Share

Kleuters se dieet in die kollig

Belemmerde groei en ondergewig is die mees algemene voedings-afwykings wat by Suid-Afrika se voorskoolse kinders voorkom. Die Nasionale Opname oor Voedselinname (2005)  dui aan dat een uit elke 10 kinders (8.6%) in die ouderdomsgroep 4 – 6 jaar ondergewig is en dat vier uit 20 (16.4%) aan belemmerde groei ly. Aan die ander kant van die spektrum is oorgewig ook ’n groot bekommernis, iets waaraan byna een uit 10 kleuters ly.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die Departemente van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling, in samewerking met Unicef, die Vereniging vir Dieetkundiges in Suid-Afrika (Adsa), Melk SA se Projek vir Verbruikersopvoeding (CEP) en die Suid-Afrikaanse Raad op Verbruikersgoedere (CGCSA), Nasionale Voedingsweek 2010, met die tema "Healthy Eating for Preschool Children", van stapel stuur.

Vier sleutelboodskappe

Die veldtog vind van 9 tot 13 Oktober plaas en is veral gemik op voorskoolse kinders van 4 – 6 jaar, asook personeel by crèches en kleuterskole. Vanjaar het die veldtog vier sleutelboodskappe:

1.    Maak styselkosse die grondslag van ’n kind se hoofmaaltye (insluitende pasta, mieliemeel, brood, rys, aartappels en gefortifiseerde stysels) 

2.    Kinders het elke dag baie groente en vrugte nodig

3.    Kinders moet elke daag melk drink, en

4.    Kinders kan elke dag hoender, vis, vleis, eiers, boontjies, soja en grondboontjiebotter eet.

Die doel van die veldtog is om gesonde eetgewoontes by voorskoolse kinders aan te moedig om voldoende voedingsinname te verseker, wat noodsaaklik is vir positiewe groei en ontwikkeling en die vestiging van langtermyn gesonde eetgewoontes.

“Tekorte aan sleutel-mikrovoedingstowwe is ook baie algemeen in hierdie ouderdomsgroep; meer as die helfte (63.6%) het ’n vitamien A tekort en byna die helfte (45.4%) ’n sink tekort. Hierdie statistieke benadruk die dringende behoefte aan ingrypings wat eetpatrone sal optimaliseer, en dus ook die groei en ontwikkeling van ons kinders. Dit is krities dat hierdie positiewe eetgewoontes op ’n vroeë ouderdom vasgelê word, sodat daarop voorgebou kan word tot volwassenheid,” sê Lynn Moeng, Direkteur: Voeding aan die Departement van Gesondheid. 

Beenontwikkeling

Maretha Vermaak, ’n CEP dieetkundige, beaam hierdie punt en sê dat beenvorming gedurende ’n mens se kinderjare en adolessensie beengesondheid op ’n later stadium in jou lewe bepaal.

“’n Mens se kinderjare is die belangrikste tyd vir beenontwikkeling. Optimale beengesondheid vereis onder andere die inname van kalsium uit suiwelprodukte en fisiese aktiwiteit. Dit is dus noodsaaklik dat kinders elke dag ten minste drie glase melk drink en baie fisiese oefening kry. Kaas, joghurt, maas en gegeurde melk is ook goeie bronne van kalsium en kan in plaas van melk gebruik word,” verduidelik Vermaak. 

"Goeie voedingsgewoontes gedurende ’n mens se vroeë kinderjare skep die fondament vir gesonde eetgewoontes vir die res van jou lewe. Teen die ouderdom van 3 jaar kan die meeste kinders hulself voer, maar onderwysers en families moet gedurende maaltye aanhou om hulle dop te hou en aan te moedig,” sê René Smalberger, die president van Adsa.

“Maaltye moet ’n verskeidenheid voedsel insluit om sodoende die voedingstowwe wat ’n kind se groeiende liggaam nodig het, te voorsien. Ontbyt is van kardinale belang en skoolgaande kinders moet ’n gesonde ingepakte middagete saamneem. Families kan aandete gebruik as ’n geleentheid om bymekaar te kom en ’n gebalanseerde maaltyd te geniet,” sluit Smalberger af.  

Nasionale Voedingsweek is ook belangrik vir die CGCSA en hulle verteenwoordigers en hulle doel is om die gesondheid van alle Suid-Afrikaners te verbeter. “Ons ondersteun hierdie inisiatief ten volle, aangesien gesonde eetgewoontes by voorskoolse kinders baie belangrik is. Dit speel ’n kritieke rol in die gewaarborgde voorsiening van essensiële voedingstowwe in die vroeë stadiums van ontwikkeling, wat belangrik is vir die langtermyn gesondheid en welsyn van ons nasie,” sê die Inisiatief vir Voedselveiligheid (FSI) van die CGCSA.      

Ondersteuningspakket vir Onderwysers

Om voorskoolse onderwysers te ondersteun met die opleiding van kinders oor gesonde eetgewoontes, het die Departement van Gesondheid en die CEP, met die hulp van belanghebbendes, ’n Ondersteuningspakket vir Onderwysers ontwikkel. Dit is vol inligting wat ontwerp is om onderwysers te help om aktiwiteite en lesse oor voeding te beplan. Dit kan gedurende Nasionale Voedingsweek of enige ander tyd gebruik word om sleutelboodskappe te vas te lê. 

’n Beperkte aantal ondersteuningspakkette sal aan voorskoolse instellings dwarsoor die land versprei word en dit kan ook van die departement se webwerf afgelaai word.

Nasionale Voedingsweek is ’n jaarlikse inisiatief deur die Departement van Gesondheid en word alreeds vir meer as 10 jaar dwarsoor die land geïmplementeer. Die doel is om kinders, ouers en onderwysers op te lei oor die voordele van ’n gesonde, gebalanseerde dieet, met die doel om die vele voedingstekorte wat Suid-Afrika se kinders in die gesig staar, aan te spreek. 

FEITEBOKS

Die 1999 Nasionale Opname oor Voedselinname (NFCS) het getoon dat: 

  • Die meeste kinders van 1 – 9 jaar ’n lae-energie-eetpatroon met swak proteïne-kwaliteit en voedingstof-digtheid volg. Een uit twee kinders het ’n inname van minder as die helfte van die aanbevole hoeveelhede vir vitamines A, B6, en C, riboflavien, niasien, kalsium, yster en sink getoon  
  • ’n Vyfde van kinders van 1 – 9 jaar kry minder as die helfte van hulle vereisde energiebehoeftes en byna die helfte van die kinders het ’n energieinname van minder as twee derdes van hulle daaglikse energiebehoeftes 
  • Kalsium is een van die voedingstowwe waaraan daar ’n ernstige tekort in die diëte van kinders van 1 – 9 voorkom. Die ondersoek het getoon dat die helfte van die kinders minder as 50% van die aanbevole hoeveelheid inneem. Deur drie porsies suiwelprodukte (200ml volroom melk plus 30g kaas plus 100ml joghurt) word daar aan ongeveer 90% van die daaglikse kalsiumbehoefte van kinders van 4 – 8 voldoen
  • Vitamien A ontbreek in die dieet van baie kinders van 1 – 9 jaar. Vitamien A help om die gesondheid van baie tipes selle te onderhou en verseker die normale funksionering van die immuniteit, die visuele stelsel asook normale groei en ontwikkeling     
  • Suid-Afrikaanse kinders kry net tussen 41% en 63% van die yster wat hulle nodig het. Lae ysterinname veroorsaak gedragsafwykings, vertraagde psigomotoriese funksie en het ’n negatiewe impak op kognitiewe funksie en intelligensie.

Vir verdere inligting, besoek die webwerwe van die Departement van Gesondheid,  die Vereniging vir Dieetkundiges in Suid-Afrika (Adsa), die Melk SA se Projek vir Verbruikersopvoeding  (Cep) en die Suid-Afrikaanse Raad op Verbruikersgoedere (CGCSA).

- (Saamgestel deur Birgit Ottermann, Health24, Oktober 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE