Share

Alkohol: anders vir elkeen

Vandag drink jy drie of vier glase wyn en voel heel in beheer, net om môre heeltemal onkapabel te voel na twee glase. Hoekom?

En waarom reageer jy en jou buurman nie presies dieselfde as julle elkeen ‘n bottel bier drink nie? Dr. Izak Loftus, forensiese en anatomiese patoloog van die Pathcare groep, bekyk die saak.

Hierdie tyd van die jaar veral is daar dan menige rate oor alkohol, hoe jy moet drink, wat jy moet doen as jy te veel gedrink het, en sommer ook nog raad as jy iets gedoen het wat jy nie moes doen nie toe jy te veel gedrink het.

Want om te drink, het nagevolge, en dié nagevolge is baie akkuraat deur die eeue beskryf.

Salomo van die Bybel skryf: “Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger is verstandig nie.” En “Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank. Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die beker, so lekker smaak nie. Agterna pik hy soos ‘n slang, spoeg hy gif soos ‘n kobra. Dan sien jy vreemde dinge en praat jy verkeerde dinge; dit voel of jy op die oop see lê, of jy bo-op ‘n seilskip se touwerk lê, en jy dink: ek het dan nie seergekry toe hulle my geslaan het nie; ek het nie gevoel toe hulle my aangeval het nie! Wanneer word ek wakker? Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.”

William Shakespeare het gewys op die nadelige effekte van alkohol in Macbeth (Act II Scene I):

Macduff: What three things does drink especially provoke?

Porter: Marry, sir, nose-painting, sleep, and urine. Lechery, sir, it provokes and it unprovokes; it provokes the desire, but takes away the performance:…...

Alkohol speel groot rol in beseringsterftes
Die gevolge van oormatige alkoholgebruik en –misbruik is ‘n skandvlek op ons Suid-Afrikaanse samelewing waaraan ons swaar dra aan die gevolge.

Volgens die Vierde Jaarverslag van die Nasionale Beserings Mortaliteit Waarnemingsisteem 2002, (Fourth Annual Report of the National Injury Mortality Surveillance System 2002), is die bloed alkoholkonsentrasie gemeet in 11927 van die 25494 van mense wat weens beserings gesterf het. Die gemiddelde bloedalkoholkonsentrasie (BAK) was ‘n ontstellende 0,18+ tot 0,1 g / 100 ml (g%).

Ontleding van die verskillende sterftes in hierdie verslag beklemtoon die belangrike rol van alkohol in onnatuurlike sterftes:

  • Altesame 52.6 % van die mense wat weens manslag gesterf het of vermoor is, se bloed alkoholkonsentrasie was verhoog, met die gemiddelde waarde 0,17 g%.
  • Altesame 52,3 % van alle mense wat in padongelukke gesterf het, se bloedalkoholvlakke was verhoog, met ‘n gemiddelde waarde van 0,19 g%.
  • Altesame 55,3 % van bestuurders se bloedalkoholkonsentrasies was verhoog, met ‘n gemiddelde van 0,17 g%.
  • Ongeveer 60 % van voetgangers se bloedalkoholvlakke was verhoog, met ‘n skokkende gemiddelde van 0,22 g%.

Nie almal reageer dieselfde
In menige handboeke en vakliteratuur is daar gedetailleerde inligting oor akute alkoholintoksikasie beskikbaar. ‘n Soektog op die internet genereer letterlik duisende verwysings. Miskien is dit van pas om nou reeds daarop te wys dat daar, soos in enige vakgebied, ‘n mate van variasie in waardes mag wees, asook oorvleueling. Ons moet onthou alkohol is ‘n middel, en soos met elke middel is daar variasie in die dosis-respons kurwe as jy die bevolking in geheel beskou.

Faktore wat die dosis-respons kan beïnvloed:

  • Interpersoonlike faktore, wat beteken dat jy en jou buurman nie noodwendig dieselfde gaan reageer as julle elkeen ‘n bottel bier drink nie. Hy drink dalk elke dag ‘n paar biere en sy toleransie of verdraagsaamheid is beter. Nie net kan sy lewer alkohol heelwat vinniger afbreek nie, omdat die ensiemsisteme wat alkohol moet metaboliseer meer effektief funksioneer, maar terselfdertyd is hy ook beter instaat om die effekte van alkohol te kan verbloem. Dit natuurlik omdat hy meer vertroud is met die effek van alkohol.
  • Terselfdertyd is daar ook natuurlik intrapersoonlike faktore. Vandag drink jy drie of vier glase wyn en voel heel in beheer, net om môre heeltemal onkapabel te voel na twee glase. Hoekom?
    • Miskien het jy op ‘n leë maag gedrink.
    • Miskien was dit ‘n warm drankie wat die absorpsie uit jou maag en dunderm verhoog het omdat dit die bloedvloei in jou maag-en dermwand stimuleer.
    • Miskien was dit sjampanje of ‘n ander gasbevattende drankie wat jou maag opblaas en die absorpsie-oppervlakte so verhoog.
    • Miskien het daardie pille vir die kopseer iets in wat saam met die alkohol ‘n effek uitoefen.
    • Miskien was jy net moeg en jou gestel af.
    • Terselfdertyd moet onthou word dat sekere degeneratiewe breinsiektes ook die gevoeligheid ten opsigte van alkohol mag beïnvloed.

Hierdie variasie sal byvoorbeeld daartoe lei, dat na ‘n inname van 1 g alkohol per kilogram liggaamsgewig, die piek bloedalkoholkonsentrasie (BAK) wat bereik kan word, tussen verskillende individue mag varieer van 0,10 g/100ml tot 0,16 g/100ml! Ons moet dus hierdie variasie in ag neem, en gevolglik staatmaak op die wet van gemiddeldes, in ons benadering.

Hoeveel mag jy drink voordat jy oortree?


Hoeveel kan ‘n mens dan nou eintlik drink voordat jy die wet oortree, of die risiko loop dat jy onnatuurlik of gewelddadig mag sterf?

Die antwoord is eintlik baie eenvoudig; so min as moontlik en verkieslik niks. Ons weet dat reeds by baie lae vlakke individue persoonlikheidsveranderinge ondergaan, wat, alhoewel subtiel, tog die kanse vir ‘n gewelddadige dood (motorvoertuigongelukke, verdrinking, aanranding, ensovoorts) mag verhoog.

Hierdie benadering van “zero-toleransie” word verder ondersteun, as die Nasionale Padvervoer Wet van nader bekyk word. Die eerste sub-artikel van die relevante artikel wat handel oor bestuur onder die invloed, verwys geensins na ‘n spesifieke bloed- of asemalkoholkonsentrasie nie:
65. (1) No person shall on a public road-
(a) drive a vehicle; or
(b) occupy the driver's seat of a motor vehicle the engine of which is running, while under the influence of intoxicating liquor or a drug having a narcotic effect.
(National Road Traffic Act)

Dronkenskap is ‘n kliniese diagnose


Dit is duidelik dat “onder die invloed van alkohol” ‘n kliniese diagnose is. Sou ‘n persoon dus volgens ‘n geneesheer onder die invloed van alkohol wees, is dit tot ‘n groot mate irrelevant wat die bloed- of asem-alkoholkonsentrasie is. Daardie individu is dus waarskynlik in die groep van persone wat meer kwesbaar is vir die effek van alkohol, selfs by konsentrasies laer as die wettige BAK van 0,05 g/100ml.

(Vir meer inligting oor alkohol-statistieke, besoek http://www.sahealthinfo.org/violence/nimssannual2002.pdf)

(Dr. Izak Loftus, forensiese en anatomiese patoloog van die Pathcare-groep.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE