Share

Sterk en sexy, speel-speel

Sê tatta vir pap boarms met dié maklike oefeninge.
Deur die HEALTH24-SPAN vir Huisgenoot-POLS

Enigeen kan ferm arms hê. ’n Mens verloor wel mettertyd spiermassa wat veral jou boarms ál vormloser en sakkeriger laat lyk. As jy boonop ’n bietjie gewig aangesit het, pak meer vet om die spier saam en verberg dit die mooi vorm van jou arms.

Die biokinetikus Pea Blaauw het die sewe beste oefeninge gekies om jou arms mooi en sexy te laat lyk met net die regte rondings. Dis maklik.

Oefeninge
Doen elke dag vier van die armoefeninge. Doen twee stelle van vyftien elk per spieroefening sodat jou arm teen die twaalfde herhaling van elke stel moeg begin voel. Wissel die oefeninge af sodat jy elke week minstens twee keer elk van die sewe oefeninge gedoen het.

Een oefensessie sal nie langer as 15 minute in beslag neem nie en as jy dit elke dag doen, sal jy binne dertig dae ’n merkbare verskil aan jou arms se vorm kan sien.

Onthou: Oefening moet altyd met ’n gesonde eetplan saamgaan. Jy kan die mooiste arms op aarde hê, maar hulle gaan altyd vormloos lyk as hulle met ’n lagie vet bedek is.

Bisep-krulle
Hou ’n handgewiggie in elke hand. Draai jou handpalms na buite en hou jou arms reguit langs jou sye. Lig jou regterarm tot teenaan jou regterskouer. Hou vir vyf sekondes. Lig jou linkerarm sodra jy begin om jou regterarm te laat sak, sodat die bewegings aaneen vloei.
Alternatief: Jy kan ook ’n rek gebruik. Trap die middelpunt vas en trek die punte of handvatsel na jou regterskouer en andersom.

Hamer-krulle
Draai jou handpalms na binne soos wanneer jy met ’n hamer sou kap, en hou jou elmboë effens gebuig. Hou die gewig of rek vas presies soos jy ’n hamer sou vashou. Lig jou regterhand na jou regterskouer, maar hou jou elmboë styf teen jou lyf. Laat sak jou regterhand en herhaal met jou linkerarm.

Binnevoorarm-krulle
Kniel of sit bo-oor ’n oefenbankie en laat die buitekant van jou regter-voorarm tot by jou pols op die bankie rus en jou hand by die bank verby steek. Met jou handpalm na bo gedraai, lig die gewig so ver na jou binne-arm as wat jy kan. Beweeg terug na die beginposisie. Herhaal die oefening met jou linkerarm.
Alternatief: Jy kan ook op ’n stoel sit en jou voorarm plat op jou bobeen laat lê sodat jou pols op jou knie rus en jou hand oor jou knie hang.

Trisep-agteruitdrukke
Kniel oor ’n bankie en ondersteun jou lyf met een arm. Hou ’n gewig in jou los hand vas. Hou jou boarm parallel met die vloer, en laat jou onderarm ’n hoek van sowat 45 grade met jou boarm vorm. Maak jou arm byna reguit, maar moenie jou elmboog sluit nie. Beweeg jou arm stadig terug na die beginposisie. Herhaal met die ander arm.

Trisep-afdrukke
Hou die stang van die armoefening-apparaat met albei hande vas. Jou hande moet die stang van bo af vashou en 15 cm of verder uitmekaar wees. Hou jou elmboë teen jou lyf terwyl jy jou boarms afdruk tot hulle plat teen jou sye is. Hou vir een telling en beweeg jou arms terug na die beginposisie.

Buitevoorarm-krulle
Volg dieselfde aanwysings as in oefening 3, maar draai jou handpalm sodat dit na onder wys en lig die gewig deur jou hand so ver as moontlik na jou buitevoorarm op te lig.

Skouer-optelle
Staan regop met jou arms langs jou sye en ’n gewiggie in elke hand. Hou jou elmboë effens gebuig. Lig een gewig stadig na vore tot dit gelyk met jou skouer en parallel met die vloer is. Hou dit vir een telling en laat sak na die beginposisie. Herhaal met die ander arm.

Die regte manier
So maak jy wanner jy met gewigte oefen:

  • Hou jou voete skouerwydte uitmekaar en jou knieë effens gebuig wanneer jy byvoorbeeld bisep-krulle doen en regop moet staan.
  • Trek jou maag saam sodat jou onderlyf stabiel is.
  • Konsentreer daarop om jou rug en nek in ’n reguit lyn te hou.
  • Hou jou bolyf so stil as wat jy kan en probeer om net jou arms te beweeg.
  • Moenie jou lyf toelaat om saam met ’n beweging van die gewiggie te draai nie.
  • Beweeg die gewiggie in een stadige en beheerste beweging. Moet dit nie swaai nie.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Fiksheidsprogramme

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE