Share

Top 10 kosse met versteekte vet

Ons weet almal dat sjokolade, koek en koekies vol kilojoules gelaai is. Maar wat van jou ander gunstelingkosse? Kruip daar miskien ook versteekte vette weg?

As jy probeer om jou liggaam strandgereed te kry, mag dit ’n goeie idee wees om ’n bietjie na hierdie lys van die top 10 kosse met versteekte vet te kyk – en minder daarvan te eet:  

1. Mayonnaise

  • 79g vet per 100g gewone mayonnaise*

Wenk: Vervang mayonnaise met laevet slaaisous of gooi ’n druppel sojasous of balsamiese asyn op jou slaai, en gebruik liewer laevet/vetvrye joghurt of maaskaas in souse. Moet ook eenvoudig nie mayonnaise by daardie hoender- of tuna-toebroodjie voeg nie – maak die toebroodjie interessanter met kruie, swart peper en ’n skyfie tamatie.   

2. Neute

  • 77g vet per 100g macadamia-neute

Wenk: Let daarop dat neute deel behoort te wees van ’n gebalanseerde dieet. Selfs al is die vetinhoud redelik hoog, is neute cholesterol-vry en bevat goeie mono-onversadigde vette. Maar beperk jou neute tot ’n handvol per dag as jy probeer om gewig te verloor. En kies die soorte wat minder vet bevat, soos amandels in plaas van macadamias.   

3. Koffieverromer  

  • 50g vet per 100g koffieverromer*

Wenk: Koffieverromer is beslis ongewens aangesien dit vol versadigde vet is. Moet eenvoudig nie koffieverromer in jou koffie drink nie. Gebruik liewer laevet of vetvrye melk, of, as jy nie ’n yskas het nie, gebruik melkpoeier. 

4. Grondboontjiebotter

  • 50g vet per 100g grondboontjiebotter*

Wenk:Terwyl grondboontjiebotter ’n goeie bron van mono-onversadigde vetsure is, kan dit slegte nuus vir jou middellyf wees as jy te veel daarvan eet. Soek in jou supermark vir die suikervrye soort – alhoewel suikervrye grondboontjiebotter net soveel vet bevat, het dit minder kilojoules. Beperk jou grondboontjiebotter-inname tot vier teelepels per week en smeer net ’n dun lagie op jou toebroodjies.

5. Aartappelskyfies

  • 35g vet per 100g aartappelskyfies

Tip:Wanneer jy peuselkos koop, lees die etikette versigtig deur – die kilojoule- en vetwaardes verskil aansienlik van produk tot produk.

Goeie outydse springmielies (nie die klaargemaakte soort nie) is ’n gesonder alternatief as die meeste aartappelskyfies – moet net nie botter byvoeg wanneer jy dit maak nie. Pretzels bevat oor die algemeen ook minder vet as aartappelskyfies (maar kyk wat op die etiket staan voordat jy dit koop). Soek ook liewer southappies wat geen trans-vetsure bevat nie. Daar is wél goeie produkte op die mark.  

6. Kaas

  • 33g vet per 100g Cheddarkaas

Wenk: Koop waar moontlik laevet maaskaas in plaas van die “harder” kaassoorte soos Cheddar, Parmesaan en Gouda. Bly liewer weg van kosse wat groot hoeveelhede kaas bevat, soos pizza, sekere pasta-disse en geroosterde kaastoebroodjies.  

7. Rooivleis

  • 31g vet per 100g oondgebraaide beesvleis  

Wenk: Terwyl vleis, in vergelyking met party van die ander kossoorte op hierdie lys, nie die hoogste persentasie vet bevat nie, is die probleem dat ons neig om by maaltye groter hoeveelhede vleis as byvoorbeeld grondboontjiebotter te eet. 

Koop maer vleis (bees, wild, volstruis) en sluit meer vis en pluimvee (sonder vel) as rooivleis by jou dieet in. Sny alle sigbare vet van die vleis af en moenie enige ekstra vet of olie by die vleis voeg wanneer jy dit voorberei nie. Vermy enige soort vleis wat sigbare vet bevat, soos wors en salami. 

8. Pasteitjies en soetgebak

  • 23g per 100g hoenderpastei*

Wenk: Dit mag dalk slegte nuus vir pasteiverslaafdes wees, maar die punt is dat pasteitjies vol van die verkeerde soorte vet is. En moenie jou laat flous deur die feit dat pasteitjies die agste plek op hierdie lys beklee nie – ’n porsie pastei is heelwat groter as ’n porsie mayonnaise.

Skakel pasteie en soetgebak (soos croissants en Copenhagens) uit as jy gewig wil verloor en jou hartgesondheid wil verbeter. Vervang hierdie kosse liewer met volgraan- of rogbrood.

9. Diepgebraaide lekkernye

  • 22g vet per 100g oliebol (doughnut)

Tip: Diepbraai is nooit ’n goeie manier van kook nie. Bly weg van diepgebraaide soet lekkernye soos oliebolle, en rooster liewer jou calamari as om dit te braai. Voeg ekstra geur by met ’n pikante Cajun-sous. Kies altyd bak, rooster of posjeer bo braai wanneer jy kos voorberei.

10. Avokado’s

  • 17g vet per 100g avokado

Wenk: Die mono-onversadigde vette in avokado’s behoort deel uit te maak van ’n gebalanseerde dieet, maar hou in gedagte dat te veel avokado nie goed vir gewigsverlies is nie. Moenie meer as een medium avokado per week eet nie – en moenie avokado met mayonnaise kombineer nie, gebruik liewer suurlemoensap vir ekstra geur.  

*Let daarop dat hierdie vetpersentasies van handelsmerk tot handelsmerk kan verskil. 

- (Carine van Rooyen, Health24, hersien Februarie 2010) 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE