Share

12 maniere om minder te drink

Mense besluit dikwels dit is tyd om minder te drink. Dit gebeur gewoonlik nadat jy besef dit is die tweede keer binne 'n week dat jy 'n babalaas het, of wanneer jou familielede begin kla oor jou drinkery.

As jou probleem ernstig is, mag dit 'n goeie idee wees om professionele hulp te kry, maar as jy net minder wil drink, in plaas daarvan om heeltemal op te hou, is daar baie wat jy kan doen om jou alkoholinname te beperk.

Die gebruik van alkohol is dikwels 'n sosiale aktiwiteit en daar is soms heelwat druk om saam te drink. Tensy jy heeltemal ophou om te drink, gebeur dit dikwels dat jy aan die einde van die aand huis toe steier nadat jy 'n stuk of drie te veel gedrink het – en jouself daarvoor haat.

So, wat kan jy doen om minder te drink?

Vermy rondtes. Gaan gerus saam met jou vriende uit, en jy kan selfs vir die eerste rondte betaal, maar moenie rondte vir rondte met hulle saamdrink nie. Dit beteken dat die hoeveelheid wat jy drink, afhang van hoeveel die ander drink. Gebruik 'n vroeë vergadering of iets as 'n verskoning, en moenie toelaat dat hulle jou ompraat nie.

Maak seker jy't iets in jou  hand. Kry een drankie en drink die hele aand daaraan. As iemand jou nog een aanbied, wys jou half-vol glas en sê jy's nog besig met dié een. As jy weier om nog te drink en dit duidelik maak dat jy beplan om by net een drankie te bly, kan jy onder druk geplaas word om nog te drink.

Bly uit die kollig. Moenie aandag trek deur óf botweg te verseg om selfs een drankie te drink, óf luidkeels 'n glas lemoensap te bestel nie. Kry 'n drankie, verkieslik 'n groot een, soos 'n bier, en laat dit die hele aand hou. Mense sal sien jy het 'n drankie in jou hand, maar hulle sal nie besef dis dieselfde een waarmee jy die aand begin het nie.

As jy nie wil saamdrink nie, flous hulle. Drankies soos lemmetjiekoeldrank en soda of 'gin and tonic' sonder die 'gin' lyk altwee soos alkoholiese drankies, maar is eintlik heeltemal onskuldig. Drink 'n paar hiervan. Almal sal dink jy drink vrolik saam.

Aanvaar uitnodigings, al drink jy nie. As jy medikasie soos antihistamiene of antibiotika neem, mag jy glad nie drink nie. Jy hoef nie 'n uitnodiging van die hand te wys nie, maar sê voor die tyd dat jy vir 'n paar dae nie mag drink nie. Die meeste mense sal dit heel gelate aanvaar.

Drink lae-alkohol-drankies. Daar is byvoorbeeld ligte biere op die mark. Jy kan ook witwyn met soda meng en 'n 'spritzer' geniet. Op hierdie manier kan jy die hele aand 'n drankie in jou hand hê sonder om meer as die alkoholiese ekwivalent van een glas wyn te drink.

Ys is wys. Gebruik baie ys – dit verdun jou drankie en laat dit langer hou.

Gryp die grondboontjies. Kry iets in jou maag en eet 'n paar southappies soos pretzels, grondboontjies of aartappelskyfies. Hoe leër jou maag, hoe vinniger die uitwerking van jou alkoholinname. Alkohol en aspirien is die enigste twee stowwe wat direk deur die maagwand geabsorbeer word.

Water. Drink twee glase water voor jy uitgaan, sodat jy nie oorhaastig twee biere afsluk net omdat jy dors is nie. En moenie vergeet nie, alkohol ontwater jou. 'n Glas water tussen drankies is ook 'n goeie idee en gee jou lewer 'n blaaskans.

Restaurant beter as kroeg. As jy 'n aandjie saam met vriende wil deurbring, is dit dalk beter om 'n maaltyd in 'n restaurant te geniet as om in 'n kroeg te kuier.

Enkel, nie dubbel. Bestel enkel-, nie dubbel-drankies nie. 'n Dubbel-sopie van enige hardehout plaas jou in elk geval reeds oor die limiet vir motorbestuur. Ná twee dubbel-drankies is die meeste mense ook al redelik hoog in die takke.

Tel jou sente. Neem 'n beperkte hoeveelheid geld saam met jou in plaas van honderde rande. As jy net R60 of R70 by jou het, kán jy nie te veel drink nie. – (Susan Erasmus, Health24, hersien Oktober 2010)
 
Lees verder:
Die 6 stadiums van dronkenskap
Drank-vrye maniere om stres te ontlaai
Kilojoule-bom in jou drankies

Questions? Ask our Addictions Expert

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE