Share

Bobbejaan klim die hoë berg

Om hoë berge soos Everest en Kilimandjaro te klim is letterlik en figuurlik ’n hoogtepunt. Maar wat gebeur al die pad boontoe met jou liggaam?
Deur Marié Joubert, Health24

Op 4 000 m is die son se skadelike ultraviolet-strale 15 persent sterker as op seevlak. Sneeu en wolke maak dit erger, wat tot rooi en geswelde oë kan lei. Bergklimmers moet die regte oogbeskerming dra om skade aan die kornea en sneeublindheid te voorkom.

Brein Vanaf 2 400 m is akute bergklimsiekte ’n gevaar, en dié opeenhoping van vloeistowwe in die brein en longe kan dodelik wees. Klimmers kan begin yl en ál vlakker en vinniger asemhaal. Verblindende hoofpyn en naarheid is ook gevaartekens. Met dié simptome moet jy dadelik van die berg afkom!

Longe Hoe hoër jy klim, hoe minder suurstof is daar. Klimmers begin vinniger en vlakker asemhaal ten einde genoeg suurstof te kry. Op sowat 7 000 m bo seevlak het jy ’n suurstofsilinder nodig.

<> Die eerste teken van matige vriesbrand is wit kolle op jou vel. Dit tref gewoonlik eerste die neus, vingers en tone. In gevalle van ernstige vriesbrand word die selweefsel vernietig, sodat dit swart verkleur en afval. Klimmers druk gewoonlik koue vingers in hul armholtes om dit weer warm te maak.

Bloed Bergklimmers moet minstens 3 tot 4 liter water per dag drink om hul bloed dun te hou. Dis omdat die liggaam teen sowat 2 500 m bo seespieël meer rooibloedselle vervaardig om meer suurstof te kan vervoer. Dit kan bloedklonte veroorsaak as die klimmer nie genoeg vloeistof drink nie. Die tekort aan suurstof kan ook ’n mens se bloeddruk en hartklop laat styg.

Liggaamshitte Wees op jou hoede vir verkluiming – hipotermie kan binne dertig minute jou lewe kos. Normale liggaamstemperatuur is sowat 37 grade C, maar sodra dit na 35 grade C daal, sal jy begin bewe en duiselig en verward voel. Teen 30 grade C sal jou hartklop stadig wees, maar jy sal warm kry en jou klere wil uittrek – ’n noodlottige besluit. Dra windbestande klere teen die yswinde.

<>
Dié bergklimmerkwaal kan net so gevaarlik soos die verraderlike hange wees. Die beste raad is om baie water te drink en stadig boontoe te klim, maar dié middels kan ook help: ’n Asetasolamiedtablet (Diamox) kan voorkomend geneem word. Dit sal die hersteltydperk met tussen twaalf en 24 uur verkort, maar jy sal ook meer dikwels ’n draai moet gaan loop.
Pynstillers (soos parasetamol of ibuprofeen) help vir weefsel wat swel, maar ’n mengsel van aspirien en Diamox kan dodelike bloedveranderings veroorsaak.
Kortisoon (soos deksametasoon) het ’n sterk anti-inflammatoriese uitwerking wat help om weefselskade asook brein- en longswelling te verminder. Maar kortisoon- steroïede word net onder mediese toesig binneaars toegedien.
As jy dit reg hanteer, is gewone bergklimsiekte gewoonlik ná 48 uur verby en behels dit niks erger as ’n ligte hoofpyn, ’n swakker eetlus en tintelende hande en voete nie.

Eet soos ’n wolf Om meer liggaamshitte te vervaardig, eet bergklimmers hoë-energiekos soos hawermout, grondboontjiebotter, sjokolade en pasta. Knoffel verdun die bloed en help dat hulle akklimatiseer.

Kop in die Wolke
Die Tibettane noem Everest ‘die hemel se kop’. Maar hoe hoog is 8 000 m? Ons plaas dit ’n bietjie in perspektief
1 086 m Die kruin van Tafelberg.
1 800 m Begin van die Kilimandjaro-klimtog.
2 500 m Hoogte van Machu Picchu (2 490 m) in Suid-Amerika. Teen dié hoogte skop bergklimsiekte en hiperventilasie in. Bergklimsiekte kan reeds op 2 000 m begin as ’n mens nie stadig klim nie.
3 000 m Met 3 234 m is Monk’s Cowl die hoogste punt in die Drakensberge. 4 000 m Altesaam 82 spitse van die Europese Alpe is so hoog en hoër.
5 000 m Die hoogste berg in Antarktika, die Massif, is 4 897 m hoog.
6 000 m Teen 5 895 m bo seespieël sal jy op Kilimandjaro se kruin wees.
7 000 m Dit word die “doodsone” genoem omdat slegs ’n derde van die suurstof wat ’n mens op seevlak kry, hier beskikbaar is. Kamp C3 op Everest lê op dié hoogte. Hier is ekstra suurstof broodnodig en ’n mens gebruik gemiddeld 2 liter suurstof per minuut uit ’n suurstofsilinder.
8 000 m Everest se kruin: 8 850 m. Hier kan die temperatuur sommer tot -38 °C daal.

First aid for hypothermia

Help for climber’s headache

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE