Share

Water toe!

Tel 'n roeispaan op en ontdek hoe jou gesondheid by roei kan baat. Hier is vyf top roeibestemmings wat goed is vir liggaam en siel.
Deur JACQUES MARAIS vir Huisgenoot-POLS

Dit lê en wag op jou – 'n asemrowende kuslyn van so amper 3 000km wat strek van Alexanderbaai teenaan Namibië tot by Kosibaai net duskant Mosambiek. Daar's ook die bruisende Vaal-, Oranje-, Tugela-, Umkomaas- en Breederivier wat oor vlaktes en deur bergreekse kronkel. En die talle riviermondings, mere, strandmere en mensgemaakte damme dwarsoor ons pragtige land.

Water spoel die spanning van die daaglikse lewe weg. Maar sodra jy die gewoel en gewerskaf agterlaat, sal jy gou agterkom dis nie net jou siel wat lafenis vind nie.

Roei oefen byna jou hele liggaam en is goed vir kardiovaskulêre fiksheid en spiertonus. Die oomblik dat jy in jou kajak klim en begin roei, voel jy al hoe jou maag en rugspiere aan die werk spring.

Binne 'n paar weke sal dié spiere klaar sterker wees. Dis uitstekende oefening vir pap arms en sal ook jou skouers mooi vorm – en jou bo en onderrugspiere en selfs jou beenspiere fermer maak.

Volgens Pea Blaauw, 'n biokinetikus van Kaapstad, sal 'n uur se roei drie keer per week jou binne 'n maand heelwat fikser en beter laat voel en lyk.

As jy 'n groentjie is, moet jy liewer met 'n begeleide avontuur begin. Daar is talle moontlikhede en jy kan enigiets kies van 'n seekajakuitstappie of 'n plesierrit in 'n oop kano op 'n rustige meer tot 'n riviervlotvaart van 'n paar dae.

Ons het 'n hele paar ekskursies vir jou uitgesoek – van doodrustig tot wild en woes.

1. Langebaan-riviermonding en Kaap Columbine, Weskus Avontuur
Vaardigheidsvlak: Rustig en gemaklik, ideaal vir ontspanningsroeiers.

Hoe fiks moet jy wees? As jy twintig minute lank teen 'n gemaklike pas op 'n spieëlgladde dam kan roei, is dié een nommerpas vir jou.

Waar? Die wilde en windverwaaide Weskus is bekend as een van die land se top-kajakbestemmings. Om daar uit te kom, volg die R27 van Kaapstad en kies 'n dorpie.

Hoekom daar roei? Ontmoetings met nuuskierige robbe, suidelike noorkapperwalvisse en meer as 250 soorte strandvoëls en trekvoëls is net 'n paar van die hoogtepunte.

Roete-opsies: West Coast Guided Trails bied halfdag, heeldag of naweekkajaksafari's langs die kus vanaf Paternoster, in die Kaap Columbinenatuurreservaat en op die Langebaanstrandmeer aan.

'n Daguitstappie in hierdie idilliese riviermondingstelsel gee jou die geleentheid om die verafgeleë baaie en strande in die Weskus Nasionale Park se unieke biostelsel te verken. Maak dit regtig onvergeetlik en bespreek een van die huisbote wat in Kraalbaai naby die bopunt van die riviermonding geanker lê.

Toegang: Die normale regulasies wat op nasionale parke van toepassing is geld vir die Langebaanstrandmeer, maar groot dele van die res van die Weskus is oop vir die publiek.

Kontak: Half en voldagekskursies saam met West Coast Kayak Trails: www.ratrace.co.za, 0829262267.

2. Valsbaai, Kaapse Skiereiland
Vaardigheidsvlak: Dit hang af van weersomstandighede, roetekeuse en tyd op die see. Beginners moet ter wille van hul eie veiligheid liewer 'n kalm dag met 'n ligte kuswind kies en naby die kus bly. Of nog beter, bespreek 'n begeleide ekskursie saam met die ouens van Paddlers.

Hoe fiks moet jy wees? Enigeen wat relatief fiks is, sal die uur of twee tot by Boulders kan hanteer, maar voltooi liewer eers 'n Ystermankompetisie voor jy die Kaappuntbranderski- uitdaging aandurf.

Waar? Die skouspelagtige Kaap van Storms strek suidwaarts van Kaapstad tot by die onstuimige waters van Kaappunt.

Hoekom daar roei? Jy deurklief die see in die skadu van Tafelberg, vergesel van Afrikapikkewyne en suidelike noorkapperwalvisse.

Roete-opsies: Seekajak roeiers het 'n groot keuse van roetes wat in Simonstad, Vishoek en Muizenberg begin. 'n Gewilde heenenweerroete vir beginners spring weg by Long Beach in Simonstad en volg dan die kus suidwaarts tot by die pikkewynkolonie by Bouldersstrand.

As jy kans sien vir heelwat meer inspanning, is daar natuurlik die jaarlikse Kaappuntbranderskiuitdaging wat by Soetwater naby Kommetjie afskop – superfikse deelnemers volg 'n uitmergelende roete van 56km deur die water om Kaappunt tot by Vishoek.

Toegang: Daar is 'n aantal veilige sleephellings langs die kus van Valsbaai. Long Beach naby Simonstad, asook die hawe, bied maklike (en gratis) toegang vir beginnerroeiers.

Kontak: Boothuur en begeleide ekskursies vanaf Simonstad: www.paddlers.co.za, 0217862626.

3. Oranjerivier, Noord-Kaap
Vaardigheidsvlak: Beginner- tot middelvlak-roeiers behoort die Oranje die meeste te geniet.

Hoe fiks moet jy wees? Dit sal help as jy tevore al geroei het, al was dit net een keer per week in die gimnasium.

Waar? Hierdie grootse rivier (39ste op die lys van die wêreld se langstes) vorm die kronkelende, nat grens tussen Suid-Afrika en Namibië. Die beginpunt by Noordoewer is omtrent 125km noord van Springbok en net minder as 700km van Kaapstad.

Hoekom daar roei? Dis iets vir die hele gesin. Die Oranje bied 'n hele aantal klassieke vlot- of kano-ekskursies van tot 'n week, asook stroomversnellings tot by graad 3.

Roete-opsies: Baie van die basiese vier-dag-avonture begin naby Noordoewer en 'n mens dryf rustig deur die dorre bergwoestynlandskap van die Richtersveld Nasionale Park.

Vir dié wat opwinding in oorvloed soek, is daar die afgeleë stuk tussen Pella en Goodhouse met sy bruisende stroomversnellings en byna onontdekte netwerk van rivierstrome.

Dit is 'n meer gevorderde ekspedisie en jy moet jou regmaak om jou boot om 'n paar wilde watervalle te dra.

Toegang: Hoewel jy op jou eie deur dele van die rivier mag roei, vloei dit gedeeltelik deur private eiendom. Net operateurs het toestemming om dié dele te betree.

Kontak: Dryf rustig stroomaf saam met die kenners, Felix Unite: www. felixunite.com, 021-404-1830.

4. Kosibaai, Kwazulu-Natal
Vaardigheidsvlak: Dis maklik om op die mere te roei, maar om die riwwe in die see aan te durf, verg taamlike behendigheid. En moenie van die seekoeie en krokodille in die water vergeet nie.

Hoe fiks moet jy wees? Elke dag is anders en dit hang van die groep af, maar jy hoef nie naastenby superfiks te wees nie.

Waar? Draai van die N2 af in die rigting van Jozini en ry aan op die pad na die Ponta do Ouro-grenspos. Wees op die uitkyk vir die KZN Wildlife/Ezemveloteken net anderkant Emangusi en draai daar links af.

Hoekom daar roei? Seldsame sandwoude, tropiese riviermondings en ongerepte strande maak Kosibaai 'n onvergeetlike bestemming langs die Olifantkus.

Wanneer jy nie roei nie, is daar asemrowende strandwandelinge, uitstekende duik en snorkelgeleenthede en ongeëwenaarde seekunsvliegvisvang.

Roete-opsies: Die Kosimeerstelsel bestaan uit vier mere met 'n reeks kanale wat met mekaar verbind word en dan uiteindelik deur ’n sanderige monding in die Indiese Oseaan uitloop.

Seekoeie en krokodille hou van dié mere en dis beter om nie hier te roei nie, tensy jy die gebied baie goed ken. Heelparty maatskappye bied avontuuruitstappies van 'n paar dae in die gebied aan.

Daar is ook heerlike daguitstappies vanuit 'n basiskamp om die amaTongavisfuike te sien, betowerende voëls te besigtig of tussen die vlak seeriwwe te snorkelduik en vis te vang.

Toegang: Kajakroei deur dagbesoekers en toeriste word op die mere toegelaat, maar 'n mens moet begrip hê vir die feit dat die amaTongastam 'n bestaan maak deur in groot dele van die meer vis te vang.

Kontak: Sluit aan by Hardy Ventures se Wilderness Canoeing Trail: www. hardyventures.co.za.

5. La Digue, Seychelle-eilande
Vaardigheidsvlak: Getye en wispelturige weer kan die omstandighede hier binne 'n oogwink verander. Onervare roeiers moet dus liewer in die beskutte baaie bly.

Hoe fiks moet jy wees? Dit is meer 'n geval van vaardigheid as fiksheid; op 'n rustige dag kan 'n mens gemaklik roei.

Waar? Vlieg na Mahé, die hoofeiland in die Seychelle-groep, en neem dan 'n veerboot of vliegtuig na La Digue.

Hoekom daar roei? Omdat dit die toonbeeld van 'n tropiese paradys is en jy soos die ster van 'n eksotiese advertensie sal voel.

Roete-opsies: Die meeste van die eiland se oordhotelle het stabiele kajakke met opgeboude sitplekke vir watersport. La Digue, die derde grootste van die hoofeilande, het een van die mooiste kuslyne denkbaar.

Op 'n roeitog om dié rustige eiland word 'n mens verruk deur gegroefde granietrotsbanke, geil palmbome en beskutte, spierwit sandstrande.

Toegang: Vra jou hotel of verblyfplek voor jy die tog aanpak.

Kontak: Klop aan by die amptelike Seychelle-webtuiste: www.seychelles.travel.

Roei in Gauteng
Moenie jou kano in die garage laat muf net omdat jy in Gauteng woon en ver van die see of 'n bruisende rivier af is nie. Damme is ideale roeiplekke vir beginners en daar's verskeie kleiner riviere wat groot pret vir gesinne kan oplewer.

Oefen op 'n dam: Die Emmarentiadam in Olifantsweg in Emmarentia, Johannesburg, en die Roodeplaatdam 5km buite Pretoria op die KwaMahlanga-pad is perfek vir kanovaart. Die kanoklubs by dié damme lei beginners op.

Toegang: Die damme is oop vir almal en geen permitte is nodig om daar te roei nie.

Riviere wat kook: Die Vaalrivier is ideaal vir ervare kanovaarders én gesinsuitstappies. Otter's Haunt is in Parys, 90 minute van Johannesburg. Hier word jy geneem op verskeie roetes, waarvan die Malachite die gewildste is.

Vir die avontuurlustiges is die Krokodilrivier by die mond van die Hartebeespoortdam (naby Johannesburg en Pretoria) die beste keuse; moet net liefs nie dié dam se water sluk nie.

Kontak: Besoek die Gauteng Kano-unie se webwerf by www.gcu.co.za vir meer inligting, of bel Graeme Addison van Otter’s Haunt by 056-818-1814 as jy op die Vaalrivier wil gaan roei.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Read more: Fitness centre
Read more: Adventure Sports

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE