Share

Die malste diëte ooit

Mense op dieet vang die eienaardigste dinge aan, net om 'n slanker weergawe van hulself te probeer word. Kyk net na die gewigsverlies-produkte wat op televisie geadverteer word – alles van wonder-dieet-melkskommels, voet-detoks-pleisters en gewigsverlies-jel tot Brasiliaanse boontjies en gewigsverlies-tee, net om 'n paar te noem. Baie mense sal enige kits-wonder-gewigsverlies-hulpmiddel probeer wat sukses beloof.

Gewigsverlies-grille is nie uniek aan ons tyd nie; om die waarheid te sê, is daar 'n lang lys onsinnige diëte wat deur die geskiedenis hul verskyning gemaak het en weer verdwyn het – hier volg tien voorbeelde.

Fletcherisme

In 1903 het Horace Fletcher, 'n kunshandelaar van San Francisco, bekendheid verwerf as die "Groot Kouer" (The Great Masticator) nadat hy 18kg verloor het deur middel van sy kou-metode. Hierdie metode behels dat jy jou kos 32 tot 80 keer kou totdat dit 'n vloeistof raak. Na hierdie gekouery word die kop agtertoe gekantel, wat die kos stadig laat afsak, en enigiets wat nog steeds te groot is om af te sak, moet dan uitgespoeg word.

Die Slapende Skoonheid-dieet

Ons weet almal dat wanneer jy slaap, jy nie kan eet nie. Navolgers van hierdie dieet is vir verskeie dae onder swaar verdowing geplaas om die kilo's af te slaap. Die idee is: terwyl jy slaap, is jy nie in staat om kilojoules in te neem nie, wat jou liggaam forseer om die kilojoules wat alreeds gestoor is, te verbrand. Elvis Presley was 'n navolger van hierdie gril.

Die "Breatharian"-dieet

Hierdie dieet is gebaseer op die "Inedia", 'n tak van Hindoeïsme wat glo dat mense nie kos nodig het om te oorleef nie. Navolgers hiervan meen dat alleenlik sonlig en vars lug nodig is vir oorlewing. Hierdie geloof word gevolg deur mense wat hulle spiritualiteit wil verhoog en het eintlik niks te doen met gewigsverlies nie. Dit is gekoppel aan 'n hele aantal sterftes van aanhangers wat oorlede is aan dehidrasie en hipotermie (lae liggaamstemperatuur).

Oor-kramme

Die "oorkram-metode" is gebaseer op drukpuntterapie en dit word toegepas op drukpunte wat skynbaar gewigsverlies aanmoedig. 'n Klein "krammetjie" van chirurgiese staal word gebruik om die kraakbeen van die binneoor te deurboor, aangesien daar geglo word dat hierdie punt 'n drukpunt is wat aptyt beheer.

Die Watte-dieet

Het jy geweet dat watte baie vesel bevat? Navolgers van hierdie dieet eet watteballetjies óf droog, óf in gelatien gedoop. Watteballetjies is blykbaar baie vullend en laag in kilojoules. Hierdie dieet het gewild geword toe fiksheidsdeskundiges die verband tussen 'n hoë vesel-dieet en gewigsverlies begin verstaan het. 

Die Lintwurm-dieet

Die lintwurm is seker die mees oordrewe dieet-gril wat daar ooit was. Deur 'n lintwurm te sluk, word alles wat jy eet tussen jou liggaam en die lintwurm verdeel. Die lintwurm gooi jou vertering en absorbering van voedingstowwe omver, wat beteken dat jy meer kilojoules kan inneem en nog steeds gewig verloor. Die wurm ding egter om vitamines en voedingstowwe mee, wat kan uitloop op 'n voedingstekort. Party wetenskaplikes meen dat 'n lintwurm-besmetting tot 'n gewigsverlies van 0.5 - 0.9 kilo's per week kan lei. Dit is al in die verlede in tablet-vorm verkoop. 

Die Laaste Kans-dieet

In die 1970's het Dr. Roger Linn die Last Chance Diet geskep. Dit is basies 'n hongerly-dieet, waar jy niks behalwe sy gespesialiseerde vloeibare proteïne Prolinn inkry nie. Die drankie word gemaak van slaghuis-oorbly-byprodukte soos fyngemaakte diere-horings, hoewe, velle, senings en bene. Kunsmatige geursels, ensieme en kleurmiddels word bygevoeg om die drankie meer aanvaarbaar te maak. Daar word geskat dat tussen twee en vier miljoen mense al hierdie produk probeer het, en daar is aangemeld dat 58 persone wat op hierdie dieet was, as gevolg van hartaanvalle, gesterf het.

Die Appelasyn-dieet

Die asyn-dieet is destyds vir die eerste keer deur die digter Lord Byron gewild gemaak wat blykbaar daagliks asyn sou gedrink het om sy liggaam te reinig. Daar word geglo dat die appelasyn-dieet die liggaam skoonmaak en van gifstowwe bevry. Op hierdie dieet drink jy elke dag 'n paar teelepels appelasyn. Heidi Klum en Fergie is na bewering navolgers van hierdie dieet.

Die Visie-dieet

Hierdie dieet-gril is gebaseer op die veronderstelling dat indien kos onaantreklik lyk, dit jou aptyt sal onderdruk. Daar word geglo dat blou 'n aptyt-onderdrukker is. 'n Japanse maatskappy het 'n dieet-sonbril met blou lense geskep wat kos onaantreklik laat lyk en wat jou aptyt sodoende verlaag. Die lense blokkeer ook rooi lig wat na bewering die aptyt stimuleer. Johnny Depp se liefde vir sonbrille met blou lense het daartoe gelei dat mense hom heel toevallig met hierdie dieet assosieer.

Vir praktiese gewigsverlies-opsies kliek hier.

(Leandra Engelbrecht, Health24, September 2010)

(bronne: www.everydiet.org, www.dietsinreview.com, http://dietchoices.com, http://diethound.com, www.everydayhealth.com, www.familyhealthguide.com, www.associatedcontent.com, www.womansday.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE