Share

VitaminWater: die waarheid

Coca-Cola se VitaminWater word as 'n gesonde, hidrerende en verjongende koeldrank bemark. Die bottels is mooi en kleurvol en die teks is pittig en slim. Bemagtigende woorde soos "uithouvermoë", "energie", "essensieel" en "fokus" word vrylik gebruik. Dit is duidelik dat die bemarking van die produk goed deurdag is, alhoewel die koeldrank eintlik niks meer as suikerwater is nie.

Kyk net na die lys van bestanddele:

Vapor distilled water, crystalline fructose, citric acid, caffeine, ascorbic acid (vitamin C), gum Arabic, natural flavor, electrolytes (calcium, magnesium, and potassium), gum ester, zinc picolinate, vitamin E acetate, vitamin A palmitate, niacin (B3), pantothenic acid (B5), beta carotene, Siberian ginseng and guarana extracts, cyanocobalamin (B12), caramel color, pyridoxine hydrochloride (B6)

VitaminWater bevat water, suiker en 'n paar bygevoegde vitamine. Alhoewel die drankie in 'n reeks vrugte-geure beskikbaar is, bevat dit geen egte vrugtebestanddele nie.

VitaminWater se suikervlakke is besonder hoog. Volgens die Suid-Afrikaanse etiket bevat die drankie 5.4g suiker per 100ml en 96kJ, wat beteken dat as jy 'n 500ml bottel drink jy 27g suiker en 478kJ inkry. Dit is omtrent 8 teelepels suiker!

Die paar vitamine wat by die drankie gevoeg word, kan nie die suiker en bymiddels daarin uitkanselleer nie – dit is baie beter om hierdie voedingstowwe deur middel van jou dieet te kry (of 'n multivitamien indien nodig). 'n Tuisgemaakte vrugteskommel met vars vrugte is byvoorbeeld baie meer voedsaam.

In die lig van al hierdie feite, hoe kan Coca-Cola daarmee wegkom om VitaminWater as 'n gesonde drankie te bemark?

Hofsaak

In 2009 is die Coca-Cola Maatskappy voor die hof gedaag deur die Noord-Amerikaanse voedselgesondheidgroep, die Centre for Science in the Public Interest (CSPI), oor die maatskappy se oneerlike en ongegronde aansprake oor sy reeks VitaminWater koeldranke.

Volgens die CSPI het Coca-Cola VitaminWater as 'n gesonde alternatief vir gaskoeldrank bemark deur sy verskeidenheid geure met gesond-klinkende woorde en 'n hele reeks dramatiese aansprake te beskryf. Dit sluit in dat die koeldrank die risiko vir chroniese siekte asook oogsiektes verlaag, dat dit gesonde gewrigte bevorder en optimale immuunfunksie ondersteun.

"Om die waarheid te sê, doen die suiker in elke bottel VitaminWater meer om vetsug, diabetes en ander gesondheidsprobleme aan te moedig as wat die vitamiene in die koeldrank kan doen om die geadverteerde voordele wat op die bottel staan, te bevorder," het die CSPI voedingskundiges in die CSPI se oorspronklike klagte berig.

Met behulp van sy prokureurs het Coca-Cola probeer om sy pad uit die CSPI saak te veg, maar dit is deur die howe verwerp en die maatskappy se mosie om die saak te laat uitgooi, is geweier.

'Uitbuiting en bedrog'

Volgens regter John Gleeson van die US District Court for the Eastern District of New York "het die name van die koeldranke, saam met ander stellings op die etiket die potensiaal om die verbruiker se foutiewe aanvaarding dat die produk alleenlik uit vitamine en water bestaan, te ondersteun".

CSPI se direkteur van regsgedinge, Steve Gardner, voeg by: "Coca-Cola buit al te lank mense se begeerte om meer gesond te eet en drink uit deur hulle verkeerdelik te laat glo dat vitamienwater werklik siekte kan verhoed. Eintlik is VitaminWater niks meer as koeldrank sonder gas nie en dra ruimskoots by tot gewigstoename, vetsugtigheid, diabetes en ander siektes. Ons sien uit daarna om almal te verteenwoordig wat deur Coke om die bos gelei is." Daar was nog geen finale hofuitspraak nie.

In die tussentyd het Brittanje se Advertising Standards Authority vroeg in 2011 uitspraak gelewer dat Coca-Cola die reëls van die advertensiewese oortree het toe die maatskappy VitaminWater as "heerlik en voedsaam" in 'n advertensie beskryf het. Die Britse mediawaghond het verduidelik dat verbruikers nie sou verwag dat 'n koeldrank wat as voedsaam bemark word tussen vier en vyf teelepels bygevoegde suiker sou hê nie.

VitaminWater in SA

Wat is die situasie in Suid-Afrika? Is dit nie hoogtyd dat Suid-Afrikaanse verbruikers ook die ongegronde aansprake van VitaminWater begin bevraagteken nie?

Tot op datum het Suid-Afrika se advertensie-waghond, die Advertising Standards Authority (ASA), nog geen klagtes oor VitaminWater ontvang nie. "ASA kan slegs reageer wanneer hulle 'n klagte van 'n verbruiker of konkurrent ontvang," sê Corné Koch, ASA se kommunikasiebestuurder.

Volgens Koch is ASA 'n reaktiewe liggaam en monitor nie die advertensiewese in Suid-Afrika nie. "Hierdie liggaam is deur die bemarking- en kommunikasie-industrie gestig en befonds om te verseker dat die stelsel van selfregulasie in die openbare belang geskied. Die kode is ook opgestel om professionalisme by adverteerders te verseker. Ons is die enigste 'skeidsregter' en voorsien 'n dispuutoplossingsdiens wanneer daar 'n dispuut (klagte) is oor advertensie van óf 'n verbruiker óf konkurrent," verduidelik sy.

Koch voeg by dat daar 'n Kode van Advertensie-praktyke is waarby alle adverteerders moet hou. "Volgens die Kode van Advertensie-praktyke moet advertensie wettig, gepas, eerlik en waarheidsgetrou wees en die inhoud moet nie enige wette van die land oortree nie. Dit is oor die algemeen die hoofbeginsels."

Health24 het Coca-Cola Suid-Afrika vir kommentaar genader, maar sonder sukses. Ten tye van publikasie was daar nog geen antwoord op e-pos en telefoniese navrae nie.

Vir verdere inligting oor VitaminWater, kyk na hierdie FoodInvestigations.com video:


(Birgit Ottermann en Ncumisa Magadla, Health24, Augustus 2011)

(Bronne:  http://www.wellsphere.com/healthy-living-article/vitaminwater-revealed-as-non-healthy-beverage-by-coca-cola-s-own-lawyers-opinion/1197746;  http://www.cspinet.org/new/201007231.htmlhttp://www.asasa.org.za/;http://www.flavored-waters.com/Flavored_Waters/Glaceau_Vitamin_Water/Glaceau_Energy.asp

Lees verder:
Hoe om gesondheidsbedrog te vermy

Power Balance armband-bedrog oopgevlek
Enige vrae? Vra vir DietDoc

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE