advertisement
26 November 2009

Die dag toe ek byna dood was

Een Sondagmiddag het 'n geweerskoot Dex Goodman se lewe tot stilstand geruk. Maar daardie dag het hy geleer van hoop, naasteliefde en hoe om vir elke oomblik te leef.

0

Een Sondagmiddag het ’n geweerskoot Dex Goodman se lewe tot stilstand geruk. Maar daardie dag het hy geleer van hoop, naasteliefde en hoe om vir elke oomblik te leef.
Soos vertel aan MARIETTE CRAFFORD vir Huisgenoot-POLS

Met 'n gat in my long en 'n koeël in my rugwerwel moes ek daardie Sondag eintlik gesterf het. Net nog 'n slagoffer van geweld, verlam en bloeiend agtergelaat op 'n munisipale stortingsterrein naby Johannesburg.

Maar my verhaal gaan nie oor misdaad en slagoffers nie – dit gaan oor oorlewing, oor redding in die vorm van twee swart kinders, oor medemenslikheid waar jy dit nie verwag nie en oor 'n volkome gebrek aan sorgsaamheid waar jy dit wel verwag.

Dit het begin by 'n poging om my dood te maak. 'n Sagte stem wat agter my gepraat het: "Kyk vir my. Ek gaan jou skiet."

Eers dag ek ek verbeel my. Dit was Sondag 17 Desember, agt jaar gelede, en ek was besig om tuinvullis af te laai by 'n munisipale stortingsterrein in die suide van Johannesburg.

Toe kyk ek op. 'n Jong man, niks ouer as sewentien nie, eintlik net 'n tiener, het daar gestaan met 'n geroeste .38-special-rewolwer op my gerig.

Ek het rêrig gedink dis 'n grap, dat hy net besig is met speletjies. Skielik het iemand my van agter af gegryp. Ek het steeds half onseker geglimlag. 'n Miljoen gedagtes het deur my kop geskiet. My enigste kans om lewend hieruit te kom, was om my teë te sit, het ek besef.

Net toe ek loskom van die man wat my vashou, het ek die grond getref. Ek het nie 'n geluid gehoor nie, maar ek het geweet ek is geskiet. Die gevoel het uit my liggaam gesypel. Ek het onmiddellik besef ek is verlam.

Twee mans was bo-op my, besig om my vuurwapen uit die rewolwersak voor in my broek te haal.

En toe's daar vier mans op pad motor toe. Ek het my stiefseun van veertien, Nick, sien uitklim. Ek was beangs oor sy veiligheid en het hulle gesmeek om te vat wat hulle wou hê, maar om ons uit te los. Hulle het vervaard in die motor rondgekrap, die sleutel uit die aansitter probeer haal, weggehol en geskree dat hulle sal terugkom.

"Nick! Hardloop! Kry vir ons hulp!" het ek vir my verskrikte seun geskree. Die hoofpad was gelukkig net sowat 'n kilometer ver.

'Ek sou kon sterf'
Alles het verskriklik vinnig gebeur, maar die volgende paar oomblikke het dit gevoel asof ek ure het om dit wat pas gebeur het, te verwerk. Ek was nie in staat om te beweeg nie. Bloed het by my mond uitgestroom. Ek kon nie agterkom waar ek geskiet is nie, maar ek het besef ek moes die werklikheid van my verganklikheid in die gesig staar.

Ek was 33 jaar oud. Hoe kon ek voortgaan sonder die gebruik van my liggaam? Wat sou met my gesin gebeur? Ek was die enigste broodwinner. Ek het 'n paar maande tevore my lewensversekering laat verval...

Tog was daar vrede in my. Ek sou kon sterf as ek moes. Ek het 'n grootse gevoel van bevryding ervaar.

Onverwagse hulp
Toe hoor ek 'n geraas. Twee swart kindertjies van so nege of tien jaar oud wat aangehardloop gekom en vir my geskree het, het my teruggebring werklikheid toe. Gaan hulle my óók besteel? het ek verwilderd gedink.

"Ons wil jou help," het hulle oor en oor gesê.

"Kyk of die sleutel nog in die motor is." Dit was.

Kom help my tot by die motor, het ek beduie.

Hulle het my probeer oplig, maar ek was te swaar, die jong arms te dun. Al genade: Ek moes my lyf tot by die motor sleep.

"Wie sal bestuur?" wou ek weet. Hulle het gretig op die voorste sitplekke ingespring.

Van die agtersitplek af het ek die kind wat agter die stuur was probeer touwys maak. Sluit aan. Sit in rat. Dis die rem daai. Pasop, nie te veel petrol gee nie! Hy was great! Die motor het 'n paar keer doodgeruk en toe's ons vort.

Ons het slinger-slinger tot by die hoofpad gery, so vinnig soos wat my motor in eerste rat kon ry. Dit op sigself was nogal vreesaanjaend.

Soos ons nader aan die hoofpad gekom het, het ek 'n man by 'n wit Mercedes gesien wat met 'n vuurwapen op ons aangelê het. Dit moes vir hom gelyk het asof my aanvallers met my motor wegry. Dit was die man wat Nick by die hoofpad gestop het.

Ek het met my arms deur die oop agtervenster beduie: "Moet asseblief nie skiet nie!"

Hy het reeds die ambulans gebel, asook die polisie en my vrou. Toe my vrou daar aankom en ons motor sien, was haar eerste gedagte: Dankie tog, alles is reg.

Maar niks sou ooit weer dieselfde wees nie.

Staatshospitaal toe
As IT-deskundige het ek vir myself gewerk; ek het nie mediese versekering gehad nie. 'n Staatshospitaal was my voorland.

Die paramedici het voorgestel: óf Baragwanath- óf Sebokenghospitaal. Dié hospitale kry gereeld met die slagoffers van geweldsmisdade te doen en is kundiges in die behandeling van daardie soort beserings.

Die adrenalien wat die pyn verdoof en my aangedryf het om aan die gang te bly, was aan die uitwerk. My longe het gebrand. Ek het baie moeilik asemgehaal. Ek het verskriklike pyn verduur. Vrees het my oorweldig.

"Gaan ek sterf?" het ek vir die paramedikus gevra. "Gaan ek oukei wees?" Hy het niks gesê nie. Die ambulans se sirene was ál geluid. Dit het gejaag en ek het net gehoop ons maak nie nog 'n ongeluk nie. Ek weet hoe mense op die ou Vereeniging-pad bestuur.

Toe ons so teen sewe-uur by Sebokeng-hospitaal aankom, is ek op 'n staaltrollie gelaai en in 'n eenheid wat met gordyne afgeskort is ingestoot om te wag vir behandeling. Terwyl ek daar gelê het, het baie dinge deur my gedagtes gegaan, maar die belangrikste was: Ek het besef my lewe het onherroeplik verander.

Ná sowat vyf uur op die harde, koue oppervlak, sonder behandeling van enige aard, het onsimpatieke verpleegpersoneel uiteindelik by my uitgekom. X-strale is geneem en ek is in 'n klein kamertjie ingestoot.

'n Kubaanse dokter het ongeërg na my toe aangestap met 'n skalpel in sy hand, al pratende met iemand by die deur.

"Nee! Jy gaan nie aan my begin sny met daardie ding sonder 'n inspuiting of iets nie!" was al wat ek kon dink.

Dis toe presies wat hy gedoen het. Asof ek nie bestaan nie, het hy die skalpel tussen my ribbes geplaas en dit in my ingedruk. Dit was asof ek 'n stuk vleis op 'n slagter se tafel was.

Nadat hy die snit gemaak het, het hy 'n dreineerpyp van harde plastiek deur die gat tot in my borsholte gedruk.* Sonder om met my te praat, het die dokter die personeel opdrag gegee om my na 'n saal toe te neem. Die bed wat aan my toegewys is, was oortrek met iemand anders se droë bloed.

My suster, wat pas aangekom het, het volstrek geweier dat ek in daardie omstandighede daar bly. Sy het ander hospitale gebel in 'n poging om een te kry wat my sou opneem.

Maar die kwessie van betaling moes eers uitgestryk word. Een hospitaal wou R100 000 hê voor hulle my sou opneem. Mulbarton-hospitaal aan die Oos- Rand het ingestem om R3 000 met my aankoms en 'n verdere R10 000 betaalbaar teen tienuur die oggend te aanvaar.

My suster het 'n Netcare 911-ambulans wat pas 'n pasiënt afgelaai het, gevra om my Mulbarton toe te neem. Die ambulanspersoneel moes die dokter behoorlik smeek om my 'n pyninspuiting te gee, want tot op daardie punt het ek nog niks teen die pyn gekry nie.

Die harde realiteit
Om oorgeplaas te word op die Netcare- draagbaar was soos om op 'n wolk te land ná die koue staaltrollie waarop ek die nag deurgebring het. Ongeveer drieuur die oggend het ek by Mulbarton aangekom, waar ek na die waakeenheid geneem is.

Sebokeng-hospitaal wou nie die X-strale saamgee nie en ons moes vroeg die oggend weer laat neem. Nadat die neurochirurg die X-strale bestudeer het, het hy met my daaroor kom praat.

"Moet ek openlik met jou wees?" het hy gevra.
"Ja."
"Jy's gef*k."

Voor hy dié woorde gesê het, het ek eintlik al aanvaar dat dit die geval is. Hy het verduidelik dat die koeël onder my skouer ingegaan het, deur my long is en in my sewende bors-rugwerwel vasgeslaan het, en dat die verwydering daarvan geen doel sou dien nie.

Die sorg by Mulbarton was uitstekend, maar daar was eintlik niks wat hulle kon doen om my te help nie, behalwe om my toestand dop te hou.

Ek is vier dae later huis toe met longontsteking as gevolg van die gat in my long. My vrou wou my graag oor Kersfees by die huis hê en dit was ook vir ons belangrik om geld te bespaar. Omdat ek 'n selfondernemer was, kon ek nie bekostig om lank verlof te neem nie en was ek binne ses weke ná ek geskiet is en verlam geraak het, in 'n rolstoel terug by die werk.

Die pad vorentoe
Die lewe het aangegaan. Ek het van my liggaamsfunksies verloor, maar my lewe is goed en gelukkig. Ek is bevoorreg om daar te kan wees vir my tienerkinders. Ek kan liefde gee en ek ontvang dit elke dag van my geliefdes én vreemdelinge wat omgee. Ek het twee jaar gelede in die Kaap kom woon en geniet dit by die see. Ek eet graag lekker kos, speel op my saxofoon en geniet elke dag my werk.

As jy skielik die dood in die gesig staar, besef 'n mens hoe onseker die lewe is en dat alles binne 'n oogwink kan verander. Ek het geleer om elke oomblik te waardeer en dat nou, hierdie oomblik, al is wat ek het.

Die kans is goed dat 'n mens, eendag wanneer jy dit die minste verwag, van aangesig tot aangesig met die dood sal staan – en dan sal die dinge wat so belangrik gelyk het, niks meer beteken nie. Wat nou hier aan die gebeur is, ís my lewe.

* 'n Snit word in die borsholte gemaak, 'n dreineerpyp van harde plastiek word daardeur gedruk en die ander punt in 'n emmer water gesit. Lug ontsnap deur die pyp uit die borsholte. So word 'n ruimte van negatiewe druk in die borsholte geskep sodat die platgevalde long weer met elke asemteug kan opblaas.

Dex Goodman is 41 jaar oud en woon in St. James in Kaapstad saam met sy gesin. Hy besit en bedryf 'n vermaaklikheidswebwerf, WhatsOnSA.co.za.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Read more:
Post-traumatic stress disorder
Gunshot wounds

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.