Share

Om te Wii of nie

Om te Wii of nie

Deesdae word daar in menige huis ge-Wii en die hele gesin speel lustig saam aan dié TV-sportspeletjies. Maar lees eers wat die kenners daaroor sê voor jy jou gim-lidmaatskap inruil en lid word van die Wii-klub.

Deur MICHELLE PIETERS

Dis net ná vyf in die oggend en die strate is feitlik doodstil. Al geluid is die vinnige asemhaling en voeteval van die agt drawwers saam met wie ek elke oggend 10km aanpak. Dié tyd van die oggend is die strate ons s'n.

Toe ek dus die eerste keer te hore kom van Wii-sportspeletjies wat jy voor jou televisie speel en wat jou toelaat om te oefen en dinge soos tennis, gholf en selfs bofbal te speel, was ek effens skepties.  Want hoe kan dit dan nou lekker wees om binne voor 'n TV-skerm te oefen?

Ek het gewonder: Kan sulke speletjies 'n mens ooit fiks en ferm op al die regte plekke maak? Maar as sterre soos ons goue swemmeisie Natalie du Toit dol is daaroor, moet daar seker iets in steek, het ek gedink.

Daar's net een manier om uit te vind – gaan doen dit self by 'n vriendin wie se kinders Wii.

Die eerste speletjie wat ek kies, is tennis, my ander gunsteling-sport. Aanvanklik voel dit 'n bietjie laf om op een plek voor 'n TVstel te staan en "oefen." Dit voel glad nie soos 'n gim of enige ander soort oefening nie – daar is heerlike kosgeure uit die kombuis, teddiebere lê rond en ek dra sommer 'n denimbroek en trui. Dis allesbehalwe 'n prentjie van 'n gemotiveerde mens wat in die gimnasium sweet.

Met Wii beheer jy die speletjie deur 'n konsole – 'n beheerstelsel wat soos die TV se afstandbeheerder lyk – te beweeg. Jy gebruik dit asof dit byvoorbeeld 'n tennisraket is, en op die televisieskerm sien jy presies wat jy doen en dus waar jou houe op die baan land.

Die bal kom op die skerm na jou toe aan. Jy kan dit nie misslaan nie, maar as jy 'n slegte hou speel, sal dit buite die baan beland.

Aanvanklik voel dit nogal verspot, maar ná tien minute is ek gewoond aan die virtuele tennisspel en kan Venus Williams maar nader staan. Vandag wys ek haar 'n ding of twee!

Dit voel amper of ek regtig afslaan en sommer gou besef ek my voorhand is net so sleg soos wanneer ek op 'n regte baan speel.

Maar ná omtrent 15 minute het ek nog nie juis gesweet nie. Ek is nie uitasem nie en dit voel nie asof ek kardiovaskulêre oefening gedoen het soos wanneer ek op 'n regte tennisbaan agter balle aanhardloop nie. En is dit nie tog maar die doel van oefening nie?

Ek beproef ook die bofbal en vind dit nie te sleg nie, en ek sien selfs kans vir boks!

Op pad huis toe dink ek dit was groot pret, maar ek gaan beslis nie my drafskoene wegpak nie. Eintlik dink ek stilletjies: Hierdie ge-Wii is alles net 'n klug.

Tot ek die volgende oggend die wekker wil dooddruk om te gaan draf… My arms is styf. My  maagspiere kramp.

En seer spiere beteken tog net een ding: Daardie outjies het gewerk, al het die hartspier dan nie saamgespook om my kardiovaskulêr fiks te maak nie.

Voordelig vir onaktiewe mense

As jy jou lewe lank al aktief is, moenie verwag dat binnenshuise fiksheidspeletjies jou dieselfde bevrediging sal gee as jou gunsteling-buitelugsport nie. Maar kenners sê dit het sy voordele, veral vir onaktiewe, oorgewig kinders, besige mense met min tyd vir oefen, bejaardes en selfs vir fiksheidsbewustes wat dit met hul gewone oefenprogram wil kombineer.

En in 'n land waar bykans die helfte van alle Suid-Afrikaanse volwassenes en sowat 38 persent van alle kinders onaktief is, is dit dalk net die prikkel wat dié mense eindelik na goeie, outydse oefening buite sal lok.

Elektroniese speletjies word al jare lank as anti-sosiaal beskou, juis omdat dit keer dat mense buite kom en aktief met ander omgaan.

'n Onlangse Australiese studie het gewys 37 persent van daardie land se kinders bestee minder as 30 minute elke dag aan buitemuurse aktiwiteite, maar sit meer as twee uur per dag voor die TV of 'n rekenaarspeletjie.

In Suid-Afrika lyk die prentjie nie veel beter nie. 'n Kwart van ons land se jeug sit volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Sportwetenskap in Kaapstad meer as drie uur per dag voor die kassie. Dit laat nie veel tyd vir balskop, fietsry of hardloop tot jou bors brand nie.

Die ander kant van die munt is dat baie mense deesdae kleiner tuine het en veiligheid baie kinders agter hoë mure hou. En dis waar sportspeletjies soos Wii nuttig kan wees.

Meer as 51 miljoen Wiis al verkoop

Sowat 90 000 wiikonso les is al in Suid-Afrika verkoop sedert die speletjie in Oktober 2006 bekendgestel is. Wêreldwyd is die syfer al meer as 51 miljoen. Maar beteken dit minstens 51 miljoen meer mense is deesdae fiks en gesond?

Dit sal net gebeur as jy die presiese bewegings van die spesifieke sport namaak en nie kul net om meer punte te kry sodat jy kan wen nie, sê dr. Tracy Kolbe-Alexander van die Instituut vir Sportwetenskap.

Tracy is self 'n ma van vier en het 'n ruk gelede van die speletjies saam met haar spruite getoets. "As 'n wetenskaplike het ek nog altyd belanggestel in hoeveel energie verbrand word met Wii-speletjies as jy dit vergelyk met gewone oefening. Onlangse navorsing onder 10- tot 12-jariges het gewys energieverbranding met aktiwiteitspeletjies soos Wii, en Sony se Dance Dance Revolution en EyeToy was baie hoër as wanneer kinders al sittend speletjies speel.

"Die EyeToy is 'n bewegingsensitiewe digitale kamera wat aan die PlayStation 2 gekoppel word. Dit plaas jou beeld op die televisieskerm en dus in die middel van al die aksie. Maar dié soort energieverbranding was steeds baie laer vergeleke met gewone sport of net stadig stap," sê Tracy.

Sy het gevind haar kinders en vriende het vinnig maniere ontdek om met die minste moeite meer punte aan te teken. "In tennis het hulle byvoorbeeld net hul gewrigte beweeg en nie hul hele arm geswaai nie," vertel sy.

Toe het sy gou huisreëls neergelê en die voorwaarde was dat haar kinders die speletjie presies moes

namaak asof hulle die ware Jakob speel. Al het hulle byvoorbeeld nog nooit tennis gespeel nie, moes hulle hul hele liggaam gebruik om te speel en nie net op die bank sit en hul gewrigte beweeg nie.

Wii Workout Guy

Dat die speletjies wel 'n verskil maak, is kort ná Wii se bekendstelling bewys deur Mickey De-Lorenzo, 'n rekenaarprogrammeerder van Philadelphia in Amerika.

Hy het in Desember 2006 ses weke lank 'n Wii-fiksheidsroetine gevolg. Mickey, ook bekend as die Wii Workout Guy, het 4kg en 7,6cm om sy middellyf verloor deur elke dag 30 minute lank Wii-aktiwiteite te doen. Hy het nie sy dieet verander nie en ook geen ander oefening gedoen nie, maar

wel alles so hard en voluit as moontlik gedoen.

Agterna het hy al die gewig weer aangesit en verlede jaar het hy toe besluit om 'n soortgelyke eksperiment met Wii Fit te doen, 'n speletjie met vier programme: kragoefeninge, aërobiese oefening, joga en balanseerspeletjies.

Mickey het 86,6kg geweeg toe hy met dié tweede eksperiment begin het. Hy het ses weke lank elke dag 'n uur lank geoefen. Hy het nie gerus nie en voluit geoefen. Ses weke later was hy 6,9kg ligter en sy liggaamsvet het van 20,8 persent tot 18,4 persent afgeneem.

Hy het erken enigiemand sal waarskynlik gewig verloor as hulle onaktief is en dan skielik, soos hy, daagliks 60 minute meer beweeg en oefen. Hy het geen verhouding of borgskap met Nintendo, die vervaardiger van Wii, nie. Hy wou aanvanklik 'n boek skryf oor sy eksperiment, maar dit het deur die mat geval toe Nintendo dit nie wou goedkeur nie.

Wii geen waarborg van gewigsverlies

Candice Katz, 'n Nintendo-woordvoerder, waarsku dat Wii-oefening geen waarborg is dat jy van jou drildye ontslae gaan raak nie. "Ons kan wel waarborg dat van die speletjies sal help om sekere spiere te versterk en jou meer soepel sal maak," sê sy.

Candice meen dié soort speletjies hou die meeste voordeel in vir oorgewig kinders – hulle verbrand energie terwyl hulle in die privaatheid van hul eie huis oefen en dus nie blootgestel voel nie. Ander wat daarby kan baat vind, is bejaardes wie se balans met ouderdom afneem. Balansspeletjies soos joga-oefeninge en kragoefeninge op Wii se balanseerbord kan daarmee help.

Hoewel baie Wii-speletjies grootliks op pret gerig is, is die Wii Active Personal Trainer meer gesofistikeerd.

Sandy Cook, ons sustertydskrif YOU se hoofsubredakteur, het die Personal Trainer onlangs getoets. "Dit lei jou deur die oefeninge en jy kan ook jou eie oefenprogram ontwerp. Jy kan kies uit enigiets van bolyftot uithouoefeninge," sê Sandy.

Jy het 'n keuse van ligte, medium en intensiewe oefensessies. Jy kan ook 'n fiksheidsprofiel saamstel en dagboek hou van wat jy eet, en van enige ander oefeninge wat jy gedurende die dag doen.

En as belonings jou aanspoor, sal die virtuele medaljes en trofees wat jy verwerf namate jy fikser word, jou gemotiveerd hou.

Sandy draf gewoonlik, maar het besluit om die Active Trainer te gebruik vir 'n meer gebalanseerde oefensessie. En ja, dit het haar moeg en styf gemaak. "Maar dit was 'n lekker seer, wat beteken ek

het spiere geoefen wat ek nie eens geweet het ek het nie!"

Sy het nie gesukkel om die oefeninge reg te doen nie, want sy kon eers na 'n video kyk oor hoe om te werk te gaan. Vir Sandy, 'n bedrywige ma van twee, was dit ook baie makliker om by die huis te oefen as om tyd af te knyp om na die gim te ry. En soos met enige ander oefening het dit dissipline geverg, maar toe sy eers aan die gang gekom het, was dit pret.

Sy het agtergekom as 'n mens nie die oefeninge behoorlik doen nie, kan jy jouself seermaak. Haar knieë was ná 'n ruk seer en sy glo 'n persoonlike afrigter sou haar waarskynlik beter kon afrig

sodat sy beserings kon vermy.

Een ding wat haar glad nie aangestaan het nie, was om op die plek te draf. "Dis moeilik om nie simpel te voel nie. Ek verkies dit steeds om buite in die natuur te hardloop."

Tuisapparate 'bly beter'

En 'n doodgewone ou trapmeul? "Baie beter," sê Tracy.

"Tuisapparate soos oefenfietse en trapmeule bly 'n beter keuse as dit kom by fiksheid en gewigsverlies, juis omdat dit meer energie verbrand en 'n groter verskeidenheid oefenopsies bied, om nie eens te praat van die voordele van 'n gimnasium nie."

En selfs al sal die Wii-speletjies nooit so intens soos gewone oefening wees nie, kan jy jou wel beseer, sê Tracy, veral as jy nie eers opwarm nie.

Dan moet jy onthou om die beperkte ruimte in ag te neem. "Jy moet seker maak daar is genoeg swaairuimte, want baie mense tref meubels as hulle byvoorbeeld in tennis afslaan, of hulle slaan mekaar per ongeluk raak."

Tracy maan dis belangrik om altyd te onthou Wii is nie 'n plaasvervanger vir gewone sport of fisieke aktiwiteit nie, juis omdat jou energieverbranding in sommige gevalle selfs minder is as wanneer jy doodgewoon stadig sou stap. En mense moet niks meer as twee uur per dag voor die skerm deurbring nie.

Die goue reël bly om alles binne perke te doen, sê sy. Kombineer liefs ook Wii-oefening met gewone oefening.

 
Lees meer:
Ons het dit probeer
 
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Wii fit put to the test

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE