Share

Wat laat tieners uitrafel?

Tieners kan vreemde wesens wees. Hulle duiwel deure toe, gaan maklik aan die huil en kry puisies juis wanneer hulle op hul beste wil lyk. Hormone en chemiese stowwe speel rondomtalie in hul lyf. Hoe verstaan ’n mens dit?
Deur ELISE-MARIE TANCRED en HEALTH24 vir Huisgenoot-POLS

Is dit hormone se skuld as jy buierig en opstandig raak? Of ’n puisie kry voor ’n groot aand uit? Of selfs as jy soggens sukkel om op te staan?

As jy verstaan wat in jou lyf gebeur, help dit dalk om te verstaan hoekom jy is soos jy is. Dit kan jou ook help om sekere goed te behandel – byvoorbeeld puisies.

Androgene: hormonale towerdoepa
Jy word tussen die ouderdom van ses en agt jaar vir die eerste keer aan die mens se eie hormonale towerdoepa blootgestel; dis nou wanneer die adrenale kliere (ook bekend as die byniere) aan die bokant van die niere androgene begin vrystel.

Die vervaardiging van androgene is maar net die begin van ’n stortvloed hormone waaraan jy blootgestel word. Saam vorm die hormone ’n ingewikkelde en sensitiewe stelsel waarin een hormoon se vlak dié van ’n ander bepaal.

Op ongeveer tien jaar vir meisies en twaalf vir seuns is die androgeenvlakke hoog genoeg om hare op jou skaamdele en onder jou arms te laat groei, jou vel olieriger te maak en aknee te veroorsaak.

Oeg, en hulle is ook nog verantwoordelik daarvoor dat jy in jou tienerjare so sleg kan ruik as jy sweet en nie gereeld bad nie.

Androgene word opgevolg deur gonadotropien, ’n hormoon wat die geslagskliere stimuleer. Oor die volgende jaar of twee neem die vlak van gonadotropien in die bloed skerp toe. Dit lei tot die vrystelling van nóg hormone deur die hipofise – ’n klein klier in die brein – wat jou eierstokke (as jy ’n meisie is) of jou testes (as jy ’n seun is) aanskakel.

Nóg vis nóg vlees
Nou is jy nóg vis nóg vlees, maar al kniediep in jou puberteit. Namate jy dieper in jou puberteit ingaan, word meer hormone vrygestel.

Meisies se eierstokke produseer estrogeen en progesteroon, terwyl seuns se testes testosteroon vrystel. ’n Tienerseun se testosteroon styg vinnig tot op ’n volwasse vlak, vyftig keer so hoog as voorheen – ’n ongekende hormoonontploffing!

En dan wonder ouers hoekom ’n seun van dertien of veertien soms vreemd optree.

Dis danksy estrogeen dat meisies se borste groei. Dit bepaal ook die vorm van ’n jong vrou se figuur deur die herverspreiding van liggaamsvet. Vet gaan sit nou op meisies se heupe. (Dankie, hormone!)

Testosteroon neem weer seuns se liggaamsvorm onder hande: babavet maak plek vir spiermassa en hare verskyn vir die eerste keer op onverwagte plekke.

Uiteindelik kry meisies hul eerste maandstonde en seuns hul eerste volwaardige ereksie en ejakulasie. Nou is wat die ou mense rooi hakskene genoem het, jou voorland – jy raak halsoorkop dolverlief en die geringste aanraking, of selfs net ’n knipoog, van daardie spesiale persoon laat jou hart woes aan die klop gaan.

Volgens prof. Steven Hough, endokrinoloog van die Universiteit van Stellenbosch se fakulteit gesondheidswetenskappe, krap wetenskaplikes nog steeds kop oor wát as sneller dien vir die liggaam om hormone te begin vrystel.

Waarskynlik speel die senuweestelsel, sosiale en sielkundige faktore ’n rol, asook jou dieet.

Vroeë puberteit vir vandag se kinders
Dit is algemeen bekend dat puberteit vandag vroeër by kinders voorkom as voorheen. In 1850 het meisies gewoonlik hul eerste maandstonde op sewentien gekry. Vandag gebeur dit op twaalf jaar.

Beter eetpatrone, algemene voorspoed en beter mediese sorg en sosio-ekonomiese omstandighede kan redes hiervoor wees. As jy oorgewig is, kan jy ook vroeër begin ontwikkel.

Baie mense dink hormone het net so ’n dramatiese uitwerking op tieners se gedrag as op hul liggaamsvorm. Ouers praat van “hormone op wiele” en kla oor tieners se wispelturigheid, impulsiewe gedrag en emosionele optrede.

Dit wil lyk of jong mense opwinding najaag en genot put uit wilde optrede.

Volgens statistieke is dit ook so, skryf Vivienne Parry in haar boek The Truth about Hormones (Atlantic Books, 2005). Meer as driekwart van tienersterftes word veroorsaak deur die een of ander ongeluk of die soeke na opwinding. Die storm-en-drang-jare, noem sommige dit.

Maar of hormone die kwaadstoker is as jy laatnag by die huis uitsluip na ’n partytjie toe, is te betwyfel. In die verlede is geglo die brein is teen adolessensie reeds volledig ontwikkel, maar nuwe navorsing wys dat biologiese volwassenheid eers teen die laat tienerjare en vroeë twintigerjare bereik word. In die tienerjare word die senuwee-eindpunte in die voorbrein “gesnoei” om hulle doeltreffender te maak.

Dit verduidelik hoekom denkprosesse soos doelwitstelling, die uitwerk van prioriteite en impulsbeheer eers later ontwikkel. “Hormone kan dus glad nie alleen die skuld vir tienergedrag kry nie. Dit is nie net testosteroon wat verantwoordelik is vir gevaarlike optrede nie, maar ook die onvermoë van ’n onvolwasse brein om gevaarlike gedrag waar te neem en te beoordeel,” skryf Vivienne.

Volgens haar is die onvolwasse brein wat seksuele gedrag betref soos ’n voortsnellende motor sonder ’n bestuurder.

’n Tienermeisie het die hormone en liggaamsvorm van ’n volwasse vrou, terwyl testosteroon seuns weer elke ses sekondes aan seks laat dink – dit alles terwyl die brein se redenasievermoë nog onder konstruksie is!

Jy't jou slaap nou nodig!
Hormone sit wel daaragter dat jy nou so lief is vir slaap. Gedurende puberteit is daar ’n subtiele verskuiwing van slaappatrone – die snelgroeifase wat jy in jou tienerjare beleef, vereis waarskynlik meer slaap.

Dit word gedeeltelik verklaar deur ’n verhoging van die melatonienvlakke (die slaaphormoon) in tieners se bloed.

Wanneer die wekker seweuur in die oggend lui, dink jou tienerlyf dit is nog vieruur in die oggend.

Baie tieners kry deurentyd te min slaap, iets wat hulle met dieselfde simptome as vlugvoosheid laat.

Jong mense het nege uur slaap per nag nodig, maar as jy soos die meeste tieners is, sal jy nie voor die vroeë oggendure moeg voel nie. Navorsers sê dis normaal: tieners se sirkadiese ritme veroorsaak dat hulle eers om en by twee-uur in die oggend vaak word en dan tot elfuur wil slaap.

'n Doodnormale proses
Dr. Steve Delport, ’n spesialis in endokrinologie (die studie van hormone) van Kaapstad en ’n pa van twee seuns wat reeds deur puberteit is, sê daar is niks buitengewoons aan puberteit nie.

“Dit is ’n normale groeiperiode en moet so hanteer word. Baie van die tienergedrag wat ouers rasend maak, kan voorkom word as ouers hul kinders die regte feite oor puberteit gee en gereeld met hulle daaroor praat.

“Ouers dink verkeerdelik dat hul kinders nou groot is en vertrou dan verantwoordelikhede aan hulle toe waarvoor hulle nie gereed is nie,” sê Steve. (Dis goed om te weet ’n mens se ouers is nie altyd reg nie!)

“Tieners het hul ouers se ondersteuning en raad nou nodiger as ooit tevore om groepsdruk en liggaamsveranderinge te hanteer.”

In jou tienerjare verander jou selfbeeld, nes jou liggaam, dramaties. Daarom bring ’n mens ure voor die spieël deur en voel jy dikwels selfbewus. Jou ouers moet besef dis normaal dat jy in dié tyd alleen wil wees.

Steve wys ook op groot verskille in rypingsmylpale tussen die geslagte. By tienermeisies begin die snelgroeifase gewoonlik teen om en by twaalf jaar, maar by party meisies begin dit reeds op tien of selfs vroeër.

Seuns begin om en by op veertien met snelgroei, sommige eers later. Puberteit, wat veel later begin, kan ’n ernstige verskynsel wees wat mediese hulp verg.

“In die meeste gevalle is ’n goeie dosis geduld al wat nodig is, maar soms moet kinders medies behandel word,” verduidelik Steve. Kyk na die mylpale hieronder om te sien op watter ouderdom watter verandering plaasvind:

MEISIES GEMIDDELDE OUDERDOM ODERDOMREIKWYDTE
1. Borste begin ontluik 10 8-13
2. Lengtesnelgroei 10 8-13
3. Skaamhare begin verskyn 10,5 8-14
4. Piek van lengte-groei 11,7 10-13,5
5. Eerste maandstonde 12,5 10,5-15,5
6. Borsgroei voltooid 14 10-16
7. Skaamhaargroei voltooid 14,5 14-15
8. Volwasse grootte 13 10-16

SEUNS GEMIDDELDE OUDERDOM OUDERDOMREIKWYDTE
1.Testes begin groei 11,5 9,5-13,5
2. Skaamhare begin verskyn 12 10-15
3. Penis begin vergroot 12 10,5-14,5
4. Lengtesnelgroei begin 12,5 10,5-16
5. Eerste ereksie en ejakulasie 13 12-16
6. Piek van lengtesnelgroei 14 12,5-15,5
7. Baard verskyn 14 12,5-15,5
8. Stem breek 14 12,5-15,5
9. Penisgroei voltooid 14,5 12,5-16
10. Skaamhare se groei voltooid 15,5 14-17
11. Volwasse grootte 15,5 13,5-17,5

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE