Share

Gesondheid vir elke grootte

Omdat ons almal weet dat diëte nie werk nie, moet ons van ons dieet-mentaliteit ontslae raak en meer ontspanne oor kos wees – so sê geregistreerde dieetkundige Kim Hoffmann.

Die probleem met oorgewig en vetsugtigheid dwarsoor die wêreld is kommerwekkend. Die Suid-Afrikaanse statistieke is oninspirerend  – volgens die Mediese Navorsingsraad se Chronic Diseases of Lifestyle verslag, is die algehele voorkoms van oorgewig en vetsugtigheid in Suid-Afrika "hoog" met meer as 29% van mans en 56% van vroue wat as oorgewig of vetsugtig geklassifiseer word.

Dit is ten spyte van hoë vlakke van liggaamsontevredenheid wat tot herhaalde pogings om gewig te verloor lei, verskeie programme wat gemik is op pasiënt-opvoeding, en die private gewigsverlies-industrie. Die meeste individue wat probeer om gewig te verloor, is nie in staat om hulle gewigsverliese op die lange duur vol te hou nie, en geniet nie die voordele van beter gesondheid en 'n beter selfbeeld nie.

Die probleem is dat hierdie "gewigsgefokusde" idee nie net nie daarin slaag om maerder, gesonder liggame te produseer nie, maar ons ook skade berokken. Dit dra by tot 'n obsessie met kos en die liggaam, herhaalde siklusse van gewigsverlies en -toename, die verontagsaming van ander persoonlike gesondheidsdoelwitte en breër gesondheidsvoordele, 'n swakker selfbeeld, 'n swakker eetpatroon, asook eetversteurings, swakker gesondheid oor die algemeen, en gewig-stigmatisering en diskriminering.

Gewigskommelinge

Pogings om gewig te verloor, veroorsaak tipies gewigskommelinge, en dit is om die waarheid te sê juis vir sulke gewigskommelinge wat die verhoogde risiko vir baie oorgewig-geassosieerde siektetoestande soos hipertensie, insulienweerstandigheid en dislipidemie (hoë vlakke van cholesterol of trigliseriede in die bloed) verantwoordelik, omdat dit verhoogde inflammasie in ons liggame veroorsaak. Die skakel tussen gewig en gesondheidsrisiko kan moontlik toegeskryf word aan gewigskommelinge, eerder as oorgewig.

Studies het ook getoon dat die meeste gesondheidsaanduiders (byvoorbeeld bloeddruk, bloedlipiede en insuliensensitiwiteit) deur die verandering van gesondheidsgedrag (byvoorbeeld deur meer aërobiese oefening), verbeter kan word, ongeag of daar enige gewigsverlies plaasgevind het.

Gesondheid vir Elke Grootte: die verskuiwing van die klem van gewig na gesondheid

'n Groeiende transdissiplinêre beweging, met die naam Health at Every Size (HAES), verskuif die fokus van gewigsbestuur na gesondheidsbevordering. Die hoofdoelwit van HAES is om beter gesondheidsgedrag vir almal te bevorder, sonder gewigsverlies as 'n doelwit – gewigsverlies mag 'n newe-effek wees, of nie.  

Die hoofoogmerke van HAES sluit in:

Die aanmoediging van liggaamsaanvaarding in teenstelling met gewigsverlies of -instandhouding

Die bewyse dui daarop dat die bevordering van liggaamsontevredenheid tot minder positiewe lewenstylkeuses lei. Volgens die empatie-gefokusde gedragsveranderingsteorie is selfaanvaarding ’n hoeksteen van selfsorg, wat beteken dat mense met 'n sterk selfbeeld meer geneig is om positiewe gesondheidsgedrag te openbaar. Deur te leer om hulle liggame te waardeer soos hulle is, selfs al verskil die gewig en vorm van wat hulle eintlik wil hê, of al het hulle teenstrydige gevoelens daaroor, verbeter mense hulle vermoë om vir hulself te sorg en verbeteringe in gesondheidsgedrag te volhou.

Die ondersteuning van staatmaak op interne regulerende prosesse, soos honger en versadiging, in teenstelling met die aanmoediging van kognitiewe besluite oor dieetbeperking.

Konvensionele aanbevelings beskou bewuste pogings om voedselkeuses te monitor en beperk as 'n noodsaaklike aspek van gesonde eetgewoontes of gewigbeheer. HAES leer mense om op interne regulasie staat te maak (ook bekend as intuïtiewe eet), wat hulle aanmoedig om hulle bewustheid van hul liggame se reaksie op kos te verhoog en te leer hoe om voedselkeuses te maak wat hierdie "liggaamskennis" weerspieël.

Die waarde van kos word gekoppel aan voedings-, sielkundige-, sensuele-, kulturele- en ander redes. HAES leer mense om die verbindings te maak tussen wat hulle eet en hoe hulle oor die kort- en medium termyn voel, om aandag te gee aan kos en bui, konsentrasie, energievlakke, versadigdheid, stoelgang, eet as troos, aptyt, versadigdheid, en honger en plesier as leidende beginsels.

Om te leer om intuïtief te eet, is 'n reis wat lank vat. Veral as jy 'n lang geskiedenis van dieet of ander selfopgelegde dieetbeperkings of liggaamsbeeld-bekommernisse het. Om ou gewoontes en houdings te laat gaan, mag jou dalk baie onseker laat voel, maar intuïtiewe eetpatrone word stadig maar seker aangeleer namate ou opvattings oor kos, voeding en eetgewoontes uitgedaag word en deur nuwes vervang word. Daar is beduidende bewyse dat intuïtiewe eetpatrone aangeleer kan word.

Die ondersteuning van aktiewe prosesse in teenstelling met gestruktureerde oefening

HAES moedig mense aan om aktiwiteit as deel van hulle daaglikse roetines in te rig en fokus daarop om hulle te help om lekker maniere om aktief te wees, te vind. Die doelwit is om welsyn en selfsorg te bevorder. 'n Aktiewe lewenstyl word vir 'n verskeidenheid van fisieke, sielkundige en ander meegaande voordele bevorder – onafhanklik van gewigsverlies.

Omdat ons almal weet dat diëte nie werk nie, moet ons van ons dieetmentaliteit afsien en meer ontspanne oor kos wees. Leer 'n paar goeie gewoontes aan en verander jou fokus, en jy sal sien dat dit baie makliker is as wat jy gedink het.

Geskryf deur geregistreerde dieetkundige, Kim Hoffmann, van The Lean Aubergine Dietetic Services. Om in te skryf vir die maandelikse Lean Aubergine nuusbrief, stuur ’n e-pos aan KimH.rd@mweb.co.za of karenrd@mweb.co.za)

- (Health24, September 2011)

Lees verder:

Is jy regtig honger?
’n Kosdagboek is net die ding
Skyfievertoning: 10 maniere om jou metabolisme te stimuleer

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE