Share

Tande witter as sneeu

accreditation

HG-Pols het ’n toetsgroep gevra om te kyk hoe verskillende witmaakmetodes werk.

Is jy ’n roker? Of lief vir rooiwyn en sterk koffie, en lekker tamatiepastas en sjokolade? Of is jy soms laks wanneer dit kom by tandversorging?

Indien wel, sukkel jy waarskynlik met geel tande. En geel tande is sleg vir jou selfvertroue. ’n Mens wil nie te wyd glimlag nie, en kruip weg vir kameras.

'n Waterskeiding

Indien dit die geval is, is dit tyd om jou gevlekte tande te laat wit maak. Dit is ’n waterskeiding, want skielik vind jy dat jy baie meer aandag gee aan die versorging van jou stel wittes – juis oor hulle skielik so wit is. Nooit weer gaan jy slaap sonder om te borsel nie.

Dit is normaal dat ons tande verdonker namate ons ouer word, verduidelik die Kaapse mondhigiënis Emma King, want tande vlek maklik omdat tand-emalje poreus is. Kortom: As iets ’n wit hemp kan vlek, kan dit jou tande ook vlek.

Jy kan óf met die verkleuring saamleef   óf iets daaraan doen. Maar wanneer dit by kosmetiese verwittings kom, is die keuse oorweldigend. Tuis of professioneel? Kitsoplossing of oor ’n langer tydperk? Maklik of ongerieflik? Goedkoop of duur?

Huisgenoot-Pols het na ’n aantal behandelings gaan kyk.

Professionele behandelings

Opsie 1: Venere

Uitgevoer deur 'n tandarts

n Tandveneer is ’n dun porseleindoppie wat oor ’n beskadigde of verkleurde tand pas. Dit vereis twee besoeke aan die tandarts. Tydens die eerste besoek bekyk die tandarts jou probleem en berei jou tande voor. ’n Gietvorm word van die verkleurde tande geneem en na ’n laboratorium gestuur waar venere van ’n halwe millimeter dik gemaak word (dit neem ’n week of twee). Tydens die tweede besoek word die venere met ’n sterk bindmiddel aan die tande geheg.

Die voordele

  • Porselein is ’n dun materiaal en kan nie verrot of verkleur nie – hoewel verkleuring aan die rande van die venere kan voorkom as hulle nie ordentlik versorg word nie.
  • Goed versorgde venere hou langer as enige ander kosmetiese verwitting – tot 15 jaar.
  • Geen sensitiwiteit word ervaar soos met die ander prosedures nie.

Die nadele

  • Dit is die duurste behandeling en word gevolglik net gebruik by probleemtande eerder as om die hele mond te laat doen.
  • Dit word gewoonlik nie vir kinders aanbeveel nie. “Kinders se tande ontwikkel nog,” sê Emma, “dus sal die punt waar die veneer by die tandvleis aansluit, binne ’n paar jaar ’n paar millimeter weg van die tandvleis wees.”
  • Die prosedure is nie juis omkeerbaar nie.

Die toetsgroep se bevinding

Anneke Sorour sê: Omdat ek my tande jare lank te hard en te veel geborsel het, het die geel dentien, wat onder die tandemalje is, op my voortande begin wys. Dus sou ’n bleikjel nie werk nie, want dentien is te sensitief om te bleik. Ek het dit jare lank uitgestel, veral omdat die prosedures so duur is. Maar nou is ek so in my skik met die resultaat – my dogter Robyn lag vir my, want sy sê ek glimlag vir elke spieël waarby ek verbystap. Die prosedure het elke keer sowat ’n uur en ’n half geduur en daar was geen ongemak nie.

Opsie 2: Britesmile

Uitgevoer deur 'n mondhigiënis

In hierdie gewilde behandeling word die tande verwit met ’n waterstofperoksied-jel (’n bleikmiddel) en sagte plasma-lig. Die jel en die lig word tydens drie sessies van 20 minute elk op dieselfde dag aangewend.

Die vel en lippe word van die tande weggetrek en die tandvleis word met ’n sagte plastiekagtige stof bedek om dit teen die peroksied te beskerm. Jy dra ook ’n spesiale bril om jou oë te beskerm.

Die Britesmile-prosedure verwyder die dieper vlekke (bekend as intrinsieke vlekke) en die oppervlakvlekke (bekend as ekstrinsieke vlekke). Vir 24 uur na die behandeling is die tande baie vatbaar vir vlekke; dus moet rook en alle kos wat tande kan verkleur (soos tee, koffie, rooiwyn en sjokolade), vermy word.

Die voordele

Die gevolg is dadelik sigbaar en kan tot vyf jaar lank hou.

Omdat dit deur ’n professionele mens gedoen word, word die sensitiewe dele tydens die behandeling beskerm,” sê Emma. Dit kan nie met tuisbehandelings gedoen word nie. As daar wel enige sensitiwiteit agterna is, sal dit net ’n paar uur duur, en gewone pynpille sal help.

Die nadele

Dit kan nie die kleur van krone, venere of vulsels verander nie. “Hulle is nieporeus en kan dus nie op die produk reageer nie,” sê Marcel Hartman, een van die stigters van Britesmile in Suid-Afrika.

Dis nie ideaal vir mense met draadjies of enigeen jonger as 16 nie, want dis beter dat die tande volledig ontwikkel is voor die behandeling gedoen word.

Kloustrofobiese mense moet kennis neem dat die plasma-lig baie na aan die gesig geplaas  word – byna oor die hele mond en neus vir tot 20 minute op ’n keer. Dit kan ongemaklik wees vir sommige mense.

As jy aan tandverrotting ly, moet dit eers reggemaak word voor jou tande verwit word.

Die toetsgroep se bevinding

Kim van Reizig sê: Ek het dit nooit oorweeg om my tande te laat wit maak nie, want ek het gedink dit sou ’n uitgerekte, pynlike proses wees. Maar ek het net een Saterdagoggend in die stoel deurgebring en daar uitgestap met byna onherkenbare, wonderlik wit tande. Dit was moeilik om 24 uur lank nie te rook nie, maar dit was die moeite werd, veral omdat dit ’n eenmalige prosedure is. Opvolgsessies is opsioneel.

Doen dit self

Opsie 3: Verwittingsjel en mondskerm

Dit is ’n vooraf gemengde jel wat karbamiedperoksied bevat en aan die tande gewend word om die emalje stelselmatig wit te maak. Dit kan oor ’n tydperk van sowat twee weke aangewend word met ’n mondskerm wat vir 15 minute op ’n keer oor die tande geplaas word. Die duur van die behandeling wissel na gelang van die produk.

Dit kan by die meeste apteke en gesondheidswinkels gekoop word, maar jou tandarts kan ook ’n spesiale mondskerm maak en jou ’n jel gee sodat jy dit tuis kan gaan doen – dit sal heel moontlik meer doeltreffend wees as die winkelproduk.

“Die behandeling wissel van 30 minute twee maal per dag vir nege dae tot om met die mondskerm te gaan slaap tot twee weke lank,” sê Emma. “Die sterkte van die jel kan ook wissel, maar jou tandarts of mondhigiënis sal weet wat die beste vir jou kan werk.”

Die voordele

  • As die behandeling deur ’n tandarts gedoen word, is dit ook geskik vir kinders, want ’n matiger jel kan gebruik word.

Die nadele

  • Die mondskerm en jel kan ongerieflik en morsig wees.
  • Jy sien nie dadelik resultate nie.
  • Sommige mense kan tandvleis-irritasie ervaar omdat die mondskerm nie reg pas nie of omdat die jel op die tandvleis kom.
  • Dit kan nie krone, venere of vulsels wit maak nie.
  • Die behandeling moet elke ses tot agtmaande herhaal word.

Die toetsgroep se bevinding

Michael de Lucci sê: Jare van rooivleis eet en rooiwyn drink het my tande verkleur en ek kon hulle nie skoon borsel nie. Met die tuisjel en mondskerm het ek dadelik resultate gesien. My tande het skoner en gesonder gelyk en geleidelik witter geword.

Ek sal dit egter nie aanbeveel vir mense met sensitiewe tande of tandvleis nie. Dis ook taamlik morsig en ongemaklik. Ek dink nie ek sal dit weer self doen nie. Ek sal eerder tandarts toe gaan om my eie mondskerm laat maak en ’n sterker jel te kry wat vinniger werk.

Opsie 4: Verwittingstandepasta

Verwittingstandepasta verwyder oppervlakvlekke deur  ’n ligte skuur-aksie. Daar is baie klein, growwe partikels in die tandepasta.

Die soort tandepasta bevat gewoonlik nie die bleikmiddel waterstofperoksied nie, maar die poleermiddels help wel om vlekke op die tandoppervlak te verwyder.

Die voordele

  • Dit is die goedkoopste manier om jou tande wit te kry.
  • Dis ideaal vir mense wie se tande wit genoeg is en wat die kleur só wil hou.
  • Dit veroorsaak geen sensitiwiteit of irritasie nie, tensy jy uiters sensitiewe tande het.

Die nadele

  • Dit duur lank voor jy enige resultate sien.
  • Die verskil is nie baie opmerklik nie ongeag hoe lank jy die produk gebruik.
  • Die resultate verdwyn as die produk nie meer gebruik word nie.

Die toetsgroep se bevinding

Sibahle Mnwana sê: Ek het die verwittingstandepasta sowat vyf weke gebruik. My tande was nie in ’n slegte toestand nie en taamlik wit, maar ek wou hulle graag witter hê. Ek het ’n nuwe tandeborsel gekoop om die produk ’n goeie kans te gee en ná twee of drie weke kon ek net ’n effense verbetering sien.

Opsie 5: Verwittingsmondspoel

Sommige van dié mondspoelmiddels bevat waterstofperoksied wat kan help met oppervlakvlekke. Maar oor die algemeen is dit die antibakteriese werking van die mondspoel wat help om aanpaksels op die tande te verwyder en dus verdere vlekke help voorkom.

“Dié mondspoelrniddels verander dus nie die kleur van die tande nie,” sê Emma. ’n Mondspoel moet verkieslik daagliks gebruik word.

Die voordele

Dit werk goed as jy reeds jou tande laat wit maak het of ’n verwittingstandepasta gebruik.

Dit veroorsaak nie pyn of ongemak nie en kan sonder moeite as deel van jou daaglikse rnondversorging gebruik word.

Die nadele

Dit is die mins doeltreffende verwitter.

Dit sal goedkoper uitwerk en langer hou as jy jou tande professioneel laat wit maak eerder as om aanhoudend mondspoelmiddel te koop.

Die toetsgroep se bevinding

Revona Kees sê: Ek rook en drink rooiwyn en baie tee. Maar omdat ek gereeld  tandarts toe gaan, is my tande nie in ’n swak toestand nie – hulle is net nie so wit as wat hulle kan wees nie. Ek het die mondspoel vir ’n maand gebruik en geen opvallende verbetering gesien nie. Ek het verwag my tande sou baie witter wees en dink nie ek sal voortgaan om dit te gebruik nie.

Redes vir verkleuring

Baie faktore kan tandverkleuring veroorsaak. Koffie, rooiwyn, koladrankies en rook kan tande laat verdonker; ook bloubessies en sojasous.

Swak mondhigiëne en ongereelde vlos en borsel van die tande kan bakterieë laat toeneem, wat tot meer vlekke lei. Te kwaai borsel kan ook die tande laat verkleur omdat dit die emalje verdun en die donkerkleurige dentien blootlê.

Waarom witter?

Die feit is dat wit tande werklik ’n verskil maak. In 'n onlangse Britse studie deur die marknavorsingsgroep Harris Interactive het 94 persent van die respondente gesê hulle sal iemand se glimlag raaksien wanneer hulle mekaar ontmoet. Hier is nog statistieke uit die navorsing om jou aan te spoor om jou tande wit te hou:

  • 71%  van alle mense glo dis makliker om vriende te maak as jy ’n aantreklike glimlag het.
  • 77%  van mening dat verkleurde tande 'n volwassene selfbewus laat voel.
  • 85%  beskou ’n mens se glimlag as baie belangrik by 'n eerste ontmoeting.
  • Meer as 30% dink slegte tande oorskadu die res van 'n mens se voorkoms.

Minder gewilde keuses

Strokies

Tandverwittende strokies word nie meer deur baie apteke en gesondheidswinkels verkoop nie.

Dié dun plastiekstrokies wat aan die een kant 'n lagie waterstofperoksied het, is nie baie doeltreffend nie, want dis moeilik om te gebruik en bedek nie die hele tand nie.

“Dis ’n nievoorskrifproduk met min uitwerking en hou nie lank nie,” sê die mondhigiénis Emma King.

”Die strokies is ook geneig om beter te werk op die voortande en nie op gapings tussen die tande nie.”

Laserbehandeling

”Dit word ál minder gebruik omdat sukses nie gewaarborg is nie,” sê Marcel Hartman van Britesmile.

“Laser genereer hoë hitte wat skadelik kan wees vir die kern van die tand waar die sagte weefsel en selle is. As die tande aan oormatige hitte blootgestel word, kan die kern doodgaan.”

Is jy platsak?

Volgens die Amerikaanse akademie van kosmetiese tandheelkunde kan koeksoda help om vlekke te verwyder. Borsel dit twee maal per maand aan jou tande (nes jy met tandepasta sou doen) en spoel jou mond goed uit.

"Dit kan oppervlakvlekke verwyder nes verwittingstandepastas,” sê die mondhigiënis Emma King. "Ek sal nie aanbeveel dat mense dit meer as een keer per dag doen nie, veral as jy sensitiewe tande het, want die skuuraksie kan jou irriteer.”

Het jy geweet? 

Kos wat tande witter maak, is onder meer aarbeie, suurlemoene, appels, pere, wortels, seldery en komkommer. Die vesels hierin help vlekke op die oppervlak verwyder.

 Planne vir witter tande

Spoel jou mond uit met water nadat jy koffie, tee of ander drankies gedrink het wat verkleuring kan veroorsaak.

Gebruik ’n strooitjie wanneer jy vrugtesap of koeldrank drink – dit verminder die blootstelling aan die sondaars.

Besoek jou tandarts elke ses maande.

 

Nog inligting: www.hbds.co.za  www.health24.com  www.britesmile.co.za  www.bodycontours.com

Kontak Emma King by 082-823-7435 of by thetoothfairy@vodamail.co.za

Kim van Reizig

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE