advertisement
12 January 2009

Nuwe bohaai oor 'Frankenstein-kos'

Een van die gebiede waarop die geskiedenis vinnig die mensdom inhaal, is dié van voldoende kos vir die wêreld se immergroeiende bevolking.

0

Een van die gebiede waarop die geskiedenis vinnig die mensdom inhaal, is dié van voldoende kos vir die wêreld se immergroeiende bevolking.

Na raming sal die wêreld se voedingsbehoeftes in die volgende vyftig jaar tot soveel as drievoudig toeneem. Maar die planeet se kosproduksievermoë is baie naby aan sy plafon. Hoe nou gemaak?

'n Moontlike oplossing is die reusespronge wat in die biotegnologie gemaak word - meer spesifiek die produksie van geneties gewysigde kos, beter bekend as geneties gewysigde organismes (GGO's).

Soos dit egter met enige tegnologiese omwenteling gaan, is die prentjie allesbehalwe eenvoudig. GGO's is nog 'n baie nuwe tegnologie en heelwat navorsing daaroor moet nog gedoen word. Sommige mense het al in die jare tagtig die potensiaal van 'n reuse-mark raakgesien en selfs sover gegaan om DNS-strukture te patenteer.

Verbruikers, mense wat by die ontwikkelingswêreld betrokke is, wetenskaplikes en biotegnologiese maatskappye het almal belang by hoe die verhaal van GGO's vorentoe ontvou.

In Frankryk is daar 'n baie hoë verbruikersagterdog teen GGO's. Dié wantroue is uiteraard verskerp deur die krisis met malbeessiekte en, meer onlangs, bek-en-klou-seer.

Albei dié krisisse is aangehelp deur die winsmotief in die voedselbedryf. In die geval van malbeessiekte is diere letterlik van hul eie afval gevoer omdat dit goedkoper is.

In die geval van bek-en-klou-seer kan die krisis in Brittanje regstreeks herlei word na besnoeiings wat die regering aan die begroting van die staat se veeartsenydienste gemaak het. Gevolglik is die historiese standaarde van dieregesondheid nie meer gehandhaaf nie. Verbruikers moes die gelag betaal, om nie te praat van die honderdduisende diere wat onnodig geslag is nie.

Dit is daarom te verstane dat daar al sedert 1997 'n algehele verbod op GGO's in Frankryk is terwyl navorsing daaroor voortgaan. Die bekendmaking van 'n opspraakwekkende verslag het nou die GGO-debat in Frankryk weer laat opvlam.

Die verslag is saamgestel deur die Franse agentskap vir voedselsekuriteit, die FAV.

Die FAV het spore van GGO's gevind in 19 van 112 getoetste saadmonsters. Die sade was van die gewasse koolsaad, soja en mielie. Sowat 41% van die mieliesaadmonsters het spore van GGO's bevat. Sommige van die mieliesaadmonsters het selfs spore van geneties gewysigde sojasade bevat.

Die FAV was egter gou om daarop te wys dat geeneen van die monsters meer as 0,1% GGO's bevat het nie en dat geen monster enige gesondheidsgevaar inhou nie. Maar dié versekering was nie genoeg om die Franse publiek tevrede te stel nie.

Mense wou weet hoe dit hoegenaamd moontlik is dat GGO's in sade kon beland wat veronderstel is om deur 'n moratorium beskerm te word. Die FAV het twee verduidelikings aangevoer.

Die eerste wil dit hê dat die probleem ontstaan het weens die invoer van kos wat nie heeltemal vry van GGO's is nie. In die lig daarvan dat nie minder nie as 68% van Amerikaanse landbougrond reeds onder GGO-verbouing is, is dié verduideliking heeltemal aanvaarbaar.

Die tweede verduideliking is dat landerye in Frankryk waar navorsing oor GGO's gedoen word, hul omgewing begin "besmet" het.

Ekologiese groepe se verduidelikings is egter somberder: hulle beweer dat GGO's reeds begin het om deur 'n proses van evolusie met "onbesmette" sade te vermeng, of dat doodgewone bestuiwing vir die probleem verantwoordelik is.

Die kwessie van GGO's kry ook indringend aandag in die Europese Unie. Die EU het van 1991 tot 1998 altesame 18 GGO's vir menslike gebruik goedgekeur. Nog 14 GGO's word tans oorweeg. Die EU het ook op 25 Julie nuwe riglyne oor GGO's aanvaar. Dié riglyne moet van Januarie 2002 deur 'n te stigte Europese voedselowerheid toegepas word.

Hoewel Europese verbruikers baie groter weerstand teen GGO's as Amerikaners het, is só baie geld in die GGO-mark op die spel dat die EU nie by Amerika in die produksie van GGO's kan agter raak nie.

Uit dié toedrag van sake kan minstens drie afleidings gemaak word:

Die mensdom is wat kosproduksie betref nou meer as ooit op sy tegnologiese vermoëns aangewese.

Solank as wat die wêreldbevolking blý groei, het die mens geen keuse as om deur tegnologiese vindingrykheid nuwe kosproduksietegnieke te ondersoek nie. Dié tegnologie, soos alle tegnologie, is egter geensins gevrywaar van kortsigtige politieke en ekonomiese motiewe nie.

Dit is dus van die allergrootste belang dat die wetenskaplike feite oor GGO's aan 'n wye publiek oorgedra word en dat 'n sterk burgerlike samelewing wêreldwyd druk op politici en biotegnologiese maatskappye toepas om te keer dat onvolhoubare en ongesonde tegnologieë in die mark losgelaat word.

Die begrip "natuur" word weer eens geherdefinieer.

Vanweë die nywerheidsomwenteling in die middel van die 19de eeu het die stad die mens se natuurlike habitat geword, as't ware die natuur self. Teen dié agtergrond het die natuur - dit wil sê dele ryk aan plant- en dierelewe - 'n gesogte kommoditeit geword.

Hierop het 'n proses van vernietigende kommersialisering van die "natuur" gevolg wat min "natuurlike" gebiede in die ontwikkelde wêreld gelaat het. Trouens, die natuur is in 'n groot mate vandag 'n metafoor vir 'n paradyslike staat wat die mens eintlik lankal verloor het.

Die kos wat deesdae as "onbesmet" en "natuurlik" voorgehou word, word deur allesbehalwe "natuurlike" tegnieke geproduseer.

"Natuur" is dus eerder 'n soort ekologiese riglynbegrip as wat dit hoegenaamd nog 'n werklikheid is.

Die winsmotief in die voedselbedryf het dubbelsinnige implikasies.

Aan die een kant lei dit tot massiewe beleggings, wat op sy beurt weer die noodsaaklike navorsingsvermoë van die bedryf verhoog.

Aan die ander kant is daar 'n wesenlike gevaar dat DNA-strukture self - dit wat dalk die "natuurlikste" van alles is en aan die hele mensdom behoort - gekommersialiseer kan word. Ook hier is dringende politieke regulering van die mark nodig.

As groot maatskappye werklik monopolieë op DNS kan bekom, kan die spreuk dat jy vir jou kos moet werk 'n afgryslike bykomende betekenis kry . . . dat eksotiese kosse eerder as mooi klere die mode word.

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.