Share

As 'n aura jou waarsku

Vir sommige is dit die kenmerkende reuk van brandende rubber, of die klank van musiek, of 'n gevoel van déja-vu wat as die eerste waarskuwingsteken van 'n naderende epilepsie-aanval dien.

Wat is dié aura en wat kan 'n mens daaruit wys word? Kan jy inderdaad vra.

Meer mense ervaar 'n aura weens epilepsie of migraine as wat 'n mens sou dink. Een uit sowat 200 mense kry epilepsie, wat as 'n elektriese storm in die brein beskryf kan word. Baie van dié storms begin met 'n epileptiese aura. Migrainelyers wat een of ander waarskuwingsaura met ligflitse ervaar, het 'n fraksie van 'n idee wat 'n aura beteken vir iemand wat met epilepsie lewe.

Wat is 'n aura?
'n Epileptiese aura moet nie verwar word met die mistieke, onsigbare maar veelkleurige stralekrans wat elke lewende liggaam omhul nie, al word albei "auras" afgelei van dieselfde Griekse moederwoord wat "bries" of "asem" beteken.

In sommige gevalle is die aura die hele epileptiese toeval, en in ander gevalle kan die aura in 'n volledige aanval oorgaan, verduidelik dr. Andrew Rose-Innes, 'n neuroloog van Seattle wat in Suid-Afrika gebore is.

Auras verskil van mens tot mens. Sommige mense ervaar 'n emosie: 'n skielike angstigheid, spanning of vrees. Ander ervaar 'n spesifieke sensasie wat net húlle kan voel, soos 'n skielike opwelling van warmte, of dat jou lyf afkoel; of 'n spesifieke smaak of klank, soos musiek wat êrens speel. Sommige raak net bewus van 'n reuk - dikwels 'n onaangename een soos dié van brandende rubber.

Die aura kan ook verskyn in die vorm van 'n gevoel van déja-vu -waar vreemde mense of plekke bekend voorkom - of as die teenoorgestelde, naamlik jamais vu - waar mense en situasies wat bekend behoort te wees, vreemd voel.

"Vir my was dit die reuk van piesangs. Wanneer ek dit geruik het, het ek dadelik gaan sit, waar ek ook al was, voordat die swartheid oor my gespoel het," sê Vusi Mahlasela, een van Suid-Afrika se talentvolste en mees gerespekteerde musici.

Baie mense vind dit moeilik om hul aura in woorde te omskryf. Dit is bloot 'n vreemde gevoel, sê hulle.

Mense wat reeds lank met epilepsie lewe, leer om die aura te herken en hulle op 'n naderende toeval voor te berei deur byvoorbeeld op 'n veilige plek te gaan lê.

Die betekenis van die aura
Die teenwoordigheid van 'n aura beteken dat die epileptiese aanval in 'n spesifieke deel van die brein ontstaan. Dit kan uitbrei en 'n "algemene" aanval word.

In sommige gevalle is die oorskakeling van aura tot aanval so vinnig dat die mens nie eens behoorlik van die aura bewus word nie. Epileptiese aanvalle wat gelyktydig in albeihemisfere van die brein ontstaan, begin nie met 'n ware aura nie.

Die soort aura kan aandui watter spesifieke area in die brein op 'n abnormale wyse geaktiveer word.

'n Reuk-hallusinasie ontstaan meestal in die temporale lobbe aan die buitenste sykante van die brein. 'n Onwillekeurige rukbeweging van 'n hand (nie heeltemal 'n aura nie, want dit is nie 'n sensasie nie, maar van soortgelyke belang as 'n aura) dui op abnormale breinaktiwiteit in die teenoorgestelde frontale lob. Met ander woorde, as jou linkerhand ruk, dui dit op abnormale breinaktiwiteit in die regtervoorkant van die brein.

Met dié soort inligting sal dokters versigtig met die hulp van MR-skanderings en hipertegnologiese breinkarteringstegnieke hul soektog begin na letsels in die betrokke dele van die brein, en as daar wel is, probeer vasstel of die letsels die elektriese kortsluitings en dus epileptiese aanvalle veroorsaak.

Wanneer iemand 'n aura ervaar, beteken dit voorts dat die epileptiese aanval inderdaad in 'n spesifieke deel van die brein begin, en dat sommige soorte behandeling - soos chirurgie - doeltreffender as ander kan wees. In die geval waar 'n aura afwesig is, is chirurgie meestal nie aangewese nie.

Wat staan 'n mens te doen as jy die eerste tekens van 'n aura ervaar?

Met 'n epileptiese aanval kan 'n mens baie vinnig jou bewussyn verloor, en dikwels sonder enige waarskuwing. Mense wat tot epilepsie geneig is, moet liefs nie alleen swem, bad, bestuur of gevaarlike masjinerie gebruik nie. As jy 'n aura ervaar terwyl jy een van dié take verrig, moet jy langs die pad stilhou, of uit die swembad of bad klim, of die masjien afskakel en wegpak, en selfs op 'n veilige plek gaan lê.

Wat moet jy doen as iemand 'n epileptiese aanval kry?
Epileptiese aanvalle duur gewoonlik net 'n paar sekondes of minute, maar kan totale bewussynsverlies beteken.

As dit gebeur:

  • Moenie iets tussen die persoon se tande probeer sit nie.
  • Maak seker dat die persoon nie seerkry nie. Skuif die meubels of enigiets anders waarteen die persoon kan stamp en hom kan beseer, uit die pad.
  • Plaas 'n kussing onder die persoon se kop en moet hom of haar nie probeer vasdruk nie.
  • Draai die persoon op die sy met die kop na onder sodat enige vloeistof uit die mond kan dreineer en die persoon nie verstik nie.

Die meeste aanvalle eindig spontaan en sonder enige medikasie binne 'n minuut of twee. As die persoon egter bewusteloos bly, is doktersbehandeling dringend nodig.

(mhudson@health24.co.za, Augustus 2004)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE