Share

Die oefen-mite

Oefening verg tyd en moeite. En kom ons wees eerlik: die meeste van ons sal veel eerder vroegoggend 'n bietjie dieper onder die donskombers inkruip as om op 'n fiets te spring en om die blok te gaan ry.

Dís waarskynlik hoekom 'n onlangse artikel op TIME.com, getiteld "Why exercise won't make you thin", soveel aandag trek. Die wêreldwye kollektiewe sug van verligting is byna hoorbaar. Nou kan ons ontspan in die wete dat oefening nie veel van 'n doel dien nie.

Vandat ek die artikel gelees het, voel ek byvoorbeeld heelwat minder skuldig oor my afwesigheid in die gimnasium.

John Cloud van TIME.com maak 'n paar noemenswaardige stellings. Hy noem dat meer Amerikaners nou aan oefeningklubs behoort as ooit tevore (natuurlik is daar diegene wat aansluit en nooit opdaag nie) en tog is vetsug en oorgewig 'n groeiende probleem in die VSA.

Waarom die paradoks?
Cloud se argument word gegrond op iets wat almal van ons instinktief weet: oefening maak 'n mens honger, en hoe strawwer jy oefen, hoe hongerder raak jy. Jy't moontlik self al na 'n stewige bier en burger gesmag ná 'n voetslaansessie of 'n fietstoer.

Hierdie situasie sou nie 'n probleem gewees het indien ons daartoe in staat was om 'n negatiewe energiebalans te handhaaf nie, waar kilojoules wat ons deur oefening en basiese metaboliese prosesse verbrand dít wat ons deur kos inneem oorskry.

Maar omdat ons so honger is ná ons hard geoefen het, en moontlik omdat ons voel ons kan onsself vir ons "harde werk" beloon, is ons geneig om te veel te eet. Dít maak dat ons enige moontlike voordele ten opsigte van gewigsverlies uitskakel en kan selfs gewigstoename veroorsaak. "Oefening," skryf Cloud, "help ons nie noodwendig om gewig te verloor nie. Dit mag dit dalk selfs vir ons moeiliker maak."

My belangstelling was dadelik geprikkel toe ek die eerste keer die artikel gelees het. Vir 'n paar dae lank het ek selfs probeer om minder te oefen (en minder te eet). Maar ná 'n ruk het ek besluit dat dít wat in die artikel geskryf staan nonsens is. Dekades se navorsing het mos getoon dat oefening ons help om gewig te verloor, of hoe? En waarom op dees aarde het ek dan die laaste paar jaar soveel geld op 'n gimnasiumlidmaatskap en ander oefenprogramme bestee?

By nadere ondersoek het ek egter besef dat die Time.com-skrywer nie die kluts kwyt is nie. 'n Onlangse Cochrane-oorsig, wat as die goue standaard van sistemiese navorsing beskou word, bevestig Cloud se stellings. Dié oorsig van 43 studies toon dat oefening slegs tot klein gewigsverliese lei. Die navorsers meld dat studies wat gewigsverlies deur oefening ondersoek het, sover maar teleurstellende resultate opgelewer het.

In 'n meta-analise van 28 studies, wat in die oorsig ingesluit is, het navorsers tot die slotsom gekom dat oefening ons bloot help om tussen 2 en 7kg te verloor indien ons nie terselfdertyd ook dieetaanpassings maak nie.

Is oefening vir die voëls?
Die gevolgtrekking is dat ons méér moet konsentreer op wat ons eet, en minder op hoe ons oefen, indien ons die vetrolletjies in toom wil hou. Dit lyk dus of ons dekades lank heeltemal té optimisties oor die gewigsverliesvoordele van oefening was. Maar beteken dít dat strawwe oefening geensins help om byvoorbeeld 'n bierpens af te skud nie?

Nee: die Cochrane-navorsers sê dat oefening, gekombineer met 'n gebalanseerde dieet, steeds meer effektief is as om nét reg te eet. 'n Kombinasie van oefening en dieet is dus steeds die beste manier om sentimeters te verloor.

Cloud noem dat ons deur die loop van die dag meer moet beweeg, en dat strawwe oefensessies nie noodwendig goed is nie, omdat dit kan maak dat al die verkeerde goed ná die tyd ons monde laat water.

Die probleem is egter dat kantoorwerkers dikwels nie veel kans kry om aan die beweeg te bly nie. Ek glo steeds dat 'n uur of twee se strawwe oefening in dié geval die oplossing is. Die sleutel is egter om mooi te let op dít wat jy ná jou oefensessie eet.

'n Lang lys van voordele
Selfs al is oefening opsigself nie die oplossing tot dramatiese gewigsverlies nie, is dit iets waarsonder ons nie kan oorleef nie. Cloud skryf dat oefening ons risiko vir hartsiektes, kanker en diabetes verlaag. Maar die lys van voordele is heelwat langer.

Een van die belangrikste redes waarom ons almal elke dag minstens 'n halfuur lank ons asems moet laat jaag, is dat dit ons geestelik gesond hou. Sielkundiges en psigiaters stem saam dat oefening een van die heel belangrikste stappe is wat ons kan doen om stres, angs en depressie te verlig. Glo my wanneer ek sê dat 'n minder gespanne wêreld ook slanker sal wees. En moenie vergeet dat fiksheid die sleutel tot beter seks, meer energie en 'n meer gedefinieerde lyf is nie.

Moet dus vir eers nie jou gimnasiumkaart weggooi nie. Maar oorweeg dit tóg om jou siening oor oefening te verander: oefen liewer vir jou hart, jou kop en jou ander organe as om bloot deur die vooruitsig van jou lyf in 'n bikini gemotiveer te word.

(Carine Visagie, Redakteur: Dieet en Kos, Health24, Augustus 2009)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE