie wat aan die been vasgesement word, kan losgaan.
    Die plastiek-koeëllaer waaraan die boonste metaaldeel van die kunsknie geheg word, kan skuif.
  • ’n Kraak in die onderbeen kan tydens die operasie ontstaan.

  • Ander dele van die knie kan verweer soos met normale agteruitgang as gevolg van ouderdom.

  • Jy kan met sowel halwe as volledige knievervangings onverklaarbare pyn ervaar.

26 November 2008, Teater 3, Wilgeheuwel-hospitaal, Roodepoort.
Binne die bestek van veertig minute kry ’n vrou wat eers gesukkel het om te loop, ’n halwe kunsknie wat uit drie onderdele bestaan: twee metaaldele van kobalt-chroom en ’n koeëllaer van harde plastiek.


14:16 Die eerste snit word van bo na onder oor die lengte van die knie gemaak, net-net aan die binnekant van die knieskyf. Die chirurg sit voor die gebuigde regterknie sodat hy maklik daaraan kan werk.


14:20 Die verweerde kraakbeen aan die onderpunt van die bobeen en die bopunt van die onderbeen, wat die kniegewrig vorm, word verwyder.


14:28 Nou word die groot gereedskap uitgehaal om aan die harde bene self te werk. Daar word met ’n chirurgiese hamer en beitel gewerk om dele van die bobeen weg te kap en ’n gat vir die plastiek-koeëllaer te maak.


14:37 Ná akkurate meet en pas word die koeëllaer aan die onderpunt van die bobeen geheg. ’n Gat is in die been gemaak sodat die koeëllaer presies daarin pas.


14:45 Die twee metaalprosteses is op hul plek: ’n geronde metaalskyf wat aan die koeëllaer vasgeknip is bo, en ’n plat metaalskyf met ’n plastiekbuffer onder. As die knie gebuig word, skarnier die ronde metaalskyf netjies op die onderste plat vlak.


14:54 ’n Enkele snit, netjies toegekram, is al uiterlike teken van die operasie. Die pasiënt sal meer beweging in haar knie hê as ná ‘n volledige knievervanging én haar knieskyf en -ligamente is behou. Sy was 24 uur later weer op die been.

Knee replacement safe

Obesity tough on knees

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE