Share

Gevare wat in jou yskas skuil

Word jy soms oorweldig deur die geur van goor, verskimmelde oorskietkos wanneer jy jou yskas oopmaak?

Sies! Dis beslis tyd om 'n bietjie skoon te maak. Maar voor jy die vuilisdrom voor die yskas parkeer, stel eers vas wat jy kan hou en wat jy definitief moet weggooi.

Verskimmelde kos

Dit is nie nodig om jou te erg oor die muwwe kol op die blok Cheddar kaas te bekommer nie. As jy jou nie morsdood gril nie, kan jy net die skimmelgedeelte afsny en die res van die kaas geniet.

Maar as dit met skimmel oortrek is, is dit waarskynlik beter om die aftog te blaas, die kaas in die drom te gooi en "kaas" op jou inkopielys te skryf. Dieselfde geld vir vrugte, groente en harde salami.

As daar egter skimmel op ander kos groei, soos op kouevleis, oorskietvleis en -hoender, gekookte pasta, kasserolle, sagte kaas, joghurt, konfyt, brood of neute, is dit tyd om vaarwel te sê.

Party soorte skimmel mag allergiese reaksies en asemhalingsprobleme veroorsaak (dit is hoekom dit nooit 'n goeie idee is om aan muwwe kos te ruik nie). Onder die regte omstandighede produseer sekere soorte skimmel "mikotosksiene" – giftige stowwe wat jou siek kan maak. Deur net daarna te kyk, is dit egter moeilik om vas te stel of die skimmel reeds toksiene geproduseer het of nie.

Wanneer kos 'n ordentlike laag skimmel het, is die kanse goed dat die wortels van die skimmel al diep in die kos ingedring het. Daar is moontlik alreeds meer skimmel wat allergieë kan veroorsaak as wat 'n mens kan sien, en dit is waarskynlik onveilig om te eet.

En as daar inderdaad gevaarlike toksiene teenwoordig is, is die kanse groot dat dit reeds dwarsdeur die kos versprei het. Skimmel dring moeiliker in digter kossoorte in – dit is waarom harde kaas, harde salami en ferm vrugte en groente oor die algemeen veiliger is.

Suur melk en joghurt

Dit is heel maklik om agter te kom wanneer melk suur is – ruik net daaraan. Nog 'n teken is die klein vlokkies wat daarin ronddryf.

Terwyl die suur reuk en die veranderde tekstuur vir die meeste mense genoeg rede is om die melk weg te gooi, mag jy miskien wonder of dit nog enigsins gebruik kan word.

As melk 'n dag of twee oor sy vervaldatum is, kan dit nog met veiligheid gedrink word en in melk-gebaseerde resepte soos pannekoek gebruik word. Maar sodra dit begin suur ruik, gooi dit liewer weg. Melk is so 'n ideale groeimedium vir gevaarlike bakterieë dat dit beter is om veilig te wees.

En as 'n bakkie joghurt verby sy vervaldatum is, maar nog nie oopgemaak is nie, is dit moontlik nog veilig om te eet. Let egter daarop dat die joghurt geleidelik sal begin om sy geur, tekstuur en voedingswaarde te verloor. Uiteindelik sal dit onveilig wees om te eet.

So, as die joghurt 'n paar dae oor sy vervaldatum is, kyk of dit nog eetbaar is. Maar as dit 'n week of twee later is, gooi die joghurt maar in die vuilisdrom. Gaan koop liewer 'n vars bakkie.

Visreuk

Jy het 'n lekker Koningklipfilet in die yskas, maar daar was nog nie tyd om dit te eet nie. Is dit nog eetbaar?

Vars, ongekookte vis hou net een of twee dae in die yskas. As dit reeds gekook is, behoort dit vir drie tot vier dae eetbaar te bly, maar net as jy dit ordentlik warm maak voor jy dit eet.

Maar as jy nie kan onthou wanneer jy dit gekoop het  nie?

Wel, dan is dit miskien beter om in elk geval van die vis ontslae te raak. En as jy 'n meer oortuigende rede soek, is daardie "visreuk" in jou yskas 'n duidelike teken dat dit nie meer eetbaar is nie.

Vleis

Die belangrikste ding om te onthou is: vleis mag dalk nog goed lyk, ruik en selfs smaak, maar dit beteken nie noodwendig dat dit veilig is om te eet nie.

Gaan altyd die vervaldatums na en moenie rou maalvleis wat reeds meer as twee dae, of biefstuk of tjops wat meer as vier dae in die yskas lê, gebruik nie. Gekookte maalvleis sal ongeveer vier dae lank hou.

As daar 'n slymlagie op jou kouevleis is, as dit 'n geurtjie het of van kleur verander het, gooi dit dadelik weg. Maar lank voor hierdie veranderinge plaasvind, kan die vleis reeds onveilig wees.

Groente

Uiteindelik 'n bietjie goeie nuus: vrugte en groente wat nie meer perfek en kraakvars is nie kan nog steeds gebruik word.

Die beste is om hierdie groente in gekookte kos soos bredies, sop of potjiekos te gebruik. Die groente se vorm verander bloot as gevolg van 'n vermindering van die voginhoud en natuurlike ensiemveranderinge.

Teen die tyd dat vrugte en groente 'n gesondheidsrisiko raak – met ander woorde wanneer daar gevaarlike bakterieë teenwoordig is, of wanneer dit heeltemal verskimmel is – sal jy dit in elk geval onder geen omstandighede wil eet nie. - (Carine Visagie, hersien Maart 2010)

Verwysing:
- Canadian Partnership for Consumer Food Safety Education (www.canfightbac.org)

Lees verder:
VISUELE GIDS: Bewaring van kos in die yskas
Algemene kos-veiligheid

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE