Is jy een van daardie drawwers wat gereed is om die betonoerwoud vir die buitelug te verruil? Vat die pad en verken die veld met roetedraf.
Teks en foto's deur JACQUES MARAIS vir Huisgenoot-POLS
Die wind in jou hare. Die gevoel van vryheid. Nuwe horisonne wat wink. Dis wat die huppel in draf sit én dis net nie dieselfde as jy op die trapband in die gim draf of die stad se sypaadjies plattrap nie.
Met roetedraf (trail running) sal jy die pad vat teen heuwels en berge uit en deur valleie en woude, oor woestyne en velde. In die buitelug kom jy dalk 'n klipspringer teë of dalk 'n hele dassiegesin. Die voortdurend veranderende landskap bied ook altyd iets nuuts.
Dié "voetslaan-4x4" is allesbehalwe 'n rustige wandeling. Die afwisseling van terrein en natuurlike hindernisse kan jou ritme omvergooi, wat weer sal mors met jou asemhaling. En as jy sukkel om jou vastrap en balans te kry, kan 'n kort roetedraffie jou harde bene laat kou. Dit hou oneindige voordele vir jou liggaamlike en geestesgesondheid in en dis hoekom ál meer drawwers besluit om die rowwer roetes aan te durf.
Volgens die Instituut vir Sportwetenskap van Suid- Afrika sal roetedraf jou spiertonus en koördinasie op verskeie maniere verbeter. Ongelyke oppervlakke dwing jou om op jou balans te konsentreer, daarom is dit belangrik om jou spiere op te warm voor jy in die pad val.
Die voordeel is dat jou maag- en rugspiere (wat jou help balans hou) harder werk en dus jou kernstabiliteit aansienlik verbeter. Dit sal help om sekere liggaamsdele in die gim te versterk, maar begin stadig met jou eerste veldlopies sodat jy kans het om aan te pas.
Die meeste drawwers het 'n eie styl en tegniek, maar daar is algemene riglyne wat beginners sal help om die uitdagings van roetedraf te kan hanteer. Gewoonlik sal die oorgang van teerpad na stofpad jou vat na 'n enkelpaadjie in pragtige natuurskoon.
Probeer om jou boendoetog te begin op taamlik eweredige terrein met 'n stabiele oppervlak. Takel die meer tegniese roetes eers wanneer jy die basiese roetedraftegnieke baasgeraak het.
Wat toerusting betref, is jou voete die belangrikste. Belê in stewige skoene met 'n uitstekende tegniese reputasie. Sorg dat hulle geskik is vir die vorm en grootte van jou voet sowel as vir jou drafstyl. Vat dan die wandelpad en verken die wêreld te voet.
Gariepdam, Vrystaat
Hoe moeilik? Maklik en betreklik plat,
maar jy kan die pas aandraai deur die
afstand te verleng.
Hoe fiks moet jy wees? As jy 10km in
minder as 'n uur kan aflê, sal jy hierdie
pragtige roete geniet.
Waar? Langs die N1 van Colesberg na
Bloemfontein. Die reservaat se naam is
onlangs na die Oviston-natuurreservaat
verander.
Waarom dit aanpak? Vir kilometers se
grondpad wat jou al langs Suid-Afrika
se grootste binnelandse meer vat.
Afstand: Laat waai op minstens
100km se grond- en jeeppaaie
wat kronkel langs die walle van
die modderige Gariepdam. 'n
Golwende in-en-uit-roete van
10km vanaf die Forever Resorts
Gariep-oord is perfek vir beginners.
Roetebeskrywing: Ysterklipkoppies,
doringveld en kronkelende grondpaaie. Kyk uit vir koedoes, springbokke,
blesbokke en ander boksoorte terwyl
jy voete stamp in die stiltes van die
suidelike Vrystaat.
Kaarte en bakens: Kaarte is by die
reservaat se ingang beskikbaar. Die
roete is nie gemerk nie, maar volg
eenvoudig die rand van die dam. Jy
kan nie verdwaal nie.
Toegang: Permitte en kaarte is by
die reservaatingang, naby Aventura,
te koop.
Kontak Oos-Kaapse Parkeraad,
tel. 043-705-4400, of besoek
www.ecparks.co.za.
Baakensvalei-roete, Oos-Kaap
Hoe moeilik? Daar is verskillende
roete-opsies, wat beteken dat jy die
relatiewe plat sentrale pad kan kies, of
die tegniese pap dik kan aanmaak
deur die steil hange aan te pak.
Hoe fiks moet jy wees? Naweekdrawwers
moet hou by die maklike
valleiroete. Jy is gereed vir die volledige
roete as jy 'n halfmarathon in
negentig minute kan aflê.
Waar? So in die middel van Port
Elizabeth, die Vriendelike Stad.
Waarom dit aanpak? Hierdie groen
stuk terrein bied Port Elizabeth se
stadsbewoners maklike toegang tot
die natuur slegs enkele minute vanaf
die middestad.
Afstand: Enkelroetes strek in 'n ooswestelike
rigting van bo die hawe
tot ver anderkant die Baakensrivierbrug.
Altesaam is dit 'n afstand van
23km.
Roetebeskrywing: Dit is ook bekend
as die Tarentaalroete. Die rivieroorgange,
klipwalle, bruggies, grondpaaie
en enkelroete-seksies sal jou op 'n
drafstap deur 'n asemrowende groen
gebied neem. Van die roetes sal jy met
bergfietsryers moet deel, veral op die
afdraandes en strawwe klimpaadjies
waar hulle nie sulke goeie terreinbeheer
het nie.
Kaarte en bakens: Die roete word
by die meeste padkruisings aangedui
en daar is 'n groot kaart by die suidelike
ingang. Draf in 'n groep, want
drawwers is al hier aangeval.
Toegang: Die boonste sowel as die
onderste seksies van die Baakensvallei
is oop vir die publiek.
Kontak: Vir meer inligting oor die roete,
besoek www.pe.org.za/hikes.html.
Silwermyn, Wes-Kaap
Hoe moeilik? Maak jou gereed vir 'n kombinasie
van grondpad en staproete, met 'n
houtpromenade en stukke teerpad vir afwisseling.
Daar is klipperige afdraandes, los gruis
en kronkelende fynbosroetes. Vir 'n hewige
sweetsessie, pak die volledige roete aan.
Hoe fiks moet jy wees? As jy omtrent elke
dag van die week dertig minute lank draf sal
jy die kort roete maklik voltooi. Vir die langer
roete moet jy 'n suksesvolle halfmarathondrawwer
wees.
Waar? Die fynbospieke wat bo die suidoostelike
hange van Tafelberg uitsteek.
Waarom dit aanpak? Vir die pragtige
uitsigte oor die hele suidelike Skiereiland,
van Muizenberg tot anderkant Kaappunt
en Houtbaai.
Afstand: Die verskillende roete-opsies sal jou
tot drie uur lank besig hou en jy kan afstande
van 5km tot 20km aflê.
Roetebeskrywing: Kies die dapper-en-stapper-
opsie met die tegniese roete wat
begin by die ingang van die Silwermynreservaat
(noordelike seksie). Hou links van
die Silwermyn-rivier, volg die rivierroete tot
by die dam en draai daarna regs. (Die terug-
rivierroete is 'n goeie wegspringplek
vir beginners.) Enkelroetes vurk uit vanaf
die dubbelroetes en kronkel deur die
Olifantsoog-grot voor dit 'n skerp draai regs
en teen Silwermyn-piek op maak. Daarna is
dit heelpad tussen fynbos deur en van klip
tot klip na die Noordhoek-kant. Dan kan jy
terugdraf na die beginpunt met die rivierroete-
promenade langs of met die roete bo
die Ou Wapad.
Kaarte en bakens: Kaarte is by die Silwermyn-
reservaathek beskikbaar. Jy kan ook die
kaart elektronies by www.mtbroutes.co.za
aflaai. Verskillende punte word langs die
roete aangewys.
Toegang: Koop 'n permit by die Silwermyningang
(R15) of belê in 'n Wild Card wat jou 'n
jaar se gratis toegang bied.
Kontak: Tafelberg-Nasionale Parkeraad, tel.
021-712-7471, of besoek www.tmnp.co.za.
Koop 'n Wild Card aanlyn by www.wildcard.
co.za.
Groenkloof, Gauteng
Hoe moeilik? 'n Taamlik tegniese
roete wat rotsagtige open
afdraandes bied.
Hoe fiks moet jy wees? As jy 10km in 45 minute kan aflê, sal jy
genoeg asem hê om die natuurskoon te bewonder.
Waar? Naby Die Fonteine, reg langs Pretoria se middestad.
Waarom dit aanpak? Ooit gedink dis moontlik om jou in 'n kameelperd
en ander wild in die skadu van die Voortrekker-monument vas
te loop?
Afstand: Daar's 'n uitdagende 10,5km-roete, sowel as korter roetes van
3,5km en 4km elk vir mense wat nie langasems is nie.
Roetebeskrywing: Die roete is baie klipperig. Maak jou gereed
vir 'n steil klim, riviere wat oorgesteek moet word en stukke grond-
pad wat deur tipiese bosveld kronkel.
Kaarte en bakens: Kaarte is beskikbaar by die ingang van die
Groenkloof-natuurreservaat. Die roete is aangedui in die hoofareas.
Toegang: Permitte is te kry by die ingangshek van die Groenkloofreservaat. 'n Kaart
is gewoonlik ingesluit.
Kontak: Groenkloof-natuurreservaat, tel. 012-440-8316, of besoek
die webtuiste by www.tshwane.gov.za.
Loerie-roete, Mpumalanga
Hoe moeilik? Dis 'n uitdagende roete met
sy skerp draaie en steil opdraandes.
Hoe fiks moet jy wees? Die kort roete is
ideaal as jy een of twee keer per week 10km
draf. Indien jy dié soort afstand baie maklik
kafdraf, sal die langer roete net die uitdaging
bied wat jy soek.
Waar? Begin by die Ceylon-plantasie op pad
na Merry Pebbles; volg die Lydenburg-pad
vanaf Sabie se hoofstraat.
Waarom dit aanpak? Vir die natuurskoon
van die Sabierivier-vallei en die pragtige watervalle
al langs die roete.
Afstand: Draf die hele pad (14km) of kies die
kortpad terug, wat die roete tot 10km sal
verkort.
Roetebeskrywing: Dié pragtige roete bied
'n tegniese uitdaging aan roetedrawwers wat
graag Sabie se weelde aan plantasies, watervalle
en inheemse woude wil ervaar. Kies
koers deur die Ceylon-plantasie al met die
Bruidsluier-, Glynis- en Elna-watervalle langs.
Volg dan die roete al langs die rant in die
rigting van Castle Rock en langs die Sabierivier.
Kaarte en bakens: 'n Basiese kaart is
beskikbaar by Merry Pebbles se ontvangs.
Toegang: Jy moet 'n permit koop. Dis
beskikbaar by die Sabie-inligtingskantoor of
by Merry Pebbles.
Kontak: Komatiland-ekotoerisme, tel. 013-
754-2724, of besoek www.komatiecotourism.co.za.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)