Share

Van die drankduiwel verlos

’Ek was besig om mal te word. AI waaraan ek kon dink, was drank. Dit was ’n obsessie.’ So beskryf 'n ma en herstellende alkoholis haar jarelange verslawing aan whisky. Haar dogter moes ook herstel – van haar lewe as die enigste kind van ’n alkoholis. Hier is hul verhaal – en raad.

’n Leeftyd se seerkry

Die twee vroue sit aan teenoorgestelde kante van die tafel. Hulle maak nie veel oogkontak nie, al praat hulle oor mekaar, en daar is ’n ongemaklikheid in die vertrek. Hulle trap versigtig, amper asof hulle bang is om iets kwetsends te sê. Want daar lê reeds ’n leeftyd se seerkry tussen die ma en dogter.

Die rede is eenvoudig. Alkohol. Whisky om presies te wees, sê die ma, Sara* (66). Sy lyk moeg. Nugter bly is ’n reuse-inspanning en tog kry sy dit al reg sedert  9 Mei 2007 – die laaste keer toe sy ’n druppel drank oor haar lippe laat kom het.

Hoewel die ergste jare van hul verhouding agter die rug is, is Sara en haar dogter, Maryke* (37), albei van Johannesburg, steeds aan die herstel – Sara met die hulp van Alkoholiste Anoniem (AA) en Maryke met Al-Anon, ’n program vir familie van alkoholiste. Uit hul lyftaal is dit duidelik dat die verhouding wat hulle besig is om te herbou nog maar wankelrig is.

Hulle het altyd baklei

Sara het op ’n klein dorpie grootgeword in ’n gesin wat grotendeels disfunksioneel was. Haar ouers het pal baklei en dit het haar skaam en teruggetrokke gemaak. “Dit was die begin van my emosionele moeilikheid,” sê sy.

“Hulle het altyd baklei; ’n mens het nooit geweet wat hulle volgende sou laat ontplof nie. Ek het skaars gepraat, behalwe as iemand met my gepraat het.”

As Sara nou terugdink, vermoed sy haar pa was ook ’n alkoholis. “Maar dit was 50 jaar gelede. Ons het nie toe veel van alkoholisme geweet nie.”

Toe sy op 17 uit die huis is, was haar selfvertroue teen die grond en het sy by mans troos gesoek. “Alkohol was nie toe my probleem nie. Ek het liefde en aanvaarding gesoek en het baie affairs met getroude mans gehad.”

Dié patroon het agt jaar lank voortgeduur, ondanks ’n traumatiese aborsie, tot sy op Leon* verlief geraak en met hom getrou het. Kort voor lank was Maryke, haar enigste kind, daar.

“Leon was ’n wonderlike man en pa. Hy’s die een wat my aan whisky voorgestel het en ons het elke aand voor ete enetjie gedrink. In die begin het dit vir my aaklig geproe,” sê sy. “Leon was nooit ’n alkoholis nie, net ’n sosiale drinker. In ons huwelik van 20 jaar het ek hom nie een keer dronk gesien nie.”

Dis toe dat ek begin drink het

Sara se lewe het ineengestort toe nefritis, ’n siekte wat die niere aantas, by Leon gediagnoseer is. Sy toestand het in die vyfjaar daarna versleg tot hy vir dialise hospitaal toe moes gaan.

“Dis toe dat ek begin drink het,” erken Sara. “Ek sou terugkom van die hospitaal en op my eie drink. Ek het in stadiums gedrink en soms twee tot drie maande lank opgehou. Ek sou ure lank drink en dan teen tweeuur die oggend wakker skrik met ’n oorweldigende gevoel van vrees en angstigheid – vrees vir alles wat die toekoms inhou, dat ek nie opgewasse is nie, dat ek alleen gaan agterbly met ’n kind.”

Alkoholisme is ’n siekte wat mettertyd vererger en soms ’n sneller nodig het om dit buite beheer te laat tol. In Sara se geval was dit Leon se dood.

Haar drinkery het toegeneem toe sy en ’n familielid saam ’n hotelletjie gekoop het. Die versoeking van ’n kroeg wat dag en nag beskikbaar was, was net te groot. Sy het in werktyd begin drink en aangehou nadat sy tuis gekom het. So het sy gewoonlik anderhalf bottel whisky in die loop van die week gedrink en ’n bottel per dag oor naweke.

Haar drinkery het geleidelik vererger en teen die tyd dat sy 18 maande later die hotel verkoop en teruggetrek het Johannesburg toe, het haar verhouding met haar dogter, wat toe in haar vroeë dertigs was, aansienlik versuur.

Daardie eerste drankie

“Ek het in my agterkop geweet iets is verkeerd. Ek het films en TV-programme oor alkoholiste gesien, maar wou my nie daaraan steur nie. Toe het ek weer begin om net na werk te drink. Ek het drie deeltydse poste gehad waar ek administrasiewerk gedoen het – een was nogal vir Maryke se onderneming – en het dit op die een of ander manier altyd reggekry om die volgende oggend op my pos te wees. Maar my werk het my nie veel geskeel nie en ek kon nie wag om saans by die huis te kom en daardie eerste drankie te skink nie.”

Drie jaar gelede het Maryke ’n nuwe huis gekoop as basis vir haar publisiteitsmaatskappy en Sara het verhuis na ’n kothuis op die eiendom om heeltyds vir haar dogter te werk. “Dis toe dat alles regtig uitmekaar begin val het,” sê Maryke. Sara het nou meer as ooit gedrink – sy het begin drink vandat sy wakker geword het en selfs whisky in haar oggendtee gegooi.

“Dit was gek. Alkohol was al waaraan ek kon dink, ’n totale obsessie,” erken sy. “Ek het selfs my leë bottels soggens in plastieksakke gesit en rondgesluip om dit in ander mense se vullishouers te gaan weggooi.”

Die siekte het fisiek sy tol begin eis. “Alles aan my ma was dof,” sê Maryke. “Sy kon nie eens ordentlik praat of sinne voltooi nie. Daar was geen lig in haar oë nie. Jy kon nie ’n gesprek met haar voer nie.

“Het ek geweet my ma is ’n alkoholis?” vra sy en lig haar wenkbroue. “Dis moeilik om re sê, want as jy as die kind van ’n alkoholis grootword, is jou verwysingsraamwerk anders. Dit wat jy ken, is vir jou normaal. Dit was eers toe ek ouer word dat ek besef her my idee van normaal is anders as ander mense s’n.”

Byna net soos Sara behandel word vir haar alkoholafhanklikheid, moet Maryke gerehabiliteer word. Hiermee her sy in 2008 begin.

Niemand moes uitvind nie

“Ek is die kind van ’n alkoholis. Die grootste deel van my lewe her gewentel om my ma en haar drinkery. Die waansin van my siekte is dat jy in jou kop dit probeer beter maak. Al wat jy doen, is om jou en die alkoholis te probeer beskerm en so normaal moontlik te probeer wees. Jy raak gewoond daaraan om verskonings re maak en om fisiek en emosioneel op re ruim. Wanneer sy handuitgeruk het, het ek net gesê, ‘Ag, dis nie ’n goeie dag vir haar nie’, of ‘sy’s baie emosioneel’ . . . enigiets om te keer dat iemand uitvind.

“Ek her myself oortuig my ma is net eksentriek of dat sy die middelpunt van die partytjie is. Ek kan nie onthou hoeveel keer ek by die huis gekom en haar stormdronk op die vloer gekry her nie. Hoe meer sy gedrink her, hoe meer moes ek die wêreld om my beheer omdat alles in my lewe so buite beheer was.”

Teen die tyd dat Sara haar allerlaagste punt bereik her, het die twee vroue skaars met mekaar gepraat. Hoewel hulle op dieselfde eiendom gewoon her, het Maryke nouliks erken haar ma bestaan.

“Ek bet min met haar te doen gehad. Ek het vir haar gesê ek wil haar nie sien nie. Om die waarheid re sê het ek nie omgegee nie. Ek was so uitgeput deur haar eindelose beloftes om op te hou drink en my vasberadenheid om alles reg te maak, dat ek moed verloor her. Ek het hard en koud geword en haar uit my lewe gesny.”

Soveel keer teleurgestel

Toe gebeur iets met Sara. Sy het aaklige hoofpyne begin kry en meer as gewoonlik begin opgooi ná haar drinksessies. “Ek was doodbang ek gaan ’n beroerte kry,” sê sy. “Toe ry ek een Sondag rond en beland buite die kantore van Sanra, die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels. Ek her gehuil en gehuil, want ek her besef as ek nie iets aan my drinkery doen nie, kan ek sterf.”

Sy het met rehabilitasie begin en gereeld AA-vergaderings bygewoon. Maryke was egter nog nie reg om haar ma te vergewe nie.

“Sy her my soveel keer teleurgestel. My eerste instink was om nie betrokke te raak by hierdie ding nie, want ons het al soveel keer hierdie dans gedans – sy het soveel keer gesê sy’s jammer en sal nooit weer drink nie. Dan vergewe ek haar en clan drink sy weer. Ek wou nie meer seerkry nie.”

Maar dié slag het Sara woord gehou en sewe maande later het sy voorgestel dat Maryke saam met haar ’n oop AA-vergadering, waar familie en vriende toegelaat word, bywoon. Maryke erken sy het uit nuuskierigheid gegaan en nie omdat sy geglo het haar ma is op die pad na herstel nie.

Die ervaring was ’n skok. “Hoewel ek soveel jare met my ma saamgeleef het, was my oorwegende persepsie dat ’n alkoholis ’n dronk boemelaar is wat met ’n bottel in ’n papiersak geld bedel. Ek kon nie glo hoe gelukkig en vriendelik hierdie mense was nie.”

Berading aan familie en vriende

Haar tweede skok het gekom toe ’n lid voorstel sy sluit aan by Al-Anon, ’n niewinsgewende organisasie wat berading gee aan familie en vriende van alkoholiste.

“Ek het nie eens geweet wat dit was nie,” sê Maryke. Weer was dit nuuskierigheid wat haar ’n Al-Anon-vergadering laat bywoon het, ’n geleentheid wat sy sê haar weer beheer oor haar lewe gegee het.

Net soos die AA is Al-Anon nie terapie nie. Dis ook nie ’n kitsoplossing nie, soos Maryke gou agtergekom het. “Ek het gedink ek gaan ’n lys kry van hoe om my ma se rehabilitasie te hanteer. Ek was op soek na ’n lys wat sê ‘doen dit’, ‘moenie dit doen nie’. In my kop wou ek seker maak sy val nie weer van die waterkar af nie.

“Ek het probeer om die situasie soos altyd in die verlede te hanteer. Deur al die woede en wrokkigheid was daar die probleemoplosser in my wat gedink het een werksessie kan alles regruk. Ek het nie besef dit gaan oor my en hoe ek geraak is nie.”

Al wat Maryke in die eerste paar sessies gedoen het, was huil. Lede kry die geleentheid om te praat, maar toe dit haar beurt was, het sy geswyg. Sy was nog nie reg om skiet te gee nie.

“Terwyl die ander gepraat het, het ek net gesnik en gesnik. Alles wat hulle gesê het, het my lewe haarfyn beskryf. Ek het gedink ‘Hoe weet julle dit?’ ” onthou sy.

Mense wat heeltemal verstaan

“Ek onthou hoe ek in my eerste vergadering om lewe en dood aan my stoel vasgeklou het. Dit was asof hulle my brein onderskep en my diepste gevoelens geken het. Ek het besef dis hier waar ek gesond kon word. Ek was vir die eerste keer in my lewe nie alleen nie. Ek het gevoel ek kon sonder enige veroordeling vryelik praat met mense wat heeltemal verstaan het.”

In die daaropvolgende weke het Maryke ses dae per week vergaderings bygewoon en die filosofie agter Al-Anon leer ken: Herstel gaan nie oor die alkoholiste nie. Dit het om die waarheid te sê min met hulle te doen.

“Dit gaan oor my herstel en hoe ek met die wêreld omgaan. Ek moes leer dat dit oor my moet gaan, want dit het nooit oor my gegaan nie. So lank ek kon onthou, het dit altyd oor my ma en haar drinkery gegaan.”

Deesdae word daar baie meer in hul huis gelag, sê Maryke met ’n glimlag. “Ek leer weer om kind te wees, dat ek weerloos mag wees. Dis nie iets wat ek ooit gewys het nie. Ek het altyd agter geslote deure gehuil en nooit iemand se hulp gevra nie.”

Deesdae, sê die twee vroue, leer hulle om na mekaar te luister en openlik en eerlik te kommunikeer. “Ek kyk nie heeltyd oor my skouer en bekommer my oor my ma nie,” sê Maryke, wat enkellopend is en nie kinders het nie. “Nou kan ons saam pret hê en nie heeltyd so ernstig wees nie.”

Alkohol laat haar koud

Maryke sê as sy nie by Al-Anon uitgekom het nie sou sy seker steeds ’n obsessiewe werkslaaf gewees het. “My ma se verslawing is alkohol, myne is werk. Ek sou my seker steeds oor ’n mik gewerk het met 18-uur-dae en probeer het om almal om my te beheer.”

Maryke is ’n sosiale drinker en geniet ’n glas wyn, maar sy raak nie aan whisky nie – sy haat dit, sê sy. Deesdae haat haar ma dit ook. Alle alkohol laat haar koud, sê Sara — in so ’n mate dat sy vir haar dogter ’n bottel wyn kan koop sonder dat sy lus voel om weer aan die drink te raak.

Sara het afgetree en wy haar tyd aan die AA-program as vrywilliger. Sy woon daagliks vergaderings by en gaan laai die mens op wat sy mentor. Sy doen ook los werkies vir die organisasie.

“Dit voel vir my ek betaal iets terug,” sê sy.

Die belangrikste is dat sy haar selfvertroue terug het. “Ek voel nie meer alleen nie. Ek het altyd so verleë en verneder gevoel, maar nie meer nie.”

Maryke sê:

- Jy kan by AI-Anon aansluit al is die alkoholis in jou gesin nie ’n AA-lid nie. Dit sal steeds baie help.

- Wees geduldig! Jou probleme sal nie oornag opgelos word nie. Maar moenie moed verloor nie, daar is hulp.

- Moenie skuldig voel nie. Dit maak ’n groot verskil as jy aanvaar dat niks wat jy gesê of gedoen het die alkoholis se drinkery sou verander het nie.

Sara sê:

- As jy bekommerd is oor iemand se drinkgewoontes, kan ingryping 'n groot verskil maak. Dit kan die aandag vestig op die probleem as die alkoholis nog nie erken het hy drink nie.

- Alkoholiste kan nie gehelp word voor hulle gereed is vir hulp nie – en dis gewoonlik eers as hulle ’n verskriklike laagtepunt bereik. Die lyer moet self erken hy het hulp nodig. Dit gaan nie help as ’n familielid die AA bel nie.

- Joga en meditasie help as jy reeds met ’n herstelprogram begin het. Dit het my kop skoongemaak en my kans gegee om van stres ontslae te raak.

Wat is Al-Anon?

Al-Anon is in 1951 begin deur Lois Wilson, die vrou van die stigter van die AA, Bill Wilson. Dit span dieselfde 12-stap program as die AA in, wat jou met spirituele beginsels help herstel.

“Al-Anon help jou om die krag vir herstel te kry van die hoër mag van jou keuse. Dis dus nie gekoppel aan ’n spesifieke godsdiens nie, hoewel die 12 stappe na God verwys,” verduidelik ’n woordvoerder. “Ons is ’n openbare steungroep van eendersdenkende mense wat nooit vir jou voorskryf wat om te doen nie. Al-Anon bied nie ’n kitsoplossing nie, maar beklemtoon jou dunk van jouself, die stel van grense en praatterapie deur jou storie te deel.” 

* Skuilname – lede van AA en Al-Anon bly altyd anoniem en hul identiteit word nooit bekend gemaak nie.

Jared Orlin

Hier’s hulp:

Al-Anon: 0861-252-666 of help@alanon.org.za

Alkoholiste Anoniem: 0861-435-772 of info@aanonymous.org.za

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE