Share

12 belangrike feite oor diabetes

Gedurende die maand November val die globale kollig op diabetes, 'n siekte waaraan miljoene kinders en volwassenes dwarsoor die wêreld ly. Hier is wat jy oor diabetes moet weet.

1. Wat is diabetes? 

Diabetes is 'n chroniese siekte wat ontstaan wanneer die pankreas nie genoeg insulien produseer nie, of wanneer die liggaam sy vermoë verloor om die insulien wat geproduseer word, effektief te benut.

2. Wat is insulien?

Insulien is 'n hormoon wat deur die pankreas vervaardig word om glukose uit die bloed te absorbeer sodat dit as energie gebruik kan word. Diabetes lei tot verhoogde glukosevlakke (suiker) in die bloed (hiperglisemie), wat met langtermyn skade aan die liggaam geassosieer word. 

3. Wat is die belangrikste tipes diabetes?   

Daar is drie hooftipes diabetes: tipe 1, tipe 2 en swangerskap-diabetes. Tipe 1 is 'n outo-immune toestand wat gewoonlik op 'n vroeë ouderdom (baba- of kinderjare) ontstaan, terwyl tipe 2 oor die algemeen later begin (volwassenheid), en dikwels met swak lewenstyl-keuses geassosieer word. Swangerskap-diabetes is die term vir verhoogde bloedglukosevlakke gedurende swangerskap. Hierdie vlakke keer gewoonlik na normaal terug wanneer die baba gebore word. 

4. Wat is die mees algemene soort diabetes?

Tipe 2 diabetes is die mees algemeen en verteenwoordig ten minste 90% van alle gevalle wêreldwyd. Die aantal gevalle van tipe 2 diabetes is tans drasties aan die styg.

5. Hoe wydversprei is tipe 2 diabetes in Suid-Afrika en wêreldwyd?

Daar word geskat dat die voorkoms van tipe 2 diabetes in Suid-Afrika by individue van 20-79 jaar tussen 4.5% en 5.6% is. Dit is ’n totaal van 1.3-2 miljoen diabetes-pasiënte. In Afrika suid van die Sahara as geheel is die geskatte syfer 12.1 miljoen volwassenes – en net 15% van hulle is gediagnoseer. In 2010 was daar wêreldwyd 285 miljoen mense wat met diabetes saamgeleef het – ongeveer 4.6% van die wêreldbevolking. Die Internasionale Diabetes Federasie voorsien dat hierdie syfers tot  438 miljoen (7.8%) teen 2030 sal styg.

6. Wat is die simptome/waarskuwingstekens van diabetes?

Tipe 1 diabetes begin gewoonlik skielik en dramaties, maar tipe 2 het dikwels geen of minimale simptome, wat dit 'n baie verraderlike toestand maak, wat baie lank teenwoordig kan wees voor dit gediagnoseer word. Wanneer daar simptome is, kan dit die volgende insluit: 

  • oormatige urinering;
  • oormatige dors;
  • verhoogde aptyt;
  • onverklaarbare gewigsverlies;
  • moegheid/uitputting;
  • gebrek aan belangstelling en konsentrasie;
  • vomering en maagpyn (word dikwels met ander toestande verwar);
  • 'n tinteling of gevoelloosheid in die hande of voete; 
  • onduidelike visie;
  • gereelde infeksies; en/of
  • wonde wat stadig gesond word.

7. Wat is die risikofaktore vir tipe 2 diabetes?

Daar is verskeie risikofaktore vir tipe 2 diabetes. Dit sluit in:

  • vetsugtigheid;
  • swak dieet en fisiese onaktiwiteit;
  • verhoogde ouderdom;
  • insulienweerstandigheid; en 
  • 'n familiegeskiedenis van diabetes en volksgroep. 
  • In Suid-Afrika is dit veral mense van Indiese oorsprong wat neig om diabetes te ontwikkel. Veranderinge in dieet en fisiese aktiwiteit wat gekoppel kan word aan vinnige verstedeliking het ook tot 'n skerp toename gelei in die aantal mense wat diabetes ontwikkel, 'n neiging wat veral onder swart Suid-Afrikaners voorkom. 

8. Hoe word diabetes behandel?

Tipe1 diabetes vereis gereelde insulien-inspuitings, maar die hoeksteen van die beheer van tipe 2 diabetes en die eerste strategie wat gevolg moet word, is dieet- en lewenstyl-aanpassings in die vorm van gesonder kos-keuses en gereelde oefening. As dit nie voldoende is nie, is daar ’n verskeidenheid keuses met betrekking tot farmakologiese behandelings wat die vereiste vir insulien-inspuitings kan vertraag of selfs verhoed. Jou dokter sal jou in hierdie verband met raad kan bystaan.

9. Wat is die nuutste ontwikkelinge in diabetes-behandeling?

Die nuutste ontwikkeling in diabetes-behandeling is ;n klas middels wat inkretien-gebaseerde terapieë genoem word. Dit sluit in die GLP-1 analoë wat die ingewand-hormoon, die glukagoonagtige peptied 1, teiken wat laag by diabetes-lyers is. GLP-1's gebruik 'n ander meganisme as insulien en ander diabetes-middels wat tans beskikbaar is, en reguleer bloed-glukosevlakke, terwyl dit ook help om die funksie van die pankreas te behou, wat die ontwikkeling van die siekte vertraag. Dit het ook ’n positiewe effek op die hart en bloedvate en verminder die kardiovaskulêre risiko's wat met diabetes geassosieer word, bv. hartaanvalle en beroerte.

As gevolg van die manier hoe dit werk, dra inkretien-terapie nie die risiko van lae bloedsuiker wat met insulien terapie gepaard gaan nie. Die beste nuus is waarskynlik die feit dat hierdie behandeling 'n groter gevoel van versadigdheid en dus verlaagde voedselinname veroorsaak. Dit lei tot laer liggaamsgewig by mense met tipe 2 diabetes. Dit is 'n belangrike oorweging omdat oortollige gewig en vetsugtigheid risikofaktore vir tipe 2 diabetes is, en die handhawing van gesonde gewigsvlakke 'n belangrike deel van die behandeling daarvan is. Die verbetering van diabetes-beheer met huidige terapieë lei dikwels tot gewigstoename, behalwe in die geval van metformin.   

10. Kan diabetes genees word?

Nee, maar dit kan goed beheer word en kan diegene wat daaraan ly, in staat stel om lang, gesonde lewens te lei. 

11. Kan diabetes voorkom word?

Tipe 1 diabetes kan op hierdie stadium nie voorkom word nie. Die omgewingsnellers wat na mening die proses genereer wat tot die vernietiging van die liggaam se insulien-produserende selle lei, word nog steeds ondersoek. Tipe 2 diabetes kan egter in baie gevalle voorkom word deur die handhawing van ’n gesonde liggaamsgewig en voldoende fisiese aktiwiteit. Daar is voldoende bewyse dat ’n gesonde liggaamsgewig en matige fisiese oefening die ontwikkeling van tipe 2 diabetes kan help voorkom.   

12. Wat is die komplikasies van diabetes?

Tipe 1 en tipe 2 diabetes is chroniese, lewenslange toestande wat versigtige monitering en beheer verg. As dit nie suksesvol is nie, kan baie hoë bloedsuikervlakke langtermyn skade aan verskeie organe en weefsels aanrig, insluitende die hart en bloedvate (met potensieel fatale komplikasies soos hartaanvalle en beroerte), die niere (met potensiële nierversaking), die senuwees (kan tot amputasie van ledemate lei) en die oë (met potensiële gesigsverlies).

(Bronne: www.idf.org, Novo Nordisk. Met addisionele insette deur Professor Pankaj Joshi, emeritus ad hominem professor van medisyne by Medunsa en direkteur van die  Diabetes Sorgsentrum in Pretoria.)

- Novo Nordisk persvrystelling 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE