Share

Amper dood in ’n motorongeluk

Dit was eintlik maar ’n gewone aand. Ek en Werner was op pad huis toe na ’n troue in die Paarl, nadat ons dit aanvanklik oorweeg  het om glad nie te  gaan nie omdat Werner so moeg was. Hy was topfiks en reg vir die Karoo to Coast-bergfietswedren van Uniondale na Knysna deur die Langkloof waaraan hy en vriende die volgende dag sou deel-neem.

Ons her ons voorgeneem om dit ’n vroeë aandjie te maak en her Werner se ouers belowe ons sal nie laat terug wees nie. Hulle her ons twee meisiekinders, Nerita (11) en Bea (9), die aand opgepas. Maar soos dit met ’n troue gaan, het ons lekker gekuier tot twaalfuur die nag. Werner het nie gedrink nie, want ons wou halfses die volgende oggend in die pad val.

Anders as gewoonlik her ek my sitplekgordel gedra, maar Werner het syne so 5 km van die huis af losgegespe toe hy die venster oopgemaak het om vars lug re kry teen die vaak. Hy het teen sowat 60 km/h gery toe ons reg van voor in ’n reuse ou bloekomboom in Durbanville vasry. Ons weet steeds nie wat gebeur het nie; dalk het hy aan die slaap geraak. Werner kan niks van daardie aand onthou nie.

In die wrak vasgepen

Die motor se lugsakke her binne millisekondes oopgegaan, maar Werner se kop her nogtans die raam van die voorruit bo teen die dak getref. My gordel het gekeer dat ek deur die ruit skiet, maar ek was in die wrak vasgepen.

Toe ek my regterarm uitsteek om re voel waar Werner is, was alles onder my vingers ’n pappery. In die donker kon ek nie sien hoe erg sy kopbeserings was nie, maar die bokant van sy skedel was oopgekraak en sy gesig was aan flarde geskeur. Feitlik al sy tande was los, sy linkerknieskyf was gebreek en sy linkerheup uit potjie, sou ons later hoor.

Hy was by sy volle positiewe, maar buite homself. Toe die nooddiens tien minute later op die toneel verskyn, het hulle hom eerste uit die wrak gehaal, maar hy het rondgehardloop en nie eens die frisgeboude paramedikus kon hom bedwing nie. Selfs toe hulle hom op die draagbaar moes vasgordel kon hulle hom, ’n skraal man van 62 kg, skaars kalmeer.

Ek was steeds in die wrak vasgekeer en het geen pyn gevoel nie, maar ek kon nie my bene sien nie, net die motor se instrumentepaneel wat tot op my skoot gedruk was. Wat ek so goed kan onthou van daardie lentenag is die aanhoudende geloei van die ambulans se sirene en die motoralarm.

Buite die motor was dit ’n sirkus: ambulanspersoneel wat Werner probeer vasmaak en kalmeer en nooddiens-werkers wat sukkel om my deur oop te dwing.

As iemand voorheen vertel het dat hulle die Here se stem in hul sterwensuur gehoor het, het ek gedink dit is sommer lawwigheid. Maar daardie aand het ek besef dit is waar. Na twee uur kon die reddingsmense my steeds nie lossny nie, en iets in my kop her net gesê hulle moer my sitplek terugskuif en platslaan. Binne vyf minute kon hulle my by die Renault se agterruit uittrek.

Die wagkamer van die hemel

Albei my bene is gebreek toe die enjin met die trefslag agtertoe gedruk is. My regterpols was gebreek, my borsbeen gekraak en my lewer gesny.

Ek sal nooit die rit in die ambulans vergeet nie – daardie kliniese wit lig het my laat voel asof ek besig was om dood te gaan. Amper soos die wagkamer van die hemel. Maar sou ek hemel toe gaan as ek sterf?

En wat van my twee kinders; wie sou hulle grootmaak? En leef Werner nog? Toe ek een van die paramedici vra of ek gaan leef, her hy net geantwoord dis is nie vir hom om te sê nie.

Ek was angsbevange. Deurentyd kon ek voel hoe ek besig was om weg te glip.

Ek is na die Louis Leipoldt Medi-Clinic geneem en is daardie selfde oggend om 08:00 geopereer om my beenbreuke te heg.

Intussen het die polisie Werner se ouers gebel en ook Werner se fietsrypelle wat vergeefs gewag het op sy aankoms vir die Karoo to Coast. Toe hulle die nuus hoor, het hulle besluit om die wedren aan hom op te dra. Ons het my ouers eers later in die hande gekry.

Na ses uur in die teater het ek ’n massiewe vet-embolisme ontwikkel. Dit gebeur glo met veelvuldige breuke dat vet uit die beenmurg lek, in die bloedstroom beland en na die longe gaan. Dit veroorsaak asemnood omdat die bloed nie behoorlik suurstof kan opneem nie en dit kan noodlottig wees.

Ter wille van die kinders

Intussen het my ouers ook by die hospitaal opgedaag en die internis het hulle ingelig dat hulle hulle moet klaarmaak vir die ergste. My pa, die sterk en logiese een, het flou geword toe hy die nuus hoor.

’n Ander span dokters was besig om Werner se lewe te probeer red, onder hulle ’n neurochirurg, ortopeed en plastiese chirurg. Twaalf uur lank het hulle gespook, en sy ma vertel nou nog hoe sy gebid het dat een van ons net moet oorleef ter wille van die kinders.

Albei van ons was steeds kritiek. Toe ek 24 uur later my oë oopmaak, wou ek dadelik weet waar Werner is. Ek het nie eens geweet of hy nog leef nie.

Ek het glad nie die geswolle mens langs my in die waaksaal herken nie. Sy kop was reusagtig opgeblaas en daar was ’n lugpyp in sy keel waardeur hy moes asemhaal.

Ons was albei buite gevaar, maar ’n lang en pynlike herstelproses van twee en ’n half maande het begin. So lank as ses weke na die ongeluk moes stukkies sponsbeen uit my bekkenbeen in my linker-maermerrie ingeplant word om die breuke te help heg.

Dertien spesialiste het aan Werner se beserings gewerk. In vier operasies is sy neus opgebou en sy tande weer vasgemaak in sy kake. Maar sy regteroog is verwyder en hy het nou ’n kunsoog.

Kake met drade geheg

Middel Oktober 2006 is ons oorgeplaas na ’n sub-akute rehabilitasiesentrum in Durbanville vir intensiewe rehabilitasie. Werner, wat toe net 52 kg geweeg het omdat sy kake
met drade geheg was en hy net fyn kos kon eet, moes leer om met ’n loopraam te loop.

Ek was in ’n rolstoel. Ek moes leer om alles met my linkerhand te doen en my in en uit die rolstoel te kry. 

Teen einde November kon ons huis toe gaan. Ons moes leer om weer onafhanklik te wees, self te bad, te beweeg en alleen toilet toe te gaan. My broer, sy vrou en hul gesin het die laaste ruk van die laaste kwartaal in ons huis kom woon en die kinders kon saam met hul niggies kuier, speel en huiswerk doen.

Ek het gesukkel met die rolstoel en was gefrustreerd. Ek is die emosionele een van ons twee en het maar baie gehuil en moedeloos geraak.

Vir my was dit die moeilikste om so hulpeloos te wees – ek kon nie loop, myself was of versorg nie en moes die kommer oor ons kinders en beroepe hanteer: Ek was ’n Afrikaans-onderwyseres by die Hoërskool J.G. Meiring in Goodwood en Werner het sy eie staalonderneming gehad. Ons het ’n mediese fonds gehad, maar sou ons die bybetalings kon bekostig?

Elektriese rolstoel gehuur

Die skool het my gelukkig terugverwelkom, ’n elektriese rolstoel gehuur en opritte laat bou. Werner se staalonderneming, wat balustrades en relings vervaardig, is deur vriende en familie aan die gang gehou en projekte is voltooi.

My en Werner se ouers het reeds die nag van die ongeluk by ons huis ingetrek en die huishouding en kinders se versorging oorgeneem. Die gemeenskap, vriende en familie het ’n kosrooster opgestel en elke dag is bakkies met skoolkos vir die kinders afgelewer.

’n Familievriend en ander van Werner se fietsrypelle het intussen ’n trust gestig waaruit ons noodsaaklike uitgawes soos skoolgeld en munisipale rekeninge gedek kon word.

’n Oom uit die gemeente het selfs ons fisioterapeut se rekening betaal en my prokureur-buurvrou het die administrasie van al ons doktersrekeninge – en daar was baie – oorgeneem. Gelukkig was die dokters gaaf genoeg om afslag te gee.

Dit was net ongelooflik hoe mense ons geseën het met hul tyd en geld en kos en versorging. Vriendinne het my beenhare geskeer en my hare gewas. Ons moes kreatief dink hoe om my te versorg omdat ek nie kon loop of my arm gebruik nie en daarom moes ek selfs een maal op die stoep sit terwyl my skoonsus my met die stortpyp deur die badkamervenster natgespuit het. Ek kon toe my hare so met een arm was. Dit was wonderlik.

Huilerig en paniekbevange

Ek was maar lekker bang om my kinders te laat uitgaan. Ek was huilerig en soms doodgewoon paniekbevange. Maar daar was soveel om voor dankbaar te wees. En as ’n mens ’n tweede kans kry om te leef, is daar min dinge wat jou werklik pla.

Nou is dit net wonderlik om te weet dat ’n mens op jou beurt ander kan help en ek doen dit graag.

Werner het intussen ’n paar maande gelede by die Panorama-psigiatrie-en-geheuekliniek ’n reeks toetse ondergaan. Die goeie nuus is dat hy absoluut geen breinskade het nie. Inteendeel, die meeste van die toetse se uitslae was meer as 100 persent.

Sy herstel is ’n algehele wonderwerk. Myne ook – Werner ry al weer fiets en ek is uit die rolstoel. Nou leef ons elke dag. Ons is weer gesond!

 Thea-Rita se wenke

  • Laat belangrike inligting by familie of bure: die naam van jou mediese fonds en jou lidnommer, korttermynversekering-besonderhede en selfs jou selfoon- en huisnommer.
  • Maak seker dat jy 'n nommer op jou selfoon het van naasbestaandes wat in geval van ’n ongeluk gekontak kan word, of verkieslik twee of drie verskillendes. Bêre dit onder die inskrywing ICE, die afkorting vir “In Case of Emergency”. Dit kan die nooddienste help in ’n noodgeval.
  • As jy vir jouself werk, kry 'n betroubare makelaar wat ’n goeie inkomstevervanger of soortgelykepolis kan aanbeveel wat 'n inkomste sal verseker as jy nie kan werk nie.
  • Sluk jou trots en aanvaar hulp. Mense wil graag help; jy kan later 'n beurt kry om húlle te help.
  • Onderhandel oor die koste van operasies, terapie en rehabilitasie en hou deeglik boek van alle rekeninge. Jy mag afslag vra vir opvolgprosedures.
  • Moenie eers alle hulpmiddels soos ’n badbord koop nie. Jy kan dit later koop soos jy dit nodig kry. Virons was dit wel goedkoper om ’n rolstoel en krukke te koop as om dit te huur, omdat ons dit so lank moes gebruik.
  • ’n Warmwatersak of handdoek wat in die mikrogolfoond verhit is, verrig wondere vir pyn.
  • Gee die kinders kans om sonder ander gaste in die hospitaal te gaan kuier, of vra vir aparte besoekure sonder ander mense. Die kinders het na die tyd gesê die grootmense was in die pad en hulle kon ons letterlik nie sien of genoeg self met ons praat nie.

 Thea-Rita Kluyts

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE