Share

Fiksheidsmites en feite

Fiksheidsmite 4:
“Onthou die strekoefeninge voor jy jou oefenprogram begin”

Hierdie stelling is net deels waar. Jy behoort slegs strekoefeninge te doen na jou opwarmingsessie voor jy begin oefen Strekoefeninge is nie opwarmingsoefeninge nie.

Om jou spiere te strek wanneer hulle heeltemal onopgewarm is, kan gevaarlik wees. Vergelyk jou spiere met ‘n stuk kougom. Aan die begin is die kougom hard, maar nadat jy dit ‘n paar maal gekou het, word dit sag en rekkerig.

Om dit met jou spiere te bereik is die doel van die opwarmingsessie – om jou spiere opgewarm te kry en gereed om te rek en om oefening te doen. As jy strawwe oefening doen met onopgewarmde spiere, verhoog dit jou kanse aansienlik om ‘n spier te rek.

Navorsing wat onlangs gedoen is, het gewys dat dit onnodig is om jou spiere te strek tot aan die einde van jou oefensessie. Die doel is weereens om seker te maak dat jou spiere opgewarm is voor jy hulle dalk deur strekoefeninge kan beseer.

Om aan die veilige kant te bly, is dit beter om vir 5 – 10 minute op te warm en te kyk hoe warm jou liggaam voel. In die winter sal jy effens langer moet opwarm as in die somer.

Doen die tipe aktiwitiet wat jy beplan vir ‘n paar minute. Doen dan ‘n paar strekoefeninge spesifiek met die spiere wat jy in jou oefensessie gaan gebruik. Doen die meerderheid van jou strekoefeninge na jou oefensessie.

En onthou om jou spiere te strek en in daardie posisie te hou vir so lank as moontlik. As jy te vinnig hierdeur beweeg, begin ‘n refleks in jou spiere om saam te trek en jou ledemate te beskerm.

As jy vir ‘n langer tyd jou spiere strek, onspan hulle en rek – dit is tog die doel van strekoefeninge.

Lees die res van ons reeks oor Fiksheidsmites:

Fiksheidsmite 1:
"Mense word eenvoudig almal vetter as hulle ouer word."

Baie mense aanvaar dit as reine waarheid, maar dit is eenvoudig net nie waar nie.

Iewers in 'n mens se middeljare gebeur daar twee dinge:
Eerstens begin ons spiermassa verloor. Terselfdertyd begin mense ook ‘n minder aktiewe lewensstyl handhaaf.

Die meeste mense besef nie dat die effektiwiteit van mens se metabolisme direk gekoppel is aan die hoeveelheid spiermassa wat jy aan jou liggaam het nie.

Mense blameer verkeerdelik hulle stadige metabolisme vir ‘n duisend liggaamlike probleme.

Die beste manier om jou liggaam se spiermassa te behou en jou metabolisme te handhaaf is deur ‘n paar maal per week te oefen met gewigte.

Die meeste mense dink aerobiese oefeninge op sigself is genoeg om ekstra gewig die nekslag toe te dien. Dit laat wel jou spiere vet verbrand vir energie en die kardiovaskulere voordele moet nie onderskat word nie, maar dit is nie genoeg nie.

Om werklik jou metabolisme te stimuleer, moet die groter spiere van die liggaam geoefen word – soos die rugspiere, die bors en die beenspiere.

Mens se metabolisme word stadiger met die ouderdom omdat 'n mens spiermassa verloor, maar dit is regtig nie moeilik om dit te verhoed nie.

As mens net twee dae per week met gewigte oefen vir ‘n halfuur, bo en behalwe mens se gewone oefenprogram, sal jy jou spiermassa behou en jou liggaam sal meer effektief vet verbrand.

Hoe meer spiermassa jy het, hoe meer effektief sal jou liggaam vet verbrand. Dit beteken nie dat ‘n mens ‘n liggaamsbouer moet word nie – dink maar net aan die tyd wat jy in die gimnasium spandeer as tyd wat jy daaraan spandeer om jouself gesonder te maak.

Fiksheidsmite no.2
“Maar dit is dan vetvry...”

Al werk jy hoe hard in die gim, sal daar geen resultate wees as jy nie ook aandag skenk aan jou dieet nie.

Deesdae het elke tweede produk die woorde “vetvry” op. Waarom word mense in die Westerse wereld dan vetter in plaas van maerder?

Die antwoord hierop is dat baie mense “vetvry” met kalorievry verwar en dit is eenvoudig nie die geval nie. Die obsessie met vetvry produkte is geneig om mense te mislei, want indien jy jou ooreet aan enigeiets, selfs vetvrye produkte, en jy verbrand nie die kaloriee nie, stoor jou liggaam die oortollige energie as vet.

‘n Studie gepubliseer deur die The American Journal of Clinical Nutrition het nuwe lig gewerp op die feit dat kaloriee wel tel – nie net vet nie. Die Joernaal het berig dat totale kalorie-inname die bepalende faktor was wanneer dit by gewigsverlies kom, nie die samestelling van die dieet nie.

Die woord “kalorie” verteenwoordig hitte en daarom energie. Proteine en koolhidrate bevat elk 4 kaloriee per gram en vet 9, wat beteken dat die energie meer gekonsentreerd is.

Elke voedingstof het ‘n verskillende chemiese struktuur en vervul ‘n verskillende funksie in die liggaam. Alle kossoorte bestaan uit koolstof, waterstof en suurstof, met proteine wat ook stikstof bevat.

So met ander woorde, ‘ kalorie energie bly ‘n kalorie energie, watookal die oorsprong.. Wanneer dit by gewigsverlies kom, moet die hoeveelheid voedselenergie wat ingeneem word, minder wees as dit wat verbruik word. Daar moet dus ‘n kalorietekort wees.

Dus, om op die bank rond te le en TV kyk, terwyl dit wel kaloriee verbrand, is nie ‘n goeie manier om van energie ontslae te raak nie.

Se dus vir jou vriende wat net gramme vet tel wanneer dit by hulle kosinname kom, om ook hulle koolhidraat-inname te begin tel, aangesien dit is waar die meeste mense oorboord gaan.

Die bak vetvrye graanvlokkies met vetvrye melk om nege-uur in die aand om die hongerpyne te stil bevat waarskynlik 300 – 600 kaloriee.

Mens moet leer om te dink aan energie, wanneer mens dink aan kaloriee.

Fiksheidsmite 3:
“Ek wil nie met gewigte oefen nie, want as ek ophou, gaan my spiere in vet verander”

Hierdie stelling kan fisiologies mos nie waar wees nie!

Spiere en vet is twee totaal verskillende weefsels in die liggaam en die een kan nie in die ander verander word nie. Dit is eenvoudig fisiologies onmoontlik. Dit is net so onmoontlik om jou fiets in ‘n motorfiets te verander.

Spiere bestaan uit klein veseltjies, wat slegs kleiner kan word, maar nie verdwyn nie. Selfs as jy, vir watter rede ookal, ophou oefen, kan die spiere weer opgebou word.

Baie studies bevestig dat dit baie makliker is vir mense, wat voorheen fiks was, om weer daardie toestand te bereik, as vir mense wat die eerste keer fiks word.

Dit is waarom vriende, wat voorheen fiks was, soveel makliker ‘n nuwe oefenprogram begin en volhou.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE