Share

10 slegte idees vir Kersgeskenke

Die geskenke wat ons gee, sê nogal baie oor hoe ons oor ons verhoudings met ander mense voel. Kan jy aan niks dink om vir iemand te gee nie? Heel moontlik het jy ook nie veel om vir daardie persoon te sê nie. Daar is egter geskenke wat ’n mens liewer nooit vir enigiemand moet gee nie.

Rondgaande geskenke. Verlede jaar het iemand vir jou iets gegee waarvan jy nie hou nie. Jy't dit in 'n laai gestop en nou gee jy dit vir iemand anders. Dit is baie waarskynlik dat die nuwe ontvanger ook nie daarvan gaan hou nie – en wie weet, miskien vind die geskenk volgende Kersfees weer sy pad terug na jou toe.

Baie duur, persoonlike geskenke. Dit sluit dinge soos juweliersware in. Jy spandeer dalk R1,000 op 'n ring vir jou geliefde en vind dat sy nie van die styl, vorm of kleur hou nie. Vra liewer voor die tyd vir iemand waarvan hulle hou, vóór jy soveel geld uitgee. Dit is beter om die verassing te bederf as om duisende rande te mors.

Drie van dieselfde. Jy't drie susters en nie baie geld nie en jy's ook nie lus om die winkels plat te loop op soek na presente nie. Jy koop dus op die ou einde drie van dieselfde ding. Die probleem is dat al drie die geskenke onder dieselfde Kersboom lê, en sodra die eerste suster haar present oopgemaak het, is die verrassing vir die ander twee natuurlik daarmee heen. Koop gerus drie soortgelyke dinge, maar identies is nie 'n goeie idee nie.

Raserige speelgoed. Op Kersdag kom die meeste families in groot groepe bymekaar – dikwels in kleinerige huise. Om vir 'n drie-jaar-oue seuntjie 'n drom te gee, mag dalk net die dag vir almal bederf.  Dieselfde geld vir plastiektrompette en plastiekdiertjies wat piep wanneer jy hulle druk. Goedkoop plastiekdiertjies oorleef gewoonlik ook nie die geroesemoes van Kersdag nie. Kies liewer iets wat van hout gemaak is – en nie raas nie.

Op-die-nippertjie geskenke. Teen die aand van die 24ste Desember is die winkels al leeg, en dít wat op die rakke agterbly, is óf onooglik óf peperduur. Jy spandeer dan op die oue einde 'n fortuin op iets wat nie ideaal is nie én wat niemand eintlik wil hê nie.

Dis-die-idee-wat-tel geskenke. Dit beteken gewoonlik dat die geskenk besonder aaklig of totaal onbruikbaar is. Dit kan ook iets wees wat jy op die nippertjie gekoop het, net sodat jy nie met leë hande opdaag nie. Dit is partykeer beter om sonder 'n geskenk aan te kom, as met iets wat duidelik inderhaas gekoop is.

Sjokolades. Dis altyd 'n slegte idee. Die meeste mense is maar net te bewus van al die gewig wat hulle oor Kersfees optel en verdere versoekings onder die Kersboom is die laaste ding wat hulle wil hê. En wanneer iemand sjokolades ontvang, is daar altyd subtiele druk om dit oop te maak en met almal te deel, wat beteken dat dit eintlik nie regtig 'n present is nie.

Sokkies, sakdoeke en onderklere. Hierdie is persoonlike items wat mense graag vir hulself uitsoek. Tensy jy baie spesifieke instruksies het oor presies waarvan die betrokke persoon hou, moenie daardie pad loop nie. Gee liewer 'n geskenkbewys sodat hulle self iets kan gaan uitsoek.

Boeke en CD's op uitverkopings. Dié soort ding kan partykeer 'n groot sukses wees, maar net as jy by die persoon se smaak hou. As jy die versamelde Werke van Shakespeare vir  R49,99 raakloop, moenie dit vir iemand gee wat nog nooit iets veeleisender as die sportafdeling van die plaaslike koerant gelees het nie. Dit sal nie waardeer of gelees word nie. Jou oupa gaan waarskynlik ook nie van Depeche Mode hou nie, maak nie saak of dit 'n winskoop was of nie.

Peperduur geskenke. Voor jy vir iemand 'n baie duur geskenk koop, probeer uitvind min of meer wat hulle bereid is om op jou geskenk uit te gee. Dit sal 'n groot verleentheid veroorsaak as jy vir iemand op wie jy 'n ogie het drie duur CD's gee, en van hom of haar net 'n paar sokkies ontvang.

(Susan Erasmus, Health24, hersien Desember 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE