Share

Verskillende dansstyle

Salsa

Die styl Vir dié dans kan jy maar jou rooiste lipstiffie aansit. Dis sexy en sensueel. Dis energiek, maar ook ontspanne en informeel. Die klem val beslis eerder op pret as tegniek. "Wanneer jy salsa, dans jy om te dans en nie om 'n vertoning te gee nie. Die toeskouers maak glad nie saak nie," sê die salsa-afrigter Stephanie Speets van Durban Salsa in Durban. Dié vurige styl met sy sensuele ondertoon en uitlokkende bewegings is die eerste keer in Kuba gedans. Dis 'n smeulende dans, en terwyl jou lyf nog sukkel om aan die ritme gewoond te raak, klop jou hart al vuurwarm saam.

Hoe moeilik? Die danspassies is maklik om te leer. Dis 'n ontspanne dansstyl wat nie soseer op perfekte tegniek staatmaak nie.

Goeie punte Omdat baie van ons die meeste van die tyd gebukkend voor 'n rekenaarskerm sit, verswak ons kernspiere – die spiere in die buik en lae rug – mettertyd. Salsa is goeie oefening vir dié spiere, wat jou bolyf regop en in balans hou. Dit verbeter jou postuur en verminder die moontlikheid van probleme soos rugpyn en spierpyne. As bonus het jy ook nie 'n gereelde dansmaat nodig om te salsa nie omdat die meeste klasse in groepformaat aangebied word.

Bekendes wat salsa Jennifer Lopez en haar man, Marc Anthony.

 

Baldans

Die styl Dink grasie, maar eers nadat jy die voetwerk onder die knie gekry het, sê Andrew de Freitas van die Dance for Life-akademie in Johannesburg. Die Weense wals, tango, foxtrot, cha-cha, samba, jive, paso doble en quickstep is almal baldanse. Dit het in die vroeë 1900's ontwikkel as ontspanning vir die adelstand terwyl volksdanse vir die werkersklas bedoel was.

Hoe moeilik? Dis aanvanklik uitdagend en verg dinkwerk omdat daar so baie tegniese detail is. Moenie verwag om sommer gou soos 'n swaan oor die dansbaan te gly nie, maar met genoeg oefening sal jy binne ses weke met selfvertroue kan dans. Maak net seker jou dansmaat is ewe geesdriftig; julle moet ten nouste saamwerk.

Goeie punte Baldanse verbeter koördinasie en ontwikkel ritme omdat jy die danspassies teen 'n vinnige pas moet uitvoer. Selfs as jy stadig baldans, sal jy tot 1 380kJ per uur verbrand. Die dansstyl is veral baie goeie oefening vir jou rugspiere, sê Andrew, wat as kind met 'n ligte grad van skoliose gediagnoseer is en nou op 43 geen komplikasies daarvan het nie. Dis ook goed vir jou selfbeeld. "Ek sien hoe veral die mans 'n ongelooflike gevoel van prestasie ervaar wanneer hulle die tegniek sowel as die spoed onder die knie kry. Net ware mans kan hierdie styl dans, sê ek altyd," spot dié danskampioen.

Bekendes wat baldans HHP, Renée Zellweger, Toni Braxton, Richard Gere, Jane Seymour, Catherine Zeta-Jones, Denise Richards en Belinda Carlisle.

 

Hip-hop

Die styl Hip-hop-musiek het in die sewentigerjare in die Bronx in New York ontstaan, maar jy hoef nie 'n goue ketting te dra en na rap-musiek te luister om te kan hip-hop nie. Dié straatdansstyl hoef ook nie eens op die maat van hip-hop-musiek gedoen te word nie. Dansateljees bied hip-hop-klasse van verskillende straatdansstyle aan, van briekdans tot meer gechoreografeerde danse.

Hoe moeilik? Dis eintlik verbasend eenvoudig. "Die basiese bewegings is maklik en die styl kom later vanself," sê Elise Krog, ’n hiphop- en baldansafrigter van Johannesburg. "Die lekkerste is die ruimte wat dit laat vir improvisasie en eie interpretasie."

Goeie punte Jy oefen al die spiere in jou lyf, veral jou beenspiere. Die oefening is baie intensief omdat die tempo van die dans so vinnig is. 'n Uur se hip-hop is omtrent gelyk aan 'n uur se intense kardiovaskulêre oefening soos ’n spinklas, sê Ilse Louw, 'n dansafrigter by die Constantiaberg- dansakademie in Kaapstad. En as jy van hip-hop-musiek hou, word jy boonop omtrent meegevoer. Jy ontspan op maat van die musiek terwyl die fisieke oefening die oordragstof endorfien in die brein vrystel, wat stres verlig en jou laat goed voel.

Bekendes wat hip-hop Usher, Jessica Alba, Missy Elliot, Justin Timberlake en Julia Stiles.

 

Paaldans

Die styl Hoewel paaldans in ontkleeklubs ontstaan het, het die stigma verdwyn namate dit 'n gewilde vorm van oefening geword het, sê die paaldansafrigter Natasha Williams van BodyMind Studios in Johannesburg. "Vroue soek meer opwindende maniere om te oefen as in die gim." Paaldans gaan nie net oor sexy dans nie, maar om gimnastiek, soepelheid en grasie te kombineer. Die bewegings wat jy kan uitvoer, is eindeloos.

Hoe moeilik? Paaldanse is uitdagend, maar ná een uur lange oefensessie behoort jy reeds 'n paar bewegings onder die knie te hê. Natasha sê dit kos drie tot ses maande vir 'n beginner om gemaklik te dans, en 'n jaar om gevorderde bewegings te kan uitvoer.

Goeie punte As jy drie keer per week 'n uur lank oefen, sal jy ná 'n maand soepeler en maerder by die klas uitstap. Paaldanse oefen al die areas waar vet lief is om eerste aan te pak, soos jou maag, arms, heupe, dye en boudspiere. "En omdat dit jou sensueel en grasieus laat voel, help dit jou selfvertroue ontwikkel en los jou natuurlik met 'n paar wenke vir die slaapkamer," sê Natasha.

Bekendes wat paaldans Kate Moss, Britney Spears, Kate Hudson en Lindsay Lohan. Oprah Winfrey het gehelp om paaldans gewild te maak toe sy in 2003 'n episode van haar program daaraan gewy het.

 

Buikdans

Die styl Dié dansvorm kom oorspronklik uit Egipte, is deur verskillende Oosterse kulture beïnvloed en is een van die oudste sosiale dansvorms in die wêreld. Dansers swaai hul bolyf en heupe in sensuele sirkels terwyl vloeiende armbewegings die dans beklemtoon. "Dit laat baie ruimte vir kreatiewe vryheid," sê die buikdansafrigter Marissa Cuenoud van Kaapstad. "Wat dit so lekker maak, is dat tradisionele style gekombineer word met hedendaagse kennis van anatomie, beweging en spierkondisionering. Die dans word steeds met die tradisioneel versierde bratoppie en uitswaairomp verbind, hoewel baie mans ook buikdans."

Hoe moeilik? 'n Beginner sal minstens een keer per week 'n uur lank moet oefen. "Jy hoef nie 'n slap middel te hê om te kan buikdans nie. Met oefening sal dit vanself kom," sê Marissa.

Goeie punte Dis veral uitstekende oefening vir jou bolyf, omdat jou bors en buikarea intensief geoefen word. Dit verbeter jou postuur en verminder of verlig rugpyn terwyl dit die spiere soepel hou. Die beweging van die bolyf kan ook jou spysverteringsproses aanhelp en sorg dat jy beter balans hou.

Bekendes wat buikdans Shakira, Hilary Duff en Beyoncé.

 

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE