Share

Onder die diep, blou see

Die mens is gemaak vir vaste grond. As jy paddavoete aantrek en diep onder die see induik, kan dit ’n vreemde – en ontstellende – uitwerking op jou liggaam hê.
Deur die HEALTH24-SPAN vir Huisgenoot-POLS

Op pad ondertoe:
10m onder druk
Vir elke 10m wat jy dieper onder die water gaan, verdubbel die druk teen jou lyf, want water weeg baie swaarder as lug. Die bykomende las op jou oortromme en sinusse kan geweldige newe-effekte hê, byvoorbeeld trommelvliese wat bars.

Jy kan voorkom dat jou oortromme bars deur seker te maak die druk binne-in jou ore en sinusse bly gelyk aan die waterdruk om jou.

Dis waar die Valsalva-maneuver goed te pas kom. Hou jou mond toe en druk jou neus feitlik toe met jou vingers terwyl jy teen dié drukking deur jou neus uitasem.

15m: 'n Bietjie dronk
Elke 15m wat jy dieper duik is soos om 'n Martini op 'n leë maag af te sluk.

30m: Bedwelmde duikers
Dieper as 30m onder die water word stikstof toksies en is die narkotiese effek so erg dat duikers lagbuie kry of hallusineer. Dit word stikstof-narkose genoem.

40m: Swaargewig
Jy moet liefs nie dieper as 40m onder die water gaan nie. Teen dié gevaarlike diepte is die druk al gelykstaande aan omtrent 90 metrieke ton lugdruk.

50m: Diep in die nag
Lig dring nie tot by dié onderwaterwêreld deur nie – dit is stikdonker!

Oppervlak toe:
Borrel-borrel boontoe
As jy te vinnig na die oppervlak terugswem, vorm groot hoeveelhede gevaarlike stikstofborrels in jou bloedstroom. Dis dieselfde bruiseffek as wanneer jy 'n Coke-blikkie eers skud en dan oopmaak.

Dié toestand word borrelsiekte genoem. Jou vel jeuk, jou kop pyn en jy voel naar en duiselig. Die simptome vererger uurliks nadat jy uit die water is.

Borrelsiekte kan lewensgevaarlik wees as daar selfs net een groot borrel in die brein of hart beland en tot 'n beroerte of hartaanval lei. Stikstofborrels kan ook weefsel, senuwees en organe beskadig.

Ritmies, asseblief
Haal ritmies en korrek asem terwyl jy stadig boontoe swem. Of jy nou na bo swem of na benede duik, onthou om gereeld te sluk sodat die druk in jou middeloor nie te hoog raak nie.

Verstik in jou eie asem
'n Duiker wat diep onder die water 'n laaste asemteug neem, dit inhou en dan vinnig boontoe swem, soek moeilikheid. Jou longe kan bars omdat die lug drasties uitsit hoe nader jy aan die oppervlak kom.

Die lug stroom dan in groot borrels sommer reguit na jou hart en brein en kan jou bewusteloos of dood maak.

Dekompressiekamer toe!
Duikers met borrelsiekte moet ure lank in 'n dekompressiekamer bly. Die lugdruk in die kamer word geleidelik verlaag tot normale oppervlakdruk bereik word.

Het jy geweet?
Die gemiddelde mens kan tussen 30 en 90 sekondes lank asem ophou.

Onthou!
Moet nooit alleen duik nie. Duik altyd in 'n groep of vat 'n maat saam. As jou suurstoftenk ingee, kan jy suurstof by jou duikmaat kry.

Stadig oor die klippe
'n Duiker moet nooit vinniger na die oppervlak beweeg as die klein waterborrels langs hom nie.

As hy teen sowat 9 meter per minuut, of stadiger, boontoe beweeg, sypel die stikstofborrels geleidelik uit die bloedstroom en word dit as oortollige gas uitgeasem.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Read more:
10 Tips for diving survival
Diving and your health

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE