As jy las het van jou knie en bang is ’n volledige knievervanging lê vir
jou voor, is daar goeie nuus. Die halwe knievervanging is ’n minder ingrypende
operasie wat baie suksesvol is
Deur Mariëtte Crafford
Daar’s goeie redes waarom chirurge
toenemend halwe knievervangings bó
volledige vervangings aanbeveel. Dis
’n minder drastiese manier om ’n
pynlike knie reg te dokter en die
pasiënt kan sommer gou weer daarna
op die been wees.
Met ’n halwe knievervanging,
ook bekend as ’n unikompartementele knievervanging,
word heelwat minder been weggesny, iets wat op die
lang duur tot jou voordeel is.
“Die doel van hierdie operasie is om net die skade te behandel
en nie die hele knie te vervang nie,” sê dr. Rudolf Oosthuizen van
Johannesburg, ’n ortopediese chirurg en kundige op dié gebied.
Anders as met ’n volledige vervanging hoef die chirurg nie
groot stukke been bo en onder die knieskyf of die kruisligamente
te verwyder nie. Slegs die binneste helftes van die boonste en onderste
dele van die beendere word weggeneem.
Dit beteken jou normale kniefunksie bly behoue en omdat die
operasie minder ingrypend is, kan jy ook gouer daarna jou knie
begin gebruik. Verder wys navorsing dat ’n knie waarop ’n halwe
vervanging gedoen is gemiddeld tot 120 grade en verder kan buig
– teenoor die 103 grade van ’n volledige vervanging.
Halwe knievervangings word al langer as dertig jaar gedoen
en dis duidelik dat dit op lang termyn net so suksesvol is soos
’n volledige vervanging: ’n Pasiënt sal sowat twintig jaar lank met
so ’n knie kan loop.
Nog ’n voordeel van die kleiner operasie is dat as ’n volledige
vervanging later nodig word, daar genoeg been behoue gebly het
vir die tweede vervanging – wat op sy beurt ook nog twintig jaar
diens kan lewer.
As jy ’n volledige vervanging gehad het en jou knie later genoeg
las gee dat nog ’n vervanging nodig is, verloor jy nog meer been
terwyl die prostese (kunsknie) verwyder en ’n nuwe een aangebring
word. Dit maak die prognose op die duur swakker.
Ongelukkig is almal nie dié vindingryke prosedure beskore
nie. Vir die meeste mense met kwaai artritis bly ’n volledige knievervanging
die beste opsie. Maar vir die 30 persent pasiënte met
degeneratiewe knieprobleme wat wel vir ’n halwe vervanging in
aanmerking kom, is die resultaat uiters goed.
Rudolf meen dat hierdie beensparende prosedure ál belangriker
gaan word in gevalle waar die res van die knie nog ongeskonde is.
“Deur been in die knie te behou, het die pasiënt ’n beter lewensgehalte
en groter beweeglikheid en kan hy dus sy knie vir langer
normaalweg gebruik.”
Wat kan verkeerd loop?
Die komplikasies van ’n halwe knievervanging kan soms net so erg
wees as dié van ’n volledige vervanging, sê dr. Rudolf Oosthuizen.
“Meestal is dit egter baie minder ernstig.”
- Die kans op infeksie – 0,6 persent – is dieselfde vir albei prosedures.
- ’n Bloedklont kan in die been vorm (trombose).
- Prosteseprobleme soos die volgende kan ontstaan:
Die deel van die knie wat aan die been vasgesement word, kan losgaan.
Die plastiek-koeëllaer waaraan die boonste metaaldeel van die kunsknie geheg
word, kan skuif.
- ’n Kraak in die onderbeen kan tydens die operasie ontstaan.
- Ander dele van die knie kan verweer soos met normale agteruitgang as gevolg
van ouderdom.
- Jy kan met sowel halwe as volledige knievervangings onverklaarbare pyn ervaar.
26 November 2008, Teater 3, Wilgeheuwel-hospitaal, Roodepoort.
Binne die bestek van veertig minute kry ’n vrou wat eers gesukkel het om te loop, ’n halwe
kunsknie wat uit drie onderdele bestaan: twee metaaldele van kobalt-chroom en ’n koeëllaer
van harde plastiek.

14:16 Die eerste snit word van bo na onder oor die lengte van die knie
gemaak, net-net aan die binnekant van die knieskyf. Die chirurg sit voor die
gebuigde regterknie sodat hy maklik daaraan kan werk.

14:20 Die verweerde kraakbeen aan die onderpunt van die bobeen en die
bopunt van die onderbeen, wat die kniegewrig vorm, word verwyder.

14:28 Nou word die groot gereedskap uitgehaal om aan die harde bene self
te werk. Daar word met ’n chirurgiese hamer en beitel gewerk om dele van die
bobeen weg te kap en ’n gat vir die plastiek-koeëllaer te maak.

14:37 Ná akkurate meet en pas word die koeëllaer aan die onderpunt van
die bobeen geheg. ’n Gat is in die been gemaak sodat die koeëllaer presies
daarin pas.

14:45 Die twee metaalprosteses is op hul plek: ’n geronde metaalskyf wat aan
die koeëllaer vasgeknip is bo, en ’n plat metaalskyf met ’n plastiekbuffer onder. As
die knie gebuig word, skarnier die ronde metaalskyf netjies op die onderste plat vlak.

14:54 ’n Enkele snit, netjies toegekram, is al uiterlike teken van die operasie.
Die pasiënt sal meer beweging in haar knie hê as ná ‘n volledige knievervanging én
haar knieskyf en -ligamente is behou. Sy was 24 uur later weer op die been.
Knee replacement safe
Obesity tough on knees