Share

Vrugte, groente skok

"An apple a day keeps the doctor away." Is dié ou spreekwoord vandag nog waar?

Ons weet almal dat ons meer vrugte en groente moet eet. Volgens 'n nuwe opname deur die 'groen' organisasie Environmental Working Group (EWG), is appels, aarbeie en perskes egter heel bo aan die lys van die 12 mees toksiese vars produkte in die VSA:

  1.  Appels
  2.  Selery  
  3.  Aarbeie  
  4.  Perskes  
  5.  Spinasie  
  6.  Nektariens
  7.  Druiwe  
  8.  Soetrissies  
  9.  Aartappels
  10.  Bloubessies
  11.  Blaarslaai
  12.  Boerkool

EWG-analiste het data van die Amerikaanse Departement van Landbou en die Food and Drug Administration van 2000 tot 2009 verwerk en 'n lys van 53 vrugte en groente en die totale hoeveelheid insekdoder waarmee hierdie voedsel behandel word, saamgestel.

Volgens 'n persvrystelling deur die EWG is produkte volgens 'n saamgestelde telling in rangorde geplaas, en ses faktore is opgeweeg wat weerspieël hoeveel verskillende en watter vlak van insekdoders in elke produk gevind is. Die meeste monsters is gewas en geskil voor dit getoets is, wat beteken dat die volgorde die hoeveelheid chemikalieë weerspieël wat in die voedsel teenwoordig is wanneer dit geëet word.

In teenstelling met die twaalf mees toksiese produkte het hulle egter ook 'n lys van die 15 'skoonste' vars produkte opgestel:

  1.  Uie
  2.  Mielies
  3.  Pynappels
  4.  Avokado's
  5.  Aspersies
  6.  Soet-ertjies
  7.  Mango's
  8.  Eiervrug  
  9.  Spanspek
  10.  Kiwivrugte
  11.  Kool
  12.  Waatlemoen
  13.  Soetpatats
  14.  Pomelo's
  15.  Sampioene

Dit is nou wel 'n Amerikaanse opname,  maar die situasie is waarskynlik soortgelyk in Suid-Afrika. Ons het gewoond geraak om perfekte vrugte en groente op die supermark se rakke te vind (en te verwag), maar daardie 'perfekte' mooi, rooi appel kom teen 'n prys – dit is die resultaat van insekdoders wat vrylik in boorde gebruik word om 'n goeie, 'perfekte' oes te verseker.

Party mense mag redeneer dat die gebruik van insekdoder in konvensionele landboumetodes kos op die tafel vir almal verseker – en 'wat nie doodmaak nie, maak vet'. Sonya Lunder, senior analis by die EWG, voel anders oor die saak: "Insekdoders is giftig. Dit is ontwerp om lewende organismes dood te maak, en die meeste daarvan is nie goed vir jou nie. Die vraag is net, hoe sleg is dit vir jou?" Verskeie internasionale studies het bevind dat insekdoders uiters toksies vir menslike gesondheid en die omgewing is.

Dr. Andrew Weil, stigter en direkteur van die Arizona Centre for Integrative Medicine sê: "Insekdoders is spesifiek ontwerp om sekere organismes dood te maak, maar word geassosieer met 'n groot aantal baie ernstige gesondheidsprobleme by mense, insluitende neurologiese probleme, ADHD, versteuring van die endokriene-stelsel en kanker. My raad aan verbruikers is om waar moontlik blootstelling aan insekdoders te vermy, insluitend oorblyfsels van hierdie middels in kos."

Beteken dit dat ons meer organiese kos moet eet? Ná die onlangse uitbreking van E. coli in Europa wat aan die sogenaamde veiliger organiese produkte gekoppel is, is dit miskien op die oomblik nie so 'n gewilde opsie nie, en wat meer is, dit is vir baie mense 'n bietjie te duur.

"Alhoewel dit altyd die beste keuse is om organies te koop, weet ons dat mense partykeer nie toegang tot sulke produkte het nie, óf dit nie kan bekostig nie," sê Ken Cook, die president van die EWG. "Ons gids help verbruikers wat besorg is oor insekdoders om beter keuses te maak oor konvensionele landbouprodukte en laat hulle weet watter vrugte en groente 'n mens liewer organies moet koop."

Volgens die EWG se berekenings kan verbruikers wat vyf porsies vrugte en groente van hulle 'skoon' lys kies, eerder as van die 'toksiese twaalf', die volume insekdoder wat hulle inkry met 92% verlaag. Hulle sal ook aan 'n kleiner verskeidenheid insekdoders blootgestel word.

Alhoewel daar oorblyfsels van plaagdoders op die produkte gevind is, selfs nadat dit gewas en geskil is, meen die EWG dat die voordele van vrugte en groente steeds swaarder weeg as die probleme met insekdoders.

"Die EWG beveel sterk aan dat almal die USDA's se aanbeveling om elke dag vyf porsies vrugte en groente te eet, volg," sê Alex Formuzis, die media-verhouding visie-president van die EWG. Vrugte en groente is ook die perfekte manier om 'n ongesonde gepeusel teë te werk: "As jy moet kies tussen 'n appel en aartappelskyfies, kies die appel," voeg Formuzis by.

Die gesondheidsvoordele van 'n dieet wat ryk is aan vrugte en groente is welbekend. Dit help om die risiko van baie siektes te verminder en beveg vetsugtigheid. In Suid-Afrika is die meeste mense alreeds skuldig daaraan dat hulle nie die minimum van vyf porsies vrugte en groente per dag eet nie. Dit sou jammer wees as verbruikers dié opname as nog 'n verskoning gebruik om hierdie superkosse te vermy.

Health24 se DietDoc, Dr. Ingrid van Heerden, stem saam: "Die EWG 2011 Shopper's Guide to the 'Dirty Dozen' en die 'Clean 15' vrugte en groente beklemtoon weereens hoe belangrik dit is om 'n verskeidenheid kossoorte te eet. Dit geld ook vir vrugte en groente wat moontlik met insekdoders en ander chemikalieë of swaar metale besmet is."

Alhoewel die meerderheid van Suid-Afrika se vars groente en vrugte deur middel van konvensionele landboumetodes gekweek word, moedig sy Suid-Afrikaanse verbruikers aan om 'n gesonde perspektief te behou: "Suid-Afrikaanse verbruikers moet in gedagte hou dat die EWG-studie in Amerika gedoen is en dat die resultate nie noodwendig die Suid-Afrikaanse situasie weerspieël nie. Tot ons 'n soortgelyke jaarlikse toets van ons vrugte en groente het wat presies aandui watter die meeste insekdoders en besmettingsfaktore bevat, sal ons nie weet watter vrugte en groente in die land as 'skoon' en watter as 'vuil' geklassifiseer moet word nie.

"In 'n ideale wêreld sou ons almal kon bekostig om organies te koop, d.w.s. kos met 'n laer insekdoder-inhoud. Organiese vrugte en groente sou ook vrylik beskikbaar wees in alle dele van die land. Die meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking het egter nie op ’n gereelde grondslag toegang tot organiese produkte nie. Wanneer daar nie organiese produkte beskikbaar is nie, kan jy jou risiko vir insekdoder-besmetting verlaag deur elke dag verskillende groente en vrugte te eet, maar moenie hierdie Amerikaanse verslag gebruik om minder as jou 5-per-Dag te eet nie, aangesien die voedingsvoordele van vars vrugte en groente die potensiële risiko’s oortref," sluit sy af.

- (Birgit Ottermann, Health24, Junie 2011)

Kliek hier vir meer inligting oor die EWG opname.

Lees verder:
Vrugte en groente: superkos
Verlei deur ’n appel
Is organiese kos beter?
Koop organiese kos op 'n begroting

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE