Share

12 raaisels van die lewe

Daar is dinge wat mense elke dag doen sonder om daaroor te dink. Soos om te aanvaar hulle is onsigbaar in hul motors en dat dit veilig is om openbare telefone te gebruik.

Het jy al ooit oor die volgende gewonder?

Dit is OK as 'n hond jou gesig lek. Om hemelsnaam, dink net waar daardie snoet al orals was. Het jy al ooit gekyk wat honde doen wanneer hulle mekaar ontmoet? Daardie oulike gevreetjie word nie juis gereeld gewas nie. Daar skuil waarskynlik meer kieme as op die gemiddelde toiletsitplek.

Mense wat nie hulle kinders dissiplineer nie. Alle kinders kan moeilik wees, maar party ouers vra letterlik vir swak gedrag. Hulle neem hulle kinders na openbare plekke sonder enigiets om hulle mee besig te hou, en verwag dan dat hulle mooi soet gaan stilsit. Mense, op watter planeet leef julle? Dit het die vorige 500 keer nie gewerk nie en dit gaan beslis nie hierdie keer gebeur nie. Wees realisties en hou hulle besig. Én as jy nie vir hulle sosiale vaardighede leer nie, het jy enige idee hoe hulle deur die ander kinders gekarnuffel gaan word wanneer hulle skooltoe gaan? Dit is net nie regverdig teenoor hulle nie.

Stompies word nie as vullis beskou nie. Die verwers wat die tuinmuur geverf het, het mooi versigtig ál die bouersrommel opgetel, maar gerieflik van die 102 stompies op die grasperk vergeet. Hoekom sal die persoon wat nooit 'n tjipspakkie by die verster uitgooi nie, sonder om te skroom 'n brandende sigaretstompie uitgooi?

Mense hou aan met rook ten spyte van die kanker-waarskuwings. Sou jy ooit kos eet waarop daar staan dat die bestanddele jou kanker kan gee? Maar nee, die meeste rokers glo vas dat hulle die longkanker en emfiseem op een of ander wonderbaarlike wyse gaan vryspring.

Mense dink niemand kan deur hulle motorvensters sien nie. Dit is blykbaar 'n baie algemene opvatting. Mense grawe in hul neuse terwyl hulle in die verkeer sit, baklei met hulle metgeselle en sit selfs openlik in hulle motors op parkeerplekke en vry. Hallo, jou motorvensters is deursigtig. Mense kan sien wat jy doen. Sou jy sulke dinge op jou grasperk ten volle aanskoue van jou bure doen?

Mense gaan fliek om te eet. Gedurende die mees spannende oomblik in die fliek vroetel die kreatuur agter jou met lekkergoedpapiertjies en sy maat grawe rond in die boks vir die laaste stukkie springmielie wat daar êrens wegkruip. Hoekom móét mense in die fliek eet? As hulle so honger is, kon hulle nie voor die tyd iets gaan eet het nie? Miskien is hier iets wat ek net nie verstaan nie.

Het jy al ooit iemand openbare telefone sien was? Dit pla my al vir 'n lang ruk. Mense was sorgvuldig hulle hande wanneer hulle in die toilet was, maar dink nie twee keer voor hulle 'n openbare telefoon gebruik nie. En, nou dat ek daaraan dink, het jy al ooit iemand 'n supermarkwaentjie sien was? Ons hoop maar hulle word in die middel van die nag, wanneer niemand kan sien nie, gewas. Miskien is dit ook wanneer die telefoonwasser sy ding doen.

Loterykaartjies is OK, maar nie dobbel nie. Hoe werk dit? Baie mense wat nooit in der ewigheid na 'n resiesbaan of casino sou gaan nie, spandeer vrolik 'n fortuin op loterykaartjies. Jou dobbelgewoontes is tog sekerlik meer sigbaar terwyl jy by jou plaaslike kafee in die tou staan as by die Tattersalls tien kilometer verder?

Mense het dubbele higiëne-standaarde in restaurante. Iemand wat tuis sonder om te skroom dieselfde mes en vurk as iemand anders sou gebruik of uit dieselfde beker drink, kry ewe skielik die piep in 'n restaurant as die tafelblad nie soos 'n spieël blink nie.

Mense hoor nie hulle eie honde nie. Die bure se hond kef al die afgelope drie uur vir die maan, maar dit hou hulle geensins uit die slaap nie. Die 27 bure om hulle lê egter in hulle beddens en koester moordgedagtes. Hulle het seker selektiewe gehoor, of iets.

Baklei oor parkeerplekke by die gym. Die doel van gym toe gaan, is sekerlik om 'n bietjie oefening te kry. Om 'n ekstra 100m te loop, is tog deel van hierdie doel. Mense ry egter ure lank rond op soek na die naaste parkeerplek.

Mense klap hulle kleuters om hulle stil te kry. Om klappe uit te deel, het presies die teenoorgestelde uitwerking. As die kind wild aan die skreeu was vóór die klap, dink net aan die aanslag op almal se ore ná jou ingryping. Die dreigement "Mamma gaan jou piets" is selde effektief.  

(Susan Erasmus, Health24, March 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE