Share

Bloedsweet by boot camp

Jy dink dadelik aan G.I. Jane, daardie fliek waarin Demi Moore as soldaat probeer bewys sy is net so goed soos enige man. Jy sien sommer klaar beelde van ’n militaristiese oefenkamp waar die instrukteur bulder dat jy laat slaplê en dat jy NOU! DADELIK! nog honderd opstote vir jou straf moet doen.

Maar wag nou eers, soms is dinge nie soos dit klink nie . . .

Op ’n reënerige Donderdagoggend gaan loer ek douvoordag in by een van Adventure Boot Camp se sessies in die George Lea-park in Sandton. Die druppels hang nog swaar aan die dennebome om die sokkerveld en die gras is deurweek.

Glimlag op die gesig

Dis nie die ideaalste omstandighede vir oefening buite nie. Maar die 25 flukse vroue wat vanoggend hier is vir nog ’n sessie het elkeen ’n glimlag op die gesig.

En die instrukteur, Genevieve van der  Vyfer, groet vriendelik voor sy in ’n heel normale stem verduidelik almal moet eers rustig halfpad om die baan stap en dan na ’n dra?ie oorslaan.

Terug by die beginpunt – sommige van die vroue is klaar uitasem en ander nog fris en vars – word daar eers gestrek, en dan begin die strawwe oefening: hurksitte, skêrspronge, opstote, opsitte en nog wat, met of sonder gewigte. ’n Paar vroue gee tydelik moed op toe hul spiere te veel begin brand, maar na ’n paar slukke water val hulle weer moedig in. En Genevieve laat hulle geduldig begaan.

Namate die uur lange sessie einde se kant toe staan, hardloop almal weer om die veld voordat hulle op hul oefenmatte neersak vir joga-oefeninge, ’n hele paar gesigte bloedrooi van die inspanning.

En terwyl hulle uitgestrek daar lê, steek die son vir die eerste keer sy kop bokant die bome uit. Reëndruppels glinster en ’n groep hadidas wat daar naby wei, groet die dag met hul roep.

Die weermag was nooit so lekker nie . . .

Boot camp is ’n oefentegniek wat in die Amerikaanse vloot ontstaan het om rekrute fiks te maak. Dit word steeds daar gebruik, soos ook in talle ander weermagte, en is gewoonlik ’n kort, intensiewe oefenprogram wat deur ’n baie streng offisier aangebied word. Maar dit is ook deesdae ’n baie gewilde oefenroetine wat al hoe sterker onder stadsjapies posvat, en ’n gewilde alternatief vir jou gewone gim-roetine. En vir die luies is die lekkerste van alles dat jy nie oneindig daarmee hoef vol te hou nie – tensy jy natuurlik wil.

Wat presies behels dit?

Daar is ’n verskeidenheid boot camps landwyd met verskillende benaderings, maar gewoonlik duur ’n boot camp vier weke. Dis ’n vinnige manier van fiks word, en as jy ’n gesonde dieet volg ook ’n vinnige manier om die vetjies af te skud.

Maar die instrukteurs is dit almal eens dat boot camp nie eintlik ’n kitsoplossing vir oorgewig en onfikse mense is nie; hulle beveel aan dat jy liewer gereeld ’n boot camp bywoon en dit deel van ’n gesonde leefstyl maak.

Adventure Boot Camp, die grootste organisasie met takke dwarsoor die land in parke en sportkomplekse, verwag dat jy minstens drie sessies per week bywoon, maar jy kan ook kies om vyf dae van die week te oefen.

Die sessies is gewoonlik ’n uur lank en jy kan soggens voor werk of saans ná werk oefen. Sommige takke bied nou ook laatoggendklasse aan.

Ander organisasies, soos Boot Camp SA in Fourways, Johannesburg, en British Military Fitness met takke in Kaapstad en Johannesburg, het saans en Saterdagoggende klasse.

Elke sessie sluit in oefeninge wat jou hart vinniger laat klop, kragoefeninge soos gewigoptel, en joga of selfs Pilates. Baie oefeninge word in een sessie ingepas en jy kan maar weet jou tong sal uithang en jou spiere gaan brand.

Is die instrukteurs regtig sersant-majoors?

By Adventure Boot Camp is die instrukteurs vriendelik en toegeeflik, maar ander Suid-Afrikaanse boot camps hou by die tradisionele manier van doen.

Een so ’n kamp is Commando Boot Camp in Seepunt, Kaapstad, en Boot Camp SA. Tog sê Alistair Cronk, ’n instrukteur by laasgenoemde, alles verloop op ’n ligte trant en dis nie doodsake as iemand nie al die oefeninge kan doen nie. “Ons baseer dit op die militêre styl en ja, ons skree bevele, maar ons sal jou nie vloek of beledig nie.”

Op British Military Fitness se webblad lyk dit darem asof hul instrukteurs genadig kan wees – daar is byvoorbeeld ’n foto waarop ’n instrukteur langs ’n moedelose siel hurk en hom aanmoedig om nog net een opstoot te doen. As jy dus baie motivering nodig het, is sulke boot camps ideaal vir jou.

Maar hoe weet jy die instrukteur is opgelei vir die taak?

“Verkieslik moet instrukteurs formeel opgelei wees om oefeninge voor te skryf – mense soos sportwetenskaplikes of biokinetici,” sê Kathleen McQuaide-Little van die Instituut vir Sportwetenskap in Kaapstad. “So kan jy doodseker wees hulle het dieptekennis en is nie net in staat om gesonde mense af te rig nie, maar ook mense met mediese probleme, beserings of die een of ander risikofaktor.”

Boot Camp SA se instrukteurs het almal ’n sportagtergrond, sé Alistair. Aansoekers moet self die hoogste oefenvlak by Boot Camp SA bereik voordat Alistair dit sal oorweeg om hulle as instrukteurs op te lei. Hul oefenprogram is deur onder meer ’n gegradueerde in menslike bewegingskunde uitgewerk.

Adventure Boot Camp en Commando Boot Camp se instrukteurs was almal voorheen persoonlike afrigters met ondervinding in die afrigting van groepe.

Wie mag aan boot camps deelneem?

Adventure Boot Camp laat net vroue toe, maar Boot Camp SA, British Military Fitness en Commando Boot Camp laat mans en vroue saam oefen. Deelnemers moet 15 of ouer wees.

Swanger vroue of enigeen Wat ’n hoërisikogeval is soos kettingrokers word nie by Adventure Boot Camp toegelaat nie. Mense met hoë bloeddruk of wat baie oorgewig is moet ’n dokter raadpleeg voor hulle deelneem, sê Kathleen.

Hoe groot is die groepe?

Een van die nadele van boot camps, meen Kathleen, is dat die groepe, waarvan sommige uit 45 mense bestaan, te groot is.

Michelle Pieters van Johannesburg het ’n boot camp in ’n groep van 40 voltooi en dit geniet, maar sê die instrukteur kon nie altyd by almal uitkom nie. “Sommige vroue het die oefeninge gevolglik heeltemal verkeerd gedoen,” sê sy.

By die meeste boot camps rus die onus op deelnemers om te sorg dat hulle hul nie beseer nie.

“Dan is daar altyd die kwessie van beginners wat probeer byhou by die fikser deelnemers en nie na hul liggame luister nie,” sê Kathleen.

Maar Alistair-hulle het die probleem opgelos deur verskillende range in elke oefengroep te skep. Deelnemers dra verskillende kleure hemde om re wys of hulle beginners of ervare deelnemers is.

“In die eerste twee range hou ons jou met ’n valkoog dop en leer jou die regte tegnieke,” verduidelik hy.

British Military Fitness volg dieselfde benadering.

Hoeveel kos dit?

Die koste vir vier Weke Wissel van R350 tot R650 en hang af van waar die plek geleë is en hoeveel klasse jy per week bywoon. Dit is heelwat meer as vir gimlidmaatskap, en aansienlik minder as vir ’n persoonlike afrigter.

Wat is die voordele en nadele vir my?

Een van die eerste voordele wat boot camp-gangers noem, is die kameraderie.

“Ek is dol op boot camp omdat dit nie so mededingend is nie,” sê Carla Murray, ’n gr. 11-leerling aan die Rhenish-meisieskool op Stellenbosch. “Ek voel gemaklik omdat net vroue by die kamp toegelaat word. Ek wil dit van nou af elke maand doen.”

Pauline Skillington (27) van Kaapstad hou daarvan dat ’n instrukteur haar dril, pleks daarvan dat sy haarself aan die gang moet hou, en sy voel die oefeninge ontwikkel jou spiere sowel as jou kardiovaskulêre vermoë.

Cindi Harding (47) van Kaapstad, wat nou al haar 43ste kamp voltooi het, verkies boot camps be die gimnasium omdat sy lief is vir die buitelug. “Ek is mal daaroor om in die buitelug te oefen – dit is so mooi in Kirstenbosch tussen ses- en seweuur in die oggend,” sê sy.

Maar sy waarsku ook dat jy afhanklik raak van ’n instrukteur, en as dit jou nie pas nie moet jy eerder ’n nuwe vaardigheid soos fietsry of swem aanleer.

Oor aansprake dat jy tot 5 persent van jou liggaamsvet, 6 kg en 9 cm om jou middellyf met een boot camp kan verloor, sê Kathleen dat jy net dié resultate sal verkry as jy terselfdertyd ’n streng kilojoulebeperkende dieet volg. Sy meen ’n mens moet liewer op die positiewe aspekte van oefening fokus, soos die verligting van werkspanning, aangesien jy maklik moed kan verloor as jy nie dadelik die verwagte resultate kry nie.

Bronne: www.adventurebootcamp.co.za; www.britmilfit.co.za; www.bootcamp-sa.co.za; http://www.commandobootcamp.co.za

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE