Share

6 mites waaraan mans glo

Die meeste van ons mans is vas oortuig van ons verhewe rasionaliteit, maar dit weerhou ons nie daarvan om aan 'n ongelooflike klomp onlogiese verdigsels te glo nie. Miskien is dit ons keuse, of miskien weet ons net nie van beter nie. Hoe dit ook al sy, het dit tyd geword om 'n paar van ons belaglikste en vêrgesogste idees aan die kaak te stel – as loutere onsin! 

1. Om na borste te staar, is goed vir jou

Dis die een waaraan die meeste heteroseksuele mans met mag en mening vasklou. Oupas dra dit oor aan hulle seuns en kleinseuns: die geheim van 'n lang en gesonde lewe is om op 'n gereelde grondslag vrouens se borsspleet te beloer. 

Verlede jaar is ons heimlike hoop bevestig toe 'n studie deur Duitse navorsers, onder leiding van gerontoloog, Dr. Karen Weatherby, wetenskaplik bevestig het dat om na vroue se borste te staar byna so goed soos 'n intense oefeningregime is, en 'n man se lewe met tot vyf jaar kan verleng.

Die 5-jaar-studie onder 200 gesonde mans, het getoon dat diegene wat gereeld na boste gestaar het, 'n stadiger rustende polsslag, laer bloeddruk en minder episodes van koronêre slagaarsiektes gehad het.

"Seksuele opwinding laat die hart pomp en verbeter bloedsirkulasie," sê Weatherly. "Ons studie dui aan dat die veroorlowing van hierdie aktiwiteit vir 'n paar minute per dag die risiko van beroerte en hartaanvalle met die helfte verminder."

Helaas was die hele storie toe 'n grootskaalse kullery. Daar was nooit so 'n studie nie en daar is absoluut geen aanduiding dat 'n obsessiewe gestaar na boobs enige gesondheidsvoordele inhou nie. Daar is egter 'n woord vir die ongevraagde beloer van die anatomie van onskuldige omstaanders: objektivering. En dit is nóg cool, nóg gesond! 

2. "Meer van dieselfde" is 'n goeie raad vir babalaas

As jy in die oggend met 'n lekker babbie wakker word, sal 'n bietjie van dít wat jou ellende veroorsaak het jou binne 'n japtrap regruk, of hoe? Miljoene mans glo vas in hierdie "hair of the dog" metode, maar raai wat – dit werk nie!

'n Onlangse studie – hierdie keer 'n betroubare een – deur 'n span van neurowetenskaplikes van die Universiteit van Southampton, dui aan dat algemene alkohol-onttrekkingsimptome inderdaad deur klein dosisse alkohol verlig kan word. Maar hulle werk, wat op klein wurmpies, wie se gedrag baie soortgelyk aan dié van mense is, uitgevoer is, dui ook aan dat hierdie benadering op die lange duur heel moontlik tot verhoogde alkoholafhanklikheid sal lei.

Alkohol is die ding wat aanvanklik jou hoofpyn veroorsaak het. So, tensy jy beplan om onbepaald dronk te bly, sal 'n gedrinkery in die oggend net jou babalaas uitstel.

3. Gereelde skeer veroorsaak 'n growwer, donkerder en dikker baard

Omdat hare die naaste aan die vel dikker is as aan die punt, voel 'n stoppelbaard miskien aanvanklik effens growwer en dikker nadat jy geskeer het en omdat dit nog nie soveel aan die son blootgestel is nie, mag dit effens donkerder lyk. Die feit is egter dat skeer haargroei geensins beïnvloed nie. Dit sal teen dieselfde spoed en met dieselfde dikte en ruigheid teruggroei, maak nie saak hoe gereeld jy skeer nie.

En terwyl ons oor haar-mites praat, haarverlies kom nie net van jou ma se kant van die familie nie. Dit is geneties en kan van óf moederskant óf vaderskant kom.

4. Alleenlopers kry meer seks

Dis die een ding wat lank-in-die-tand vrygeselle met playboy illusies hulself probeer wysmaak. Daar is helaas geen oortuigende bewyse dat getroude mans of mans wat in 'n verhouding is meer "plesiertjies" in die lewe as hulle vrygesel-vriende geniet nie.

'n Studie wat in 2006 in die Britse mediese joernaal The Lancet, gepubliseer is en wat data van 59 lande oor 'n tydperk van 10 jaar geanaliseer het, het gevind dat getroude mense meer gereeld seksuele aktiwiteit geniet as vrygeselle. In dieselfde jaar het 'n opname deur die VS se Nasionale Opinie Navorsingsentrum onthul dat getroude mans tussen 28 en 400% meer seks het as oujongkêrels, en dat getroude mans meer orale seks gee én ontvang as alleenlopers.

5. Die breek van die seël

Ons het almal al op een of ander stadium aan hierdie mite geglo. Die idee is dat jy gedurende 'n strawwe drinksessie op 'n punt kom – bv. op 'n partytjie – wanneer jy vir die eerste keer moet urineer en dat jy dan, nadat jy daardie seël gebreek het, daarna elke tien minute moet hardloop. Wees verseker dat daar geen so 'n magiese seël is nie, net 'n doodgewone, wetenskaplike verduideliking wat sin maak.

Drank verhoog jou alkoholvlak. Alkohol in die bloed onderdruk die produksie van die hormoon in jou brein wat die anti-diuretiese hormoon (ADH) genoem word, wat jou liggaam help om water te behou en urine-produksie beheer. Sodra jy genoeg gedrink het om jou blaas te vul, moet jy urineer, maar omdat jou bloedalkohol-vlakke hoog is en jou ADH-vlakke laag, hou jou liggaam aan om meer urine te genereer in plaas daarvan om die water te behou, en dít lei daartoe dat jy meer gereeld 'n draai moet gaan loop.

6. Mans dink elke sewe sekondes aan seks

Dit is 'n absoluut kunsmatige statistiek wat deur diegene onder ons wat seks op die brein het, versprei word. Dit is 'n moeilike veronderstelling om ordentlik te bestudeer, maar dit is beslis 'n reuse oordrywing.

Volgens die Kinsey Institute is dit wél waar dat party mans dwarsdeur die dag oor seks fantaseer, terwyl 54% van ons mans ten minste een keer per dag, 43% 'n paar keer per week of maand en net 4% een keer per maand of minder, aan seks dink. - (Andrew Luyt, Health24, September 2010)

 

Lees meer:

The mind of a man
Health24's Sex Zone

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE