Share

Rugby en die tuisvoordeel

Daar was al baie bespiegeling oor reis en die uitwerking wat dit op professionele sportspanne het. Sportwetenskaplike, Dr. Ross Tucker, neem die verskillende teorieë oor die "tuisvoordeel" in oënskou.

Super 15 – 'n uiterste model om die tuisvoordeel te bestudeer

Die Super 15, vir die wat nie so goed ingelig is nie, is 'n toernooi wat tussen professionele spanne van Suid-Afrika, Nieu Zeeland en Australië gespeel word. Dit is amper verby en is tans in die uitspeelfase.

Die enorme afstande wat betrokke is, asook die hoogte bo seespieël vir party Suid-Afrikaanse spanne, maak dit 'n goeie model om die tuisvoordeel te bestudeer. Ek sou selfs sê dat dit in hierdie opsig uniek is omdat dit groot afstande (10 tyd-sones) en groot veranderinge in hoogte bo seespieël (0 tot 1 699m) op 'n weeklikse grondslag behels.

Die kwessie van reis is natuurlik net 'n deel van die tuisvoordeel-debat, maar vir die Sharks was dit baie belangrik – hulle het besluit om Suid-Afrika op 'n Dinsdag, vier dae voor die wedstryd, te verlaat en het, oor 10 tyd-sones, net twee dae voor hierdie uiters belangrike wedstryd, aangekom.

Die vraag was natuurlik of dit moontlik sou wees vir die spelers om te herstel en hulle beste te lewer.

Ek was van mening dat dit nie die geval sou wees nie en ek het dit ook in my artikel gemeld. Hulle het toe inderdaad verloor, 36 - 8, wat op hierdie stadium van die kompetisie 'n kwaai nederlaag is, veral wanneer 'n mens in ag neem dat dit die bestes van die oorblywende spanne in die uitspeelfase was (derde versus sesde in hierdie geval).

Dit sou natuurlik 'n enorme vereenvoudiging wees om te beweer dat die nederlaag net aan reisuitputting te wyte was, aangesien sport veels te kompleks is om tot net een veranderlike te reduseer. Myns insiens het dit egter 'n rol gespeel, veral aan die einde van 'n lang seisoen en na 'n paar fisies baie uitdagende wedstryde gedurende die voorafgaande weke.

Wat nie in die artikel gemeld is nie is my opinie dat die wedstryd vir die eerste 30 tot 40 minute baie gelyk sou wees en dat dinge dan sou skeefloop.

Dit was waarskynlik nodig dat die Sharks 20 minute voor die eindfluitjie met 10 punte moes voorloop, omdat uitputting later in die wedstryd hulle spel meer sou beïnvloed – sterk motivering sou dit vir 'n ruk lank kon verbloem. Hierdie opsomming pas perfek in by wat uiteindelik gebeur het – tot die einde van die eerste helfte was die spel baie gelyk, en die groot nederlaag het eers in die tweede helfte plaasgevind.

Die uitdaging van reis in Super Rugby aan die einde van die toernooi

Hoe belangrik is die tuisvoordeel in die Super Rugby-kompetisie? Wel, hou in gedagte dat daar sedert 2000 nie 'n enkele span was wat 'n uitspeelwedstryd buite hulle eie land gewen het nie.

Dit is altesaam 11 jaar en 32 wedstryde (uitspeelwedstryde en semi-finales) sonder 'n enkele oorwinning deur 'n internasionale span. Dit is wél waar dat dit gedeeltelik toegeskryf kan word aan die feit dat die tuisspan by die huis bly, juis omdat hulle gedurende die loop van die seisoen beter as die besoekerspan gespeel het, maar zero uit 32 in 'n kompeterende toernooi is ’n veelseggende statistiek oor hoe moeilik dit is om gedurende die laaste paar weke van ’n vier-maande toernooi ’n oorsese reis aan te pak.

Die hoofrede hiervoor is die reis-aspek, maar laat ons eers net vlugtig die wetenskap van tuisvoordeel van naderby beskou.

Tuisvoordeel: deur die bank 50 tot 70%

Daar is geen twyfel dat tuisvoordeel wel bestaan nie. Hierdie artikel meld statistieke van Amerikaanse sportsoorte wat bv. aandui dat in die tuisspan in basketbal 62% van alle wedstryde wen.

In bofbal en yshokkie is die syfer 53%, en in die NFL is dit enigiets tussen 54 en 64%. Daar is aanduidings in sokker dat om by die huis te speel 0.4 doele werd is (1.5 doele vir die tuisspan teenoor 1.1 vir die besoekers in meer as 5,000 geanaliseerde wedstryde).

In die geval van rugby is hierdie soort syfers nog nooit gepubliseer nie, maar ek het self 'n analise van die afgelope vyf jaar se Super Rugby-kompetisies gemaak (die formaat en die aantal spanne verander elke paar jaar, dus is dit 'n korter periode) en in Super Rugby het die tuisspan 61% van die wedstryde wat hulle gespeel het, gewen.

As ons wegwedstryde teen "nasionale" spanne vergelyk met internasionale wegwedstryde (bv. Nieu-Zeeland teen 'n span van Suid-Afrika of Australië) is die syfer bykans 80%, wat ongelooflik hoog is.

Ons sien dieselfde verskynsel wanneer lande internasionale sportgebeurtenisse aanbied, soos die FIFA Sokker-Wêreldbeker of die Olimpiese Spele. Die tuisland kry byna altyd meer medaljes as gewoonlik.

Daar is niks meer hierby betrokke as die feit dat die gashere tuis meeding nie, veral omdat die gasheerland byna altyd 'n massiewe hoeveelheid geld, tyd en mannekrag inspan om sy sportprestasie te verbeter. Dit is moontlik omdat lande baie jare voor die tyd reeds weet dat hulle gasheer gaan wees vir so 'n skouspel. Olimpiese gashere vaar beslis beter, maar dit mag bo en behalwe die onderstaande faktore ook te danke wees aan meer sorgvuldige voorbereiding van hul atlete.

Faktore wat die tuisvoordeel beïnvloed

Dit is miskien 'n effens vereenvoudigde opsomming van wat ons weet, maar oor die algemeen is daar vier faktore wat die tuisvoordeel beïnvloed:

  1. Reisuitputting vir besoekende spanne  
  2. On/bekendheid van die stad, die fasiliteite en die speelveld  
  3. Toeskouerfaktore wat as volg verder afgebreek kan word:
    1. Hoe die toeskouers die speler beïnvloed
    2. Hoe die toeskouers die skeidsregter/beamptes beïnvloed  

Die toeskouers se invloed op die beamptes – 'n onbewuste vooroordeel

Kom ons begin by skeidsregters (die gunsteling teiken van sportgeesdriftiges dwarsoor die wêreld). Daar is die siening, geldig of nie, dat besoekerspanne dikwels deur skeidsregters se besluite van punte "beroof" word. Dit is 'n opvatting wat dikwels nie verkeerd is nie.

Studies het byvoorbeeld bevind dat besoekende yshokkie- en basketbal-spanne meer gestraf word en meer spelers as gevolg van vuilspel verloor as die tuisspan.

Daar is ook vasgestel dat die verskil in strafdoele aan die besoekers en die tuisspan groter word namate die getal toeskouers toeneem.

Wanneer twee Londense spanne teen mekaar sokker speel, wat die "ongelykheid" van die toeskouer-ondersteuning uitskakel, is bogenoemde verskille heelwat kleiner, wat aandui dat die invloed van die toeskouers op die skeidsregter 'n beduidende rol speel. Selfs die mees neutrale en professionele skeidsregter, wat sy bes probeer om onpartydig te wees, kan deur die emosies van die toeskouers beïnvloed word.

In een studie moes sokker-skeidsregters besluite neem, gebaseer op video-opnames van ooglopende vuilspel. Party skeidsregters moes dit sonder klank doen, terwyl ander klank gehad het en die toeskouers se reaksie op vuilspel duidelik kon hoor.

Dit blyk dat die skeidsregters met klank neig om gehoor te gee aan wat die toeskouers wil hê – minder strafskoppe aan besoekers, meer aan die tuisspan en geen strafmaatreëls vir vuilspel deur die tuisspan nie. 

Ter ondersteuning van hierdie idee is die feit dat die land wat die Olimpiese Spele aanbied dikwels beduidend meer medaljes wen – en dat die meeste daarvan vir sportsoorte toegeken word wat subjektief beoordeel word (ysskaats, gimnastiek, ens.). In die lig van die studie oor sokker-skeidsregters is dit nie moeilik om te verstaan hoe entoesiastiese toeskouers 'n skeidsregter (ten spyte van hulle beste pogings om onpartydig te bly) kan beïnvloed om hier en daar 'n ekstra halwe punt of twee toe te ken nie.

Ek moet egter meld dat daar ander moontlike redes is hoekom besoekerspanne meer gepenaliseer word. Een daarvan is dat die "vyandige omgewing" van die teenstanders se speelveld 'n "slagoffer-" of "ons teen die wêreld" mentaliteit uitlok wat besoekerspanne aanmoedig om meer aggressief as gewoonlik te speel.

Hierdie gedrag is reeds in die geval van besoekerspanne gedokumenteer en partykeer selfs vir tuisspanne, afhangende van die konteks van die wedstryd en die gedrag van die toeskouers.

Die tuisspan is dikwels ook meer aggressief en neig om die spel te domineer (verdediging van hulle territorium), wat hulle teenstanders forseer om onder die druk te swig. Een analise van besluite in die NHL het geen verskil gevind tussen die beoordeling van foute van tuis- en besoekerspanne nie, wat aandui dat die verskil in strafmaatreëls wel geregverdig mag wees. (Ek is net nie heeltemal seker hoe dit met die bostaande studie, waar die skeidsregters bloot as gevolg van klank verskillende besluite gemaak het, klop nie...)

Toeskouers se invloed op spelers

Die effek van toeskouer-ondersteuning op speler-motivering en -inspanning is moontlik ewe beduidend, maar moeiliker om te meet. Sport is beslis vol van getuienis van spelers wat "daardie ietsie ekstra" êrens vandaan gekry het omdat hulle voor hulle tuisskare gespeel het.

'n Mens moet seker versigtig wees om nie 'n klomp stories te neem en dit as bewyse op te dis nie, veral omdat dit baie moeilik is om hierdie faktore aan prestasie te koppel.

Dit is egter nie te betwyfel dat "sielkunde" ('n baie breë begrip) wel 'n rol in sportprestasie lewer nie. Maar dit mag 'n tweesnydende swaard wees in terme van tuisvoordeel. 'n Besoekerspan mag, met hulle ingeboude nadeel en al, beter presteer as by die huis net om die toeskouers stil te maak, asook miskien as gevolg van die ekstra prestige verbonde daaraan om 'n span in hulle eie land te klop – ek het dit al met die SA Sewes beleef.

Aan die ander kant mag die effek van die toeskouers en die momentum wat hulle aan die spelers gee (ten spyte van hulle pogings om die ondersteuners te ignoreer) deurslaggewend wees – ek het dit ook al by die Sewes-span waargeneem. As 'n mens 'n stel sielkundige vereistes vir sukses moes definieer, sou jy sekerlik "selfvertroue", "geloof in jouself" en "hoë vlak van motivering" op die lys plaas, en, ten minste teoreties, is dit wat 'n tuiswedstryd aan spelers bied.

Net om te verhoed dat ons dinge te veel vereenvoudig, was daar 'n fassinerende opportunistiese studie 'n paar jaar gelede toe 'n universiteit-basketbalspan 11 van hulle wedstryde agter geslote deure moes speel as gevolg van 'n uitbreking van masels wat die skool onder kwarantyn geplaas het.

Dit het geblyk dat die span beter sonder ondersteuners gespeel het. Hulle statistieke het gestyg – meer punte, meer vrye ingooie en beter doelpersentasies.

11 wedstryde is natuurlik maar 'n klein steekproef wanneer ’n mens in ag neem hoeveel faktore daar is wat die uitkoms van elke spel mag beïnvloed, maar dit dui daarop dat ondersteuners spelers miskien negatief mag beïnvloed, bv. deur angstigheid. Dit kan ook gebeur dat die ander span angstiger is en ooreenkomstig slegter speel.

Vertroudheid

Die vierde en finale faktor wat gekoppel kan word aan die sielkundige faktore wat ek gemeld het, is vertroudheid met die speelveld, die weer, die oefenfasiliteite en ook die mense waarmee die spelers in aanraking kom gedurende die week voor die wedstryd. Daar is ook bewyse hiervoor.

37 sportspanne wat na 'n nuwe stadion gestrek het se tuisvoordeel het met 25% gedaal gedurende hulle eerste seisoen in hulle nuwe tuiste (dit is weliswaar 'n klein steekproef in die lig van die kompleksiteit van sportverrigting). Daar is nog steeds 'n voordeel, maar die kans dat hulle tuis sal wen, is kleiner as vantevore. Hierdie voordeel keer egter met die verloop van tyd terug.

Twee dinge is hier deurslaggewend.

Hulle is eerstens nie meer so vertroud met hulle eie stadium nie, en, hoe onbenullig dit ook al mag klink, glo ek dat dit 'n baie belangrike aspek van prestasie is, aangesien dit roetine, fokus, ontspanning, selfvertroue en verwagtinge voor wedstryde beïnvloed. Daar mag selfs 'n meer "primitiewe" faktor betrokke wees, d.w.s. die moontlikheid dat die tuisspan hulle territorium beskerm, 'n teorie wat afrigters konstant gebruik – die "ons tuiste"-praatjie wat almal al gehoor het. Nuwe stadion, minder territoriaal, kleiner voordeel? Wie weet?

Die tweede faktor is dat die besoekerspanne nie meer die sielkundige versperring van die "vyandelike vesting" wat hulle binnedring, het wat hulle voorheen gehad het nie. Dit stel die ander kant van die debat bekend – die geestelike ingesteldheid van die besoekerspan.

In Suid-Afrika het ons 'n paar rugbystadions wat besoekende spanne "vyandiggesind" is, en daar is spelers wat nie graag daar speel nie. Die media blaas ook hierdie vesting-konsep aan, en alhoewel spelers teoreties hierdie soort intimidasie behoort te kan weerstaan, is daar geen kwessies dat hulle ingesteldheid hierdeur verander kan word nie.

Ek vind persoonlik dat daar in spanne te veel klem op sulke dinge gelê word. Afrigters en spelers vertel altyd aan die media dat dit net 'n wedstryd tussen twee spanne met 'n bal en vier wit lyne is, maar veral afrigters skep dikwels verwarrende interne boodskappe wanneer hulle die impak van die geestelike aspek probeer verminder, terwyl hulle terselfdertyd hulle spanne probeer inspireer om "voorbereid te wees vir die aanslag van die tuisspan".

As enige deel hiervan die spelers beïnvloed, het die tuisvoordeel moontlik 'n negatiewe uitwerking op besoekers.

Dan is daar ook baie spesifieke faktore – hierdie artikel verwys na Boston se ou basketbal-baan met sy ongelyke parketvloer en dooie kolle, waarvan besoekende spanne nie geweet het nie. Weersomstandighede kan ook 'n groot invloed hierop hê (spanne wat gewoond is aan wind en reën floreer onder sulke omstandighede), asook baantoestande (veral by krieket).

Uit my ondervinding is vertroudheid 'n uiters belangrike faktor, selfs miskien die heel belangrikste (miskien spruit dit net uit my ondervinding met die Sewes). Ek glo dat dit angstigheid aansienlik verminder en spelers selfs in staat stel om visuele seine in die stadion te vind wat hulle spel mag verbeter.

Baie hiervan vind ook buite die stadion plaas – die hotelle, die mense, die kos, die TV in die hotelle, die hele omgewing. Die blote feit dat daar vriende en familie voor die wedstryd teenwoordig is, speel 'n groot rol, solank dit net nie te veel stimulering veroorsaak nie.

Die deurslaggewende faktor is of die vertroudheid 'n positiewe of negatiewe ervaring is. Dit is maklik om op positiewe ondervindings te bou, wat beteken dat 'n speler meer optimisties en vol selfvertroue sal wees wanneer hy by die huis speel.

Ondervinding tel – verminder dit die tuisvoordeel?

Dit is hoekom ondervinding so belangrik is vir sukses in toernooie weg van die huis. Later vanjaar vind die Rugby Wêreldbeker in Nieu-Zeeland plaas, wat histories 'n goeie plek is om te wen.

Daar is 'n aantal redes hiervoor – Nieu-Zeeland is histories die beste span ter wêreld, wat beteken dat dit enige plek op aarde moeilik is om hulle te klop. Die weer en die afstand help nie juis nie, en ook nie die sielkundige blok wat spanne saamneem wanneer hulle soontoe gaan nie.

Positiewe ondervindinge maak hierdie faktore minder intens en dus moet spanne wat goed wil vaar, myns insiens, sterk staatmaak op spelers wat alreeds daar was en daar gewen het, en die stadiums, hotelle en mense ken.

Ek weet nie of enige van die bostaande faktore noodwendig tot 'n beter prestasie sal lei nie, maar ek is oortuig dat om by die huis te speel heel moontlik kan lei tot wat sielkundiges as 'n bydraende element tot 'n optimale geestelike ingesteldheid beskou.

Maar aan die ander kant is dit nog steeds vier wit strepe, 'n bal en dieselfde stel reëls.

Die reisfaktor

Die faktor wat ek uitgelaat het is reis, en dit is omdat dit genoeg materiaal bevat vir 'n aparte artikel, veral met die Super 15 in gedagte.

Dit sal in 'n nuwe artikel bespreek word en moenie vergeet om Facebook en Twitter te gebruik as jy hierin belangstel nie. Ek probeer om hierdie kommentaar as 'n toevoegsel tot die webblad te gebruik saam met idees, opinies en skakels na ander soortgelyke artikels.

Dr. Ross Tucker, is Health24 se FitnessDoc en het 'n Ph.D. in Oefening-fisiologie van die Universiteit van Kaapstad en 'n nagraadse kwalifikasie in Sportbestuur van UK se Handelsfakulteit. Hy werk tans by die Universiteit van Kaapstad en die Instituut vir Sportwetenskap van Suid-Afrika en werk ook as 'n konsultant vir verskeie sportspanne, insluitende die Suid-Afrikaanse Sewes, Kano-, Roei- en Driekamp-SA. Hy het ook 'n blog op www.sportsscientists.com

(Health24, Junie 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE