Share

As jou gedagtes wegglip

Baie mense wat net verstrooid of vergeetagtig is, vrees hulle het Alzheimer se siekte. Hoe weet jy wanneer jy of 'n geliefde werklik aan dié toestand ly – en is daar iets wat jy kan doen om dit te voorkom of te verbeter?
Deur ALET VAN ZYL

Toe sy in April 2008 skielik net van die radar af verdwyn, was Toekoe Chamberlain (54) van Kroonstad se dogters rasend van bekommernis.

Tien dae lank het hulle en haar vriendinne haar probeer kontak en opspoor, maar sonder enige sukses.

Uiteindelik het Yolandi Stander (27) en Elizma Reyneke (24) die pad gevat van Pretoria af om te gaan uitvind wat aangaan. In Kroonstad het hulle vir Toekoe in haar slaapkamer gekry – en dit was duidelik dat sy al dae lank net so in haar bed lê.

Sy was onsamehangend, ontwater en het dae tevore laas gebad, vertel Yolandi. Maar die vreemdste was Toekoe se verduideliking. "Ek is 'n bietjie moeg, ek slaap net," het sy gesê.

Yolandi en Elizma kon nie verstaan wat fout is nie, maar toe sy later die dag by die bank plat op haar boude gaan sit, het hulle geweet iets is verkeerd. Toekoe was immers nog altyd 'n waardige vrou.

Hulle het eers haar huisdokter gaan spreek en toe 'n neuroloog. Toe kom die nuus: Toekoe het Alzheimer se siekte.

As sy nou terugdink, vertel Yolandi, was die tekens tog daar. "My ma het einde 2007 in Pretoria, waar sy vroeër gewoon het, by ons kom kuier, maar verskriklik verdwaal. Dit was so erg dat ons haar moes vra wat sy om haar sien en haar toe moes gaan haal.

"Sy was ook ál meer geneig om te val en kon skielik nie 'n kasdeur of laai toe los nie. Sy het in alles begin krap en in die motor het sy elke liewe knoppie gedruk," vertel Yolandi. Dit blyk nou dié optrede is alles vroeë tekens van Alzheimer.

Toekoe word tans in 'n tehuis vir bejaardes versorg, al is sy veel jonger as die meeste mense rondom haar. "Sy dink ons straf haar, maar dis die beste versorging wat ons haar kan gee," sê Yolandi.

Toekoe het immers heeltydse sorg nodig. Sy bad nie meer as iemand nie stap vir stap vir haar sê wat sy moet doen nie. "Ek en my ma kan nou nooit weer na 'n winkelsentrum toe gaan nie, want die baie mense laat haar verward voel. Eintlik haal my ma nou net asem," sê Yolandi hartseer.

Alzheimer tref ook jong mense
Op 53 was Toekoe betreklik jonk om met Alzheimer gediagnoseer te word, maar dit kan ook mense tref wat nog veel jonger is. Soos die Brit Mark Priddy – die pa van twee lieflike tienerdogters, maar hy is salig onbewus daarvan.

Vier jaar gelede, op die ouderdom van net 35 jaar, is Mark met Alzheimer gediagnoseer.

Soms, net vir 'n oomblik, onthou hy nog sy vrou, Dione, en af en toe glimlag hy vir sy dogters, Eleanor (12) en Bethany (10). Maar die liefdevolle, rustige man van vroeër is deesdae aggressief en onvoorspelbaar. Dit was daarom dat Dione (39) uiteindelik die besluit moes neem om Mark in 'n tehuis te laat opneem.

"Ons kon net nie meer so aangaan nie," sê sy. "Ons was bang vir hom. Daar is 'n duik in die muur waar hy na Ellie geslaan het. Ek moes tussen die ses voet lange man en my klein dogtertjie intree. Hy het uitgevaar omdat hy net nie meer die geraas kon hanteer nie."

In 2002, toe hulle vyf jaar getroud was, het Dione agtergekom Mark se gedrag verander. Hy was toe maar 32 en 'n suksesvolle eiendomsagent.

Hy is met depressie gediagnoseer en daarvoor behandel, maar het aanhou agteruitgaan. Teen 2004 was dit so erg dat hy sewe poste binne drie weke verloor het.

Mark het uiteindelik 'n werk gekry om bokse in 'n pakhuis te pak. Sy base het gesien hy tree vreemd op en uiteindelik is hy na 'n neuroloog verwys. Hy is ure lank getoets en oplaas het die egpaar die nuus gekry: Mark ly aan voorseniele demensie, 'n soort Alzheimer wat vroeg toeslaan.

Vergeetagtig
Gevallesoos Mark en Toekoe s'n, waar Alzheimer voor die ouderdom van 60 al begin, is seldsaam.  Mense wat bekommerd is dat hulle dalk aan vroeëaanvang-Alzheimer ly, is bes moontlik bloot vergeetagtig, sê prof. Malan Heyns, voorheen hoogleraar in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat en nou adjunkvoorsitter van Alzheimer Suid-Afrika.

"Met gewone vergeetagtigheid kan jy dikwels deur te redeneer dink waar jy laas jou sleutels gesit het, maar met Alzheimer kan jy nie," verduidelik Malan.

En hoewel grappies oor Alzheimer se siekte dikwels handel oor vergeetagtigheid, is dit maar net een van vele simptome.

Lyers se oordeel gaan ook verlore, sê hy. "Hulle sal byvoorbeeld dom saketransaksies aangaan en skielik hardkoppig word." En hul persoonlikheid verander dikwels. Hulle is lusteloos, sonder energie en prikkelbaar.

Die pasiënte kry ook soms hallusinasies, sê dr. Mariët van Niekerk, 'n neuroloog by die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria. "Baie dikwels sal die pasiënt vreemde mense in die huis gewaar of diere sien wat nie regtig daar is nie." Of hulle verbeel hulle hoor stemme.

Die pasiënt kan glo iemand agtervolg hom, dat iemand hom leed wil aandoen, hom wil vergiftig, of dat sy huweliksmaat ontrou is.

In die gevorderde stadium kan Alzheimer-pasiënte nie meer alledaagse dinge doen nie. Hulle het hulp en toesig nodig om byvoorbeeld te bad, aan te trek, inkopies te doen, kos te maak en selfs die telefoon te gebruik.

Vergeetagtigheid is egter ook 'n algemene simptoom van heelparty ander toestande soos alkoholisme, depressie of spanning. 'n Onderaktiewe skildklier en 'n tekort aan vitamien B12 of kalsium kan ook vergeetagtigheid tot gevolg hê, sê Mariët.

Maar dié toestande is almal behandelbaar, terwyl Alzheimer se siekte die brein permanent beskadig. Alzheimer is ’n tipe demensie, dus die gevolg van breinselle wat doodgaan. In dié geval sterf die breinselle weens 'n proteïenneerslag wat hulle vernietig. Navorsers kon die oorsaak hiervan nog nie vasstel nie.

Minder as 10 persent van alle Alzheimer-gevalle word geneties oorgedra, en al het jou ma en pa Alzheimer se siekte, is dit baie moeilik om te voorspel of dit jou ook sal tref, sê Malan.

Sowat 'n halfmiljoen Suid-Afrikaners ly aan demensie en die meeste van hulle het Alzheimer se siekte.

Een uit elke duisend mense onder 65 jaar ly aan demensie. Tussen 65 en 79 jaar styg dit tot een uit elke 20, tussen 80 en 84 jaar tot een uit elke vyf en bo 85 jaar tot een uit elke vier mense.

 Behandeling
Hoeweldaar nog geen genesing vir Alzheimer se siekte is nie en die geheue nie herstel kan word nie, wys Mariët daarop dat die ander simptome, byvoorbeeld die hallusinasies en delusies, baie suksesvol behandel kan word.

As dié simptome met medisyne en psigoterapie bestuur word, kan die gehalte van die pasiënt se lewe aansienlik verbeter.

Wanneer 'n huisdokter of familielede vermoed iemand ly aan Alzheimer se siekte is dit baie belangrik dat 'n spesialis die pasiënt evalueer, sê Mariët.

Die toets wat neuroloë tans die algemeenste gebruik, is die Mini-geestestoestandstoets oftewel die Mini Mental State Examination (MMSE). Dit toets wel net die geheue en kan nie bevestig dat dit Alzheimer is wat veroorsaak dat jy feite soos jou huisadres vergeet nie.

Die MMSE wys net sowat 52 persent van Alzheimer-gevalle uit. Die res sal waarskynlik met breinskanderings of 'n studie van hul familiegeskiedenis gediagnoseer word, meen Mariët.

Sy is wel baie opgewonde oor die nuwe Toets-jou-geheue-toets (Test Your Memory of TYM) wat verlede jaar deur dr. Jeremy Brown van die Cambridge-universiteit in Engeland ontwikkel is en sensitief genoeg is om 93 persent van Alzheimer-pasiënte te diagnoseer.

In teenstelling met die MMSE vul die pasiënt self die vraelys in (sien kassie heel links) en die antwoorde word dan deur 'n neuroloog geëvalueer. Dit duur alles net 'n paar minute.

Dis egter belangrik dat jy die toets saam met jou dokter doen, sê Jeremy.

'n Mens kan ook voorkomend optree deur jou brein gereeld te oefen, sê Mariët. "Selfs ná aftrede moet die brein steeds daagliks gestimuleer word deur blokraaisels in te vul, Sudoku te speel, te lees en na musiek te luister. Jy kan ook jou konsentrasievermoë oefen deur lank op 'n prent te fokus en die brein te dwing om nie aan ander dinge te dink nie. Selfs rekenaar- en televisiespeletjies kan die geheue stimuleer."

Basiese gesondheidsbeginsels soos 'n gesonde dieet, gereelde oefening, gewigbeheer en beperkte alkoholinname en geen nikotien is ook noodsaaklik om gesond te verouder, maar dit kan nie noodwendig Alzheimer voorkom nie. Genoeg vitamien E in jou dieet – kry dit van neute, sonneblomsade en groen blaargroente – en die aanvulling ginkgo biloba sal ook die brein gesond hou, sê Mariët.

Wanneer jy sulke aanvullings as pille inneem, is dit belangrik om dit net onder voorskrif te doen, sê Mariët. Te veel vitamien E kan beroerte tot gevolg hê, terwyl ginkgo biloba nie saam met aspirien geneem behoort te word nie.

As jy vermoed jy of 'n geliefde toon simptome van Alzheimer is die belangrikste om so gou moontlik by 'n dokter uit te kom.

"As jou huisdokter dit afmaak as oudword-simptome, gaan spreek 'n spesialis," sê Mariët.

 Versorg so 'n geliefde met Alzheimer se siekte

1. Gee dadelik pad as die pasiënt gewelddadig word. Verlaat die vertrek indien nodig en keer eers terug nadat hy of sy bedaar het.

2. Moenie met hulle probeer redeneer nie; hulle het die vermoë verloor.

3. Laat vreemde gedrag toe as dit niemand anders benadeel nie. Dis pasiënte se manier om sin uit hul nuwe "vreemde" omgewing tussen "vreemde" mense te maak. Voorbeelde hiervan is om voortdurend 'n tas te pak, 'n kas reg te pak of 'n handsak in die bed weg te steek.

4. Let daarop dat vreemde gedrag 'n manier is om vir die oppasser te sê iets is fout. Die pasiënt sal dalk skielik uitroep, slaan, vloek, huil of lag. Probeer hul aandag aflei van dit wat hulle ontstel.

5. As jy kan bepaal wat die sneller is wat die oorreaksie uitlok, kan jy dit probeer voorkom of hulle kalm hou wanneer dit gebeur. Dit kan enigiets wees van 'n hallusinasie tot dat hulle dors is of toilet toe wil gaan.

6. Lyers raak dikwels geïrriteerd omdat hulle sukkel om take te voltooi. Wanneer jy vir hulle wys of sê wat om te doen, gee die opdragte een vir een en laat genoeg tyd tussen elkeen toe.

7. Moenie te veel keuses gee nie. Sê eerder "Wil jy hierdie rok aantrek?" as "Watter rok wil jy aantrek?"

8. Moenie bekende roetines verander nie.

 

As lyers geneig is om te dwaal of weg te loop:

1. Kry 'n MedicAlert-armband vir Alzheimer-lyers.

2 Sit 'n klokkie of metaalvoorwerp aan die buitedeur om jou daarop bedag te maak as dit oopgaan.

3. Lig 'n veiligheidswag en bure in die omgewing in oor die situasie.

4. Sluit die deur indien nodig, en maak seker hulle kan nie uitkom by gevaarlike voorwerpe en toestelle soos die stoof en gifstowwe nie.

5. Moedig vriende en familie aan om by die pasiënt te kom kuier. Dikwels loop hulle weg om by geliefdes te gaan kuier.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Alzheimer's Condition Centre

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE