Hoe ver sal jy jou liggaam dryf
om sukses te behaal? Ons bekyk
van die bisarre tegnieke wat
mense inspan om hul doelwit te
bereik – ongeag die pyn of skade
aan hul gesondheid
Deur Mark van Dijk
- Die skok
Misdadigers steek drukspykers in hul voete in ‘n poging om leuenverklikkers te uitoorlê.
Werk dit?
Nee. “Niks daarvan
werk nie,” sê
Fanie Groenwald.
“Dit sal allerhande reaksies op
die poligraaf veroorsaak, maar ’n
gesoute ondervraer sal maklik
agterkom dat iemand die toets
probeer manipuleer. En as al jou
reaksies dieselfde is, sal jy in elk
geval op die ou end ’n onbesliste
resultaat hê.”
Wel, dit én ’n seer voet.
’n Onbesliste resultaat beteken
dat jy iewers gejok het. Dis dus
onmoontlik dat iemand wat jok,
’n eerlike uitslag kan kry.
Hoe sou ’n poligraaftoetser
’n skelm klop?
“Ek het in die verlede al sulke
situasies gehad,” sê Fanie. “Al wat
ek doen, is om die ou te vra om
sy skoene uit te trek.”
Die Wetenskap In die fliek Ocean’s Thirteen probeer die
knorrige karakter Livingston Dell om ’n poligraaftoets (beter
bekend as ’n leuenverklikkertoets) te slaag deur ’n drukspyker
in sy voet te steek.
Dis ’n ou slenter wat heelparty mense al beproef het, sê Fanie
Groenewald van die Poligraaf-assosiasie van Suid-Afrika (Pasa).
“Ek het al die vreemdste goed gesien. Mense byt ook hul tong,
en dan is daar dié wat die stelsel probeer uitoorlê deur hul gedagtes
te probeer beheer.”
Om die drukspykerfoefie te begryp, moet jy eers verstaan hoe
’n poligraaf werk. Poligrawe toets hoe die liggaam reageer wanneer
iemand bepaalde vrae moet beantwoord. As jy byvoorbeeld ’n
leuen vertel, word sekere boodskappe deur jou onwillekeurige
senustelsel ontvang en dit veroorsaak sekere liggaamlike reaksies
wat deur die masjien waargeneem kan word.
“Dis reaksies wat jou liggaam nie kan beheer nie en so kan ons
agterkom as iemand ons om die bos probeer lei,” sê Fanie.
Die wetenskaplike beginsel agter die drukspyker-slenter is eenvoudig:
As jy ’n drukspyker in jou voet steek en daarop trap elke
keer wanneer jy ’n vraag gevra word, gaan jou liggaam op die pyn
reageer en dieselfde natuurlike stresreaksie toon as wanneer jy ’n
leuen vertel. Jou handpalms sal sweterig raak (soos wanneer jy jok),
jou oë sal rek (soos wanneer jy jok) en jou polsslag sal versnel (weer
eens soos wanneer jy ’n leuen vertel).
Die teorie is dat die pyn van die drukspyker sal veroorsaak dat ál jou
antwoorde na leuens lyk, selfs wanneer jy duidelik die waarheid vertel.
- Die skok
Paralimpiese atlete met ruggraatbeserings
gebruik selfgeseling, selfskending en blaasvernouing
vir ’n adrenalien-opstuwing om
hul prestasie te verhoog
Die wetenskap Dié onbeskaamde kullery veroorsaak ’n
toestand wat bekendstaan as vrywillige outonomiese disrefleksie,
oftewel boosting.
Atlete wat dit doen, het gewoonlik ’n rugmurgprobleem wat keer
dat hulle enige pyn voel. Deur hulself fisieke skade aan te doen,
veroorsaak hulle ’n opbruising van adrenalien – die liggaam se
“veg-of-vlug”-reaksie op ’n aanval. Die verhoogde adrenalienvlak
kan hul prestasie met tot 25 persent opjaag.
Wanneer hulle hulle nie opsetlik beseer nie (óf deur hulself met
’n mes te steek óf in party gevalle hul eie bene te breek), bind sulke
atlete hul kateters toe om hul blaas onnatuurlik vol te hou en so
druk op hul niere te plaas. Ook dít veroorsaak dat krag deur die
liggaam bruis.
“Ons praat van hoofpyn, hoendervleis, breinskade, bloedvate
wat bars . . . Daar was selfs al gevalle waar atlete gesterf het,” het
Peter van de Vliet, mediese en wetenskaplike direkteur van die
Internasionale Paralimpiese Komitee, aan die nuusagentskap
Reuters gesê.
“Atlete veroorsaak gewoonlik die reaksie deur die
blaas in te gord of af te sluit, of deur op iets skerps te sit.”
Volgens Peter ding die atlete wat hulle aan dié uiterste maatreëls
skuldig maak, meestal mee in die hoogs gestremde vlakke in tafeltennis,
swem, rolstoelwedrenne en fietsry.
Werk dit?
Ja. Boosting kan werk – partykeer.
Maar dit kan ook veroorsaak
dat die atleet ’n beroerte kry
en sterf. “Dit is nog steeds ’n bekende vorm
van kullery,” sê professor Tim Noakes
van die Suid-Afrikaanse Sportwetenskapsinstituut.
“Hoewel die atlete dit
bewustelik doen, lei dit tot ’n onbewuste
reaksie omdat hulle nie die
drukking in byvoorbeeld die blaas kan
voel nie. Die proses stuur inligting na
die brein, en die brein sê: ‘Oeps, ons
het ’n probleem’ en aktiveer die simpatiese
senustelsel. Hulle is dan meer
op en wakker, daar’s meer adrenalien
en ek vermoed krag en uithouvermoë
verbeter as gevolg daarvan.”
Hoewel dié slenters nie dwelms behels
nie, word dit steeds in die antidwelm-
reëlboeke as ’n vorm van kullery
beskou, sê Tim. Hy skud sy kop: “Jy
weet, atlete . . . Hulle sal altyd iéts
probeer om ’n voordeel te kry.”
- Die skok
Modelle
eet papier of watte om
brandmaer te bly
Die wetenskap Dit klink logies: Jy
is ’n model wat so maer soos ’n riet probeer
bly. Pleks daarvan om regte kos te
eet, maak jy jou maag vol deur, wel, jou
maag vol te maak – maar met goed wat
heeltemal geen voedingswaarde het nie.
In hul boek The Skinny: What Every
Skinny Woman Knows About Dieting
beweer Patricia Marx en Susan Sistrom
dat sommige modelle hul middeltjies
dun hou deur watteballetjies te eet.
Maar dis nie ’n dieet nie, dis ’n eetversteuring:
Óf hierdie modelle ly aan
anoreksie, wat hulle dryf om hulle uit
te honger om maer te wees, óf hulle het
’n onnatuurlike aptyt vir nie-voedsame
dinge – soos steenkool, grond, kryt, as,
papier of watte – as gevolg van ’n mediese
afwyking genaamd pika.
Wetenskaplikes
is nog steeds onseker oor die
oorsake van pika, hoewel dr. Cynthia
Ellis van die Nebraska Medical Association
in Amerika reken dat dit met tekorte
aan yster, kalsium, sink en ander
voedingstowwe te doen kan hê.
Werk dit?
Nee. Dié verspotte supermodel-
diëte werk glad nie. Vra maar vir die die Suid-
Amerikaanse modelle Luisel Ramos
en Ana Carolina Reston. Of
wag ’n bietjie, jy kan hulle nie vra
nie. Albei is in 2006 dood.
Wat ’n spyskaart van net sneesdoekies
of watte betref: “Jy sou dalk
’n bietjie vesel daaruit kon kry,” sê
Katherine Tudsbury, ’n gesertifiseerde
voedingsterapeut van
Kaapstad, “maar dit sal nie baie
wees nie. En buiten dit? Niks nie!”
Katherine se aanbeveling is dié
van elke ander voedingkundige:
’n gesonde, gebalanseerde dieet
wat uit regte, egte kos bestaan.
En die Britse aktrise Billie Piper
stem saam. Billie het die sneesdoekie-
dieet beproef toe onvriendelike
kommentaar van ’n
TV-vervaardiger haar tot ’n eetversteuring
gedryf het. Sy beveel
dit nie aan nie: “Ek het eenkeer
probeer om Kleenex by my keel
af te dwing. Maar ek was nog
steeds honger én ek het byna
aan die bal sneespapier
verstik!”
- Die skok
Mense verwurg hulself doelbewus
om hul vlak van seksuele
opwinding te verhoog
Die wetenskap Die teorie is dat wanneer
’n mens – deur middel
van verwurging of versmoring
– die suurstoftoevoer
na die brein
afsny, dit die plesier
van jou orgasme sal verhoog.
Hoewel dit soos
malligheid klink, is daar
bewyse dat dit wel werk.
Swemmers wat op die
punt was om te verdrink,
vertel soms van ekstatiese
gevoelens net voor hulle
hul bewussyn verloor
het.
Party neurochirurge
glo dat die gebrek aan
suurstof breinselle laat
sterf, wat ’n stortvloed
van die neuro-oordragstof
glutamaat vrystel. In
reaksie daarop skei die
brein dan reseptorblokkeerders
af om die
oormaat glutamaat te
neutraliseer, wat die
euforiese gevoelens
veroorsaak.
Maar dit is
eintlik net ’n teorie.
Die praktyk word
erotiese asfiksie genoem,
en volgens die seksuoloog
dr. Elna McIntosh
word dit dikwels aan
masturbasie gekoppel
– wanneer dit outoerotiese
asfiksie genoem
word.
“Namate die koolstofdioksied
in jou brein
opbou, verloor jy jou
bewussyn en jou reflekse
behoort dan in werking
te tree om jou weer by
te bring,” se sy. Maar
met ’n tou om jou nek
is die kans dat jy weer
sal bykom nie te waffers
nie.
Werk dit?
Miskien. Maar wie wil die gevaar
loop om uit te vind?
“Dis uiters gevaarlik, maar ongelukkig doen mense
dit nog steeds. Mense sal enigiets
beproef, veral as
dit seksueel van aard is,” sê Elna.
Volgens een skatting kan outo-erotiese
asfiksie vir tot duisend sterftes per jaar in die
VSA verantwoordelik wees.
“Dis dalk waar dat die
mense wat daaraan dood is ’n intense orgasme
gehad het,” sê Elna, “maar ons sal nooit weet
nie omdat hulle nie hier is om ons te vertel nie.
Dit is veral iets wat mans doen, en dikwels is dit
jong seuns. As ’n seun tragies sterf terwyl hy dit
beproef, kan dit soos selfmoord lyk. Die ouers
dink dan die kind het hom opgehang en doen nie
die moeite om te vra hoekom sy broek op sy enkels
hang nie.”
Daar word bespiegel dat die rockgroep INXS se
destydse hoofsanger, Michael Hutchence, in 1997
as gevolg van outo-erotiese asfiksie dood is. Maar
elke seksuele daad behoort veilig en verstandig
te wees en met die ander persoon se instemming
plaas te vind, sê Elna.
“Outo-erotiese asfiksie is nie veilig nie – dit sou
veiliger wees om eenvoudig jou asem op te hou.
Dit is nie verstandig nie omdat dit so gevaarlik is;
en selfs al het jy iemand se instemming, kan jy op
die ou end jou seksmaat verwurg.”
Bulimia – the hidden scourge
Dying for pleasure