Share

Hoe vinnig kan 'n mens gewig verloor?

’n Belangrike aspek van gewigsverlies is hoe vinnig die menslike liggaam onnodige kilogramme kan afskud.  

Dit is bloot menslik om vinnige resultate te wil sien, en danksy televisie en die internet is ons gewoond aan kitsbevrediging. Maar in die geval van die menslike liggaam het ons ’n bietjie meer geduld nodig.

Die meeste mense tel nie groot hoeveelhede gewig binne ’n paar dae of weke op nie. Dit neem tyd om daardie ekstra 10 kilogram om die maag en heupe aan te sit. So, as dit ’n paar jaar geneem het om die gewig wat jy wil afskud, aan te sit, is dit onrealisties om te dink dat jy binne ’n week of twee van daardie oortollige ponde ontslae gaan raak.

Navorsing het getoon dat die suksesvolste gewigverlies programme dié is wat ons help om ongeveer 1 kg per week te verloor.

As jy teen die gemaklike koers van 1kg per week gewig verloor, sal jy nie jou liggaam stres nie, en die kanse dat die gewig gaan af bly, is soveel groter.

Wonder-diëte 

Daar is baie gier-diëte beskikbaar wat fantastiese gewigsverlies-resultate in ’n baie kort tyd beloof.

Maar hierdie diëte help jou nie om die gewig af te hou wanneer jy ophou omdat jy nie nog ’n pruimedant of gebakte eier in die oë kan kyk nie. Jy sal al die gewig wat jy verloor het net weer aansit en jy kan maklik in die ellende van klimtol-diëte verval – iets wat jy ten alle koste moet probeer vermy.   

Klimtol-diëte

Klimtol-diëte is die bose kringloop waarin baie mense verval wanneer hulle met behulp van kits- of gier-diëte gewig probeer verloor. Die betrokke persoon maak gebruik van ’n gier-dieet en verloor vinnig ’n groot hoeveelheid gewig. Omdat hierdie diëte gewoonlik vervelig of baie onsmaaklik is, kan ’n mens nie daarby hou nie en binne ’n ommesientjie is die gewig weer terug op die vorige vlakke of (nog kommerwekkender) nog hoër as voorheen. Wat gebeur, is dat die persoon se metabolisme onderdruk word, wat dit selfs moeiliker maak om die oortollige gewig te verloor.

As ’n mens egter ’n gebalanseerde, laevet, hoë-vesel dieet saam met baie oefening volg, sal jou liggaam by die gewigsverlies aanpas. As jy eers van die oortollige kilogramme ontslae is, sal jy nie weer so vinnig gewig aansit nie.

Deur voort te gaan met ’n laevet-dieet en net die porsies te vergroot, en aan te hou met jou oefen-skedule, het jy vir alle praktiese doeleindes ’n waarborg dat jy nie die gewig wat jy verloor het weer sal aansit nie. 

Oornag gewigsverliese

Sekere pille wat gewoonlik diuretiese middels bevat (dit is ook op kruieprodukte van toepassing) sal jou oornag 1-2 kg laat verloor. Jy mag dink dit is wonderlike nuus, maar dink eers ’n bietjie. Jy het water verloor en water weeg omtrent 1g per ml.

Sodra jy die water in jou liggaam aanvul deur vloeistof te drink (en dit is noodsaaklik as jy nie gedehidreer wil word nie), sal jy daardie gewig weer aansit. So, moenie eers die moeite doen om sulke pille te oorweeg nie omdat hulle jou nie vet laat verloor nie en ’n negatiewe uitwerking op jou niere kan hê en/of dehidrering kan veroorsaak.

Klim een keer per week op die skaal

As jy jouself elke dag weeg, gaan jy net gestres raak. ’n Mens se gewig varieer effens van dag tot dag en selfs gedurende die loop van ’n enkele dag. Die meeste mense weeg byvoorbeeld minder wanneer hulle soggens opstaan as saans.  

Om te keer dat jy moed verloor wanneer jy gewig verloor, maak dit ’n goue reël om jouself net een keer per week te weeg. Doen dit in die oggend en maak seker jy dra elke keer dieselfde klere.

- (Dr. I.V. van Heerden, DietDoc, hersien April 2011)

Enige vrae? Vra vir DietDoc

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE