advertisement
04 August 2009

Vergeet van dieet

Vergeet van druiwe-diëte, die proteïndieet en die koolhidraatvrye-dieet. Kort-om: vergeet van dieet en van uithongering. Mense op lae kilojoulediëte eet verslank hulself al vetter.

0

Vergeet van druiwe-diëte, vergeet van die proteïendieet of die koolhidraatvrye-dieet. Kort-om: vergeet van dieet en van uithongering. Want mense op lae-kilojoulediëte "verslank" hulself al vetter. Só gebeur dit.

'n Al groter persentasie van die mense in die wêreld is vetties – effe oorgewig tot baie vet. Meer as 29% van Suid-Afrikaanse mans en 56% van Suid-Afrikaanse vroue is oorgewig of ly aan vetsug. Dié syfer is hoër as syfers in ander Afrika-lande, veral wat vroue betref. Bykans 30% van Suid-Afrikaanse vroue tussen die ouderdomme van 30 en 59 jaar ly aan vetsug.

Een van die grootste bekommernisse onder wetenskaplikes is dat al meer kinders in Amerika, Europa en Suid-Afrika vet is. Die tweede groot bekommernis is dat die kinders se ouers glad nie dink hulle bloedjies is vetties nie. Voorts blyk dit dat min van die vet kinders se ouers self 'n goeie voorbeeld van gesonde eetgewoontes en leefstyl stel.

Waarom nie vet nie?
Vet mense het 'n hoër risiko om hartsiektes, 'n hartaanval, hartversaking, hoë bloeddruk, beroerte of diabetes te ontwikkel. 'n Gewigsverlies van slegs 5kg kan 'n vet mens se risiko vir bogenoemde verlaag, maar die omgekeerde geld ook.

Hoewel genetiese faktore betrokke is by liggaamsbou, is verkeerde eetgewoontes en 'n gebrek aan genoeg van die regte soort oefening die hoofredes vir oorgewig. Uiters min gevalle van oorgewig kan toegeskryf word aan hormonale of ander redes.

Vergeet van kitsdrankies en inspuitings
Die meeste mense tel ná 'n kitsdrankiedieet meer gewig op as wat hulle verloor het. Dit blyk ook dat die dieetinspuitings wat nou al 'n aantal jare gewild is klein dosisse anticholesterolmiddel is, en dat die gepaardgaande lae-kilojouledieet inderwaarheid die gewigsverlies bewerkstellig.

Baie diëte lei tot gewigsverlies, maar die verslanker verloor spiermassa pleks van liggaamsvet, en die afname in spiermasse vertraag die liggaamsmetabolisme. Dis dan net hier waar die knoop lê, sê Tabitha Hume, geregistreerde dieetkundige in haar boek, "Die X-dieet".

Die boek is gegrond op navorsing wat gedoen is oor die beheer van metaboliese sindroom, of X-sindroom, wat dikwels gepaard gaan met onder meer tipe 2 diabetes, hoë bloedcholesterol, hoë bloeddruk en oorgewig.

Baie mites oor dieet weerlê
Onlangse bevindings weerlê baie mites oor dieet. Hoekom sukkel mense, wat 'n (soveelste) uithongeringsdieet met lae kilojoules volg, om gewig te verloor, terwyl ander wat alles verslind, maer bly?

Dit is nie suiker en koolhidrate wat 'n mens vet maak nie, maar die oormaat vet in die dieet, glo Hume. Om van oortollige liggaamsvet ontslae te raak, sê sy, moet 'n stadige metabolisme aangevuur word deur die inname van koolhidrate te vermeerder en vet in die dieet te verminder.

Ander dieetkundiges waarsku egter dat 'n klein hoeveelheid gesonde plantvette in die dieet steeds nodig is. Die sleutel is bloot om jou inname van vette en olies tot 2 - 3 porsies per dag te beperk.

Hoe dieet 'n mens jouself al vetter?
Vet mense eet dikwels min, en is dikwels vet omdat hulle te veel op dieet was en te lank te min geëet het.

'n Mens word inderdaad maerder as hy of sy minder eet, maar wetenskaplike studies toon dat die effek van korte duur is en dat 'n mens wat 'n groot deel van sy of haar liggaamsmassa verloor het, byna as uitgemaakte saak weer al die gewig sal optel, en meer.

'n Uithonderingsdieet kan jou metabolisme só vertraag dat jou liggaam nie meer in staat is om voedsel doeltreffend te verwerk nie.

Wat gebeur met jou liggaam?
'n Aktiewe vrou in haar twintigerjare benodig sowat 8400kJ per dag om te oorleef. As sy minder eet, sal haar liggaam teoreties die ontbrekende kilojoules vervang uit haar liggaam se vetreserwes. Sy sal ná 'n paar maande op 'n laekilojoule-dieet moontlik 10kg verloor.

Feite oor spiere en ons metaboliese spoed is hier belangrik: ons het energie (kos) nodig omdat ons spiere dit nodig het. Jou hoeveelheid spiermassa bepaal hoeveel energie jy daagliks verbrand: hoe meer spiermassa jy het, des te meer energie kan jy verbrand, en hoe hoër is jou metaboliese tempo.

Gestel jou liggaam het 2000 spiervesels wat saam 8400kJ kan verbrand. Indien jy jou kilojoule-inname tot 'n 4200kJ verlaag, is daar net genoeg energie om die helfte van die spiere in stand te hou. Die liggaam "fusilleer" vinnig 'n 1000 spiervesels en voer die "oortollige" spiere vir die 1000 wat oorbly en energie benodig.

Die liggaam hou aan om spierselle te self-kannibaliseer totdat die energie wat die liggaam inkry (kilojoules) genoeg is om die oorblywende spiere te onderhou.

Die verslanker verloor gewig en kry 'n maerder, maar papper liggaam. Sy het ook - weens 'n verlies in spiermassa - 'n laer metaboliese tempo.

Maerder, maar papper lyf
Vóór die dieet kon jou liggaam 8400kJ per dag verbrand, maar kan nou net die helfte verbrand. Eet jy nou 'n pizza van, argumentsonthalwe, 8400kJ, wat jou liggaam voorheen alles sou kon verbrand omdat 2000 spiervesels gevoer moes word, is daar net 1000 spiervesels om te voer en bly 4200kJ oor.

Met die helfte van die pizza-kilojoules in die vorm van suiwer vet, is die kans groot dat die oortollige 4200kJ as vet op jou heupe, bobene of maag gaan bly sit.

Só raak die verslanker maerder betreffende spiermassa en gewig, maar styg die persentasie liggaamsvet.

Om nóg meer gewig te verloor, moet die verslanker nou 2100kJ per dag eet, en die hele proses word herhaal.

Sy verloor al moeiliker gewig. Sodra sy dan enigsins meer as 2100kJ per dag eet, begin sy/haar gewig weer stadig toeneem totdat dit meer is as vóór die dieet.

Die verslanker moet byna ophou eet om verder gewig te verloor.

Dink swaar en maer
Die belangrikste doelwit van dieet is om vet te verloor en spiermassa te wen.

Probeer dus om elke dag minstens 'n halfuur lank te oefen. Indien jy dit regkry om langer en meer intensief te oefen, moet jy seker maak dat jy koolhidrate met 'n hoë glisemiese indeks (GI) ná strawwe oefensessies inneem. Indien jy meer gematig oefen, moet jy eerder op koolhidrate met 'n lae glisemiese indeks konsentreer. Die punt is egter dat jy tussen 6 en 11 porsies koolhidrate per dag moet inneem. Jou liggaam en spiere kan nie daarsonder nie.

Koolhidrate met 'n hoë glisemiese indeks sluit die volgende in: graanvlokkies, mieliemeel, bruinbrood, witbrood, volgraanbrood, heuning, pofkoring, Weet-Bix, aartappels, rys, ryskoekies, hawermoutpap, couscous, suikermielies, boontjies en groenboontjies.

Koolhidrate met 'n lae glisemiese indeks sluit in: durumkoringpasta, bruinrys, lensies, patats, droë bone en lae-GI brood.

Volgens Hume eet die gemiddelde mens te veel proteïen, en sal mense genoeg spiermassa bou selfs met 'n beperking in proteïeninname. Laasgenoemde word hoofsaaklik beperk omdat proteïenryke voedselsoorte dikwels ook baie versadigde vette bevat.

(Health24, opgedateer Augustus 2009)

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.