advertisement
21 November 2011

10 maniere om einde-van-die-jaar stres te bekamp

Dit was tot dusver 'n woeste jaar en dinge raak beslis nie beter nie. Só moet jy maak om die einde van die jaar in een stuk te haal.

2

Dit was tot dusver 'n woeste jaar en dinge raak beslis nie beter nie. Jy voel asof jy op 'n trapmeul swoeg en nêrens kom nie. Só moet jy maak om die einde van die jaar in een stuk te haal.

Moenie paniekerig raak nie. 'n Bietjie stres is nie altyd 'n slegte ding nie. Sonder enige stres sou jou lewe saai, eentonig en vervelig wees.

As daardie stres egter vir weke en maande voortduur, sal jou liggaam gou die gevolge daarvan begin toon. Ons is ontwerp om skielike skokke te hanteer, soos byvoorbeeld wanneer 'n leeu of ander roofdier ons bekruip, of wanneer ons 'n slang onder ’n rots ontdek. Ons adrenalienvlakke skiet onmiddellik die hoogte in en berei ons liggame voor om vinnig te dink en te reageer – vir veg of vlug.

Maar as jy vir maande met die dreigement van aflegging, egskeiding of bankrotskap saamleef, kan die onophoudelike streshormone jou liggaam behoorlik aftakel. Jou liggaam produseer hoër vlakke van kortisol, hou sout in die bloedstroom, produseer oormatige hoeveelhede glukose en aminosure, en verhoog cholesterol en bloedvetvlakke. Simptome van voortslepende stres kan die volgende insluit:

  • Verhoogde polsslag
  • Hoër bloeddruk
  • Bloedsuiker-fluktuering 
  • Gevoelens van aggressie en irritasie
  • Slaapversteuring 
  • Verswakte immuniteit
  • Aptytveranderinge
  • Gewig-skommelinge

Om af te skop: doen wat jy kan om die oorsaak van jou stres aan te spreek. Die beste ontspanningstegnieke op aarde gaan jou nie oor die langtermyn help as die stresvolle situasie nie ontlont word nie.

Oefening

Oefening is jou eerste wapen in die stryd om stresvlakke te verlaag. Stres-sielkundige D R Brown in sy boek "Exercise, Fitness and Mental Health" som dit soos volg op:

  • Verhoogde kerntemperatuur gedurende oefening mag tot verminderde spierspanning of veranderinge in neuroboodskappers (brein-chemikalieë) lei.
  • Verhoogde afskeiding van endogene (interne) opiate soos endorfiene mag tot bui-verbetering lei.
  • Sielkundige veranderinge mag plaasvind as gevolg van veranderinge in norepinefrien, dopamien of serotonien – almal neuroboodskappers wat bui en angs-vlakke kan beïnvloed.
  • Oefening mag 'n mens se aandag tydelik van daaglikse stres aftrek.
  • Oefening voorsien 'n geleentheid vir sosiale interaksie wat andersins mag ontbreek.
  • Oefening bied die geleentheid vir self-bemeestering. Hoër fiksheid, of die verbetering van liggaamsamestelling en ander gesondheidfaktore kan 'n mens se selfbeeld verbeter.

Dit is op die ou end minder moeite om jouself sover te kry om te gaan stap of draf as om met die nagevolge van langtermyn stres te worstel. Ander dinge wat jy kan doen, sluit in: 

Pak die draak. Om 'n probleem te vermy of in stilte daarmee te wroeg, sal jou adrenalienvlakke nie laat daal nie. Dr. Jan van Leeuwen, 'n kliniese en beradende sielkundige beveel aan dat 'n mens die probleem herdefinieer. Volgens hom lê die oplossing van 'n probleem by die betekenis, persepsie en definisie daarvan. As jy op jou eie is, lyk probleme partykeer onoplosbaar. 'n Vriend of raadgewer kan help om dit in 'n ander perspektief te plaas.

Beperk jou kaffeïeninname. Jou liggaam neem vyf uur om kaffeïen te prosesseer, so as jy om 6vm jou eerste koppie drink en die laaste een om 11nm, is jou liggaam basies nooit sonder kaffeïen nie. Tee, sjokolade en party koeldranke bevat ook kaffeïen – dit stoot jou bloeddruk op en keer dat jou byniere op hul beste funksioneer. Basies verhoog kaffeïen jou stresvlakke.

Eet gereeld gesonde kos. Moenie maaltye oorslaan nie, aangesien dit veroorsaak dat jou bloedsuiker daal, wat die uitwerking van die bloedsuikerfluktuasies wat jy ervaar wanneer jy gestres is, vererger. Baie mense neem hul toevlug tot hoë-energie gemorskos of lekkers in 'n poging om die traagheid wat deur lae bloedsuikervlakke veroorsaak word, teë te werk. Joghurt, vrugte, vrugtesap, groente, maaskaas en hoë-vesel graankos is goed om te eet. Dit sal help om jou bloedglukose te reguleer.

Vermy oormatige alkoholgebruik. Baie mense gebruik alkohol as 'n stresverligter. En dikwels help die eerste glas jou om te ontspan, maar van daar af raak dinge net erger. Alkohol is in werklikheid 'n senustelsel-onderdrukker en kan op die lange duur depressie veroorsaak, eerder as om dit te verminder. Wanneer jy aan stres ly, is dit waarskynlik 'n goeie idee om geheel en al van alkohol af weg te bly, veral aangesien dit soveel makliker is om in die bose kringloop te verval van al hoe meer drink wanneer jy gestres is, wat dan tot jou bestaande stresvlakke bydra.

Slaap genoeg. Enigiemand wat al aan kwaai stres blootgestel is, weet dat slaap dikwels die eerste ding is wat in die slag bly. Volwassenes het agt uur slaap per nag nodig – en min kry meer as sewe. Wanneer ons diep slaap, bereik ons asemhaling, ons polsslag en bloeddruk hul laagste vlakke. Ons liggame het slaap nodig om te herlaai en die helingsproses aan te help. Health24 se CyberShrink, Professor Michael Simpson, beveel aan dat 'n mens alkohol, groot maaltye saans en slaap gedurende die dag vermy. Drink 'n glas warm melk voordat jy gaan slaap want melk bevat 'n aminosuur wat in die brein in 'n samestelling wat slaap bevorder, omskep word.

Leer ontspanningstegnieke. Leer om joga of tai chi te doen. Dit sal help om die uitwerking van stres op jou liggaam te verminder. Wanneer jy ontspan, hou jou liggaam op om oormatige kortisol te produseer, wat die effektiewe funksionering van jou immuunstelsel verhoog en jou kanse vir infeksie verminder.

Eet minder sout. Wanneer jou soutvlakke te lank hoog is, meng dit in met die natuurlike opname van voedingstowwe deur die liggaamselle. Te veel sout oor 'n lang tydperk kan jou bloeddruk verhoog en jou hart beskadig. As jou bloeddruk te hoog is, kan dit daartoe lei dat jy die hele tyd moeg voel. En as jy konstant uitgeput is, kan jy ook nie die stres in jou lewe hanteer nie.

Hou op rook. Nikotien veroorsaak 'n effense styging in die serotonienvlakke in jou brein. Maar op die lange duur word rook en alles wat daarmee verbandhou self 'n oorsaak van stres. Die nadele van kanker, slapeloosheiderektiele disfunksieakneehartsiekte, plooie en longsiekte kanselleer enige klein stresverligtende eienskappe wat nikotien mag hê, uit. En boonop beskadig rook elke stukkie weefsel in jou liggaam wat 'n betroubare voorraad suurstof nodig het, dit wil sê jou hele liggaam. Rook plaas 'n geweldige hoeveelheid stres op jou liggaam en beperk sy vermoë om stresfaktore van buite te hanteer.

Ontwikkel veelvuldige strategieë. Leun op jou ondersteuningsnetwerk. Om jou probleme met ander mense te deel, plaas dit in perspektief. Maar maak ook seker jy kry fisiese oefening. Mans neig om stres op 'n fisiese manier te hanteer, en vroue maak staat op die ondersteuning van vriende en familie. Amy Flowers, 'n sielkundige van Macon, Georgia, sê die suksesvolste mense is diegene met 'n verskeidenheid stresverligtingsopsies. As jy net een hanteringstrategie het, kan dit problematies wees as jy dit nie kan gebruik nie, of as dit nie werk nie.

(Susan Erasmus, Health24, hersien November 2011) 

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
2 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.