advertisement
12 August 2010

Daar's 'n tydbom in jou boep

Stuur jy af aan 'n vroeë hartaanval of beroerte? As jy ly aan metaboliesie sindroom is die antwoord beslis ja.

0

Stuur jy af op 'n vroeë hartaanval of beroerte? As jy ly aan metabolise sindroom is die antwoord beslis ja. Dis die versamelnaam vir vyf mediese toestande, waaronder vetsug en hoë bloeddruk, wat jou kans op 'n vroeë dood beduidend verhoog. Maar 'n gesonde lewenstyl kan jou lewe red.
Deur MARí HUDSON en ILSE SALZWEDEL

Nege maande gelede was Alfred Jadezweni* (49), 'n TV-programvervaardiger van Johannesburg, kwaai oorgewig. Sy bloeddruk was hemelhoog, sy cholesterolvlak kommerwekkend, hy het gesukkel met jig, was doodmoeg en sy slaap-apnee was so ernstig dat 'n masjien in die nag moes keer dat hy nie in sy slaap ophou asemhaal nie.

Hy het 120kg geweeg en het al elke denkbare dieet beproef en hom selfs tot maermaak-inspuitings gewend, maar tevergeefs. Toe, uiteindelik, beland hy verlede Junie by prof. Tessa van der Merwe, endokrinoloog van die Universiteit van Pretoria.

Teen daardie tyd was sy risiko vir 'n hartaanval of hartversaking baie hoog, en hy was so vetsugtig dat hy 'n kandidaat vir 'n maagverkleinings- of omleidingsoperasie was. Hy moes ook elke dag hande vol pille sluk om sy bloeddruk en cholesterol te probeer verlaag en sy jig in toom te hou.

Hy was as kind nooit oorgewig nie, maar namate hy ouer geword het, het sy gesondheid agteruitgegaan, alles weens slegte gewoontes: te min oefening, te veel kitskos – en wanneer hy wel by die huis kos gemaak het, die verkeerde koskeuses.

Maar vir 'n maagoperasie het Alfred nie kans gesien nie; hy het besluit om sy lewenstyl te verander. Tessa het 'n laevetdieet met veral min diervette voorgeskryf en hy moes sy alkoholinname baie beperk. Hy moes kleiner porsies eet, maar meer gereeld, en hy moes oefen.

Dit was nie maklik nie, maar Alfred het deurgedruk en sowat 25kg in die eerste sewe maande verloor. Hy is steeds op 'n dieet en meer gemotiveerd as ooit om die ekstra kilo's af te skud.

"Ek het opgehou om ná agt saans groot etes te eet. As ek om die een of ander rede wel laat moet eet, kies ek deesdae 'n slaai. Ek eet ook niks meer wat in olie gebraai is nie."

Alfred werk steeds lang, ongereelde ure en om sy kosroetine by die werk te verander en die versoeking van ongesonde kitskos te beperk, het hy voorafverpakte maaltye bestel van 'n maatskappy wat daarin spesialiseer om gesonder alternatiewe vir kantoorwerkers te bied – in sy geval Meal-in-a-box.

"Ek het kos en versnaperinge gekies wat inpas by my nuwe eetplan en dit het beslis gehelp om slegte eetgewoontes na goeies te verander."

Hy het feitlik alle brood, suiker en gis – daarom ook bier – uitgesny. Deesdae eet hy baie groente en maak hy sy koskeuses volgens 'n lae-GI-eetplan.

Alfred sê dit help baie dat sy vrou, Portia, 'n wakende oog hou oor die eetgewoontes van die hele gesin – hulle het vier kinders. Sy let ook op die manier waarop sy hul kos voorberei.

Alfred het die nie geweet nie, maar hy het aan metabolise sindroom gely, 'n toestand wat ook soms sindroom X genoem word. Hy was nie insulienweerstandig nie, maar hy het wel die ander tipiese simptome van metabolise sindroom gehad: oorgewig, hoë bloeddruk en gevaarlike bloedcholesterol- en bloedvetvlakke.

En soos vir baie ander pasiënte met metabolise sindroom het baie van sy risiko's afgeneem namate hy die kilogramme afgeskud het. Nie net is hy fikser nie, maar sy bloeddruk is nie meer so hoog nie, sy cholesterol laer, sy jig en slaap-apnee minder en hy is nie meer so moeg nie. En les bes: Sy risiko vir 'n hartaanval is vandag beduidend laer as nege maande gelede.

Wat is metabolise sindroom?

Metaboliese sindroom is 'n toestand wat jou kanse op 'n voortydige dood beduidend verhoog. Dis die versamelnaam vir 'n groepering van vyf siektetoestande – oorgewig, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, hoë bloedvet en insulienweerstandigheid – wat saam 'n ernstige aanslag op jou hart en bloedvate loods. Insulienweerstandigheid is daarby 'n voorloper van diabetes.

Elkeen van hierdie toestande is reeds lewensbedreigend. As jy drie of meer van die vyf het, ly jy volgens dokters beslis aan metabolise sindroom. Die kans dat jy byvoorbeeld aan 'n hartaanval sal sterf, word 300 persent groter. Dis soos 'n domino-spel, sê dr. Magda Conradie, spesialis by die department endokrinologie en die metabolise eenheid van die Universiteit Stellenbosch.

Dokters stem nie saam daaroor of metabolise sindroom op sigself as 'n siekte beskou moet word nie, maar die begrip help hulle wel om pasiënte met 'n hoë risiko vir hartsiektes en beroerte vinniger te diagnoseer, sê sy.

"Sulke pasiënte se afsonderlike kwale moet aggressiewer behandel word om vroeë sterftes te keer."

Die ironie is dat byna alle gevalle van metaboliese sindroom deur die pasiënt self voorkom kan word, sê sy. As jy 'n boepmaag op 'n peervormige figuur het, is die kans goed dat jy op pad is na metaboliese sindroom of dit reeds het, want oormatige maagvet is in die meeste gevalle die wortel van die kwaad.

Omdat die meeste mense met te veel maagvet ook oorgewig is, behoort alle mense wat oorgewig is vir metaboliese sindroom getoets te word.

Meer as die helfte van alle volwasse vroue in die land, byna 'n derde van alle mans en een uit 12 kinders is reeds so oorgewig dat hulle vinnig op pad is na die toestand en dus 'n hartaanval of beroerte. Na raming ly tot 'n derde van alle volwassenes in ons land reeds aan metaboliese sindroom.

Wat kan jy doen?

Die goeie nuus is dat jy metaboliese sindroom kan voorkom deur bloot jou leefstyl te verander, of as jy reeds aan die probleem lei, kan jy met leefstylveranderings (en medikasie waar nodig) jou risiko soveel verminder dat jy nie meer 'n lyer is nie.

As jy oorgewig is, moet jy 'n daadwerklike plan maak om gewig te verloor en as jou bloeddruk hoog is, moet dit baie versigtiger beheer word as wat die geval sou wees as jy nie metaboliese sindroom het nie.

Dié praktiese stappe sal help:

1. Begin vandag nog oefen

Dit is voorkomend, maar ook 'n noodsaaklike deel van behandeling saam met die regte medisyne vir dié wat reeds aan die sindroom ly. Stap, ry fiets, draf, swem, dans, roei, rolskaats of wat ook al vir jou lekker is. Doen dit minstens 120 minute per week. Begin stadig, maar oefen minstens drie keer per week en vestig 'n roetine. As jy nie 30 minute aaneen kan stap nie, begin met drie sessies van 10 minute elk.

Op 'n onlangse mediese kongres oor maagvet in Amerika het navorsers vertel dat gereelde oefening die belangrikste manier is waarop giftige maagvet verwyder kan word. Hou aan oefen, al wys die skaal nie noodwendig dat jy gewig verloor nie, want die oefening vernietig maagvet en bou groter en swaarder spiere. Oefening verminder ook insulienweerstandigheid.

2. Hou op rook

Rook verhoog mense met metaboliese sindroom se risiko vir 'n hartaanval beduidend.

3. Eet reg

Dit is voorkomend en ook 'n noodsaaklike deel van die behandeling. As jy oorgewig is, is dit belangrik om die gewig af te skud teen 'n tempo van 0,5-1kg per week, en wel met 'n hoëvesel-, lae-GI- en laevet-eetplan.

Hoe doen jy dit? Vervang verfynde koolhidrate soos witbrood met growwe brood, vervang witrys met basmati- of bruinrys, wit pasta met volgraanpasta, eet minder suiker, lekkers, sjokolade, koekies en pasteie en meer vars vrugte en groente, kies vis, maer vleis en hoender sonder vel, vermy romerige kosse en soteer of braai kos in min vet eerder as om dit te diepbraai.

Pak eerder vars vrugte of klein porsies droëvrugte en neute in jou kind se kospakkie as snoepgoed, en vervang witbrood en konfyt met volgraanbrood en ham, en gaskoeldrank met gegeurde melk of jogurt. In 'n studie is bevind mense wat kunsmatig versoete koeldrank drink, het 'n groter kans om metabolise sindroom te ontwikkel, al is navorsers nog nie seker hoekom nie.

Eet minder sout en leer jou kinders van kleins af om nie ekstra sout te gebruik nie, selfs al is jou bloeddruk normaal. Opspraakwekkende nuwe navorsing in Amerika toon dat as jy net 1g sout minder per dag eet, kan jy ’n dramatiese verskil aan jou kans op oorlewing maak deur jou bloeddruk te verlaag. Suid-Afrikaners eet sowat 8-9g sout per dag, meer as dubbel die gesonde hoeveelheid, meestal uit verwerkte en klaar voorbereide kosse.

Is jy in gevaar?

Sommige mense het 'n groter risiko om metabolise sindroom te ontwikkel as ander. Verskeie faktore speel 'n rol, en as jy ja antwoord op net een van die vrae hieronder, moet jy en jou dokter bedag wees op die moontlikheid dat jy aan metabolise sindroom kan ly. As jy ja antwoord op drie of meer van die vrae, ly jy reeds aan die toestand.

1. Is jou middellyf-omtrek meer as 88cm as jy 'n vrou is en meer as 102 as jy 'n man is? Dit beteken jy is oorgewig en dat baie van jou vet om jou organe aangepak is. Jy het dus baie gevaarlike inwendige maagvet wat gifstowwe afskei en voortdurend orgaanskade aan jou hart, niere, lewer en ander organe aanbring.

2. Is jy insulienweerstandig? (Jou dokter moet 'n reeks bloedtoetse doen om jou vastende bloedglukosevlak te bepaal – hoër as 5,6mmol/L is te hoog.) Of het jy reeds tipe 2-diabetes? Insulienweerstandigheid staan ook bekend as prediabetes. Die eerste tekens van insulienweerstandigheid is futloosheid, 'n chroniese dors en meer gereelde urinering. Dié opstanery in die nag dra by tot slaapprobleme en moegheid.

3. Is jou bloeddruk hoër as 130/80 of gebruik jy reeds bloeddrukpille om jou bloeddruk te verlaag? Laat dit sommer by jou apteek of kliniek meet as jy onseker is.

4. Is jou bloedcholesterolvlak abnormal? As jou "goeie" oftewel HDL-cholesterol te laag is (laer as 1,29 mmol/L in vroue en laer as 1,03mmol/L in mans), is jou "slegte" of LDL-cholesterolvlakke dikwels terselfdertyd te hoog, wat beteken dat gevaarlike cholesterolplaak teen jou bloedvatwande kan aanpak en jou bloedvate verstop. 'n Volledige bloedtoets by 'n patologielaboratorium sal dit bepaal.

5. Is daar te veel vet in jou bloed, dus hoë vlakke van trigliseriede (as die "vet"-molekules in jou bloed meer as 1,7mmol/L is)? Dit kan met 'n bloedtoets vasgestel word.

* Skuilnaam.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.) – Somer 2009/2010

Read more:
Bly weg van kitsoplossings!
4 algemene vrae oor die toestand
Beer belly blues

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

The debate continues »

Working out in the concrete jungle 7 top butt exercises for guys 10 things pole dancing can do for you

The running vs. walking debate

There are many different theories when it comes to the running vs. walking for health and weight loss.

Veganism a crime? »

Running the Comrades Marathon on a vegan diet Are vegans unnatural beasts? Can a vegan be really healthy?

Should it be a crime to raise a baby on vegan food?

After a number of cases of malnourishment in Italy, it may become a crime to feed children under 16 a vegan diet.