advertisement
13 January 2010

Goeie vibrasies… of dalk nie?

Vollyfvibrasie is die jongste gim-gier, maar nou waarsku sommige kundiges dat dié wikkelende wonders kraakbeenskade, visuele versteurings en selfs breinskade kan veroorsaak.

0

Party dinge is veronderstel om te vibreer. Soos jou selfoon. Maar wat van jou hele lyf? Vollyfvibrasie is die jongste gim-gier en het ook 'n aanhang onder bekendes soos Madonna gekry.

Nou waarsku sommige kundiges egter dat dié wikkelende wonders kraakbeenskade, visuele versteurings en selfs breinskade kan veroorsaak...
Deur LAURA TWIGGS

Dit is eenuur op 'n warm Maandag en terwyl ek by Kaapstad se gewilde Wembley Square parkeer, begin my hart skielik woes klop. Ek is nie hier vir 'n lekker ete of om die vibes van die Moederstad te beleef nie. Ek is hier vir 'n heel ander vibe – in die Whole Body Vibration-klas op die gim se eerste verdieping.

Ek stap die ateljee effens lugtig binne en word dadelik gekonfronteer met 'n Power Plate-masjien, een van die bekendste vollyfvibrasieplatforms in Suid-Afrika. Dit lyk 'n bietjie soos 'n telekinetiese verplasingstoestel – silwer knoppies, 'n groot swart platform en chroomhandvatsels. Die instrukteur, Sweetness Javu, lyk soos 'n taai en baie fikse weergawe van Queen Latifah.

Ek is nie eintlik 'n senuagtige soort mens nie en terwyl oefening nie boaan my lys van plesiere staan nie, skrik dit my ook nie juis af nie. Maar nou het ek 'n uur gelede gehoor dat vibrasieplatforms chirurgiese metaalstrukture kan losskud – en sedert 'n kop-teenkop-botsing agt jaar gelede het ek 'n onderkaak-brug en 'n stel titaanboute wat my kakebeen aanmekaar hou.

'n Vinnige oproep na prof. Jean Morkel van die Universiteit van Wes-Kaapland se departement kaak, gesig- en mondchirurgie stel my gerus – in 'n mate. My kakebeen het in dié stadium beslis al aangegroei, sê hy.

Net mense wat in die voorafgaande ses maande chirurgiese metaalinplantings gehad het, hoef bekommerd te wees. En wat die brug betref? Wel, hy kan niks waarborg nie, maar die moontlikheid bestaan dat dit kan losraak of selfs uitval.

Maar die ergste wat kan gebeur, is dat ek my glimlag tydelik kwyt is. Daarmee kan ek saamleef, dink ek. Veral as ek telekineties na 'n slanker, sterker weergawe van myself "verplaas" gaan word.

Intussen het Sweetness die Power Plate aan die gang gesit en ek voel asof ek bo-op 'n wasmasjien staan met sy wentelsiklus in volle gang – net tien keer so erg. Daar's 'n eienaardige sensasie van my voetsole tot by my kroontjie. Selfs my vingerpunte tintel. In die 30 minute lange oefensessie klim ek omtrent vyf keer van die masjien af om te rus, hoofsaaklik omdat ek die vibrasies soos 'n hamerboor in my kakebeen kan voel. Uiteindelik is die behandeling verby en hinkepink ek na my motor toe. My bene het jellie geword en my arms is die ene bewerasie. Ek kan gelukkig nog glimlag, maar ek voel nogal eienaardig.

'n Mens kan seker verwag dat jy 'n bietjie vreemd gaan voel as jy in ag neem dat dié vibrasieplatforms teen 30 MHz tot 50 MHz (of siklusse per sekonde) vibreer, na gelang van hoe hulle gestel is. Dit is rede tot kommer, want verskeie kundiges meen dat enigiets oor 35 MHz buite die veilige sone is. Hulle sê enigiets bo daardie vlak kan tot akute ongemak en pyn in die gewrigte lei. Dit kan ook onnatuurlike veranderinge in sig veroorsaak en die vermoë aantas om jou oë egalig, akkuraat en doeltreffend te beweeg – dit wat jou in staat stel om van reel tot reël of woord tot woord te lees, asook om 'n bal met jou oë te volg.

Vollyfvibrasie is 40 jaar gelede ontwikkel

Maar hoewel 'n gewikkel en 'n geskud teen hoë frekwensies 'n bizarre fiksheidskonsep is, is die basiese wetenskaplike idee heel aanvaarbaar. Vollyfvibrasie is sowat 40 jaar gelede ontwikkel toe Russiese wetenskaplikes dit ingespan het om te keer dat hul ruimtevaarders spiertonus verloor in die afwesigheid van swaartekrag. Daarna het navorsing die gebruik daarvan by die opleiding van Russiese balletdansers ondersoek en bevind dat vollyfvibrasie krag, soepelheid en herstel ná beserings kan verbeter.

Teen 1999 het die Nederlandse Olimpiese afrigter Guus van Meer dié navorsing gebruik om die vibrerende fiksheidsmasjiene wat ons vandag ken, te ontwikkel. Nou, 'n dekade later, is dié masjiene vir die gesondheids- en fiksheidskultuur wat die hoepel in die 1950's was.

Fisioterapeute en biokinetici gebruik dit om mense te help om van beserings te herstel, atlete gebruik dit om meer mededingend te wees, skoonheidspesialiste gebruik dit vir gewigsverlies en dokters gebruik dit om osteoporose te beveg. Die afgelope jare het aggressiewe bemarking die gewildheid van vibrasieplatforms laat toeneem omdat mense aangetrek word deur die voordele van 'n volledige oefensessie binne 'n derde van die tyd.

Maar pasop: Die R80 000-masjien in die biokinetikus se spreekkamer is nie dieselfde as daardie gratis foefie wat saam met jou nuwe selfoonkontrak aangebied word nie. Goedkoper modelle is gewoonlik minderwaardig, met kleiner platforms en swakker motore. Hulle is ook nie so duursaam en betroubaar soos die duurder modelle wat deur bekende maatskappye gemaak word nie.

Die feite agter die gier

Wat is dus die feite agter die gier? Die idee is dat die vibrasies die spiere dwarsdeur die liggaam aktiveer om te sorg dat jy jou balans op die platform behou. Vibrasie-aanhangers meen dit bied 'n hele reeks voordele, onder meer verligting van pyn. Dit laat jou beter slaap, hou jou langer jonk, werk selluliet en aknee teë, versterk jou beendere en verhoog selfs jou liefdeslus.

Navorsers van die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa sê ook die vibrasies help om spiere te bou, osteoporose te beveg en beskadigde weefsel te herstel – en dat dit jou gemoedstoestand kan verbeter deur die vrystelling van hormone.

Maar nie almal stem saam nie. Skeptiese wetenskaplikes wys op die gebrek aan langtermyn-navorsing en noem 'n paar kommerwekkende waarskuwingstekens. Clinton Rubin, professor van biomediese ingenieurswese aan die State University of New York, meen die hoë vibrasiefrekwensie kan kraakbeenskade, wasige visie, gehoorverlies en selfs breinskade veroorsaak – veral as die masjien oormatig of bo sy veiligheidsgrens gebruik word. Sommige navorsers is ook bekommerd dat die hoë trillingswydte skokgolwe deur die liggaam stuur, wat gevaarlik kan word.

Dr. Manesh Pillay, 'n neuroloog van Pretoria, reageer omsigtig. "Daar is 'n wesenlike gebrek aan navorsing oor die voordele en newe-effekte van dié masjiene," sê hy. "Met die eerste oogopslag is daar 'n klomp studies wat die gebruik van vibrasieterapie in verskeie omstandighede dek, insluitend ortopedie, neurologie en sportgeneeskunde. Maar die meeste van die studies is op klein skaal aangepak en is nie naastenby voldoende nie. Daar is geen studies oor die aanwending daarvan vir 'n mediese doel nie en daar is geen oortuigende bewys van voordele nie."

Manesh sê egter ook dat daar geen bewyse is wat verdoemende voorspellings soos kraakbeen- of breinskade ondersteun nie. Kortom, daar is eenvoudig nog nie genoeg deeglike, volgehoue navorsing nie en die navorsing wat wel bestaan, het teenstrydige resultate opgelewer.

Nick Grantham van die English Institute of Sport is een van die min kundiges wat ál die navorsing oor vibrasie-opleiding deeglik nagegaan het (lees gerus die volledige studie by www.sportsinjurybulletin.com). Volgens Nick was daar tussen 1998 en 2005 meer as 15 gepubliseerde studies oor die prestasieverbeteringsaspekte van vollyfvibrasie en verskil die bevindings "hemelsbreed".

"Party studies het min of geen prestasieverbetering gevind nie," skryf Nick. "Maar vir elke studie wat geen verbeterings aanmeld nie, is daar verskeie wat vibrasiebehandeling positief aanslaan, met voordele soos verhoogde spierkrag, soepelheid, krag, balans en hormoonvrystelling."

Hy sê hoewel sy eie navorsing nog pas begin het, moet mense maar duim vashou dat niks verkeerd loop as hulle besluit om vollyfvibrasie te beproef nie. Manesh stem saam en voeg by: "Ek dink vollyfvibrasie kan nog 'n bruikbare hulpmiddel word, maar eers as ons ten volle verstaan hoe dit werk en hoe om dit veilig in te span."

Iemand wat vollyfvibrasie besonder nuttig vind, is ons plaaslike professionele driekampatleet en ysterman, Raynard Tissink, wat deur Power Plate geborg word. Raynard het net lof vir die masjien, hoewel hy dit meer as 'n hulpmiddel beskou as 'n selfstandige oefenmasjien.

"Op die oomblik gebruik ek die masjien twee keer per week," sê hy. Hy swem, ry fiets en hardloop ook tot 40 uur per week, en sê hy sou uiteraard nooit 'n mededingende driekampatleet kon wees as hy hom net op vollyfvibrasie verlaat het nie. "Dit het my egter gehelp om my krag in hardloop en fietsry te verbeter."

Raynard is 'n kragatleet en baie gesond. Hy volg 'n spesifieke opleidingsprogram en word gereeld ingelig oor nuwe tegnieke. " 'n Mens moet weet hoe om die masjien reg te gebruik en ek dink oningeligte mense kan hulself skade berokken," meen hy.

Tracey-Lee van Wyk (42) beskou haar as een van dié mense. Sy was verlam ná ’n ruggraatbesering 10 jaar gelede en ly ook aan fibromialgie, 'n verswakkende chroniese siekte wat gekenmerk word deur pyne, styfheid, sagteweefselgevoeligheid, algemene uitputting en slaapversteurings. Toe sy dus 'n paar advertensies vir vollyfvibrasie sien, het Tracey-Lee gedink die masjien kan haar dalk help om haar kragte op te bou en om die gewig wat sy sedert haar ongeluk aangesit het, af te skud.

"Ek het gereageer op 'n advertensie vir sessies by ’n skoonheidsalon," vertel sy. "Ek het een kort sessie gehad met 'n instrukteur wat basies vir my gewys het hoe om die masjien aan en af te skakel. Ek het uitgevra oor die implikasies vir my ruggraatbesering en hy het gesê dit was net reg vir my. Ek is nie oor enige moontlike risiko's ingelig nie."

Ná agt weke van halfuursessies sonder toesig drie keer per week het Tracey-Lee floutes begin kry. "Die eerste keer het ek gedink dis 'n paniekaanval," sê sy. "Maar die aanvalle het net ál erger en meer gereeld geword. Uiteindelik is ek na 'n psigiater, wat bevind het ek ly aan petit mal-epilepsie. Ek het dit nie met die oefening in verband gebring nie en het nie eens daaraan gedink om die dokter daarvan te sê nie."

Pleks daarvan het Tracey-Lee haar vibrasie-oefening tot vyf keer per week vermeerder. "Op die ou end was die floutes so erg dat ek 'n EKG en 'n CAT-skandering laat doen het, maar dit het niks opgelewer nie en ek is op epilepsie-medisyne geplaas. Eers toe ek so gereeld epileptiese aanvalle begin kry dat ek te bang was om te bestuur, het ek opgehou met die oefening."

Tracey-Lee was 'n jaar op die epilepsie-medisyne. Sedert Desember drink sy dit nie meer nie en het sy geen verdure aanvalle gekry nie. Sy het ook nog nie weer die masjien gebruik nie. "As ek aan epilepsie gely het, sou dit teruggekom het nadat ek die medisyne gestaak het," sê sy.

"Daarom meen my dokter dat ons deur 'n proses van eliminasie kan sê dat die oefening die oorsaak was. Ek is oortuig dat dit die oefening was en my fisioterapeut, psigiater en ortopediese chirurg stem saam."

Dit lyk dus asof jy óf ’n voorstander van vollyfvibrasie is óf totaal daarteen gekant is. Maar die een ding waaroor voorstanders en teenstanders saamstem, is dat gebruikers bewus moet wees van die moontlike risiko's. Om die waarheid te sê, selfs die vervaardigers dring daarop aan dat voornemende gebruikers bewus gemaak word van die risiko's en 'n mediese ondersoek moet laat doen voor hulle begin oefen.

Dit is natuurlik moeilik om 'n ogie oor sulke voorsorgmaatreëls te hou – en dit is die eintlike gevaar.

Baie skeptici dink vibrasie-oefening is nie noodwendig in alle opsigte sleg nie. Maar hulle pak gereeld die skuld op oorgebruik, onvoldoende keuring van kandidate, platforms van swak gehalte (soos dié wat net van kant tot kant wikkel), swak opgeleide instrukteurs en min of geen toesig oor die moontlike gevare nie.

Maar namate die platforms se gewildheid en beskikbaarheid toeneem, neem die aantal mense met beserings dienooreenkomstig toe – veral namate die pryse daal en goedkoper, swakker masjiene algemeen beskikbaar raak.

André Pienaar, 'n biokinetikus van Pietermaritzburg, spesialiseer in die behandeling van rugprobleme. 'n Vibrasieplatform (vervaardig deur die Nederlandse maatskappy Enraf, wat al die afgelope 80 jaar in rehabilitasie-toerusting spesialiseer) word in sy praktyk gebruik, maar net onder toesig en as aanvullende behandeling.

"Miskien is ek outyds, maar ek het al giere sien kom en gaan," sê André. "Daar is tans 'n groot bohaai oor vibrasieterapie en terwyl dit besliste voordele inhou, kan party van die platforms baie skade veroorsaak en selfs doodgewoon gevaarlik wees.

" 'n Masjien van R8 000 kan net nie so gesofistikeerd wees of deur soveel navorsing gerugsteun word as 'n baie duurder een van 'n betroubare maatskappy nie." En wat meer is, die veronderstelde "wetenskaplike" aansprake wat vervaardigers maak, kan vir die leek onverstaanbaar wees en selfs teenstrydig lyk.

Justin Durandt van die Instituut vir Sportwetenskap van Suid-Afrika verduidelik dat die meeste studies wat as bewys vir die voordele van vollyfvibrasie aangehaal word, baie min om die lyf het.

"Die meeste van die navorsing gebruik onfikse, onaktiewe mense as vertrekpunt en toon dan dat hulle 'vordering' gemaak het," sê hy. "Daardie mense sou met enige oefening 'vordering' gemaak het, selfs al het hulle net liggies gedraf.

"Vibrasie-oefening het beslis voordele, maar 'n mens kan dieselfde doel bereik deur ander soorte oefening, sonder die onkoste. Daar is geen twyfel dat dit jou sterker maak nie, maar tot op hede is daar nog geen afdoende bewys vir ander aansprake soos gewigsverlies of verbeterde hartfunksie nie. Tog dink ek dit het wel 'n plek, maar as deel van 'n goed beplande program wat duidelike riglyne gee, gebruikers van risiko's bewus maak, hulle vooraf ondersoek en op beginnersvlak laat wegspring."

Interessant genoeg gebruik die instituut nie vollyfvibrasieplatforms nie. Hoekom nie? "Ons het nog nie die resultate gesien van enige kliniese toetse wat ons daarvan oortuig dat die produk noodsaaklik is nie," sê prof. Tim Noakes, direkteur van die navorsingseenheid vir oefeningwetenskap en sportgeneeskunde by die instituut.

"As daar eers vergelykende kliniese toetse onderneem is en dit in betroubare wetenskaplike joernale gepubliseer is, sal ons hul aansprake kan evalueer. Waar sulke toetse ontbreek, kan ons werklik niks sê wat wetenskaplik geloofwaardig is nie."

Gebruik dit reg

Wat Powerplate sê

Wat die gebruikers sê

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.