Share

2010 – wat 'n jaar!

Vir die afgelope paar jaar het 2010 in Suid-Afrikaners se kollektiewe bewussyn as die jaar van Suid-Afrika se beproewing deur die Fifa Wêreldbeke uitgestaan. Tot en met die eerste afskop het die doemprofete nog waarskuwend hul vingers geswaai. Maar hulle was verkeerd: afgesien van 'n verkeersknoop hier en daar en 'n paar seer kele as gevolg van 'n woeste vuvuzela-geblaas, het ons ons perfek van ons taak gekwyt. Ons het miskien agterna 'n babalaas so groot soos 'n stadion gehad, maar, glo my, dit was 'n lekker jol!

Die hele proses het só foutloos afgeloop dat wanneer 'n mens aan die Wêreldbeker terugdink, dit glad nie as die grootste obsessie van die jaar uitstaan nie. Die 10 gebeurtenisse van 2010 wat eintlik in ons gedagtes gaan agterbly, is die volgende (in geen spesifieke volgorde nie):

  1. Die Chileense myn-krisis was 'n wonderlike storie van koel koppe en warm harte wat in die aangesig van reuse struikelblokke oor nasionale grense saamgewerk het. Sal ons ooit daardie TV-beelde van die twee presidente vergeet wat skouer-aan-skouer deur die nag gewag het om die myners terug in die land van die lewendes te verwelkom? Health24 se DietDoc het al die inligting oor hoe hulle oorleef het – en dit is essensiële leesstof vir in geval jy ooit vir drie maande in jou vakansiehuis vasgevang word!  
  2. Daardie aaklige vrou in Brittanje wat 'n klein katjie, Lola, in 'n vuilisblik weggegooi het. Sy (die kat en nie die versteurde vrou nie) is eers 15 uur later gered toe haar eienaar haar hoor miaau het. Danksy die feit dat die hele Brittanje deur kameras bespied word, is die vrou geïdentifiseer, en was toe ... wel, as jy nie die storie gevolg het nie, lees wat Cybershrink oor haar te sê het (en kyk die video) hier.
  3. Sibutramine het vir die eerste keer in Februarie die hoofopskrifte gehaal toe groot hoeveelhede daarvan in die sogenaamde kruie-verslankingsproduk Simply Slim gevind is. Dit was skokkend, want die sibutramine is 'n skedule 5 medisyne, wat beteken dat jy nie net 'n voorskrif daarvoor nodig het nie, maar dat jy dit net onder mediese toesig mag neem. Geen wonder dat gebruikers van Simply Slim –  alhoewel hulle gewig verloor het – met groot oë en hartkloppings rondgesteier het nie. Die produk is gelukkig vinnig van die winkelrakke verwyder, herformuleer en minus die onwettige bestanddele weer teruggeplaas. Sibutramine was 'n tweede keer in die nuus toe Reductil, wat vir dekades die leier onder behandelings vir vetsugtigheid was, vrywilliglik van die mark onttrek is as gevolg van internasionale angstigheid oor die bydrae wat dit tot kardiovaskulêre siekte mag lewer. Goeie nuus vir verslankers is egter dat CiplaTrim, wat ook hierdie middel bevat, nog steeds op die mark is. Health24 se DietDoc keur dit goed en meen dat indien dit reg gebruik word, dit nog steeds 'n uitstekende produk is.
  4. Die Netcare hospitaal wat aangekla is van onwettige nieroorplantings. Ons het gedink dat sulke dinge net in sekere dele van die wêreld plaasvind. Is die Sint Augustine Hospitaal in Durban dalk so 'n deel van die wêreld? Ons hoop regtig nie so nie. 
  5. Die Pous. Hy meen dat kondome eintlik in die haak is "in spesiale gevalle waar die bedoeling is om die risiko vir besmetting te verminder." Die Vatikaan het wakkergeskrik, iets wat nie net MIV/Vigs veldtogvoerders se harte bly maak nie.  
  6. Haiti was in 2010 dít wat Mosambiek in die verlede was, waar die een katastrofe na die ander die land getref het. Ons het die jaar ingegaan met 'n lys van die land se dringendste mediese behoeftes en die jaar afgesluit met nog 'n oproep om hulp om die land se cholera epidemie te stuit. Ons hoop daar is in 2011 darem 'n bietjie goeie nuus vir hierdie arme land.
  7. Kuberafknouery was vanjaar sterk in die nuus met 'n aantal tienerselfmoorde. Met 2.6 miljoen unieke maandelikse lesers, is Suid-Afrika 29ste op die ranglys van die wêreld se Facebook gebruikers, en het dit tyd geword dat ouers van kwesbare kinders perke stel, of hul kinders bemagtig om self perke te stel. 
  8. Die olie-krisis in die Golf van Meksiko. Lank nadat dit nie meer hoofnuus was nie, het die olie nog in die see uitgeloop en die een tragedie na die ander veroorsaak. Health24 se EnviroHealth redakteur het uitgewys dat solank ons nog olieverslaafdes is, ons – ek en jy – nie die morele reg het om vingers na BP te wys nie.
  9. Anni Dewani se brutale moord en die intrige rondom haar nuwe man se vermeende betrokkenheid. Soos die jaar ten einde loop, is daar nog steeds meer vrae as antwoorde. Health24 se Cybershrink het ondersoek ingestel ... en as jy tot dusver nog nie gewonder het wat aangaan nie, sal jy definitief 'n paar vrae hê nadat jy gelees het wat hy te sê het.  
  10. En as dit nou nie anders kan nie, die Wêreldbeker (vuvuzelas inkluis). Die feit dat ons aangehou het met feesvier selfs al is Bafana-Bafana vroeg reeds uitgeskakel. Die feit dat dit grootliks 'n misdaadvrye gebeurtenis was, dat dit stylvol was en dat die hele wêreld op Suid-Afrika verlief geraak het.   

Ons is nommer een!

(Heather Parker, Health24, Desember 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE