advertisement
Updated 06 May 2016

Verloor 2,5 kg binne 10 dae met die 10-Dag Eetplan

Dieetkundiges Irene Labuschagne en Celeste Naudé het saamgespan om jou 'n eetplan te bring wat jou binne 10 dae tussen 1,5 en 2,5kg kan laat afskud.

0

Verloor tot en met 2,5kg binne 10 dae … En doen dan so voort.

As die volgende stellings jou soos ‘n handskoen pas (terwyl jou klere 'n raps te styf span), het Sarie die oplossing vir jou:

  • Jy wil hierdie somer in jou baaibroek op die strand sit, sonder om onder ‘n groot sambreel, groot handdoek of minstens agter ‘n groot sonbril te skuil.
  • Jy wil gewig verloor, maar wil dit op die regte en gesonde manier doen, maar weet jy sal meer moed skep as jy net aan die begin vinniger ‘n kilo of wat kan afskud.
  • Jy wil nie te veel dink oor wat jy moet eet nie. Alles moes sommer duidelik vir jou uitgespel word.
  • Jy wil dan jou lentelyf hou deur die somer, verby volgende winter, en die een daarna en daarna…

Jy hoef nie verder te soek nie.

Health24.com het met dieetkundiges Irene Labuschagne en Celeste Naudé van die Voedingsinligtingsentrum van die Universiteit van Stellenbosch (NICUS) saamgespan om jou ‘n eetplan, maaltyd vir maaltyd en byna kriesel vir kriesel te bring wat jou binne tien dae tussen 1,5 en 2,5kg kan laat afskud. Dis gesond en gebalanseerd en so uitgewerk dat dit jou energiek sal laat voel al eet jy effe anders.

Daar is meer. Die tiendagplan is net die begin. Die dieetkundiges wys in Deel 2 presies hoe om met jou dieet voort te gaan sodat jy voortgaan om geleidelik gewig te verloor.

Maar vir eers gaan hierdie splinternuwe tiendag-eetplan jou help om net ‘n raps vinniger uit die wegspringblokke te kom. Die twee eetplanne saam sal jou beslis laat gewig verloor. Dit is boonop goed vir jou hartgesondeid en hou ook baie ander gesondheidsvoordele in.

Dan kan gesonde eetgewoontes ook help om veroudering te vertraag, sê prof. Ronald Pero, DNA-navorser van die Lund Universiteit in Swede.

Hoe kan wat jy eet die verouderingsproses vertraag?

Volgens prof. Pero dui al meer studies daarop dat wat jy eet en hoe jy lewe wel ‘n invloed kan hê op jou verouderingsproses. As jy reg en gesond eet, kan jy langer jonk bly en voel, sê hy.

Dit werk só:

  • Buiten die gewone dinge soos dat minder vetterige kosse jou bloedvate langer gesond hou, blyk dit dat sommige kosse bydra om ‘n inflammatoriese reaksie in selle te verminder. Al meer siektes – selfs hartsiektes, Alzheimersiekte, artritis, diabetes en nog ‘n magdom ander siektes wat meer onder ouer mense voorkom – word nou verbind met inflammatoriese prosesse in die liggaam se selle. Voortdurende laegraadse inflammasie lei tot selskade, siektes en veroudering. As mens hierdie prosesse kan verminder, kan die liggaamselle en die mens langer gesond bly.
  • Dit blyk dat groente, vrugte en neute, vis met donker vleis soos sardyne, tuna en salm (wat baie omega-3-vette bevat), volgraan- en saadbrode, ruveselkosse soos growwe hawermout en kosse wat eerder gesonder olies soos kanola-, olyf-, amandel- of avokado-olie bevat, die selle langer jonk en gesond hou. Kosse wat baie verfynde koolhidrate – soos wit brood en wit rys – kosse met baie dierevette, kosse wat in baie vet gebraai is of baie versteekte vet bevat soos byvoorbeeld muffins en slaptjips en kosse met baie suiker, soos soet vrugtesappe en lekkers, die inflammatoriese prosesse aanskakel.
  • Voorts blyk dit dat as mens ‘n gebalanseerde dieet volg en genoeg vrugte en groente eet, jy antioksidante in net die regte kombinasies inkry om jou liggaamselle gesond en sterk te hou.

Meer oor die tiendag-eetplan:

Dis uitgewerk vir vroue wat of onaktief of matig aktief is. As jy dus ook begin om net 20 – 30 minute elke dag te stap – selfs teen ‘n pas waaartydens jy nog met jou stapmaat kan gesels, het jy ‘n goeie kans om jou doelwit te bereik, en om nie weer gewig op te tel nie.

Die eetplan het baie onverfynde koolhidrate en vesel (ongeveer 25g per dag), minder vet as wat die gemiddelde Suid-Afrikaner gewoonlik eet, maar steeds genoeg, en genoeg proteïene. Dit sluit vyf of meer porsies vrugte en groente en twee tot drie porsies vetvrye suiwel in. Die eetplan is ontwikkel om ‘n gewigsverlies van 1,5 tot 2,5kg oor 10 dae te bewerkstellig. “Ons beveel aan dat mense minstens vier glase skoon, veilige water per dag drink bo en behalwe die vloeistof in die eetplan,” sê Irene.

Opsomming van die eetplan:

Gemiddelde voedingsamestelling van die eetplan oor 10 dae:

Energie (kJ)KoolhidrateProteïeneVetVitamiene en minerale
5000 kJ140 gram70 gram30 gram± 60 - 150% van die aanbevole dieettoelatings

Belangrike verklarende riglyne vir gebruik saam met die eetplan:

  • t = teelepel; k = koppie (200 - 250ml)
  • Gebruik die medium-grote brood (nie die heel grote nie) met dun winkelsnye.
  • 1 glas vloeistof = 1 glas water / dieetkoeldrank / swart rooibostee/kruietee – sonder suiker of met kunsmatige versoeter
  • 30g kaas = 5 dun snye / vuurhoutjieboksie-grote
  • Medium-vet kaas = enige verminderde-vet kaas (lees etiket)
  • Alle disse moet sonder bygevoegde olies/vette/suiker voorberei word, tensy anders aangedui
  • Gebruik kunsmatige versoeter vir tee en pap, indien so verkies.
  • Jogurt = vetvry en ongegeur of kunsmatig-versoete vrugtejogurt
  • Mengelslaai kan gegeur word met 'n bietjie balsamiese asyn of suurlemoensap.
  • Tee of koffie: sonder suiker of met kunsmatige versoeter en ¼ k (±40ml) vetvrye melk
  • 1 sny volgraanbrood kan vervang word met 3 volgraan-kraakbeskuitjies, na willekeur.
  • Ontbyt: 2 snye volgraan-roosterbrood met kaas kan vervang word met 1 k volgraan-ontbytvlokkies met ½ – 1k vetvrye melk, na willekeur.  

 
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.