Share

Saboteer alkohol dalk jou dieet?

As jy probeer om gewig te verloor, is dit beter om alkohol heeltemal te vermy, sê DietDoc. As jy egter nog nou en dan 'n drankie wil geniet, volg hierdie dieet-vriendelike wenke.

My lesers peper my deesdae met vrae oor die energie-inhoud van alkoholiese drankies. Die meeste mense vra: "Watter alkoholiese drankie is beter vir my as ek op 'n gewigsverlies-dieet is, Whisky en Coke of 'n glas droë witwyn?" Die basiese antwoord, wat die meeste van julle eintlik maar te goed besef, is dat dit beter is om alle alkohol te vermy wanneer jy gewig wil verloor. Daarbenewens neig mense om te vergeet dat daar baie nie-alkoholiese drankies is wat ook die kilo's kan laat inrol. So, kom ons kyk weer 'n slag na alkohol en ander drank, en na jou pogings om gewig te verloor.

Energie-inhoud van alkoholiese drankies

Hou altyd in gedagte dat alkohol 29kJ per gram of ml bevat, wat dít, ná vet, wat 'n allemintige 37kJ per gram bevat, per volume die tweede gevaarlikste bydraer tot jou daaglikse energieinname maak. In vergelyking hiermee is proteïene (17kJ/g) en die gewraakte koolhidrate (16kJ/g) redelik skadeloos.

Vier aspekte

Die volgende vier aspekte sal bepaal hoeveel energie jou liggaam absorbeer wanneer jy alkohol drink:

  • Die basiese alkoholinhoud van die drankie. Hoe hoër die alkoholkonsentrasie, hoe hoër die kilojoule-inhoud. Byvoorbeeld: die meeste tipes wyn het 'n alkoholinhoud van 9.4% 'w/w' en voorsien 300kJ/100g, terwyl spiritualieë soos whisky, brandewyn, 'cane', vodka en rum 13% alkohol 'w/w' bevat en 1,044kJ/100g (3 keer meer energie as wyn per 100ml).
  • Die volume van die drankie per bediening. Oor die algemeen bevat 'n glas wyn omtrent 120ml, wat gelykstaande is aan 360kJ, terwyl 'n metriese sopie hardehout net 25ml is, wat 261kJ voorsien. So, as jy whisky met water en ys drink, absorbeer jy byna 100kJ minder, vergeleke met daardie glas wyn! Dit is ook logies dat hoe meer sopies of glase alkohol jy per dag drink, hoe hoër jou energieinname.
  • Wat jy by jou alkohol voeg. As jy water, ys, sodawater, gebottelde water of kunsmatig-versoete koeldrank by jou sopie hardehout gooi, sal dit die energie-inhoud nie verhoog nie, maar sodra jy iets byvoeg wat met suiker versoet is, sal jy outomaties die energie-inhoud verhoog. Byvoorbeeld 200ml standaard koeldrank met koolsuurgas (350kJ) saam met jou spiritualieë stoot die energie-inhoud tot 611kJ op – byna dubbel die energie in die glas wyn.
  • Ander komponente van alkoholiese drank wat die energie-inhoud daarvan verhoog. Suiker is gewoonlik die hoofsondebok wat die kJ-inhoud van jou gunsteling drankie verhoog. Al die baie soet, gekonsentreerde drankies soos muskadel, port en sjerrie bevat ongeveer 580kJ per 100ml en likeur is die heel hoogste met 1,440kJ/100ml. Daarenteen bevat die droër, minder soet en gekonsentreerde drankies soos droë of medium sjerrie en Vermouth minder energie (450kJ/100ml). Onthou, net twee klein 50ml glasies sjerrie of likeur is alreeds 100ml en voeg byna 1,500kJ by jou dieet by.

Drank-aanbevelings

Gebaseer op bostaande, is dit logies dat die volgende reëls jou sal help om nie oorboord te gaan met kJ wanneer jy alkohol drink nie:

  • Kies drankies met 'n lae alkohol-inhoud. 
  • Drink klein hoeveelhede.
  • Moenie jou alkohol met energie-belaaide koeldranke meng nie. 
  • Vermy hoogs gekonsentreerde alkoholiese drank soos port, muskadel, soet sjerrie en likeur.   
  • Moenie elke dag drink nie – dit sal keer dat jy jou dieet saboteer, en alkoholverslawing verhoed.
  • Verdun jou alkoholiese drankies met zero-energie byvoegsels soos water, ys, sodawater of kunsmatig-versoete koeldranke. 

Wat van 'ligte' biere?

Dit is hoogs in die mode deesdae om sogenaamde 'light' of 'laer energie' biere te drink. Sulke biere het 'n effens verlaagde energie-inhoud, maar die energiebesparing is nie massief nie. In vergelyking met die standaard Castle Lager met 'n energie-inhoud van 168kJ/100ml, bevat Castle Light 129kJ/100ml – dus 'n besparing van ongeveer 40kJ per 100ml of 136kJ per 340ml blikkie.

Die probleem is wanneer jy 'Light' biere drink, jy onbewustelik in die versoeking mag kom om groter hoeveelhede op 'n slag te drink as wat jy andersins sou doen. Jy voel gerusgestel deur 'n valse sin van sekuriteit omdat dat jy 'n verlaagde-energie-drankie drink, en jy mag dalk 1 of 2 ekstra blikkies drink en sodoende op die ou end meer energie inneem as wanneer jy minder blikkies standaard bier drink. (Ag, is dit nie vreeslik hoe ons onsself om die bos lei nie!)

Ander drank-slagysters

Terwyl ons oor drankies en dieet praat, is dit belangrik om in gedagte te hou dat vrugtesap ook energie bevat. Net omdat vrugtesap gesond is, beteken dit nie dat jy onbeperkte hoeveelhede kan drink terwyl jy probeer om gewig te verloor nie. Ook nie onder normale omstandighede nie.

"Ek drink nooit versoete koeldrank nie, net gesonde vrugtesap!" Dit is 'n stelling wat 'n mens gereeld hoor en is nog 'n voorbeeld van selfbedrog. Populêre vrugtesappe soos appel of druiwesap het 'n gemiddelde energie-inhoud van omtrent 220kJ per 100ml (soeter sappe soos druiwesap het 'n effens hoër energie-inhoud, terwyl onversoete pomelosap effens minder kJ het). As jy 'n standaard 300ml glas vrugtesap drink, is dit 660kJ energie, wat 10,5% van jou daaglikse energie-inname verteenwoordig as jy 'n vrou is en 7.9% as jy 'n man is – en nie gewig probeer aansit of verloor nie.

Die probleem met fruktose

Nog 'n probleem met vrugtesap in groot hoeveelhede is dat hierdie sappe baie fruktose (vrugtesuiker) bevat. Party navorsers glo dat die astronomiese verhoging in fruktose-inname wat deur die verandering in die drinkgewoontes van ons moderne samelewing dalk verantwoordelik mag wees vir die epidemie van vetsugtigheid met al sy meegaande kwale (insulien weerstandigheid en tipe 2 diabetes; metaboliese sindroom; verhoogde bloedvetvlakke, veral verhoogde trigliseriede; jig, aangesien fruktose die enigste soort suiker is wat bloed-uriensuur-vlakke verhoog; niersiekte, vetterige lewer, ens.) (Van Heerden, 2011)

Verstandige aanbevelings is dat ons ons inname van vloeibare fruktose moet dophou en nie die hele dag lank glase vrugtesap moet drink nie. Dieselfde is van toepassing op ons kinders. In plaas daarvan om ons kinders liters vrugtesap te gee, moedig hulle aan om liewer suiwer water of laevet melk te drink.

Matigheid is moontlik die beste riglyn. As jy alkohol nie heeltemal kan vermy wanneer jy op 'n dieet is nie, drink baie versigtig en probeer om die bogenoemde aanbevelings toe te pas, om te verhoed dat jy jou dieet saboteer. Moet ook nie jou fruktose-inname oordoen deur elke dag liters vrugtesap te drink nie.

- (Dr. IV van Heerden, DietDoc, Augustus 2011)

Enige vrae? Vra vir DietDoc

Verwysings:

(MRC (2010). Condensed Food Composition Tables for South Africa. Eds. P Wolmarans, N Danster, A Dalton, K Rossouw, H Schonfeldt. Medical Research Council, Tygerberg;  Van Heerden, IV (2011). Metabolic effects of fructose - 2011 Update. Paper presented at the Sugar & Health Symposium, Stellenbosch, March 2011)

 Lees verder:

Kilojoule bom in jou drankies
Is jy dalk allergies vir alkohol?

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE