Share

16 ernstige simptome

'n Hoofpyn, dubbelvisie, onverklaarbare knoppe, 'n aanhoudende hoes... Wanneer is dit dringend genoeg dat jy dadelik by 'n dokter moet uitkom?

Die meeste van ons gaan nie graag dokter toe nie. Miskien voel ons môre beter. Ons wil nie 'n ophef maak nie. Ons wil nie hê daar moet aanmerkings oor ons rokery of ons gewig gemaak word nie.

Om die waarheid te sê, is om dokter toe te gaan een van die dinge wat die meeste mense die meeste teen opsien – dit lê êrens tussen om die garage te verf en jou kop hard teen die lae deurkosyn van die stoorkamer te stamp.

Maar daardie doktersbesoek kan jou lewe red. Vroeë ingryping in die geval van siektes soos kanker kan 'n enorme verskil maak. Dit is eenvoudig beter om jou oë toe te knyp en daardie afspraak te maak, as om maande lank wakker te lê en niks daaraan te doen nie.

Maar wat is die simptome wat enigiemand behoort te laat wakkerskrik? En, nog belangriker, watter simptome is van so 'n aard dat jy sommer dieselfde dag 'n draai by jou huisdokter moet gaan maak?

1. 'n Konstante gehoes. As jy onlangs griep gehad het, sal jy vir 'n paar dae of selfs vir 'n paar weke aanhou hoes. Maar as jy 'n hoes het wat permanent sy intrek geneem het, is dit tyd om dokter toe te gaan. Dit kan een van verskeie dinge wees, van tuberkulose tot 'n borsinfeksie tot longkanker, om maar net 'n paar moontlikhede op te noem.

2. Rektale bloeding.  As jou stoelgang donkerkleurig is en jy daarvan bewus raak dat daar gereeld bloeding uit jou anus is, maak daardie afspraak. Dit kan een van 'n hele aantal dinge wees, van nie-kwaadardig (bloeiende aambeie) tot baie ernstig (kolon kanker), maar moenie enige kanse waag nie.

3. Verblindende hoofpyne. Almal van ons kry elke nou en dan hoofpyne, maar as jy gereeld van die werk af wegbly en vuistevol pynpille sluk, het die tyd vir aksie aangebreek. Dit kan iets heel eenvoudig wees, soos dat jy 'n nuwe bril nodig het of jou dieet of lewenstyl moet verander, of dit kan iets ernstiger wees. Vind liewer so gou as moontlik uit presies wat skort.

4. Visuele probleme. Almal se sig gaan met die ouderdom effens agteruit, maar as jou visie oornag wasig raak of enige ander radikale verandering ondergaan, gaan sien 'n oogspesialis of 'n neuroloog. Dit mag 'n kleinigheid wees, maar wie weet, miskien nie.

5. Koors. As jou liggaamstemperatuur sonder enige ooglopende rede kwaai fluktueer, vind dadelik uit wat verkeerd is. En as jy vir meer as drie dae koorsig is, gaan sien jou dokter.

6. Aanhoudende diarree. Of dit nou deur voedselvergiftiging of 'n virus veroorsaak word, diarree is gevaarlik. En hoe langer dit voortduur, hoe gevaarliker word dit omdat dit jou dehidreer. As jy gereeld diarree kry, of as dit vir meer as twee of drie dae aanhou, gaan dokter toe. As jou baba diarree het, moenie wag nie, gaan sien dadelik 'n dokter of verpleegster. Moenie versuim nie.

7. Borspyn. Dit is miskien iets onskuldig soos sooibrand, maar dit kan ook beteken dat jy hartprobleme het. As jy bo en behalwe benoudheid op die bors pyn in jou linkerarm het, vergeet van jou huisdokter – gaan direk na die naaste noodeenheid toe. Dit is moontlik 'n hartaanval.

8. Nagsweet. Nagsweet is nie normaal nie – dit is dikwels ’n simptoom van tuberkulose, vigs of Hodgkin se siekte wat 'n soort limfkanker is. Doen dadelik iets daaraan.

9. Sere op geslagsdele. Dit is gewoonlik 'n simptoom van ’n seksueel-oordraagbare siekte. Dit moet nie geïgnoreer word nie, aangesien dit, buiten wat dit aan jou kan doen, ook oordraagbaar is.

10. Nuwe moesies. Die meeste mense het moesies êrens op hulle liggame. Indien die moesie van kleur, vorm of grootte verander, kan dit kwaadaardig word. Wees op die uitkyk vir nuwe moesies. Hulle sal nie van self weggaan nie en kan op die lange duur gevaarlik word.

11. Skielike spierswakheid. As jy ewe skielik sukkel om te staan, loop of balanseer, of as spiere wat die dag vantevore piekfyn was, skielik swak is, gaan sien 'n dokter. Dit kan byvoorbeeld Parkinson se siekte wees of miskien 'n ligte beroerte. En, ja, jong mense kan ook beroertes kry.

12. Asemhalingsprobleme. Skielike asemhalingsprobleme kan baie dinge beteken – van asma tot 'n allergiese reaksie, om maar net twee te noem. Asemhalingsprobleme kan vinnig lewensbedreigend word. Moet dit nie ignoreer nie.

13. Konstante urinering. Almal urineer ’n paar keer per dag, maar as jy twee of drie keer per nag begin opstaan om toilet toe te gaan, is daar fout. Dit kan prostaatprobleme wees of die begin van tipe 2 diabetes, of selfs net 'n blaasinfeksie. Maak liewer seker.

14. Knoppe en klonte. Of dit nou opgeswelde kliere of knoppe onder die vel is, hierdie soort ding moet nooit geïgnoreer word nie. Liewer bang Jan as dooie Jan. Dit kan net 'n ligte infeksie of 'n puisie of pitsweer wees, maar miskien is dit iets erger. Laat dit ondersoek.

15. Kroniese uitputting. Met 'n heeldagse gewerkery en die stres van 'n familie aan die gang hou, is dit verstaanbaar dat die meeste mense moeg is. Maar as jy skielik voel dat om soggens op te staan bomenslike inspanning verg, is dit dalk 'n teken dat daar fout is. Dit kan depressie wees, maar die uitputting kan ook 'n simptoom van iets anders wees.

16. Verlies aan belangstelling in die lewe. As jy of lede van jou familie vermoed dat jy depressief is, hoekom onnodig ly? Ons leef nie meer in die veertiende eeu nie en depressie kan behandel word. Die meeste mense wat selfmoord pleeg, ly aan depressie. Gee jou serotonienvlakke 'n hupstoot voor jy daardie vlak van desperaatheid bereik. 

(Susan Erasmus, Health24, hersien Maart 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE