Share

Vra vir DietDoc

Wat kan jy doen om maklik by jou dieet te bly?

V: Hoeveel ure uitmekaar moet 'n persoon eet? Wat is die beste oefeninge vir gewigsverlies/gesonde leefwyse?

A: Om maklik by 'n gesonde dieet te bly, sal dit eerstens help as jy verseker dat jy 'n goed gebalanseerde verslankingsdieet gebruik wat al die voedselgroepe (proteïene, koolhidrate en klein hoeveelhede gesonde vette) insluit. Dit sal keer dat jy kosdrange ontwikkel en gedurig honger voel - twee faktore wat baie diëte laat kelder. Vermy dus alle fop-diëte wat een of meer voedselgroepe uitsny of te min energie insluit. Algemeen gesproke kan 'n verslanker drie gewone maaltye gebruik (dus ongeveer ses uur uitmekaar) of ses kleiner maaltye elke drie uur nuttig. Die beste oefening om jou metabolisme te stimuleer is sg. aërobiese oefening wat flink stap, hardloop, fietsry, touspring, en roei insluit. Oefeninge met gewigte aan die ander kant, help om spiere te bou en jou liggaam te fatsoeneer. Lê dus klem op die aërobiese oefeninge en doen dit vir ten minste 30 min per dag. 

Water

V: Dit klink seker dom - maar almal sê jy moet agt glase water drink per dag maar hoe groot is een glas is dit 'n klein glas of 'n lang glas, of 'n spesifieke hoeveelheid milliliter?

A: Nee dit is nie 'n dom vraag nie. Algemeen gesproke, is 'n glas ongeveer 250ml, dus 8 x 250 ml = 2 liter. Maar wat baie belangrik is, is om nie TE VEEL vloeistof per dag te drink nie! Volwassenes het 2,5 liter vloeistof per dag nodig en dit sluit alle vloeistowwe in (tee, koffie, koeldranke, vrugtesappe, melk, water, alkohol indien dit van toepassing is, gebottelde water, ens). Indien jy te veel vloeistof drink (bv. 2 liter water plus 1-2 liter ander vloeistowwe) dan sal jy jou liggaam se elektroliete soos kalium en natrium uitwas via die niere en dit kan gevaarlik wees. Maak dus seker dat jy nie meer as 2,5 liter vloeistof in totaal elke dag drink nie.

Allergie

V: Ek het skielik 'n geswelde onderlip gekry na ek rooi wyn gedrink het, 'n maand of twee later dieselfde simptoom, maar nadat ek 'n cider gedrink het. Skielik weer twee dae later maar nou in die bo-lip asook die aanliggende gesig geswel. Hoe vind ek uit waarvoor ek allergies is?

A: Ek sal aanraai dat jy jou huisarts vra om die nodige toetse te laat doen om presies te bepaal waarvoor jy moontlik allergies is (rooi wyn en "gefermenteerde appelsap" bevat albei 'n baie groot aantal verbindings, asook byvoegings soos swaeldioksied wat potensiële allergene kan wees). Die resultate van die allergietoetse behoort jou uitsluitsel te gee. In die tussentyd sal ek aanraai dat jy geeneen van hierdie dranke drink nie, net om veilig te wees.

Gesonde eetplan vir familie

V: Ek is tans 'n huisvrou en ma van twee kleuters, een van 14-maande en 'n ander een van 4-jaar. Ek is baie oorgewig en moet omtrent 50kg verloor, maar die kinders is mooi op gewig (eintlik onder maar ons dokter is glad nie bekommerd nie). My probleem is hulle eet tans baie sleg, ek is een van daai mammas wat nie soetgoed en chippies heeltyd gee nie en soms kry hul dit net een keer 'n week. Eendag eet hulle mooi, maar die volgende dag wil hulle niks eet nie. Ek wil weet wat ek vir hulle moet gee wat gesond is en hul imuunstelsel opbou. Eintlik wil ek weet op watter tipe eetplan ons kan gaan sodat ek kan gewig verloor en hulle gesond kan eet, maar dat ons dieselfde goed eet. Ek het nie tyd om verskillende kos te maak nie. Al twee hou van groente. Dis vir my baie belangrik dat hul gesond eet en nie oorgewig word soos ek nie, maar ek moet gewig verloor. Dis vir my baie belangrik.

A: Jy het beslis die regte houding dat jy nie jou twee kinders toelaat om gedurig skyfies en lekkergoed te eet nie. Kinders kan nogal wispelturig wees en een dag goed eet, en die volgende dag net peusel aan kos. So lank as wat hulle oor die algemeen gesonde kos eet en nie gedurig siek word nie (wat sou dui op swak immuniteit), behoort ouers nie hulself te bekommer nie.

Sodra jy klem lê op hul eetgewoontes, sal hulle agterkom dat dit 'n manier is om jou te beheer (kinders is uitstekende manipuleerders!). Die gebalanseerde, lae-vet, hoë-vesel verslankingsdieet op hierdie webwerf behoort vir julle almal toe te laat om gesond te eet (kliek op 'Diet' bo aan hierdie bladsy, en dan op 'Weight loss' en 'The right approach' en 'Slimming Diet'). Sorg net dat die kleuter van 14 maande nog volroom melk en jogurt eet/drink, want dit word aanbeveel dat kinders onder die ouderdom van twee jaar nog nie afgeroomde suiwelprodukte behoort te gebruik nie.

Om gewig te verloor, moet jy hou by die porsiegroottes soos aangedui, maar die kinders en jou man kan groter porsies van die voorgestelde kosse eet. Indien moontlik, en ek weet dis nie maklik as jy twee klein kinders het nie, moet jy probeer om elke dag oefening te doen. Jy kan bv. met die kinders gaan stap (sit die klein kleuter in 'n stootwaentjie) vir ongeveer 30 minute per dag. Soos jy gewig verloor en fikser word kan julle verder of vinniger stap. Fietsry, touspring en swem is ook goeie opsies.

Porsie grootte eetplan

V: Ek wil graag iets weet. Ek is 41 jaar oud, 1.58 lank en weeg 59kg. Hoeveel kilojoules moet ek per dag inkry? Ek doen geen oefeninge. En kan ek die eetprogram volg wat op die website onder weighloss/diet is? Baie dankie vir u tyd.

A: Jou huidige BMI is 23,6 wat baie naby aan die ideaal van 22 is. Om laasgenoemde te bereik behoort jy 55kg te weeg, dus 'n verlies van 5kg. 'n Volwasse vrou wat gewig wil verloor behoort haar energie-inname tot 6,300kJ per dag te verminder. Indien moontlik behoort jy die dieet op hierdie webwerf wel te kombineer met gereelde oefening (bv. gaan stap elke dag vir 30 minute in die vars lug).

Soettand

V: Ek wil net asb weet wat is fout as mens die heeltyd net soetgoed wil eet. Ek raak nie eers meer versadig van kos nie. Ek het omtrent 25kg wat ek moet verloor en ek weet nie hoe om dit reg te kry nie want ek bly net honger en dink heeltyd aan kos. Help asb!

A: Daar is verskeie redes hoekom mense verslaaf raak aan soet kosse:

  • Die soet smaak is die mees dominante smaak wat ons kan gewaar;
  • Mense leer die gewoonte aan om soet kosse te eet; 
  • Soet kosse word van kleins af gebruik as vertroosting en wanneer mens dan volwasse is, bly die assosiasie dat soet kos jou kan 'troos' (sielkundige prikkel);
  • Lae serotonienvlakke in die brein wat mens laat depressief voel, word verhoog deur koolhidrate en suiker (soort van self-medikasie);
  • As jou dieet te min koolhidrate bevat om aan jou energiebehoeftes te voorsien, sal jy konstant wil soet kosse eet.

Ek sal voorstel dat jy 'n lae-vet, lae-glisemiese indeks (GI) dieet en oefening gebruik om die 25kg te verloor. Omdat hierdie dieet aanvanklik bietjie moeilik is om toe te pas, raai ek aan dat jy 'n geregistreerde dieetkundige spreek. Besoek die Assosiasie vir Dieetkunde in SA se webwerf by: www.dietetics.co.za en kliek op 'Private Practising' om 'n dieetkundige in jou omgewing te vind. 

Ontbyt kosse

V: Is die volgende ontbytkosse goed om te eet vir gewigsverlies? Maltabella Pap (40g)(uncoocked), Oats (40g) uncooked), of twee eiers? Ek eet dan twee provitas met kaas vir "snack"  asook ''n vrug. Vir middagete eet ek twee snye volgraanbrood met ham en slaai. Weer 'n vrug vir 'n snack en in die aande my vleis, groente, stysel en 'n slaai en bakkie jogurt vir nagereg. Is hierdie dieet voldoende vir gewigsverlies? Dit voel vir my of dit te veel is? Ek is 1.6m lank en weeg 64kg. Ek is baie fyn gebou en wil graag 55kg weeg.

A: Algemeen gesproke is die dieet wat jy beskryf relatief gebalanseerd. As jy die Maltabella pap (hoë-glisemiese indeks of GI) saam met lae-vet of vet-vrye melk of jogurt eet, om die GI te verlaag, dan kan jy dit wel gebruik. Dieselfde geld vir hawermout. Twee eiers op 'n slag is te veel cholesterol, probeer om liewer net een te eet en ook nie elke dag nie. Kombineer dit met 'n sny geroosterde lae-GI brood. Gebruik lae-vet maaskaas vir jou versnaperings.

Maak ook seker dat die porsies wat jy saans eet nie te groot is nie en dat jy so min vet as moontlik gebruik vir die voorbereiding (bv. geroosterde vleis of vis). Gebruik ook lae-vet of vet-vrye jogurt om die energiewaarde te verlaag. As jy die drie porsies melk, maaskaas of jogurt elke dag kan inneem, sal dit goed wees want volwasse vrouens het 1,200mg kalsium per dag nodig on hulle te beskerm teen bros bene en toekomstige osteoporose. Jou huidige BMI = 25 (die boonste valk van normaal) en dit sal dus goed wees om wel 'n paar kilogram te verloor. Op 55kg, sal jou BMI = 21,5 wat net onder die ideaal is.

Koffie

V: Ek het onlangs 10kg verloor en het in daardie tydperk wat ek geoefen het, geen koffie gedrink nie.  Ek probeer nou op dieselfde manier van die laaste 10kg onslae raak, maar in die koue drink ek vreeslik koffie en sukkel my dood om gewig te verloor. Is die koffie die oorsaak?

A: Koffie op sy eie (swart koffie sonder suiker of melk) sal nie gewigsverlies belemmer nie. Die kafeïne in koffie werk as 'n stimulant wat jou energieverbruik effens verhoog en dit het ook ontwateringseienskappe - twee funksies wat gewigsverlies bietjie aanhelp. As jy suiker en volroom melk saam met die koffie drink, dan sal dit die energiewaarde opstoot en moontlik jou pogings dwarsboom. Drink dus swart koffie met 'n versoeter of gebruik vetvrye melk by die koffie.

Hopelik sal dit eersdaags weer warmer word sodat jy weer kan minder eet en gewig verloor.

Hoe bloeddruk

V: Hoe kan ek my man kry om te kyk na sy gewig? Hy het baie ernstige hoë bloeddruk waarvoor hy al in hospitaal opgeneem is en amper by die dood om gedraai het. Maar hy verander nogsteeds nie sy slegte patrone nie. Hy gebruik drank elke aand (so 4 tot 8 glase) en moet ook 'n bak chips hê  (waaroor hy NOG sout gooi) as hy gaan lê in aand. Hoe kan ek die belangrikheid van gewigsverlies en 'n gesonder lewe in sy kop kry?

A: Ek kan goed glo dat jy seker al rasend is omdat jou man nie wil probeer om gewig te verloor en om verstandig te eet (lae-sout, lae-vet dieet) nie. Die probleem is dat net jou man in staat is om die veranderings te maak, en hy is besig om koppig en onverskillig te wees.

Ek kan net voorstel dat jy probeer om jou man te oorreed om saam met jou na 'n kliniese sielkundige te gaan vir berading, aangesien hy eintlik voor jou oë besig is om selfmoord te pleeg. Kyk of jy dit kan regkry want dalk kan 'n buitestander vir hom laat verstaan hoe gevaarlik en selfsugtig sy optrede is. Ek hou vir hulle albei styf duim vas.

Vra jou vraag vir DietDoc.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE