Share

5 liggaamlike ontwerpfoute

Die menslike liggaam is tegelyk uiters kompleks en buitengewoon doeltreffend. Ten spyte hiervan is dit nie perfek nie, en in hierdie artikel kyk ons na vyf liggaamlike ontwerpfoute.

Baie van die liggaam se foute spruit uit die feit dat die menslike liggaam die produk van 'n lang evolusieproses is. Evolusie produseer miskien doeltreffendheid, maar beslis nie perfeksie nie. Die sleutelbegrip is dat eerder as om iets van nuut af te ontwerp, kan evolusie slegs dinge herrangskik en bou op dít wat reeds bestaan.

1. Die wysheid van verstandtande

Enigiemand wat al ooit moeite met hulle verstandtande gehad het, sal weet dat hierdie derde agtertand niks behalwe pyn veroorsaak nie. Die rede is dat ons eenvoudig net nie genoeg plek in ons monde het nie.

Ons voorvaders uit die verre verlede, met hulle effens groter kakebene, het miskien plek daarvoor gehad. Maar in die mond van die moderne mens is daar dikwels nie spasie vir verstandtande nie, wat daartoe lei dat hulle gekompakteer raak en verwyder moet word.

Verstandtande het ons voorvaders miskien gehelp om al die growwe kos van destyds te kou, maar deesdae is hulle bloot 'n voorbeeld van 'n verouderde ontwerp waarsonder die meeste mense maklik kan klaarkom.

2. Die blindederm

Ten spyte van uitgebreide navorsing kon wetenskaplikes nog nie daarin slaag om enige duidelike funksie vir die menslike blindederm te identifiseer nie. Alhoewel ons miskien nie van enige positiewe funksie van die blindederm weet nie, is dit baie duidelik watter negatiewe en selfs lewensbedreigende uitwerking hierdie orgaan op ons gesondheid kan hê.

Tussen vyf en tien persent van alle mense sal in die loop van hulle lewe akute blindedermontsteking ontwikkel. Wanneer dit gebeur, raak die blindederm vol etter en moet chirurgies verwyder word.

'n Interessante feit is dat ander soogdiere blykbaar 'n struktuur soortgelyk aan die menslike blindederm het wat hulle vir sekere soorte vertering gebruik. Dit is 'n sterk aanduiding dat ons die blindederm, net soos ons verstandtande, van ons voorouers uit die verre verlede geërf het.

Verder het onlangse studies aangedui dat om die blindederm te verwyder heel moontlik 'n mens se kans om ulseratiewe kolitis te ontwikkel, verlaag. Voeg daarby die feit dat die verwydering van die menslike blinddederm geen negatiewe gevolge het nie, en die argument ten gunste van 'n ontwerpfout is baie sterk.

3. Ons kyk agterstevoor

Ons weet dat ons  beslis nie die beste in die diereryk is nie. Die menslike oog en dié van ander werweldiere is miskien nie volmaak ontwerp nie, maar werk eintlik heel goed. Ten spyte daarvan is die uitleg van ons oë redelik eienaardig.

Ons oë is basies agterstevoor bedraad, en die ligsensitiewe keëltjies en stafies (die oog se film) is agter 'n web van bloedvate en senuweevesels geleë en front weg van die lig.

Een resultaat van hierdie ontwerp is dat die senuwees deur die oog moet loop – en dit is hoekom die menslike oog 'n blinde kol in die middel het. In teenstelling hiermee is 'n dier soos die inkvis se oë die regte kant om bedraad, en die foto-reseptore front na die lig toe.

Daarbenewens is die konneksie tussen die optiese senuwee en die retina verbasend broos – iets wat dikwels veroorsaak dat die retina los raak namate ons ouer word.

4. Verkeerd gesluk

Nog 'n aspek van die menslike liggaam wat dikwels as 'n ontwerpfout beskou word, is die feit dat die lug wat ons inasem en die kos wat ons eet gedeeltelik dieselfde roete volg. Dit is basies hoekom ons soms aan ons kos verstik.

'n Aantal wetenskaplikes het voorgestel dat dit dalk beter sou gewees het as die trachea (windpyp) en die slukderm heeltemal apart was. In plaas daarvan kruis die twee se paadjies, en dit is hoekom kos in die verkeerde "pyp" kan beland – soms met dodelike gevolge.

'n Klep of flap, wat die epiglottis genoem word, help om die trachea toe te maak wanneer 'n mens kos afsluk. Alhoewel hierdie ontwerp meestal heel goed werk, is dit geensins 'n perfekte oplossing nie.

Die epiglottis kan verder, veral by kinders, ontsteek raak, iets wat tot ernstige inflammasie kan lei. Alhoewel dit maklik behandel kan word, kan dit baie gevaarlik wees indien behandeling nie beskikbaar is nie.

5. Aambeie

Aambeie kom voor wanneer die are in en om die anus ontsteek raak. Dit kan partykeer jeukerig en seer raak en word meestal gediagnoseer wanneer daar bloed in die stoelgang waargeneem word.

Moontlike oorsake is 'n genetiese neiging, die verhoogde druk in die rektum gedurende swangerskap en te veel druk tydens ontlasting. Teen ouderdom 50 sal 'n geskatte 50% van alle volwassenes reeds aambeie gehad het.

Daar is sterk aanduidings dat om tydens ontlasting te hurk 'n beskermende uitwerking mag hê, wat beteken dat ons moderne toilette miskien deel van die probleem mag wees.

Hoe dit ook al sy, die blootstelling van are aan die soort van druk wat in die rektum voorkom, is beslis nie 'n goeie ontwerp nie.

Nie aangepas vir 'n langer lewe nie

Net soos aambeie aandui dat ons liggame nog nie by moderne toilette aangepas het nie, is daar 'n aantal ander liggaamlike foute betrokke by ons onvermoë om by veranderende omstandighede aan te pas.

Een van die grootste veranderinge van die afgelope paar honderd jaar is dat mense baie ouer word. Dit beteken dat ons meer bewus raak van hoe ons oë, ore, rûe, heupe en breine nie daarin slaag om die toets van die tyd te deurstaan nie.

Maar die blote feit dat ons langer leef, dui aan dat ons goed besig is om aan te pas by die swak plekke in ons ontwerp. Of dit nou inentings is wat ons liggame leer om infeksies te beveg of brille om beter te sien, ons maak beslis vooruitgang.

Maar inguinale breuke, kanker, barensnood, outo-immune siektes (wanneer die liggaam homself aanval) is nog met ons. En dit beteken dat wat die ontwerpfoute van die menslike liggaam betref, ons nog 'n lang pad het om te loop. – (Marcus Low, Health24)

Hersien deur prof. Don du Toit, hoof van anatomie van die Universiteit van Stellenbosch.

Bronne:
Olshansky, SJ. If humans were built to last. Scientific American. Maart 2001.
Theobald, D. The vestigiality of the human vermiform appendix. www.talkorigins.org Desember 2006.
www.mayoclinic.com
digestive.niddk.nih.gov
www.wikipedia.com

Lees verder:
Top 5 ongewone inplantings
Top 5 eienaardige operasies

Hersien April 2010  

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE