advertisement
Question
Posted by: Suzanne | 2008/08/18

Vraag 644

Ek is baie jammer dat ek so lastig is, maar u is werklik van baie groot hulp.

Aangesien ek tans probeer gewig verloor, lees ek elke item se voedingswaarde inligting wanneer ek dit koop. Dit is hoekom ek nie so lekker die Maltabella KJ inhoud verstaan nie. Volgens die sahealthinfo webwerf bevat 100g gekookte pap sowat 178KJ. Op die Maltabella houer staan egter die volgende voedingswaarde inligting:
Per 100g is dit 1448KJ
Per 30g is dit 434KJ

Ek gebruik ongeveer 60ml (30g) rou pap om vir my ' n porsie gaar pap van 125ml/100g te maak. Ek gebruik water om dit te maak. Beteken dit dat ek 434KJ inneem? Hoekom sê  sahealthinfo dan dat die KJ waarde 178 is?

Sal dit dieselfde geval met gekookte Oats ook wees?

Ek begin nou wonder of ek enigsins die voedingswaarde wat op produkte aangedui word, reg interpreteer.

Kan u my asseblief help hiermee?

Not what you were looking for? Try searching again, or ask your own question
Our expert says:
Expert ImageDietDoc

Beste Suzanne
Hierdie is weereens 'n kwessie van die waterinhoud van die produk wat jy gaan eet. Gaar Maltabella pap met 'n waterinhoud van 89.4% (89.4g/100g) (m.a.w. 'n slap pap), bevat 178 kJ per 100g. Rou Maltabella meel met 'n waterinhoud van slegs 10% (10g/100g) het 'n energiewaarde van 1478kJ/100g en 30g bevat dus 443 kJ (let wel ek is besig om die waardes van die SA Voedseltabelle te gebruik en dit verskil effens, maar nie betekenisvol nie van die waardes op die etiket van die Maltabella wat jy gekoop het). As jy nou daardie 30 g rou meel gebruik om jou 125 ml gaar pap te maak (waarskynlik 'n taamlik stywe pap!) dan sal dit wel al die energie van die rou meel bevat, dus 434 kJ (volgens jou produk) of 443 kJ (volgens die SAVTs). Maar al vat ons die hoër waarde van 443 kJ is dit net 7% van jou dag se energiebehoefte as jy verslank, wat nie baie is vir die hoofbestanddeel van jou ontbyt wat ongeveer 2100 kJ behoort te bevat.
Eet nou lekker aan die Maltabella want dis 'n heerlike ontbytpap.
DietDoc

The information provided does not constitute a diagnosis of your condition. You should consult a medical practitioner or other appropriate health care professional for a physical exmanication, diagnosis and formal advice. Health24 and the expert accept no responsibility or liability for any damage or personal harm you may suffer resulting from making use of this content.

Have your say

Thanks for commenting! Your comment will appear on the site shortly.
Thanks for commenting! Your comment will appear on the site shortly.
advertisement