Share

Selfdoen-dwelmtoetse

Daar's min ouers wat nie bekommerd is oor hul kinders en dwelms nie – met goeie rede. Dwelms is oral en jou kind gaan waarskynlik ook daarmee in aanraking kom. Dalk is dit tyd dat jy dwelmtoetse oorweeg wat 'n mens tuis kan doen...
Deur ANNELIZE VISSER

Dit is elke ouer se ergste nagmerrie. Toe Sandra* se vyftienjarige seun van 'n skoolkamp terugkom, het sy 'n banksakkie vol dagga tussen sy vuil wasgoed gekry.

Dalk is dít hoekom haar vrolike, liewe kind skielik buierig en aggressief begin raak het, het sy gedink.

Sy het haar seun gewaarsku dat sy oor 'n maand sy urine vir dagga sou toets. En sy het ook.

Om seker te maak dat hy nie kon kul nie, het sy buite die oop badkamerdeur vir die urinemonster gestaan en wag. "Dit was 'n yslike verleentheid vir ons albei en dit het hom baie kwaad gemaak," sê Sandra oor dié ondervinding.

Die toets was positief en in die volgende twee jaar, waartydens Sandra haar seun gereeld getoets het, het sy voortdurende dwelmgewoonte byna hul verhouding vernietig.

Al waaroor sy jammer is, is dat sy hom nie vroeër getoets het nie. "Ek het my kinders goed dopgehou," sê sy. "En as joernalis het ek gedink ek is goed ingelig. Maar my seun het reeds 'n jaar lank dwelms gebruik voor ek daarvan bewus geword het."

Sou sy dit weer doen? "Ja, beslis – dit is my reg. Hy was 'n minderjarige wat in my huis gewoon het en aan die risiko van dwelms blootgestel is. Ek sou enigiets doen om terug te baklei."

Toets vir die ouer-kind-verhouding

Vandag hoef ouers wat vermoed dat hul tieners dwelms gebruik, nie meer skelmpies sakke en laaie te deursoek nie, vreesbevange dat hulle dinge kry wat met dwelms verband hou.

Hulle het nou toegang tot dwelmtoets-toerusting wat aanlyn en by die meeste apteke beskikbaar is, en wat met 'n hoë graad van akkuraatheid sal aandui of 'n kind onlangs dwelms gebruik het.

Hoewel dié toetse antwoorde gee, verskaf dit nie oplossings nie. Die meeste van die toetse vereis urine, wat beteken die kind moet saamwerk.

Om kullery te voorkom is dit boonop nodig dat die kind van 'n redelike afstand dopgehou moet word terwyl die urinemonster geproduseer word – iets wat vir party gesinne onaanvaarbaar kan wees.

Een baie duur toets, die sogenaamde Drug Detective, stel jou in staat om 'n dwelmtoets sonder die kind se medewete uit te voer. As die resultaat egter positief is, sal die vonke tydens 'n bespreking beslis spat oor die kwessie van privaatheid.

En as die kind ouer as agttien is, kan dit selfs teen die wet wees. Die meeste ouers sal saamstem dat die skade wat 'n dwelmtoets vir 'n kind se waardigheid kan inhou, heeltemal geregverdig is as dit met die lewensbedreigende gevolge van dwelmgebruik vergelyk word.

Miskien is dít hoekom aptekers bevestig dat die aanvraag na dwelmtoets-toerusting besig is om toe te neem. Dit dui aan dat ál meer ouers die moeilike besluit neem om tuis dwelmtoetse te doen.

Maar om jou kinders vir dwelms te toets is beslis 'n uitdaging vir die ouer-kind-verhouding – en die toetse bevat geen aanwysings oor hoe om die probleem wat hulle ontwerp is om te toets, te konfronteer nie.

Watter toets is die beste?

Die meeste apteke het multidwelmtoetse wat, soos die naam aandui, die urine vir meer as een dwelmkategorie toets.

Dit word ook soms multipaneel-toetse genoem, wat daarna verwys dat elke paneel of toetsstrokie in staat is om vir die teenwoordigheid van 'n aparte dwelmkategorie te toets.

Vyfpaneel-multidwelmtoetse dek die meeste algemene onwettige dwelms: THC (marijuana of dagga), kokaïen (insluitend crack), metamfetamien en amfetamien (insluitend tik en ecstasy) en opiate (morfien en heroïen).

'n Sespaneel-toets sal ook die teenwoordigheid van bensodiasepien aandui (die kategorie vir afspraakdwelms soos Rohypnol).

Multi-dwelmtoetse word gebruik deur óf die toetsstrokies in die urinemonster te doop en die resultaat binne 'n sekere aantal minute te lees, óf die urine op die toetsstrokies te drup.

Aptekers stem saam dat as jy eers besluit het om voort te gaan en jou kind vir dwelms te toets, 'n multi-toets die beste beginpunt is.

Toetse vir individuele dwelms is vrylik beskikbaar teen ongeveer R20 elk, en lyk en werk baie soos 'n swangerskapstoets. 'n Toets vir tik sal egter byvoorbeeld nie die teenwoordigheid van kokaïen of enige ander onwettige dwelmkategorie aandui nie.

Sodra die multi-dwelmtoets dus die kategorie verklap van die dwelm wat die kind gebruik het, kan daar individuele opvolgtoetse wees vir aanhoudende dwelmgebruik.

Die pryse van multi-dwelmtoetse wissel tussen R75 en R100. Jy kan ook vir R55 'n sespaneel-multidwelmtoets aanlyn by www.drugtest.co.za bestel.

* 'n Skuilnaam

Wat gebeur as jou kind nie wil saamspeel nie?

Tieners wat weier om 'n urinemonster vir 'n dwelmtoets te voorsien, is nie noodwendig dwelmgebruikers nie. Baie tieners kan dit bloot nie verdra as hul ouers by hul lewe inmeng nie. Hulle is sterk ingestel op privaatheid en bereid om die prys van agterdog te betaal om dit te verdedig. Maar dit laat nie vir Ma en Pa beter slaap nie...

Dit is dan wanneer 'n mens die vrylik beskikbare Drug Detective gebruik. Dié toets het sy oorsprong op die terrein van forensiese toetse en biochemie gehad, en die toetsprosedure lyk soos iets uit 'n episode van CSI. Drug Detective kan spoorhoeveelhede van dwelms op algemene oppervlakke soos klere en selfone naspeur.

Daar is noukeurige aanwysings oor hoe om oppervlakoorblyfsels, poeier, tablette en vloeistowwe vir 'n hele reeks middels in te samel en te toets. En die resultate is binne tien minute beskikbaar.

Die toets is nie heeltemal betroubaar nie. Die tegnologie is gesofistikeerd en daarom is dit maklik om 'n fout te maak, wat 'n verkeerde positiewe of negatiewe resultaat kan oplewer.

Oppervlakke is ook nie altyd privaat nie – dit help nie om jou tiener se selfoon vir spore van dwelms te toets as jy nie doodseker is dat niemand anders dit kort tevore hanteer het nie. Dié "speurder" se dienste is ook duur – verwag om by apteke tussen R204 en R325 vir die Drug Detective op te dok.

Wenke vir die koop van toetse

  • Die meeste dwelmtoets-toerusting is generies en sonder handelsnaam, of word deur kodes geïdentifiseer.
  • Party apteke soos die Alpha Pharm-groep of organisasies soos Arrive Alive het hul eie handelsname vir toetse.
  • As jy skaam is om 'n dwelm- of alkoholtoets by die voorskriftoonbank te vra, bel voor die tyd en reël om die toets by die kasregister te kry.

Is dit wettig?

In beginsel, ja. Kerry Williams en Prelishna Singh van die prokureursfirma Webber Wentzel sê daar is geen wette wat ouers verbied om hul kinders vir dwelmgebruik te toets nie. Maar hulle wys vinnig daarop dat die Kinderwet van 2005 kinders seggenskap gee oor sake wat hulle raak, en vereis dat ouers hul kinders se sienings in ag neem.

Hoewel dié wet ouers nie verbied om hul kinders vir dwelms te toets nie, verplig dit hulle wel om hul kinders in te lig oor die toets en hulle toe te laat om hul mening daaroor uit te spreek, sê die prokureurs.

Aan die ander kant is dit 'n skending van 'n kind se grondwetlike reg tot privaatheid om hom sonder sy medewete vir dwelms te toets, sê hulle. Daar is egter omstandighede waarin dié reg tot privaatheid beperk kan word as dit billik en verdedigbaar is.

Hul siening is dat die proses om vas te stel of 'n kind 'n onwettige middel gebruik, sowel billik as verdedigbaar is. Dit is dus moontlik om jou kind sonder sy of haar medewete te toets sonder om enige wet te oortree. As kinders reeds agttien en dus mondig is, is dit beslis teen die wet om hulle vir dwelms te toets.

Om alkohol uit te snuif

Noudat 'n puntestelsel vir verkeersoortredings aanvaar is wat kan toesien dat herhaaldelike oortreders hul rybewyse verloor, sal meer mense waarskynlik hul eie alkoholvlak toets voor hulle agter die stuurwiel inskuif.

Omdat kinders gepaste gedrag leer deur te kyk hoe hul ouers optree, kan jy as 'n duidelike voorbeeld van die risiko's en verantwoordelikhede van middelgebruik en -misbruik dien as jy jou eie alkoholvlak toets.

Asemhalingstoetse vir alkoholgebruik is goedkoop en geredelik by apteke beskikbaar, met weggooitoetse wat R2 en duurder kos.

(Hierdie is 'n uittreksel uit 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Lees meer:

Drugs: Special Report

Parents: look out for these drugs

How deadly is pot?

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE