Share

Dís hoe Tim wil hê jy moet oefen

Prof. Tim Noakes se nuwe navorsing gaan opslae maak. Dit gaan die manier verander waarop sportsterre en -spanne hulle voorberei – en dit kan jóú op die sportveld help.
Deur MARI HUDSON vir Huisgenoot-POLS

Moegheid sit nie in jou spiere nie, al is dit wat wetenskaplikes jare lank glo. Dit sit in jou brein, sê prof. Tim Noakes.

Jou brein het baie groter beheer oor jou sportprestasies as wat wetenskaplikes en leke ooit besef het – en jy kán dus jou brein instel vir sukses.

Tim, hoof van die Instituut vir Sportwetenskap van SA in Nuweland, Kaapstad, en wêreldbekende ghoeroe op die gebied van sportwetenskap, het sy opspraakwekkende nuwe navorsingsdata onlangs die eerste keer in Suid-Afrika bekend gemaak.

Tim se stellings oor spieruitputting druis lynreg in teen bestaande wetenskaplike sienings dat 'n atleet se spiere moeg word omdat melksuur (laktaat) daarin opbou.

Hy het al minstens drie keer tevore sienings in die sportwetenskap op hul kop gekeer. Eers het hy bewys dat fiksheid jou nie immuun maak teen hartaanvalle nie, toe dat nekbeserings 'n groot probleem op alle vlakke van rugby in die land is en voorkom kan word. En derdens dat die Amerikaanse aanbevelings dat 'n marathonatleet 1,2 tot 1,8 liter water per uur moet drink, hopeloos te veel is en tot waterintoksikasie lei.

Elke keer was hy reg. Elke keer is sy bevindings eers bevraagteken en die boodskapper verguis, en elke keer is dit twintig jaar later wêreldwyd aanvaar.

Jare lank al glo wetenskaplikes dat 'n atleet of sportman se bene moeg word wanneer hy oefen of aan 'n wedloop deelneem omdat melksuur in sy spiere opbou. Hoe meer melksuur daar in die spiere is, hoe moeër raak die spiere, meen hulle. Maar hoe kan jou spiere moeg voel as jy net 40 persent van jou spiermassa aktiveer?

Dit was een van die sleutelvrae, en daar was nóg: Hoe kry moeë atlete dit reg om aan die einde van 'n wedloop vinniger te hardloop as hul spiere op hul moegste is? Hoekom is atlete ná 42km in die Comrades nie naastenby so moeg soos ná 'n marathon vyf weke vroeër nie?

Dit het gelei tot toetsing van marathonatlete. Die navorsing het bewys dat melksuur in jou spiere niks met die persepsie van moegheid te doen het nie.

"Moegheid is bloot 'n sensasie wat die brein bewimpel sodat jy jou nie ooreis nie. Die menslike brein is 'n briljante maar selfsugtige rekenaar wat by voorbaat optree om sy eie oorlewing op die maklikste manier moontlik te verseker," sê Tim.

Jou brein is in beheer van jou lyf. Hy neem al die seine waar – hoe warm of koud dit is, hoe uitgerus jy is, hoe fiks jy is, of jy fisiek korrek voorberei is, hoe ver jy al voorheen gedraf het, hoe ver jy beplan om nou te hardloop, of daar 'n smeulende kiem in jou lyf is, watter pyne jy het, jou gemoedstoestand, jou eie twyfel of geloof in jou vermoëns – en programmeer jou spiere daar en dan dat jy niks sal doen wat jou lyf in gevaar sal stel nie.

As jy dus onfiks is, sleg geslaap het of in kwaai hitte 90km wil aflê, gaan jou brein jou bene lam en moeg laat voel, want anders gaan jou hart dalk ingee. Die brein weet hy kan nie in 'n dooie liggaam leef nie.

Tim se studies het ook gewys dat amfetamien, 'n verbode opkikker wat prestasie verbeter, die brein se besluite heeltemal kan omverwerp sodat jy kan aanhou en aanhou oefen, hoe sleg dit ook al vir jou liggaam is. As jy jou brein – jou liggaam se beskermer – afskakel, kan jou liggaam dalk totaal ineenstort en kan jy sterf.

Die brein in sportprestasies
Die einste model verskaf ook die sleutel om die enorme krag van die brein in sportprestasies te ontsluit.

In baie gevalle is dit nie 'n fisieke faktor soos hitte, onfiksheid of 'n besering wat die brein laat reageer nie, maar jou eie twyfel of weifeling, sê Tim.

Die brein is nie net 'n fyn ingestelde rekenaar nie, maar ook 'n bloedhond wat selfvertwyfeling en aarseling op 'n myl kan ruik en onmiddellik daarop reageer. Die brein beskou twyfel as 'n sein dat die liggaam nie opgewasse is vir die taak nie. As jy voor die wedloop of wedstryd wonder of jy dit gaan maak, het jy klaar verloor. Jou bene gaan sommer van die wegspring af moeg begin voel, al is jy fiks.

As jy in jou diepste wese glo jy kan wen – nie vaagweg dink nie, maar werklik in jouself glo omdat jy fiks is, fisiek optimaal voorberei is en wéét jy kan dit doen – word daardie geloof in jou brein se rekenaar ingebou, wat dan jou lyf programmeer vir prestasie.

As jy jou oorwinning kan visualiseer en dit kan proe nog voor die wedloop of wedstryd begin, en jy berei jou voor met daardie wengedagtes ononderhandelbaar in jou kop, is die kanse baie goed dat jy op jou beste gaan presteer.

Dit is presies hoe die Bokke verlede jaar die Wêreldbeker gewen het, sê Tim. "Daardie beker is gewen nog voor die span na Frankryk vertrek het. Ons het saam met Jake White gewerk en ek het gesien hoe hy elke speler laat glo het dat die span die eindstryd gaan wen, en dat elke wedstryd 'n hekkie in die opmars na die beker is. Hy het hulle laat glo die enigste manier om oor elke hekkie te kom, is om elke keer tagtig minute lank honderd persent te fokus en honderd persent te gee, asof daar nooit weer 'n tweede kans is nie."

Daar is ook ander voorbeelde. Een daarvan is die Ikey-rugbyspan se goeie prestasies vroeër dié seisoen. Dié span was nie fisiek so sterk en vaardig soos die ander universiteitspanne nie en was heel laaste geloot vir die universiteite se klubrugbytoernooi in Maart. Maar met nuwe wendenke in hul kop het die Ikeys die eindronde gehaal.

"As twee fikse atlete deelneem, moet jy nie verbaas wees as die een wie se kop die beste op wen ingestel is, die een is wat wen nie, al is hy dalk nie eens fisiek honderd persent so sterk soos sy mededinger nie. Goeie fisieke voorbereiding is belangrik. Maar wat in jou kop aangaan, sal bepaal of jy wen of verloor, of jy deur 'n sielkundige grens kan bars of nie, of jy 'n medalje in jou hand gaan hou of nie, en of jy tevrede gaan glimlag," sê Tim.

Wetenskaplike opvattings verkeerd bewys
Drie keer het Tim bestaande wetenskaplike opvattings verkeerd bewys.

Die eerste vraagstuk het gegaan oor hartaanvalle by marathon-atlete. In 1974 het wetenskaplikes geglo marathonatlete is so fiks en gesond dat hulle heeltemal immuun is teen hartaanvalle terwyl hulle draf. In 1976 staan 'n dapper 26-jarige Tim voor 'n groot mediese gehoor in New York en haal sy navorsing aan wat een van Amerika se mees gesiene sportwetenskaplikes verkeerd bewys. Teen 1979 aanvaar die wêreld al die bewyse wat die jong Noakes voorgelê het.

Om fiks te wees kan jou hartgesondheid baie verbeter, maar dit kan nie 'n onderliggende hartsiekte soos 'n wondermiddel regdokter nie.

Die tweede vraagstuk was oor nekbeserings in rugby. Dis 1980 en die WP-heelagter Chris Burger breek sy nek in die Bloemfontein-stadion. Volgens Tim skort daar iets, want Burger was nie teen 'n sportbesering verseker nie en hy is nie behoorlik op die veld behandel nie. Hy is ná 'n lang gesukkel van die veld afgedra, want daar was geen draagbaar in sig nie. Boonop kon die ongeluk voorkom gewees het. Dr. Danie Craven hou vol dat Tim oordryf.

Maar nekbeserings in rugby neem toe. Die eerste studie in sy soort oor skolerugby-beserings die volgende jaar bewys dat die beserings baie ernstiger is as wat rugbybase wil erken. In 1991 erken Dok Craven dat Tim reg was oor die voorkoming van nekbeserings. Reëls is nou verander, die spel is veiliger, daar is groter bewustheid en erkenning van die gevaar, en noodbehandeling by die veld is beter.

Die derde vraagstuk het te make gehad met die feit dat Comrades-atlete hopeloos te veel water drink. Toe verskeie Comrades-atlete in 1981 ineenstort van naarheid en braking, het almal gedink dis weens ontwatering. Nee, sê Tim, die drawwers het waterintoksikasie omdat hulle te veel water gedrink het.

Sy nuwe aanbevelings is geleidelik in Suid-Afrika toegepas en geen ernstige gevalle van waterintoksikasie is sedert 1991 by die Comrades en ander lang wedlope aangemeld nie. Maar in Amerika wou hulle dit nie glo nie.

Eers toe 'n onverskoonbare 13 pesent van alle deelnemers aan 2000 se Boston-marathon waterintoksikasie opgedoen het, het die een Amerikaanse stadmarathon ná die ander Noakes se waterdrink-aanbevelings aanvaar. Teen 2005 (byna 25 jaar later) is wêreldkonsensus bereik. Nou is sy aanbevelings oor voginname – drink wanneer jy dors is – 'n internasionale norm vir marathonne oor die wêreld heen.

Hoe Tim dit doen
Hoe werk die kop van die man wat sport wetenskaplikes telkens laat regop sit?

Tim het letterlik al honderde navorsingsartikels wetenskapsonthalwe geskryf. Maar Lore of Running, 'n onmisbare gids vir drawwers, het hy vir sy pa geskryf. Dit was sodat sy streng pa uiteindelik sou kon verstaan hoekom hy dit geniet om te draf. Hoe lekker dit sy lyf en veral sy kop laat voel, hoe hy sy gedagtes kan orden, hoe hy sy duiwels kan besweer en sy hart vredig kan kry, of soms net bewus kan wees van die ritme van sy eie voetval en asemhaling.

Dis hoekom die drafgogga hom as twintigjarige mediese student gebyt het en hoekom hy ná sewe Comrades-marathonne (90km) en sewentig marathonne (42km of meer) op 59 steeds drie tot vier keer per week 'n uur lank draf. Sy rustende polsspoed is steeds 'n gesonde 58 slae per minuut.

"Ek wou die vreugde en vrede wat draf my gegee het, met hom deel," vertel Tim.

Sy pa, 'n man wat onmiddellik resultate wou sien, kon nooit verstaan waarom die seun op sy eie draf nie – en dit boonop vir 'n wedloop wat weke en maande in die verskiet is. En dié seun was net 'n teruggetrokke denker wat begrip van 'n ouer gesoek het.

Tim is in 1949 in Harare, Zimbabwe, gebore, en was vyf toe die gesin na Suid-Afrika verhuis het. Op sewe is hy kosskool toe om 'n Bishops-boykie te word. Die klein, skaam seuntjie het die weggaan van sy ouerhuis ervaar as 'n wegskeur van sy ma.

"'n Mens maak nie 'n kind sterk deur hom te verlaat nie. 'n Mens maak 'n kind sterk deur hom te laat voel dat jy hom liefhet en hom te vertroetel. Ek het net nog skamer en stiller geword," sê Tim.

Daardie gevoel van verlatenheid en melancholie op 'n Sondag-laatmiddag in die kosskoolkamer het hom nog baie lank agtervolg.

"Gelukkig het ek my vrou, Marilyn, ontmoet toe ek nog jonk genoeg was om te kon leer om met my emosies om te gaan. Ek was sewentien en sy vyftien, en ons het gekliek. Ek het veilig en sterk gevoel by haar, en ek kon myself wees. Dis vandag nog so."

Aansteeklike passie vir die lewe
Marilyn is 'n botaniese kunstenaar en geesdriftige tuinier.

"Tim se passie vir die lewe en energie is aansteeklik. Maar dis omdat hy so skaam maar vriendelik was, dat hy my oorrompel het. Hy het dieselfde breë Afrika-glimlag as die vriendelik Shona-man wat in sy kleuterjare by die gesin in Harare gewerk het. Ek dink die beeld van daardie glimlag het hom bygebly," vertel Marilyn in hul mooi groot tuin.

Hulle stap elke naweek lekker lang ente saam. Kirstenbosch is een van hul spesiale stapplekke. "Dis waar ek haar gevra het om met my te trou toe ek 'n student was," sê hy skamerig.

In sy ruim kantoor in Nuweland is baie foto's en aandenkings – soos die foto wat die aand van die Laureus-toekennings in 2002 in Monaco geneem is. Dis een van die menige toekennings wat hy ontvang het ter erkenning van sy grensverskuiwende navorsingswerk.

Hy is duidelik trots op sy kinders en het 'n spesiale band met albei. Hy draf soggens saam met Candice (32) en hulle het in 2006 saam deelgeneem aan die Chicago-marathon, die laaste marathon wat hy gehardloop het. Travis (35) is weer 'n karatepresteerder.

Van hul pa, sê Travis en Candice, staan een kenmerk uit: hy het raad gegee, maar hulle hul eie besluite laat neem. En hulle weet hy is altyd daar vir hulle.

Tim Noakes lees en luister baie. Hy lees oor sportwetenskap en -afrigting en vroeëre mediese deurbrake, asof hy in die koppe van die ontdekkers wil klim wat die verband tussen oorsaak en gevolg gevind het. Hy en sy vrou sit ure om en lees, vertel hy. En op lang vlugte na kongresse luister hy na opnames – op 'n vlug na Dublin was dit Winston Churchill se toesprake wat hom geboei het. "Moontlik omdat my ma baie oor die Britse geskiedenis gesels het."

En hy is gedurig aan die dink. In die nag, in die dag, terwyl hy draf – dis hoe hy dinge uitpluis.

Hy het al rustiger geword met die jare, maar daar was 'n tyd toe dit hom mateloos gefrustreer het dat sy pleidooie, wat op wetenskaplike bevindings gegrond was, jare lank op dowe ore geval het voordat daaraan gehoor gegee is.

"Hoe baie nek- en ander ernstige rugbybeserings kon nie al jare gelede voorkom gewees het nie!" sê hy.

Ons hoop sportmanne en -vroue sal nie so lank hoef te wag voor hulle voordeel trek uit sy jongste bevindings nie.

Belangrikste lesse in sy lewe

  1. Wees altyd eerlik teenoor jouself en in wat jy doen, want jy moet met jou gewete kan saamleef.
  2. Moet niks halfhartig doen nie – of dit in 'n verhouding is, in sport of in jou werk. Pak elke ding voluit aan asof daar geen tweede kans is om alles te gee nie. Gee van die begin af jou beste, en nie asof jy eers later of in die volgende wedstryd jou gaan laat geld nie.
  3. Dink al in jou jeugjare waar jy wil wees wanneer jy vyftig is. Sien dit voor jou geestesoog en werk dan die stappe uit wat jy moet doen om jou droom te verwesenlik. En dan begin werk jy stap vir stap om daar uit te kom.
  4. Leer om die regte vrae te vra. Dit bring die antwoorde wat jy soek.
  5. Elke mens het 'n geesgenoot nodig. Doen moeite met dié spesiale mens as jy jou sielsmaat vind.
  6. Vind in jou lewe 'n doel wat groter as jy is. Dit gee jou lewe sin.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Lees meer in ons Fiksheidsafdeling

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE