Share

Deel 1: My lewe met kanker

My naam is Darius Coetzee (21). Tot onlangs het my lewe gedraai om my vriende, uitgaan en om nuwe mense te ontmoet.

Ek het ook baie van sport gehou. Ek was baie betrokke by sport, en het op die Studenteraad vir Boland Kollege gedien. My portefeulje was sport en dit het krieket, rugby, netbal, hokkie, vlugbal en ander sportsoorte ingesluit. Ek het ook die onder sewe rugbyspannetjie van Laerskool Gimnasium in die Paarl afgerig, want ek is mal daaroor om met jong kinders te werk, en ook om die kinders se ouers te ontmoet.

Een oggend in Augustus, toe my spannetjie gaan rugby speel het op Somerset-Wes, het ek skielik begin koud kry. Dit was my eerste gewaarwording dat iets fout is. Toe ek ewe skielik ‘n hoofpyn kry, het ek werklik geweet iets is fout. Dit was nie net ‘n gewone hoofpyn wat stadig aankom nie. Dit was skielike hoofpyne; dit het gevoel asof my kop wil bars.

Die tweede keer dat die hoofpyne my oorval het, was toe ek as rugby skeidsregter moes optree toe my spannetjie gespeel het.

Dinsdag 23 Augustus 2005
Ek het saam met my meisie by haar familie in Gordonsbaai gaan kuier. So sesuur die aand, oppad Gordonsbaai toe, terwyl ek lekker met my meisie aan die gesels was, het alles skielik bedompig begin voel. Later het my meisie my wakker gemaak. Dit was my eerste keer dat ek my bewussyn verloor het, maar ek kan niks daarvan onthou nie, en het dit aan moegheid toegeskryf.

Later daardie aand, so teen nege-uur, terwyl ek besig was om koffie te drink, het ek die tweede keer my bewussyn verloor. Weer het my meisie my wakker gemaak. Weereens het ek dit afgemaak dat ek bloot moeg was, dat ek net slaap nodig het, en dat alles weer sal regkom. Maar later dieselfde aand het ek 'n derde en 'n vierde keer weer my bewussyn verloor. En weereens het ek gedink ek is maar net moeg, en het gaan slaap.

24 Augustus 2005
Ons het die oggend lekker vroeg wakker geword en teruggery Paarl toe. By die huis het ek weer 'n rukkie gaan slaap en toe reggemaak vir kollege. Ek is 8 vm kollege toe, en moes weer my bewussyn verloor het, want ek het 'n uur later in die hospitaal se ongevalle-afdeling wakker geword. My pa en my meisie was by my. Ek kon niks onthou van die gebeure voor-af nie.

In die hospitaal het ek voortdurend aan die slaap geraak. 'n Klompie toetse is op my gedoen, soos byvoorbeeld om te kyk of ek reg kan loop en of ek nie bewe nie.

Later die oggend is ek na die Paarl Medi-Kliniek vir X-strale van my brein. Die dokters het gesê dat ek 'n epileptiese aanval gehad het en dat ek as voorsorgmaatreel in die hospitaal moes bly.

(Health24, November 2005)

Lees meer:
Deel 2: My lewe met kanker
This story is also available in English

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE